Inleiding

Hannah Arendt en Theodor Adorno het albei indringend oor die aard van groot kunswerke (soos musiek) nagedink en volgens eersgenoemde is ‘onsterflikheid’ ‘n belangrike kenmerk van groot-kuns (vgl Le Roux 2013:26-31). Of soos sy sê, ‘As such, the only … authentic criterion for judging … cultural things is their relative permanence and eventual immortality. Only what will last through the centuries can ultimately claim to be a cultural object’ (Arendt 2006:199).

Musiek (en ander kunswerk) wat al eeue bestaan, kon voortbestaan omdat dit in elke era mense geboei en elke geslag dit vir hulleself relevant gemaak het. Groot kuns kon voortleef omdat dit nooit klaar geïnterperteer en die betekenismoontlikhede daarvan nooit uitgeput kon word nie (vgl Adorno 2002:437-469 oor populêre musiek).

Groot-kuns moet dus telkens weer herbesoek word. Eenkeer se lees of hoor is nie genoeg nie. Die verstaan van groot-kuns is maar altyd ten dele en daarom moet ons dit altyd weer herbekyk of herlees of herluister. In ons Liedboek is daar mooi voorbeelde van woorde wat ons nooit volledig kan begryp nie en daarom moet ons dit telkens herbesoek. Een is Lied 393 verse 1 en 3: ‘Middelpunt van ons verlange … dieptepunt en verste vlug’. Wat word met ‘dieptepunt’ of ‘verste vlug’ bedoel en hoe is Hy die middelpunt van verlange? Dit is woorde wat telkens om ‘n nuwe betekenis roep en wat ons nooit sal loslaat nie.

Johann Sebastian Bach se musiek is ‘n voorbeeld van kuns wat die tye oorleef het en wat telkens nuut klink. Ter illustrasie verwys ons na sy Weihnachtsoratorium. Dit is nie musiek wat onmiddellik toeganklik is nie en soos alle groot-kuns vra dit konsentrasie en fynluister.

 

’n Werk wat nou nog troos

Bach se kantates en veral sy Weihnachtsoratorium (‘Kersoratorium’) van 1734/5 is ‘n voorbeeld van hoe geloof deur kuns gevoed en gebou kan word. In die Weihnachtsoratorium val ‘n innigheid ‘n mens onmiddellik op. So sing Maria van haar liefste Bruidegom (‘… mein liebster Bräutigam’) wat gebore gaan word en mense sal troos. Sion moes hom daarop voorberei om ‘den Schönsten’ (‘die mooiste’) en ‘den Liebsten’ (‘die liefste’) gou te sien en met oorgawe lief te hê. In ’n koraal word dié gedagte met ’n vraag verder gevoer: ‘Wie soll ich dich empfangen / Und wie begegn’ ich dir?’ (‘Hoe sal ek U ontvang en hoe U ontmoet?’).

Vervolgens sing die tenoor Lukas 2:7. Maria se eersteling is in ’n stal gebore omdat daar geen plek in die herberg was nie. Dít bied Bach as ‘t ware die geleentheid om met twee korale te antwoord. Die tweede sluit die eerste kantate van die oratorium af met ’n aangrypende stukkie Bachteologie: ‘Ach mein herzliebes Jesulein,/ Mach dir ein rein sanft Bettelein,/ Zu ruhn in meines Herzens Schrein,/Daβ ich nimmer vergesse dein!’. Vry vertaal: ‘Liewe Jesussie, maak vir U ’n sagte bedjie in my hart sodat ek U nooit vergeet nie’.

Dit is so dat hierdie woorde soms swaar op die gereformeerde oor val, maar die musiek maak alles anders. Dit is asof die musiek die woorde anders laat klink, nuwe betekenis daaraan gee, die hinderlike beskrywings van Christus versag, die gelowige anders na kersfees laat kyk, sy/haar geloof as ‘t ware esteties versterk.

Pragtig hoor ’n mens dit veral in die Weihnachtsoratorium se begin. Dit is so oorweldigend. Helder trompetgeskal, tromme en ’n koor verklank die gees van kersfees: ‘Jauchzet, frohlocket! auf, preiset die Tage’. Uitdruklik word gesê: wees bly, juig, verban alle klagtes, dien God en verheerlik sy naam. Dít is die ware kersgees. Dít is ’n vreugde wat soveel sin en betekenis aan kersfees gee; ’n blydskap wat jou troos en nuwe moed gee.

 

Slot

Dit is jammer dat vandag se gelowiges nie altyd die vaardigheid het om Bach te verstaan en te geniet nie. Kerkmusiek het tot ‘bands’, ghitare en oppervlakkige gospelliedjies vervlak en die estetiese het uit die geloofservaring verdwyn. Dikwels sê die lirieke nie veel nie, stel die musiek geen uitdaging nie, word geloof nie meer deur die kuns gevoed nie, word ’n estetiese ervaring nie meer ’n religieuse ervaring nie. Uiteraard verskil smaak en kan moeilik tussen ‘diep’ en ‘vlak’ geestelike musiek onderskei word, maar wie Bach ervaar het, sal die verskil ken.

 

Bronnelys

Adorno, Th 2002. Essays on Music. Berkeley: University of Calofornia Press.

Arendt, H 2006. Between past and future. New York: Penguin.

Bakhuizen Van den Brink, J N 1968. Handboek der kerkgeschiedenis. Den Haag: Bert Bakker.

Jaspers, K 1956. Philosophie, Vol I. Berlin:Springer-Verlag.

Jaspers, K 1980. Was ist philosophie?. München: Taschenbuch.

Le Roux, L 2013. Supporting the arts: facts, fiction or ideal. Universiteit van Pretoria: Pretoria.

Pelikan, J 1986. Bach among the theologians. Philadelphia: Fortress Press.

 

Share this / Deel hierdie: