In hierdie reeks wil ons graag die gevoel van Godverlatenheid op verskillende maniere vanuit die Ou Testament en die Ou Nabye Ooste toelig. Dit is ‘n lewensgevoel wat eie aan ons menswees is en wat met ons alledaagse lewe te make het. Dit is ‘n gevoel wat iemand oorweldig wanneer hy nie meer herwaarts of derwaarts weet nie en die afwesigheid van God aan hom knaag.

Die Ou Testament vertel ook van die mens in sy kleinheid, gebrokenheid en eensaamheid. In elke mens se lewe is daar die mooi, helder oomblikke, maar ook die donker ure, dae en jare; is daar sukses, maar ook talle mislukkings; is daar telkens ‘n traan by die lag; is daar by die jonkwees ook ‘n ouerword; is daar naas die wen ook die verlies; is daar naas gebore-word ook die langsaam sterwe. Deel van hierdie menswees is die intense ervaring van God se afwesigheid. In die volgende uitgawes wil ons graag hierdie ervaring vanuit die Ou Testament toelig en vra of God werklik afwesig was.

 

Vandag se lewensgevoel

Soos gesê, is dit ook ‘n lewensgevoel van vele twintigste en een en twintigste eeuse mense. Daar is al gesê dat vanweë sekere gebeure die mens van die twintigste eeu God se afwesigheid baie intens ervaar het. In 1899 het die kerkhistorikus, Adolf von Harnack, nog oorwinnend oor die Protestantse kultuur wat die Protestantisme geskep het, gepraat. In die twintigste eeu sou dit volgens hom net verder gedy. En toe word alles omgekeer. Europa is gedurende die eerste helfte van die vorige eeu deur twee verskriklike oorloë getref. Miljoene mense is dood en uiteindelik is alle vaste sosiale, politieke, ekonomiese en selfs religieuse waardes heeltemal omvergewerp. Byna alles wat veral die Westerse mens van die twintigse eeu verwag het, is verwoes of op die kop gekeer. Asof dit nie genoeg was nie, het dinge soos die Spaanse Griep, die depressie, die Spaanse Burgeroorlog, ensovoorts dinge net verder vererger.

In die Engelse letterkunde is daar ook op verskillende maniere met hierdie probleem geworstel. In 1953 het Samuel Beckett die Nobelprys vir sy aangrypende drama, ‘Waiting for Godot’, ontvang. In dié verhaal wag twee mense, Estragon en Vladimir, op Godot se koms, maar hy daag nooit op nie. Soms het hulle moeg geword, getwyfel en gedreig om weg te loop. Beckett se drama was gewild omdat dit die westerse mens van die twintigste eeu se tevergeefse hoop verwoord het. Die twintigste eeu het met soveel optimisme begin, maar al die drome en verwagtinge is gou deur die eerste wêreldoorlog vernietig. Beckett se ‘Godot’ het juis dié leë, teleurgestelde verwagting verwoord en die eensaamheid van die ontnugterde mens probeer beskryf. In ‘Godot’ word die wag ’n bitterding. Met alle krag en baie energie is entoesiasties gewag, maar Godot het nooit gekom nie.

 

Magteloosheid

Deel van die ervaring van God se afwesigheid is ‘n gevoel van magteloosheid. Gebeure in die gewone lewe is soms net te veel en dan oorspoel ‘n magteloosheid ons. Psalm 64 vertel van so magteloosheid. Die psalmskrywer was aan die einde van sy kragte en het ook nie meer raad geweet nie. Dit was nie siekte of droogte of oorlog nie, maar mense wat sy lewe vergal het. Hy was so weerloos teenoor hulle. Nêrens elders as in Psalm 64 word so ‘n heldere uiteensetting van iemand se broosheid teenoor andere verskaf nie.

Omtrent die hele psalm word gebruik om sy spanning te verwoord. Hy praat aanmekaar van kwaadwilliges se komplotte teen hom, kwaadstokers se onreg, skerp tonge wat soos swaarde vernietig, woorde wat soos gif doodmaak, hinderlae waarin goeie mense omkom, aanvalle uit die bloute op opregtes en mense wat altyd bose planne bose smee. Teenoor skinderveldtogte, valse beskuldigings en geweld was ‘n gewone mens magteloos. En dié gevoel het die ervaring van God se afwesigheid geïntensifeer.

 

God se wegwees skep frustrasie

In die Ou Testament lyk dit tog of die onmiddellikheid van God se nabyheid plek-plek weggeraak en groot spanning in mense se lewens veroorsaak het. Aangrypend sien ons dit byvoorbeeld in die klaagpsalms. Gelowiges worstel met God wat weg en onbetrokke is: ‘Hoe lank gaan U my nog bly vergeet,  Here?  Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?’ (Ps 13:1-3).

Jeremia het hierdie onafheid van die lewe asook God se afwesigheid of andersheid skerp verwoord. Daar is ‘n aantal gedeeltes in die boek (Jer 11:18-12:6; 15:10-20; 17:14-118; 18:18-23; 20:7-18) wat die ‘Belydenisse van Jeremia’ genoem word en daarin het hy sy verset teen God en sy ontnugtering op ‘n skokkend eerlike manier uitgedruk. Hy wou tog nooit die werk gedoen het nie, maar God het hom daarin gedruk en nou het hy net verdriet daarvan gehad (Jer 1:6-8). God het hom met sy krag oorrompel en hom toe in iets ingedwing wat hy nooit wou doen nie. Op God kon hy dus nie reken nie want Hy was soos ‘n wisselvallige rivier wat nou vloei en dan weer nie (Jer 15:18).

 

Die verlange na God

Wanneer God se afwesigheid ervaar is, was daar ook ‘n verlange na sy nabyheid. In Psalm 84 byvoorbeeld is die psalmskrywer se verlange na Jerusalem of die tempel ten diepste ‘n verlange na God. En volgens die skrywer van Psalm 42 was so ‘n verlange ‘n intense ervaring. Hy was weg van Jerusalem, die tempel en van God en dit was ‘n ondraaglike gevoel van eensaamheid en alleenheid. Hy vergelyk dit met ‘n bok in ‘n dorre streek: ‘Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God’ (Ps 42:2). Soos ‘n wildsbok in ‘n waterlose streek na water dors so smag die skrywer na God se nabyheid. Soos wat die wildsbok rusteloos na water rondsoek, so maak die verlange na God hom ook ongeduldig.

Dan vertel die skrywer van Psalm 84 hoe hy na God verlang het. Hy het byna ‘versmag van verlange’. Dit beteken iets soos ‘vergaan of beswyk van verlange’. Totius se beryming het dit so mooi met die woorde ‘dors’ en ‘skreeu’ omskryf. Die verlange na God was soos iets wat binne-in ‘n mens skreeu: ‘Soos ‘n hert in dorre streke skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke, (so) skreeu my siel na U, o God!’

 

Is God werklik weg?

Dit is nogal ‘n belangrike vraag. Job en die skrywers van die klaagpsalms byvoorbeeld het intens gely en selfs die vuis vir God gebal en tog was dit nie einde nie. Dit is ‘n heel interessante paradoks: mense ervaar God is weg en tog los hulle Hom nie. Is dit omdat sy afwesigheid net ‘n ander manier van sy teenwoordigheid is?

Hieroor sal ons aan die hand van Ou Testamenttekste in die komende weke besin.

 

Jurie le Roux

 

Share this / Deel hierdie: