1. Celia Deane-Drummond, Rebecca Artinisn-Kaiser & David L. Clough (red), Animals as Religious Subjects. Transdisciplinary Perspectives. Bloomsbury T&T Clark: London.

Inleiding

Mens en dier. Die dier se vleis het aan die mens voedsel voorsien, en die dier se vel het die mens teen die koue beskerm. Maar op ‘n stadium in die bestaan van die mens, het die dier opgehou om ‘n ‘ding daarbuite’ te wees. Die dier het deel van die mens se religieuse bewussyn gevorm. En dit is waaroor hierdie boek gaan: ‘Animals as Religious Subjects’ verken die verhouding tussen mens en dier vanuit ‘n teologiese perspektief.

Inhoud

Die boek bestaan uit vier dele. Die opskrif van Deel 1 is: ‘Animals as Subjects of Religious Thoughts’, en in hierdie afdeling bespreek die verskillende outeurs hoe diere die mens se religieuse bewussyn help vorm het. Die titels van die essays is veelseggend. Stephen Clark skryf die eerste hoofstuk, ‘Ask Now the Beasts and They Shall Teach Thee.’ Die Westerse kultuur volg Plutagos en Durkheim se siening na dat diere redeloos is en op instink reageer. Clark reken egter dat daar in die dierelewe ook rituele te bespeur is wat religieuse assosiasies oproep. Hy verwys na die Boeddha wat meerdere kere in ‘n nie-menslike vorm geïnkarneer was om lesse oor nederigheid en grootmoedige denke te leer. Ook Christelike en nie-Christelike filosowe het lesse uit die gedrag van miere, muise en mossies geleer. Miskien is dit tyd dat ons ons nie-menslike ‘neefs en niggies’ op hierdie planeet raaksien, en iets van hulle leer.

‘Walking with Dragons: An Anthropological Excursion on the Wild Side’ is die titel van Tim Ingold se hoofstuk. Sy argument kom daarop neer dat die natuurwetenskappe en objektiewe kennis nie die laaste sê het nie. Hy maak ‘n fyn onderskeid tussen ‘weet’ en ‘wees’ (knowing and being). Die wetenskap wat ‘weet’ het ‘n neiging om die natuur se stem van ‘wees’ stil te maak. Die Middeleeue en verskeie inheemse volke was bewus van die ‘wees’ van nie-menslike wesens. Miskien is dit tyd dat die wetenskap die ‘weet’ gedagte prysgee, en meer aandag aan ‘wees’ skenk.

Aaron Goss skryf oor ‘The Study of Religion After the Animal’. Deur die eeue heen, sê hy, was die dier nie deel van die mens se religieuse en teologiese navorsing nie. Die mens was religieus, die dier nie. Goss sluit egter aan by Ingold (hierbo) se werk oor jagter-versamelaar gemeenskappe en Derrida se teorieë oor die ‘vraag van die dier’ en hy kom tot die slotsom dat religie inherent aan alle lewende wesens is. Mens sowel as dier speel ‘n aktiewe rol in dit wat ons religie noem.

Deel 2 se opskrif is: ‘Animals as Subjects of Religious Symbolism’. Sabine Obermaier ondersoek ‘Hedgehog Skin and Golden Calf: Animals as Symbols for Paganism in Medieval German Literature’. Soos die titel aandui, fokus sy op Middeleeuse Duitse letterkunde en sy kyk na die simboliese en rituele rol wat diere in die ou Nabye Oosterse samelewings gespeel het, en hoe die Middeleeuse Duitse letterkunde dit verstaan het. Sy verwys na ‘Rolandslied’ deur Konrad (1170) wat sê dat die dier die vreemde en gevaarlike gebruike van die heidene illustreer. Hy (Konrad) wil hierdeur bewys dat die heidene minderwaardig teenoor die Christene is. As teenvoeter verwys sy na ‘n ander skrywer, Wolfram van Eschenbach (1210-1220) wat die positiewe eienskappe van diere uitlig, en derhalwe ‘n meer positiewe siening het, nie net van die mens nie, maar ook van die dier.

Nie net diere nie, maar ook insekte vorm deel van die ‘nie-menslike’ kant van die skepping. ‘The Daemonic Insect: Mantis religiosa’ – oftewel, ‘bidsprinkaan’ is die titel van Adam Dodd se hoofstuk in die boek. In Europese volksverhale, vir baie eeue lank is die sprinkaan met die teologie en die okkulte geassosieer, omdat dit lyk asof die insek ‘n biddende houding inneem. In die vroeg twintigste eeu word die sprinkaan ‘n motief in die letterkunde en surrealistiese kuns om aan die donker gedagtes van die onderbewuste uitdrukking te gee – veral vroulike wellus en vernietiging, omdat die wyfiesprinkaan die mannetjie tydens kopulasie verorber. Mense wat getuig dat hulle deur wesens vanuit die buitenste ruim ontvoer is, vertel meerdere male van ‘n ‘bidsprinkaan’; sekere medikasie laat mense ook sprinkane sien. Wat is daar, vra Dodd, in hierdie mens / insek verhouding? Is die sprinkaan iets in die mens se onderbewuste, ‘n interkosmiese tussenganger tussen wêrelde? Die goddelike diep binne-in – mens en insek . . .

Xenia Zeiler kyk na diere in Hindoeïsme en haar essay dra die titel, ‘Benevolent Bulls and Baleful Buffaloes: Male Bovines versus the Holy Cow.’ Sy ondersoek die rol wat diere in die religie van die Hindoes speel; hulle word dikwels vergoddelik en ondersteun die gode in hul ewige stryd van goed teen kwaad. Dis baie interessant dat diere soos die bul, leeu en tier positief en as helpers uitgebeeld word, terwyl die kraai besonder ongewild is. Waarom? Waarom het Hindoeïsme sommige diere positief en ander negatief in terme van hul godsdiens ervaar? Zeiler ondersoek hierdie vrae in haar hoofstuk.

‘From Sacrifices to Symbols: Animals in Late Antiquity and early Christianity.’ Ingvild Saelid Gilhus kyk na die mens-dier verhoudinge in die antieke tyd, en ‘n mens moet onthou, sê hy, dat die mens volkome van die dier afhanklik was. Heel basies gesproke was dit kos, klere, vervoer, arbeid. Maar diere het ook ‘n belangrike rol in divinasie, genesing en medisyne gespeel, en nog later het diere ‘n behoefte aan vriendskap en intimiteit vervul. Wat was die vroeë Christene se mening oor diere, vra Gilhus: was dit die begin van ‘n fundamentele onderskeid tussen mens en dier?; was dit die einde van rituele offers en die begin van diere slag as ‘n sekulêre handeling; of is diere gebruik as ‘n metafoor om iets oor mense te sê?

Die derde gedeelte in die boek dra die titel, ‘Animals as Subjects of Theological Enquiry’. Forrest Clingerman is terug by insekte met ‘Butterflies Dwell Betwixt and Between: Non-Human Animals, Theology and Dwelling in Place’. Hy begin by skoenlappers en die ervaring van verlossing wat hulle vir jou gee as jy na hulle kyk. Daar is iets soos ‘n algemene spirituele en religieuse verhouding tussen mens en nie-mens (non-human het nie net op ‘dier’ betrekking nie, maar ook op voël, vis, insek). Clingerman se sentrale gedagte is die blyplek (dwelling). Wie en wat bly daar, en wat beteken hulle vir mekaar? Die ideaal is dat mens en nie-mens intersubjektief in hierdie blyplek saam verkeer en dat dit uiteindelik ‘n verlossende ruimte vir albei word.

Eric Daryl Meier wend hom ook na die Middeleeue met sy essay, ‘Marvel at the Intelligence of Unthinking Creatures! Contemplative Animals in Gregory of Nazianzus and Evagrius of Pontus.’ Die vroeë teoloë het nie veel van bye en miere gedink en die manier waarop hulle hul werksaamhede organiseer het nie. Die verskil tussen mens en dier, lê in rasionele denke. Die mens is vry om rasioneel te dink, die dier (insek in die geval van mier en by), reageer op instink. Die mens, so sê die vroeë teoloë, nader tot God by wyse van gedissiplineerde kontemplasie. Ironies genoeg, sê Meier, is die manier waarop Gregorius en Evagrius religieuse subjektiwiteit beskryf, so te sê identies aan die dié van die irrasionele ‘kontemplatiewe’ diere. Kontemplasie kan nie in terme van rasionele denke geskied nie.

‘Putting Animals in their Place: On Theological Classification of Creatures’ is David Clough se essay waarin hy ‘n oorsig gee oor verskillende perspektiewe wat probeer om te verklaar waarom skepsels (creatures) van mekaar verskil: mens, dier, voël, vis, insek. Hy neem Plato, Origenus, Basileus van Caesarea, Augustinus en andere onder die loep. En dan fokus hy veral op die sogenaamde ‘imago dei’ – die leer dat die mens na die beeld van God geskape en daarom van groter waarde as die dier is. Na aanleiding van ‘n biologiese filosoof, John Dupié, meen Clough dat ‘n mens liewers aan veelvoudigheid van organismes eerder as ‘n rangskikking van spesies in ‘n sekere orde moet dink. Daarom reken Clough dat die idee van ‘n lineêre rangorde wat die mens bo dier plaas, verwerp moet word. Elke spesie – mens, dier, voël, reptiel, insek ensovoorts – het sy plek in die skepping.        

Die laaste afdeling in die boek is ‘Animals as Subjects of Religious Ethics.’ Raymond Person skryf oor ‘“Your Wives, Your Children, and Your Livestock”: Domestic Beings as Religious Objects in the Book of Deuteronomy.’ Die drietal in Deuteronomium, man vrou en kind, weerspieël paternalistiese sowel as androsentriese waardes, sê Person. Dan bespreek hy die boek Jona, en beskryf Jona as ‘n satire op Deuteronomium: die vis, die wurm en die vee van Nineve is almal op dieselfde vlak, almal is subjekte wat God gehoorsaam terwyl die profeet nie juis ‘n goeie voorbeeld stel nie. Person stel voor dat hedendaagse gelowiges Deuteronomium baie krities behoort te lees ter wille van ‘n meer holistiese benadering tot die omgewingskrises.  

Die titel van Robert Song se hoofstuk is, ‘Transgenic Animals and Ethics: Recognizig an Appropriate Dignity.’ Dit het betrekking op mediese navorsing wat menslike genetiese materiaal op diere gebruik, soos byvoorbeeld skape wat genetiese veranderinge ondergaan om insulien aan mense te verskaf, of om menslike lewer in varke ter wille van oorplanting te ontwikkel. Sulke handelinge moet teologies sowel as moreel deurdink word. Song verwys na die 2001 dokument wat die ‘Pontificial Academy for Life’ met betrekking tot xeno-oorplaning uitgereik het, en hy sê dat hulle die fout gemaak het om aan te neem dat transgenesis van diere ‘n bydrae tot menslike waardigheid lewer. Die werklike etiese bekommernis behoort te wees dat die waardigheid van diere aangetas word. Wat nodig is, is ‘n toepaslike etiek van die waardigheid van mens, sowel as nie-mens.

Die laaste bydrae is die van Charles Camosy, ‘Other Animals as Persons? – A Roman Catholic Inquiry.’ Hy bespreek ook die gedagte wat Christene veral by Thomas Aquinas kry, dat daar ‘n rangorde van spesies is en dat die mens bo die dier verhewe is. ‘Beeld van God’ word afgelei van die mens wat dink dat God soos ‘n mens moet lyk, maar ‘beeld van God’ bestaan ook in die verskillende skepsels van sy skepping. Met ander woorde, die ‘beeld van God’ is nie net in die mens nie, maar in die hele spektrum van die skepping. Om ‘n rangorde daar te probeer stel waar die mens aan die toppunt is, moet vermy word: ‘n mens moet eerder die moontlikheid ondersoek of diere selfs ‘n morele status soortgelyk aan die van die mens het.

Evaluasie

Hierdie boek weerspieël religieuse nadenke oor ‘diere-etiek’ – dit is, die manier waarop mense oor diere dink en hoe hulle diere behandel. Nie net diere nie, maar ook ander spesies – voëls, reptiele, insekte – word bespreek: ‘nie-mens’ is miskien ‘n beter beskrywing as ‘dier’. Die doel is om die leser van die komplekse, selfs onverstaanbare wêreld van die nie-mens bewus te maak, ‘n wêreld waar daar selfs gevoelens en emosies betrokke mag wees, maar wat die mens nie verstaan nie. Dit sluit aan by die hedendaagse bewussyn van ‘diereregte’, en toenemende protes teen dieremishandeling en diere wat in haglike omstandighede vir slagdoeleiendes geteel word. Die skrywers is egter nie radikaal nie, byvoorbeeld nêrens word propaganda vir vegetarisme gemaak nie. Die belangrikste punt wat die boek maak, is dat die aarde nie net deur die mens bewoon word nie, maar dat ‘n baie breë spektrum van nie-menslike skepsels ook hierdie planeet deel. Elkeen van hulle het ‘n plek, elkeen se bestaan is waardig, en elkeen moet met respek hanteer word.

‘Animals as Religious Subjects’ is nie maklike leesstof nie, maar enigeen wat in transdissiplinêre studies belang stel, sal daarby baat vind.

Share this / Deel hierdie: