1. Cas Wepener. Aan tafel met Jesus. Leer ken Christus se tafelmaniere in Lukas en Handelinge. Preke, liturgiese voorstelle, geskiedenis, kuns,  resepte. Bybel-Media: Wellington.

Inleiding

Ons is hoe ons eet. Cas Wepener neem hierdie basiese waarheid as vertrekpunt vir sy boek ‘Aan tafel saam met Jesus’. Nie net nasies en volke se eetgewoontes verskil van mekaar nie, maar ook individue van dieselfde samelewing eet nie op dieselfde manier nie. Eetgewoontes verklap iets van ‘n mens se identiteit. Indien dit so is, dat ons is hoe ons eet, dan is God ook hoe Hy eet, en dit sien ons in Jesus se tafelmaniere (p 6). In sy boek fokus Wepener op sewe tekste in die boeke Lukas en Handelinge wat spesifiek rondom ‘n tafel en etes afspeel, en pas dit toe op praktiese situasies in die kerk en samelewing om riglyne vir die prediking maar ook alledaagse lewe te bied. Soos dit subtitel aandui, is dit nie net alles oor prediking nie, daar is ook voorbeelde uit die digkuns, skilderkuns en sowaar ‘n paar interessante resepte!

Inhoud

Die boek bestaan uit drie dele. Deel A noem Wepener ‘Aan tafel met Jesus’. Hier verduidelik hy sy wat hy met die boek wil bereik, en spesifiek waarom hy die tema van kos en eet gekies het. Etes en kos sê ook iets van ‘n samelewing, ‘n plek en ‘n tyd. Wie saam eet en wie nie saam aan tafel verkeer nie, met ander woorde, tafelgemeenskap is net so ‘n belangrike tema soos die kos. Ons leer onsself beter ken deur ons eie eetgewoontes te bestudeer, en daarom kan God se etes ons ook meer leer oor wie Hy is. Wie is God? Wie is ek? Hoe lyk die samelewing waarbinne ons leef? is vrae wat in die boek aangespreek gaan word in die hoop om verhoudings in die samelewing te bevorder, nie net verhoudings tussen individue binne ‘n groep nie, maar ook verhoudings tussen verskillende groepe.

Deel B word aangedui as ‘Aan tafel met Jesus in Lukas en Handelinge’. In hierdie gedeelte bied Wepener ‘sewe tafels van Pase tot Pinkster’. Hier is sewe tekste uit die boeke Lukas en Handelinge waar geëet word. Hulle is: Lukas 24:13-35; Lukas 7:36-50; Lukas 14:1-14; Lukas 14:15-24; Lukas 22:7-25; Handelinge 10:1-11:18; Handelinge 2:41-47. Wepener gebruik talle voorbeelde uit sy eie lewe en die van ander om ‘n agtergrond vir die teks te verskaf en om met die teks om te gaan. Waar nodig, verduidelik hy ook iets van eetgewoontes in Jesus se tyd, soos byvoorbeeld reinheid en die manier waarop aan tafel ‘aangelê’ word. Wepener leef homself deeglik in die situasie en narratief van die teks in, en maak dit duidelik watter uitdagings die teks aan die konteks van die tyd gestel het. Aan die einde van elke afdeling maak hy voorstelle vir die liturgie en praktiese toepassings vir die hedendaagse Suid Afrikaanse samelewing.

‘Aan tafel met Jesus, die erediens en die wêreld’ is die opskrif van Deel C. Die onderwerp hier is die nagmaal en hoe dit deur die eeue gevier is. Wepener begin by die heel eerste eeue na Christus (60-312) en dui aan hoe die nagmaal vanaf ‘n alledaagse werklike maaltyd ‘n meer ‘heilige ete’ met groter simboliese interpretasie van Christus se teenwoordigheid ontwikkel het. Gedurende hierdie tyd het die brood en die wyn as Jesus se liggaam en bloed die belangrikste bestanddele van die maaltyd geword. Tussen die jare 312-600 n.C. het handelinge rondom die liturgie vorm begin aanneem en ‘n hoogtepunt gedurende 500-1550 n.C. bereik. In die kerk, destyds die Rooms Katolieke Kerk, het die ‘hostie’ die plek van brood ingeneem. Wepener bespreek ook die ontwikkeling wat verder met die Reformasie plaasgevind het, en die teologiese oortuigings van die Reformatore, Luther, Zwingli en Calvyn. Hy bespreek ook wat in Suid Afrika sedert die Reformasie gebeur het, en interessante gebruike in die NG Kerk, soos byvoorbeeld die sogenaamde ‘nagmaalsnaweek’, die kelkies van die beker vervang het, en ook die bediening van die nagmaal in die banke en nie aan die tafel nie. Hy verwys na die Sinodebesluit van 1857 wat daartoe aanleiding gegee het dat verskillende bevolkingsgroepe ‘n eie ‘kerk’ gekry het: die nagmaal, simbool van eenheid van die Liggaam van Christus, word instrumenteel daartoe dat aparte kerke vir verskillende rasse tot stand kom. En sedert 1948 in Suid Afrika is daar verskillende gebruike rondom die nagmaal in die destydse NG Sendingkerk en hedendaagse VGK om aan hierdie verdeling uitdrukking te gee. Wepener sluit af met die Lima-rapport van die WRK wat ‘n beroep op die nagmaal doen om alle vorms van ongeregtigheid soos rassisme, skeiding en ‘n gebrek aan vryheid teen te staan.

‘Die kerk, tafels, verhoudings en armoede’ is deel D en die laaste afdeling in die boek. ‘Die wyse waarop ons God se brood breek, is eintlik vervleg met die wyses waarop ons met mekaar in ons met mekaar in ons samelewing brood breek’ (p 148). ‘n Belangrike begrip wat in hierdie hoofstuk ter sprake kom, is ‘sosiale kapitaal’ en hoe dit met armoede en tafelgemeenskap verband hou. Sosiale kapitaal het nie met geld, beleggings en wins te make nie, maar met verhoudings binne ‘n samelewing en die aard van daardie verhoudings. Dit is wat Wepener vertaal as, ‘bind’, ‘brug’ en koppel – in Engels, ‘bonding’, ‘bridging’ en ‘bonding’. Sosiale kapitaal kan ‘n belangrike rol speel om armoede te bestry.

‘Bind’ het betrekking op onderlinge verhoudings in ‘n plaaslike gemeente, en poog om goeie verhoudinge binne die gemeente op te bou en te vestig. ‘Brug’ slaan letterlik en figuurlik gesproke die brug na ander gemeentes. Die doel is om die grense tussen die plaaslike en een of meer buurgemeentes op te hef, en verdere verhoudings aan te knoop. ‘Koppel’ het te make met die skakeling met groepe of instansie op ander vlakke van die samelewing, soos byvoorbeeld die plaaslike regering. Op ‘n baie menslike vlak, speel etes ‘n baie belangrike rol om al hierdie verhoudings aan te moedig en bande binne sowel as buite gemeentegrense te smee. Terselfdertyd verskaf dit ook die nodige ruimte waarbinne ‘n armoede-probleem bespreek, en waar saam aan moontlike oplossings vir die probleem gedink kan word. Wepener verwys dan terug na die etes in Lukas en Handelinge wat hy in Deel B van die boek bespreek het, en hoe dit by ‘sosiale kapitaal’ inpas. Hy verskaf ‘n barometer van ‘sosiale kapitaal’ vir individue en groepe waarvolgens hulle hulself kan meet om te kyk hoe hulle vaar.

Hy sluit af: ons leef in ‘n gebroke samelewing met ‘n gebroke sosiale liggaam. Die kerk, as liggaam van Christus, eet binne hierdie gebroke werklikheid. Die manier waarop ons eet, moet hierdie gebrokenheid aanspreek en ‘n daadwerklike verskil maak. ‘As die kerk as liggaam van Jesus só ‘n verskil wil maak, ok deur hulle wyse van tafelgemeenskap met die doel om verhoudings te bou, is die basiese beginsel vir elke tafel van elke kerk en elke gelowige dié wat die tafel in Emmaus en al se die ander vir ons illustreer. Ons is altyd . . . aan tafel met Jesus’ (p 158).

Evaluasie

Na aanleiding van tekste in Lukas en Handelinge wat oor mense gaan wat saam eet, bied Cas Wepener praktiese riglyne vir die impak wat saam eet ook op hedendaagse gemeenskappe, veral Christengemeenskappe kan hê. Die belangrikste tema is versoening, versoening tussen God en mens, en ook mens tot mens. Hy spreek ook die een van die belangrikste probleme in die Suid Afrikaanse konteks aan, naamlik armoede. Die armes is werklik honger, en by hulle is daar ‘n groot nood om te eet, saam met Jesus en sy volgelinge te eet.

Predikante sal veral baat by hierdie boek vind. Dit verskaf genoeg preekstof vir dienste tussen Pase en Pinkster, vir spesiale geleenthede soos die nagmaal, die bevestiging van ouderlinge en diakens, maar al die tekste kan ook vir ‘n gebruiklike erediens aangepas word. Wepener gee genoeg ruimte aan die kreatiwiteit van die liturg. Terselfdertyd nooi hy lidmate uit om opnuut te dink oor hoe hulle eet, saam met wie hulle eet, en watter bydrae ook hulle kan lewer om die tafelgemeenskap met die lewende Here te vier.

Share this / Deel hierdie: