Wanneer Erich Zenger gevra was, hoe christene die Ou Testament sou moes lees, het hy geantwoord: “As die Eerste”. Vir hom was dit ‘n vraag na volgorde en belangrikheid. Met ‘n blywende stem en met stakkato-agtige sinne en onuitputlike esprit sowel as lewendige gebare het hy doseer, gepreek en gestry. As Katolieke Priester en Bybelwetenskaplike het hy onvermoeid beklemtoon dat die volk van Israel, met wie God sy verbond gesluit het, onverbreekbaar was en sal bly ten spyte van alle verwarring. Dit wat oorbly, die Tweede of  Nuwe Testament, is geïnterpreteerde vertelling – “Midrasj”, soos die Jode daarna verwys.

 

Sy betrokkenheid was verlede jaar vereer met die Buber-Rosenzweig medalje, ‘n uitstekende toekenning vir Joods-Christelike verstandhouding in Duitsland. Verder was hy as ‘n “standvastige beyweraar” van dialoog deur die koördineringsliggaam vir Joods-Christelike samewerking, vereer. Zenger staan oor konfessionele grense heen vir die “weg van vernuwing van Christene en hul verhouding tot Jode”.

 

Hierdie verhouding het Erich Zenger gedurende sy hele akademiese loopbaan vergesel. Dit het daartoe bygedra dat hy een van die bekendste en rigtinggewendste Ou-Testamentici van die laat twintigste eeu geword het. Hy is gebore 5 Julie 1939 in Dollnsteim am Altmühltal, in die provinsie Beiere. Hy het teologie en semitiese tale in Rome, Jerusalem, Heidelberg, Münster en Würzburg studier. Hy is in 1964 in Rome as priester gewy – ‘n jaar voordat die Tweede Vatikaanse Konsilie deur middel van die verklaring “Nostra Aetate” die Katolieke Kerk se verhouding tot die Judaïsme volledig nuut verwoord het.

 

Sy eerste professoraat het prof. Zenger in 1971 in die Beierse Eichstätt beklee. Sedertdien het hy homself met volle oorgawe oorgegee aan die eksegese, en verder ook geveg vir die Christelike erkenning van die waardigheid van die Judaïsme en sy heilige Geskrif. Die sogenaamde “Ou Testament”, volgens Zenger, kan geensins met “verouderd” of “onnodig” gelykgestel word nie. Gedurende sy meer as 30 jaar wat hy aan die Universiteit Münster betrokke was, het hy geveg vir die erkenning van die “Ou Testament” as die “Eerste Testament”. Hy het reeds as jong student in die Heilige Land sy Damaskus-ervaring gehad. Hier het hy ‘n diepe sensitiwiteit vir interreligieuse verhoudinge, asook vir die politieke dimensie van die teologie ontwikkel.

 

Buiten ‘n vol program, gevul met lesings en navorsing met die hooffokus op die Psalms en die Pentateug, was Erich Zenger sedert 1976 deel van die gesprekskring “Christene en Jode” van die sentrale komitee van die Duitse Katolieke. Sedert 1994 het hy aan die “Judaïsme”-werksgroep van die Duitse biskoppevergadering behoort. Onnadenkendheid teenoor die Jode, onder wie hy talle vriende gehad het, het hom ontstel. Die tradisionalistiese Puisbroers het hy as uiters “dom” bestempel. Hy het hom voortdurend beywer vir die versoening met die ouer broers en susters, naamlik met die Jode.

Sy gesondheid het waarskynlik skade gely onder ‘n te vol program, wat hy selfs sedert sy emeritaat in 2004 nie afgeskaal het nie. Selfs nadat hy in 2008 gesondheidsprobleme ervaar het, het hy sy vol werksprogram nie dienooreenkomstig afgeskaal nie. Op Paassondag, nadat die katolieke liturgie van die Paasnag met behulp van die groot ou-testamentiese lesing die heilshandelinge van God in die eerste verbond besing het, het Erich Zenger in die ouderdom van 70 jaar gesterf.

Share this / Deel hierdie: