Volle bibliografiese besonderhede: Bauckham, Richard 2011. Living with other Creatures. Green Exegesis and Theology. Waco, Texas: Baylor University Press.

 

Die Boek

Richard Bauckham skryf sy boek pas na die vernietigende aardbewing en tsunami in noord-Japan, Maart 2011. Sedertdien is ekologie ‘n onderwerp wat wêreldwye aandag geniet, en in hierdie boek bekyk Baukham dit ook vanuit ‘n teologiese perspektief.

Die eerste hoofstuk bied ‘n bybelse oorsig oor die mens se plek in die skepping. Bauckham begin by Genesis 1:26-28. Terselfdertyd verwys hy ook na ander tekste wat met die sogenaamde ‘skeppingsopdrag’ verband hou. Opdrag om oor die skepping te heers, sê hy, beteken eerstens ‘omgee’, ‘sorg vir’: die mens moet verantwoordelikheid aanvaar vir die natuurlike wêreld wat hy met ander skepsels deel.

Vervolgens bespreek Bauckham die aanklag dat die mens se interpretasie van ‘heers’ direk te blameer is vir die roekelose uitbuiting van die natuur en die diere, en hy ondersoek dit vanuit ‘n historiese perspektief. Hy wys daarop dat die vertikale ‘mens-bokant-dier’ verhouding nie in die eerste plek ‘n Christelike siening van die wêreld was nie, maar dat die idee van die Griekse filosowe gekom het wat die orde wou verstaan van hoe dinge in die natuurlike wêreld in mekaar steek. Hierdie idees het die vroeë Kerkvaders beïnvloed, maar hulle wou eerder verstaan hoe die verhouding mens-tot-God moet wees. Beide filosowe en Kerkvaders het aanvaar die die natuurlike wêreld tot hul beskikking was, maar hulle wou hoegenaamd nie uitbuiting regverdig nie.

Die vroeë Christelike heiliges, veral St Francis van Assisi, stel ‘n radikal alternatiewe tradisie van ‘oorheersing’ voor. Diere, ook wilde diere het hom gehoorsaam, maar hy het hulle nie misbruik of uitgebuit nie. Inteendeel, hierdie ander wesens van die skepping was die heiliges se vriende en metgeselle. Dit blyk inderdaad dat die heiliges ‘n speisale vermoë gehad het om in volkome harmonie met die natuurlike wêreld te lewe waarvan hulle, net soos die die diere, ‘n deel uitgemaak het.

Daar is wel geskrifte van die Italiaanse humaniste in die tyd van die Renaissance waarin blyke van menslike oorheersing oor die natuur voorkom. Tesame met die opkoms van die natuurlike wetenskappe en tegnologie, het ‘n antroposentirese wêreldbeeld ontwikkel wat die mens se beheer oor die natuur en menslike ondernemingsvermoë beklemtoon het. Nogtans, tydens die tweede helfte van die sewentiende eeu kan ‘n teenreaksie waargeneem word in die werke van iemand soos Matthew Hale (1609-76), ‘n Engelse wetsgeleerde. Hier word rentmeesterskap eerder as oorheersing aan die hand gedoen, en menslike verantwoordelikheid teenoor die natuur word aangemoedig.

Vervolgens neem Bauckham die Nuwe Testament onder die loep en begin met die sinoptiese evangelies. Hy beeld Jesus uit in sy geografiese – nie sy historiese nie – Palestynse konteks uit. Wanneer Jesus oor die koms van die koninkryk van God leer, voorveronderstel Hy die skeppingsteologie van die Hebreeuse Bybel vaarvolgens God die Skepper en Heerser oor die hele skepping is. Jesus se genesings, wonderwerke en  geestesuitdrywings kan egter ook gesien word teen die agtergrond van daardie tekste in die Hebreeuse Bybel wat vooruitwys na ‘n eskatologiese toekoms waar volkome harmonie tussen alle skepsels bestaan (bv Jes 11:6-9). In hierdie sin sien Jesus sy taak om die huidige vyandskap tussen die mens en die res van God se skepping op te hef, totdat die harmonie uiteindelik in die koninkryk van God verwerklik word.

Die vierde hoofstuk brei verder uit op Jesus se verhouding met diere. Hy was deeglik bewus dat die Hebreeuse Bybel wreedehid teenoor diere verbied veral huishoudelike diere. Verder erken die Hebreeuse Bybel ook dat wilde en diere van God afhanklik is om hulle te voed. Jesus pas dit toe op die voëls van die hemel (Matt 6:26) en die kraaie (Luk 12:24), maar tog, volgens Hom, is die mens van groter waarde. Nogtans, die feit dat God die mens sowel as ander skepsels by sy sorg insluit, impliseer dat Hy sy hele skepping as belangrik vir Hom ag. Mense en diere is deur God geskape, en albei bestaan tot sy eer en sy heerlikheid. Alhoewel sommige diere vir mense werk, mag hulle nie mishandel word nie, maar moet met sorg en menslikheid hanteer word.

Die varke van Gerasene is ‘n spesiale geval. Bauckham redeneer dat Jesus, in hierdie verhaal, ‘n ‘mindere euwel’ toelaat (p 98). Dit gaan om óf die vernietiging van ‘n menslike persoonlikheid óf die verlof aan die demone om in die onrein varke in te vaar. In hierdie geval is Jesus se optrede in ooreenstemming met die beginsel dat mense van groter waarde as diere is.

Bauckham maak ‘n belangrike punt as hy beklemtoon dat Jesus beslis nie ‘n vegetariër was nie. Hy was ‘n Jood van sy tyd en sou aan die voorgeskrewe rituele offers en maaltye deelgeneem het waartydens vleis geëet is – soos byvoorbeeld die Pasga, en Hy het definitief vis geëet en wyn gedrink. Geheelonthouding en ‘n vegetariese leefwyse kan moontlik op grond van ander bybelse tekste aangevoer word, maar Jesus is nie ‘n voorbeeld daarvan nie.

Die hoofstuk sluit af met Jesus in die woestyn waar hy volgens Markus 1:13 saam met die wilde diere verkeer het. Baukham wy die hele volgende hoofstuk aan hierdie insident. Tussen Jesus en die wilde diere is daar volkome vrede – ‘n toneel wat Jesaja 11:6-9 ook voor die gees roep. In die eerste plek speel hierdie tekste in op ‘n messiaanse vrede wat op die punt is om aan te breek. Maar ook Jesus se kameraadsksap met die wilde diere bevestig dat hulle ook vir God waardevol is (p 131). Bauckham reken dat hedendaagse Christene hierdie teks kan toepas in ‘n wêreld waar baie spesies op die rand van uitsterwing staan as gevolg van mense wat die ekologiese krisis ignoreer en die natuurlike wêreld roekeloos uitbuit.

Matteus 6:25-34 beaam dit. Bauckham herhaal die feit dat God vir alle skepsels voorsien, en dit sluit diere, plante en mense in. Alles en almal vertrou op God om in hul baiese behoeftes te voorsien. Hierdie verse bevestig dat mense God se skepping met ander skepsels deel, en daarom moet mense waak teen ‘the reckless extinction of species and destruction of habitat that are the price of our addiction to success’ (p 145).

Die volgende twee hoofstukke fokus op die lof wat die skepping aan God bring. Nie slegs mense nie, maar die hele skepping, ook diere, plante en die hemelliggame prys God. Bauckham verwys na verskeie tekste in die Bybel en weereens na die lewe van St  Francis van Assisi waarin ‘n mens dit kan sien. Daarna kyk hy spesifiek na die boek Openbaring. Hier gaan dit egter nie om ‘n vergoddeliking van die natuur nie, eerder die gedagte dat die hele skepping vir God waardevol is, en dat alles na God heenwys (p162). Alles en almal het ‘n unieke manier om God as Skepper te loof en te prys, en moet toegelaat word om dit te doen. Ongelukkig, as gevolg van vernietigende magte, kan dit nie altyd so gebeur nie. Daarom moet mense saam met die heelal se koor van lofprysing saamsing.

In hoofstuk 9 kom Matthew Fox en Francis of Assisi se idees oor mistisisme en Skepping aan die orde van die dag. Bauckham beskou Fox en St Francis albei as skeppings-mistici, en hy vergelyk hedendaagse Fox met die vroeëre St Francis. Albei waardeer die skepping as ‘n gawe van God wat gerespekteer moet word. Maar blykbaar vind Fox aanklank by ‘n soort panenteïsme: ‘ . . . God is in all things and all things are in God’ (p 193). Alhoewel Francis van Assisi God ook in alles vind, handhaaf hy steeds God se transendensie as Skepper. Alle skepsels is broers en susters in die familie van God se dienaars. Mense het ‘n spesiale plek, maar hierdie posisie moet altyd in verhouding met die heelal en die res van die skepping gebring word. Mense loof God tesame met die res van die kosmos.

In die laaste hoofstuk spreek Bauckham die probleem van tegnologie versus biodiversiteit aan. Tegnologiese vooruitgang bedreig biodiversiteit. Baie lewende spesies, bekend en onbekend, word uitgewis as gevolg van die uitputting van natuurlike hulpbronne en ‘n oormatige vrystelling van karbon-dioksied. Die bewaring van een enkele spesie is egter nie die antwoord op die probleem nie; bewaring moet eerder op ‘n hele eko-sisteem fokus om ‘n ekologiese balans te handhaaf.

Bauckham vind bewyse vir biodiversiteit en die bewaring van spesies in die Ou Testament, byvoorbeeld Psalm 104, Job 39:27-30 en 1 Konings 4:29-34. Sy gevolgtrekking is dat menslike oorheersing nie uitbuiting nie, maar verantwoordelikheid, sorg en respek teenoor ander skepsels impliseer, omdat mense een soort skepsel is wat die Skepping saam met ander skepsels deel.

 

Bespreking

Behalwe vir die eerste en die laaste hoofstukke, het Baukham al die ander gedeeltes elders gepubliseer, hetsy as ‘n hoofstuk in ‘n boek, of ‘n artikel in ‘n vaktydskrif. Living with Other Creatures skep die indruk van ‘n ‘samestelling’ eerder as ‘n boek waar die een hoofstuk logies na die ander een oorgaan. Verder is daar baie herhalings; byvoorbeeld, Francis van Assisi duik meer as een keer op, en so ook die besprekings oor Markus 1:13 en die heelal se lof aan God.

Nietemin, Bauckham voer oortuigend aan dat menslike oorheersing oor die Skepping nie uitbuiting en vernietiging impliseer nie, maar dat mense ‘n verantwoordelikheid het om om te sien na die ander skepsels wat die skepping met hulle deel, en om sentsitief teenoor die skepping as geheel te wees. Versuim om hierdie verantwoordelikheid na te kom, het ‘n ekologiese ramp tot gevolg – en dit wag op die drumpel van planeet Aarde se deur.

Die pluspunt van Bauckham se benadering is dat hy nie ‘groen eisegese’ op die bybelse tekste probeer af-forseer nie. Hy probeer werklik om Christene te oortuig om aan die gesprek met die natuur en met spesies in die natuur deel te neem, en om hierdie verantwoordelikheid binne ‘n teologiese raamwerk te aanvaar.

Ek wil nogtans ‘n vraagteken plaas oor die hele skepping wat God as Skepper verheerlik, asook die waarde wat God aan die geskape wesens heg. Bauckham haal tekste aan soos Job 39:27-30 en 38:39-40 – maar hierdie tekste sinspeel onmiskenbaar in op die wreedheid inherent aan die natuur self. My vraag is: is diere wat op mekaar jag maak en mekaar verslind werklik tot verheerliking van God? Anders gestel, is die roofdier eerder as die prooi vir God waardevol?

Nie slegs Bauckham nie, maar ook ander bybelse eko-bewaarders neig om soms te positief oor die natuur te wees en net die blink kant raak te sien. Enersyds, soos wat Bauckham tereg uitwys, word die ekologiese harmonie tussen skepsels en skepping werklik bedreig; andersyds, alle skepsels, nie net mense nie, is besig om die planeet te verslind in ‘n desperate poging om te oorleef.

Gerda de Villiers

Share this / Deel hierdie: