‘n Bekende Pretoriase sielkundige het ‘n keer op  die “Wat is ‘n agnostikus?”-vraag geantwoord, dit is iemand wat meer as die meeste van ons oor God dink.
Dit strook met my ervaring: ‘n tyd gelede is ek gevra om by een van die Sondagoggend-byeenkomste van die Nuwe Hervorming Netwerk oor Genesis 22 te gaan praat. Bekend om hulle kritiese ingesteldheid, met die rede wat alles moet deurgrond, is hierdie groep al allerlei skeldname toegevoeg. Tog was my ervaring by die Nuwe Hervormers  dat ek nog selde mense gekry het wat met soveel eerlikheid en selfontbloting diep vra oor God. Sulke impulse laat ‘n mens weer besin oor kritiese gelowigheid en kritiese ongelowigheid. Hierdie keer, oor laasgenoemde.

Die redes hoekom mense ateïste is, of ateïste word, verskil heelwat. By sommige is dit logika: die argumente vir die bestaan van ‘n godheid, wat nog te sê van die Christelike beelde rondom God, wil net nie rede-lik sin maak nie. ‘n Variasie daarvan draai rondom die vrae oor lyding: ‘n goeie, liefdevolle God sou tog nie die ekstreme lyding van geweld en ernstige siekte toelaat nie, of hoe? In die nadraai van onreg, byvoorbeeld na apartheid in Suid-Afrika, vra heelwat mense weer hoe hulle in ‘n God wie se mense dan só gemaak het, kan glo.

Gelowiges volg dikwels die weg om in debat te tree met sulke standpunte. Die redes daarvoor is nie te moeilik om raak te raai nie: as jy glo, wil jy dalk ander mense tot jou geloofsoortuiginge bring; jy voel moontlik jou geloof kom weens so ‘n tipe rasionalisme onder druk, en dit verg antwoorde; jy dink die argumente ten gunste van ateïsme is swak, en bied daarom teenargumente wat sterker sou wees.
Daar is egter ook ‘n ander manier om oor mense wat agnosties of ateïsties is, te dink: dalk is hulle respek vir die Godsidee/godsidee so groot, dat hulle nie sommerso aan die glo kan gaan nie. Moontlik is dit dan vir heelwat mense ‘n (vromer) uitdrukking van heilige respek dat ‘n onlogiese god/God eerder nie in/aan geglo moet word nie. Dieselfde met ‘n God/god wat liefdeloos lyk. Ook so, as gelowiges/kerkmense se getuienis sake wat mense heilig ag, in woord en/of daad weerspreek. Onder meer.

Al kan elkeen van hierdie en soortgelyke gedagtes maklik rasioneel verinneweer word, lê daar nie dalk tog íéts in so ‘n siening nie? – Soms, minstens. Hierdie siening kan as verwaand beskou word, want nou word ongelowiges retories gemáák tot (mede)gelowiges. Dit is egter nie die bedoeling hier nie. Eerder as ‘n karakterisering, lê hier ‘n vraag: is dit dalk so dat vir sommige ateïste en agnostici die Godsideale so hoog lê, dat ongeloof eintlik ‘n erkentenis word van die absolute heiligheid van sou-daar-‘n-God-wees?

Share this / Deel hierdie: