Berg en tempel

Berge het die mens van die Ou Nabye Ooste met ontsag vervul. In die oertyd, voor die skepping van hemel en aarde, het die wêreld uit een groot watermassa bestaan, so het hulle geglo. Toe, iewers op ‘n plek, iewers in tyd, het die spits van die kosmiese oerberg verskyn, die eerste droë stukkie aarde bo die chaoswaters. Dit was die sentrum van die wêreld, om die waarheid te sê, die vaste fondament waarop die aarde gevestig is. Die kosmiese oerberg is die punt van skepping, en herskepping. 

   In antieke Mesopotamië het konsepte rondom die oerberg – en berge in die algemeen – ‘n baie belangrike rol in die tempelteologie gespeel. ‘n Berg is die  hoogste punt op aarde wat raak-raak aan die hemel. Berge en gode moet dus iets met mekaar te doene hê. Soms gebeur dit dat die gode vanuit die hemel afkom na die aarde toe, en dan is berge hul aangewese woonplek. Maar dit gebeur ook dat mense ‘n behoefte het om die gode in die hemel te besoek – en dan klim hulle teen die berge op om die gode daar te ontmoet. Op die berge bring mense offers, enersyds om die gode aan te roep, maar ook om hul goeie guns te wen. Op die plat Mesopotamiese vlaktes was daar ongelukkig nie volop berge nie, en daarom moes hulle kunsmatig gebou word. Ziggoerats, Mesopotamiese tempels, is niks anders as kunsmatige oerheuwels nie, en al die konsepte rondom die oerberg, gode, mense en offers is op die ziggoerat oorgedra.                    

   Iets hiervan vind ons ook in Ou Israel. Eksodus 19 beskryf dramaties hoe Moses na die Sinai-berg toe opklim om JHWH te ontmoet. Dis ‘n angswekkende gebeurtenis. Dit gaan met donderslae, weerlig en ‘n donker wolk gepaard, en uiteindelik verander die berg Sinai tot ‘n reuse rookoond wat skud en bewe en waar God met Moses in die donderslae praat. Moses ontvang die Tien Gebooie en kry opdrag om ‘n ark te maak waarin hy die ‘getuienis van die verbond’ moet bewaar (Eks 25:10-22). Dieselfde ark vind ‘n paar eeue later sy tuiste in Salomo se tempel (1 Kn 8:25). Dus, ook in Ou Israel was die tempel simbolies van die kosmiese oerberg, ‘n vaste punt, ‘n plek waar God teenwoordig is, en die aangewese ontmoetingsplek tussen God en mens. Ook in Ou Israel het offerandes ‘n kardinale rol in die tempel-liturgie gespeel, om die harmonie en vrede tussen God en mens te verseker.
       

Tempel, ark en vloed

Maar daar was ook iets anders. Na aanleiding van die gedagte dat die spits van die oerberg die eerste droë punt en gevolglik die fondament vir die aarde was, het die mense van die Ou Nabye Ooste  gereken dat tempels se wortels tot in die onderaardse waters deurdring. Vanuit die drumpel van die tempel vloei stroompies wat lewe gee en die aarde bevrug (vgl Esg 47). Maar bo die aarde en onder die aarde was die chaos-waters wat gedreig het om enige oomblik los te bars en die wêreld te verswelg. Slegs die teenwoordigheid van die goddelike binne die tempel het die chaosmagte in bedwang gehou en lewegewende strome bewerk.

   Dit het immers een maal gebeur dat die hele aarde deur die chaoswaters vernietig is. Net een mens en sy klein gesin – en ‘n hele klomp diere! – het die ramp oorleef: Noag. In opdrag van die Here God moes Noag ‘n ark bou, en daarin oorleef terwyl die kataklisme oor die aarde woed.   

   Gelukkig word die storie van die Groot Vloed en Noag se ark vandag nie meer letterlik gelees nie. Daar is net te veel vrae wat slegs deur middel van wetenskap-fiksie opgelos kan word. Boonop bestaan soortgelyke verhale in ander kulture. Die bekendste hiervan is die Babiloniese Vloedverhaal, die sogenaamde ‘Atrahasis-epos’, en heelwaarskynlik het die geleerdes van Juda tydens die Babiloniese Ballingskap hiermee in kontak gekom. Daar is heelwat paralelle tussen die twee verhale, maar ook ‘n paar betekenisvolle verskille.

   Die groot gode besluit om die mensdom met ‘n vloed uit te wis, maar een van die gode, Ea verklap die geheim aan sy witbroodjie, Atrahasis – of Utanapisjtim soos wat hy in die Gilgamesh-epos genoem word. Ook hy moet ‘n groot skip bou, sy familie en die saad van alles wat leef aan boord neem. Inderdaad, die storm breek los, en die vernietiging is so erg dat selfs die gode beangs raak! Maar die waters bedaar tog, en die boot loop vas teen ‘n hoë berg, die berg Nimus. Utanapisjtim stuur vervolgens ‘n paar voëls uit om die wêreld te verken: ‘n duif, ‘n swaeltjie en ‘n kraai. Die eerste twee kom terug omdat hulle nie ‘n vastrapplek kan kry nie, maar die kraai vlieg weg. As Utanapisjtim sy voete op droë grond sit, bring hy ‘n offer. Omdat die gode vir ‘n geruime tyd sonder mense-offers moes klaarkom, is hulle nou deeglik uitgehonger en maar alte bly oor wat Utanapisjtim hulle bied. En hulle seën hom en sy vrou met die ewige lewe.

   Geleerdes lê nogal interessante verbande tussen Noag se ark en Utanapisjtim se skip. Utanapisjtim se skip is ‘n vierkantige konstruksie met sewe vlakke – amper iets soos ‘n reuse kubus. Noag se ark is langwerpig met drie verdiepings wat boontoe al kleiner word. Die gedagte was nooit dat hierdie gedrogtelike konstruksies regtig op woedende stormwaters moes dryf nie (veral met ‘n klomp verskrikte diere binne-in wat besig is om mekaar instinktief ter wille van oorlewing te verslind)! Inteendeel, Utanapisjtim se skip word gesien as verteenwoordigend – of simbolies – van die Mesopotamiese ziggoerat, en Noag se ark van die latere Salmoniese tempel.

   En as die storm losbars, kom die Ou Nabye Oosterse tempelteologie ter sprake. Binne die skip/ark as mini-ziggoerat/tempel, is die mens veilig. [Ek gebruik ‘mens’ as generiese term, en verwys na ‘hom/hy’ in ‘n grammatikale sin – nie gender nie!] Hier skuil hy teen die woeste chaosmagte wat bo hom en onder hom losgebars het. Hier bly hy veilig, behoue, terwyl die eens geskape wêreld geheel en al ontskape word. Tot en met die botsing teen die simboliese oerberg – en daarvandaan trek die chaosmagte terug en word ‘n proses van herskepping aan die gang gesit. ‘n Offer bring die godheid en mens weer bymekaar uit en bevestig die harmonie.             

 

Slot

Ons lees dikwels die Bybel met ‘n 21e eeuse bril. Ons verstom ons aan die fantastiese stories wat die ou Israeliete uitgedink het: ‘n hele berg wat aan die brand slaan, of ‘n snaakse skip met ‘n klomp mense en diere wat ‘n maand of langer bo-op stormwaters dryf. En ‘n tempel is maar net ‘n gebou waar die mense kom aanbid het – amper iets soos ‘n kerk. Maar die Bybel is deurdrenk van Ou Nabye Oosterse denke en simboliek. Die skrywers van die Bybel het nie anders oor die wêreld as hul Ou Nabye Oosterse tydgenote gedink nie. Hulle het dieselfde wêreldbeeld en konsepte gedeel. Die Bybelskrywers het wel stories van hul bure oorgeneem – soos die Vloedverhaal – en dit binne hul eie teologiese raamwerk op ‘n unieke en kreatiewe wyse her-interpreteer, maar hulle het nie die Ou Nabye Oosterse simboliek en metafoor prysgegee nie.               

   Ons kan nooit die Bybel presies verstaan soos wat die eerste lesers dit verstaan het nie – daarvoor is ons wêreld, ons eeu en ons taal te ver verwyderd. Maar ‘n sensitiwiteit vir die Ou Nabye Oosterse denke, konsepte en mites, kan ons dalk ‘n klein bietjie op hierdie moeilike pad help.   

 

Bronne

  • Berlejung, A & Frevel, C 2006. Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Darmstadt: Wissenschaftiche Buchgesellschaft.
  • Holloway, SW 1991. What Ship Goes There: The Flood Narratives in the Gilgamesh Epic and Genesis Considered in the Light of the Ancient Near Eastern Temple Ideology in Zeitschrift für die Alttestamentliche Wissenschaft Vol 103 (3), 328-355.
  • Mc Call, H 2001. Mesopotamian Myths. London: Methuen.
Share this / Deel hierdie: