Besondere erkenning het die HTS Teologiese Studies pas te beurt geval toe Thomson Scientific (Philadelphia, VSA) op 10 Julie 2008 bekend gemaak het dat die HTS voortaan by die Institute for Scientific Information (ISI) offisieel geakkrediteer word en dat alle artikels, boonop sedert 2007, deur Thomson Reuters se dienste sowel geïndekseer as geabstraheer gaan word. Hierdie is die bekroning van ’n sewejaar lange en intensiewe proses van die HTS om ISI-erkenning te bekom.

Dit is besonderlik buitengewoon dat ’n teologiese vakjoernaal hierdie tipe erkenning kry. Die rede hiervoor is dat teologie in die moderne akademiese wêreld nie as ‘n selfstandige wetenskaplike kategorie gereken word nie en dat die natuurwetenskappe om verskeie redes die toneel oorheers. Boonop is hierdie tipe akademiese indekse so ontwerp dat dit ten doel het om die impak van aangehaalde wetenskaplike navorsing kwantifiseer. Dikwels is dit gekoppel aan sekere borgskappe en ander finansiële oorwegings, wat meting van byvoorbeeld markgerigte vraag-en-aanbod noodsaaklik maak.

Die Institute for Scientific Information (ISI) het HTS Teologiese Studies gevolglik by die sogenaamde Arts and Humanities Citation Index® geplaas. Tans is daar net nog een ander Suid-Afrikaanse teologiese tydskrif wat by die ISI geakkrediteer is, t.w. Acta Theologica. Die Universiteit van Pretoria se ander teologiese tydskrif, Verbum et Ecclesia, is in voorbereiding om aansoek te doen en die Fakulteit Teologie vertrou dat dit ook soos HTS, in die toekoms deur hierdie indeks geakkrediteer sal word.

Die standaard wat Thomson Scientific vir keuring stel, is besonder hoog. Wêreldwyd word ongeveer 2,000 wetenskaplike tydskrifte per jaar vir oorweging voorgelê, waarvan slegs 10-12% akkreditasie ontvang. Thomson roem daarop dat hulle indeks juis nié alle tydskrifte insluit nie, maar wel omvattend en verteenwoordigend van die beste akademiese tydskrifte in die wêreld is. Tans is daar nagenoeg 1,130 wetenskaplike tydskrifte by hulle Arts and Humanities Citation Index® geakkrediteer.

Die rasionaal vir keuring van akademiese tydskrifte is die sogenaamde “Bradford’s Law”. In die 1930’s het S C Bradford reeds agtergekom dat  verreweg die belangrikste wetenskaplike resultate, in ’n uiters beperkte getal  tydskrifte gepubliseer word. In ’n onlangse studie is byvoorbeeld bevind dat uit 7,528 leidende tydskrifte wêreldwyd, meer as die helfte van alle aanhalings, slegs in so min as 300 van hierdie tydskrifte voorkom! Wat nog meer is, alleen 3,000 van hierdie tydskrifte verteenwoordig die aanhalings uit soveel as 75% gepubliseerde artikels en 90% uit alle gesiteerde artikels[1]. Onder die eerste 100 Suid-Afrikaanse vakjoernale is HTS dié teologiese tydskrif wat die meeste gesiteer word en wat al die vakjoernale in Suid-Afrika betref, die natuurwetenskappe ingesluit, beklee HTS die 14de plek sover dit die impak van sitasies raak.

Etlike faktore word deur ISI by die evaluasie-proses in ag geneem. So word byvoorbeeld gekyk na ’n tydskrif se interne standaarde soos gereelde en stiptelike verskyning, redaksionele beleid en administratiewe keurigheid, verwysingstelsel, eweknie-evaluering van voorleggings, internasionale en diverse medewerkers en laastens, aanvaarding by ander internasionale indekse. Toeganklikheid is ’n uiters belangrike kriterium en daarom moet die noodsaaklike inligting van ’n tydskrif ook in Engels aangebied word (byvoorbeeld die abstrak en bibliografie by artikels) en moet die artikels in die tydskrif elektronies aan-lyn vir gebruikers beskikbaar wees.

Die vraag is uiteraard watter voordeel internasionale indeksering by die ISI vir ’n akademiese tydskrif inhou. Meteens is so ’n tydskrif deel van Thomson se ISI Web of Knowledge – ’n dinamiese en ten volle geïntegreerde elektroniese platform wat sowel die jongste wetenskaplike navorsing toeganklik maak as wat dit navorsers ’n instrument bied om die jongste navorsingsinligting te bekom, te analiseer en te verwerk.  Die sogenaamde Journal Citation Reports® bied statistiese data aan van enige verwysings na gepubliseerde artikels en ook na individuele outeurs van geakkrediteerde tydskrifte. Die impak van sowel ’n artikel as die van ’n outeur kan hierdeur minstens kwantitatief aangedui word.

Die Departement Hoër Onderwys verleen ook erkenning aan ISI-akkreditasie in die sin dat gepubliseerde artikels outomaties vir regeringsubsidie in aanmerking kom en boonop in ’n besondere kategorie gelys word. Dit het ook gunstige invloed op die ouditproses wat die Departement van akademiese instellings t.o.v. hulle tydskrifte vereis.

Vir ’n universiteit waar so ’n geakkrediteerde tydskrif geaffilieer is, is daar ook heelwat voordele. Nie alleen wat subsidie betref nie, maar die internasionale indekse wat universiteite wêreldwyd volgens rangorde lys, neem sodanige akkreditasie ook in hulle berekeningsformule in ag.

Miskien verduidelik Thomson Reuters se missie die waarde van akkreditasie die beste: “We combine authoritative information with innovative technologies to enhance our customers’ ability to achieve world-class research and business results. Our information solutions assist professionals at every stage of research and development from discovery and analysis, to product development and distribution.”

Een ding is duidelik. HTS Teologiese Studies is deur hierdie internasionale akkreditasie bewys as ’n internasionale tydskrif en elke artikel wat hierin verskyn, strek die outeur daarvan tot eer. Danksy die elektronika is die HTS nou letterlik sovêr van mens af as wat jou internet-rekenaar is. Gaan gerus na Google Scholar (http://scholar.google.com/schhp) en tik enige outeur se naam in wat in HTS publiseer en siedaar, al die relevante publikasies verskyn in ’n oogwink!


[1] http://scientific.thomsonreuters.com/free/essays/selectionofmaterial/journalselection/

 

Johan Buitendag is Voorsitter van Redaksie, HTS Teologiese Studies

Share this / Deel hierdie: