Die afgelope weke in die Sunday Times, Rapport en Beeld is berig oor die kwessie tans rondom godsdiensonderrig en –beoefening op skool. Drukgroepe werk naamlik op die oomblik hard vír en téén godsdiens op skool.

Ek verstaan die Universiteit van Kaapstad literator Joan Hambidge se gegriefheid in Rapport met ons land se geskiedenis van openbare Christenskap-dwang goed. Eweneens kan ek meevoel met die Stellenbosse filosoof George Claassen, oor wie sy skryf, en ander ateïste, in hulle ongelukkigheid met die manier waarop Christenskap spoel oor hulle kinders in staatskole. Immers, ek is ’n Christen, en ék is erg ongemaklik met baie van die geloofsgoed wat my kinders moet trotseer op skool: die oningeligtheid van onderwysers se uitsprake oor die Bybel; die manier waarop nie-Christen kinders aan die eindjaar-Kersspel deelneem; die godsdiens- en wetenskaponderwysers se gesukkel in die klaskamers en op uitstappies met Genesis 1 versus evolusie.

Op dieselfde manier vervies ek my egter net so intens vir die manier waarop sport, of geld, of nasionalisme, of ras, noem-maar-op, om elke openbare hoek en draai aan Suid-Afrikaners opgedring word, want ek staan magteloos daarteenoor. Dit lyk ook altyd of omtrent alle ander mense in die land hierdie pille goedsmoeds sluk, sonder om te dink hoe dit hulle mensheid eng maak. Net so grief alle vorme van swak openbare godsdiens my: as predikante onbedagd preek; as musieksterre midde-in ’n skandaal “die Jesus-kaart speel”; as politici met verkiesingstyd met die kerke flankeer; as ’n aartappelboer hom beroem om sy teologiese ononderlegdheid maar jou tóg allerlei wil vertel. Met telkens my onthutsing: hoedat die meeste mense skynbaar ook hierdie pille o-so-blymoedig sluk.

Die oplossing met al hierdie sake lê egter nie in “privatisering” nie: sport, geld, ras, en dies meer het als radikale sosiale implikasies. Net so, geloof. Die verkeerdste ding sou daarom wees om godsdiens na die binnekamer te verban. Dit broei enigiets van oningeligte selfgenoegsaamheid tot sektariese ekstremisme. Ook onaanvaarbaar – die agtergrond tot die regering se denke die afgelope jare oor godsdiens – is om alle gelowe tot etiese beginsels te wil reduseer. Mense sien gou deur die idee dat hulle geloof gebruik word bloot as instrument vir sosiale harmonie, en dan verloor die instellings wat so ’n benadering aanvoer, legitimiteit oor godsdienssake by gelowiges. Beide hierdie benaderings is dus teenproduktief.

By verreweg die meeste gelowiges, binne alle godsdienste, is geloof ’n diep persoonlik-verankerde realiteit, wat dan alle ander aspekte van hulle menswees beïnvloed. Presies daarom dat hulle godsdiens ook ’n sterk gemeenskap-georienteerde kant wys: liefdadigheidswerk, sending, deelname aan openbare debat, omgewingsbewustheid, ensovoorts. Op die tafel is dus, onteenseglik, altyd, beide openbare geloof én persoonlike geloof. Dit is om hier ’n balanspunt te vind wat een van die uitdagings van ons tyd is.

Openbare geloofsuitdrukking moet naamlik nie ander se andersheid inperk nie – nie net om Grondwetlike redes nie, maar ook op grond van praktiese naasteliefde. Om geloofsbelewenis uit die openbaar te verban, skep egter weer waargenome konflik tussen samelewing en geloofsgemeenskap; tussen “hulle” en “ons” – die teelaarde vir gevaarlike fundamentalismes.

Die mees gewilde openbare oplossing wat in ons tyd, amper as refleks, aan die hand gedoen word, is verdraagsaamheid. Die manier waarop die konsep van verdraagsaamheid tans hierdie balans probeer hou, verval egter dikwels in twee teenproduktiewe gedagtegange. Eerstens kom die idee by baie tuis dat “alle godsdienste en nie-godsdienste as eintlik maar dieselfde voorgestel word”, nie net Grondwetlik nie, maar ook in wese. Daarmee saam loop soms die (eksklusivistiese) gedagtegang dat daar iets ernstigs skort met diegene wat hierdie spesifieke vorm van “openheid” nie volg nie. Hierdie idee ontken egter ’n baie diepliggende gewaarwording in alle geloofsbelewenisse van individue en groepe: dat God hier eg, selfs enig, met my/ons praat. Om hierdie geloofgewaarwording van mense te misken, vervreem net gelowiges. Tweedens skep die openbare gebruik van die term verdraagsaamheid dikwels die idee dat godsdiens iets “nou tóé dan nou ôk maar” is: dit kan nou nie anders nie; kom ons probeer op ’n manier maar vrede maak daarmee. Deur hierdie waargenome implikasie beleef baie mense dus ’n onderliggend negatiewe houding jeens godsdiens en dus teen hulle gelowige-wees.

Eerder sou mense, van alle gelowe, wil voel dat hulle in hulle gelowigwees waardeer én aangemoedig word; nie net verdra word nie. Beter sou dus wees ‘n omgewing waarin Christene, Moslems, Jode, en niks minder nie: ook ateïste, agnostici, en dies meer aangemoedig word om hulle omgang met die diepste lewensvrae (sin van ons bestaan; lewe na die dood; van waar kom lyding?; bestaan God?), waarmee elkeen van ons van tyd tot tyd intens gekonfronteer word, voluit na te volg en na te vors.

So ’n tipe openheid rondom godsdiensstudie en geloofsbeoefening op skool sou iets wees waarmee ek heel op my gemak sou wees vir my kinders. Dit veronderstel egter ’n lewende godsdiensgesprek in die ouerhuis ook. Ook ’n nie-instrumentele benadering tot godsdiens vanuit owerheids- en onderwysgeledere. Ook dat ek my skuheid oor openbare godsdiens maar laat staan: ons samelewing kan al gemaklik oor omtrent als praat – seks, ras, geld … –; waarom nie ook oor God, god, gode en nie-god nie?

Share this / Deel hierdie: