1. Steven A Hunt (ed), Perspectives on ‘Our father Abraham’. William B Eerdmans: Grand Rapids.

Hierdie boek is ‘n feesbundel aan Marvin Wilson. Hy was baie jare lank aan Barrington College en Gordon College verbonde en het op kollegas en studente ‘n groot indruk gemaak. Hy het geloof en rede verenig en was behalwe dosent ook ‘n gereelde prediker. Sy studente het hy met ‘n Joodse spreuk aangemoedig om baie hard te werk want ‘study is the highest form of worship’ (4). Die boek bestaan uit drie dele. Die eerste fokus op Abraham in die argeologie asook verwysings na hom in die psalms asook die herinterpretasies van hom in die ballingskap. In die tweede deel word Abraham vanuit die Nuwe Testament verstaan, maar in die derde deel volg belangrike Joodse interpretasies van Abraham.

Dalk is dit ‘n tipiese kenmerk van Amerikaanse geleerdes dat vrae in verband met die historisiteit en veral van Abraham baie belangrik is. Waarskynlik is dit aan die groot invloed van mense soos William Foxwell Albright, John Bright ander lede van die Baltimoreskool te danke. Met behulp van ‘n groot hoeveelheid tekste afkomstig uit Mari, Ugarit, Nuzi, Boghazkoy en ander plekke was dit vir hierdie geleerdes skielik moontlik om die Abrahamsverhale binne ‘n histories-moontlike en wetenskaplik-haalbare leefwêreld te plaas (Bright 1972:75). Toegang tot die historiese kern van die Abrahamsverhale kon deur ooreenkomste tussen die Abrahamsverhale en dokumente uit die Ou Nabye Ooste verkry word. Al die ooreenkomste het Bright daarvan oortuig ‘that the stories of the patriarchs fit unquestionably and authentically in the milieu of the second millennium’ (Bright 1972:76). Vir hom was dit so ‘a historical fact’ dat hy die Abrahamsverhale slegs binne hierdie konteks kon gelees en verstaan het (Bright 1972:77). ‘n Vergelyking tussen die Abrahamsverhale en die Ou Nabye Oosterse parallelle het op die lange duur nie vaste historiese inligting gebied nie. Finaal het dit geblyk dat die soeke na die historiese Abraham ‘is a basically fruitless occupation both for the historian and the student of the Bible’ (Thompson 1974:315).

Die Wilsonfeesbundel staan egter in hierdie Baltimoretradisie want die ondertoon van hierdie boek is dat daar in die Abrahamsverhale tog ‘n historiese kern is wat belangrik vir die verstaan van Abraham is. Die boek begin ook met ‘n hoofstuk deur Edwin M Yamauchi oor Abraham in die argeologie. Een van die argumente teen die ‘historisiteit’ van Abraham is dat die verwysing na kamele in die aartsvaderverhale ‘n anakronisme is want kamele is eers heelwat later vir menslike gebruik makgemaak. Yamauchi toon dan met nuwe insigte aan dat die kamele wel vroeg gebruik is en inderdaad deel van die aartsvaders se lewe kon gewees het en kom dan tot die gevolgtrekking dat ‘Genesis shows that the Bible was capable or preserving the crucial story Israel’s ancestry’ (31-32).

John Oswalt weer het die historisiteit van Abraham probeer bewys deur op sy ervaringe met God te wys. Abraham het God se liefde en trou intens ervaar en dit het die grondslag vir die latere Israel se geloof gelê. Die ware of historiese egtheid van Abraham se ervaring met God se liefde het die basis vir Israel se geloof gevorm. Sonder hierdie ervaring is die latere geskiedenis van Israel byna ondekbaar: ‘If the biblical teachings are unique, and they are, and if those teachings are said to have originated in the human historical experiences of certain persons, we are forced to conclude that those persons did indeed exists and experienced those things’ (43).

Ted Hildebrandt het getoon hoe die historiese Abraham in Psalm 105 verstaan is (44-67). Hy het die insigte van die huidige psalmnavorsing vernuftig gebruik om te wys hoe die psalmskrywer ‘employs   terminology to develop themes with which he binds together two sojourning communities, Abraham and the post-exilic returnees …The exilic community would find hope as they, like Abraham, sojourned and were in desperate need of God’s protection from foreign inhabitants of the land’ (66). Hugh Williamson se bydrae (68-78) sluit hierby aan en hy vertel hoe Abraham tydens die ballingskap nuwe betekenis gekry het. Dit dui daarop dat Abraham nie ‘n uitvindsel van die ballingskap is nie, maar dat die verhale reeds vroeër bestaan het: ‘(I)t is clear that the Abraham narratives, which came to renewed prominence in the exilic period, are of an obvious richness … (and) it follows as a probability that they already existed in some shape of form prior to the exile, and were not first invented in the exilic period’ (78).

Abraham is ‘n brugfiguur. ‘n Brug tussen Jood en Christen en daarom lewer hierdie feesbundel ‘n baie belangrike bydrae tot die gesprek. Dit beteken dat ons ook Joodse geleerdes se interpretasie van Abraham baie ernstig moet neem. Hulle interpretasie open moontlikhede waaraan ons nog nie gedink het nie en wat ons net kan verryk (vgl 187-383). Steven A Hunt se boek en die mense wat hom help skryf het, het ‘n waardevolle bydrae tot ons verstaan van Abraham gelewer.

Bronnelys

Bright, J 1972. A history of Israel. London: SCM.

Thompson, T L 1974. The historicity of the patriarchal narratives.

Share this / Deel hierdie: