Ballet is mooi om na te kyk. ‘n Mens vergaap jou aan beeldskone ballerinas wat skynbaar sonder inspanning oor die verhoog sweef, op die punte van hul tone in die rondte tol, en ingewikkelde passies uitvoer sonder om te struikel. Regisseur Darren Aronofski neem die kyker egter ook agter die skerms in – en dis nie ‘n mooi prentjie nie.

   Die wêreld van ballet is hard en kompeterend. Thomas (Vincent Cassel), hoof van die New Yorkse balletgeselskap wil die beste produksie nog ooit van Swanemeer op die planke bring. Beth (Winona Rider), die vorige prima ballerina is oor haar beste jare, en ‘n nuwe Swaan-koningin moet gekies word. Sy moet beide die onskuldige wit en die sensuele swart swaan kan dans. Nina (Natalie Portman) is die amper-te-perfekte wit swaan en, alhoewel sy die drif en passie van die swart swaan kort, val Thomas se keuse tog op haar. Maar Nina se oënskynlike oorwinning haal haar die nyd van sommige ander dansers op die hals, en haar hele bestaan word gou bedreig deur Lily (Mila Kunis), die nuweling in die geselskap. Boonop maak Thomas geen geheim daarvan dat Lily die ideale swart swaan sal uitmaak nie.

   Thomas is gewetenloos in sy hantering van sy dansers. Hy gebruik seks om die nodige passie uit Nina te ontlok. Nina woon by haar ma, Erica (Barbara Hershey) wat self eens op ‘n tyd ‘n ballerina was, maar wat haar loopbaan ter wille van haar dogter prysgegee het. Erica is liefdevol besorg oor Nina, maar versmoor haar terselfdertyd deur haar hele lewe te wil beheer. Verder word Nina verteer deur haar strewe na perfeksie en haar toenemende jaloesie op Lily. ‘n Vreemde, skewe vriendskap ontstaan egter tussen die twee dansers.

   Nina se donker kant ontvou sistematies deur die loop van die fliek. Dis nie die smeulende swart swaan nie, dis haar eie donker psige wat haar stukkie vir stukkie vernietig. Agter die mooi uiterlike skuil ‘n diep ongelukkige en verwarde mens. Paranoia, psigose, en  hallusinasies kry uiteindelik die oorhand – nie slegs oor Nina nie, maar ook oor die kyker. Black Swan toor met jou kop!

   Natalie Portman vertolk die rol van die versteurde Nina uitstekend. In die meeste van die tonele dans sy en Mila Kunis self. En die mooi wêreld van ballet wat op die planke gebring word, word suksesvol ontmasker vir wat dit werklik is.

   Met patologie, seks, geweld, kru taal en dwelms as sleutelwoorde, sal nie almal van hierdie fliek hou nie. Dis ontstellend, om die minste daarvan te sê. Ontstellend, veral omdat dit nie so ver van die werklikheid verwyder is nie.

   Dus, gaan kyk dit, maar slegs as jy werklik sterk in jouself voel!

Share this / Deel hierdie: