1. Steven Fine, Art, History and the Historiography of Judaism in Roman Antiquity. Brill: Leiden.

Hierdie boek van Steven Fine bestaan uit ‘n reeks versamelde essays wat handel oor die ervaring van die Jode onder die Romeine vanaf Christus se tyd tot en met die Islamitiese transformasie in die oostelike mediterreense wêreld gedurende die sewende en agste eeue nC. Fine kyk veral watter bydraes tekste en artefakte (soos visuele bronne) kan lewer om die geskiedenis te interpreteer, want soos hy tereg opmerk is daar ‘n digte waas tussen ons wêreld en die antieke wêreld – ‘n waas wat veel digter is as wat ons besef. Fine se ondersoek fokus op die verhouding tussen teks, artefak en geskiedenis. Hy begin deur na ‘n objek – die teks of die artefak – te kyk, en dit binne ‘n kultuur en ‘n historiese konteks te verbeel. Deur verbeelding kry ‘n verlore wêreld vlees en bloed, en kan ‘n mens ‘n voorstelling maak van hoe mense geleef het, wat hul omstandighede was, en wat wat hulle gedink het. Verbeelding kan egter nie vrye teuels gegun word nie, maar alle interpretasie moet met bestaande historiografie en navorsing gekontrolleer word.

Fine begin met die geskiedskrywer Flavius Josefus se beskrywing van die ‘bybelse argitek’ Besaleël, seun van Uri (Eksodus 31), ‘n betreklik onbekende figuur in Israel se geskiedenis. Josefus wy egter uitvoerig oor hom en sy vermoëns uit, en dit blyk dat hy Besaleël uiteindelik as ‘n Romeinse argitek voorstel. Wat Fine hiermee wil sê, is dat Josefus deur die kuns en kultuur van sy eie tyd beïnvloed is, en dat hy Besaleël se identiteit geskoei het op maniere wat met argitekte van sy eie tyd vergelykbaar is.

Beendere-kissies (ossuaries) is ‘n artefak wat veral in die tyd van Herodes in gebruik was. Die meer welvarende Jode het hul naasbestaandes op hierdie manier begrawe om daardeur ‘n bepaalde individualiteit aan die oorledene te vergun. Selfs as was hy of sy uiteindelik in die familiegraf te ruste gelê, was dit ‘n bietjie anders as die gebruiklike massagraf waar geen onderskeid tussen die oorledenes gemaak is nie. Daar word gespekuleer dat hierdie individuele manier van begrawe moontlik met die geloof in die opstanding van die dode verband kan hou, maar Fine reken daar is nie genoegsame oortuigende bewyse daarvoor nie.

Die tempels en standbeelde van gode en keisers van die Grieks-Romeinse tyd wat ons vandag sien, is meestal wit. Dit was egter nie oorspronklik so nie. Fine verwys na navorsing oor ‘polichromie’ – kuns in veelkleur – en hy sê dat hierdie wit geboue en beelde eens op ‘n tyd veelkleurig geverf was. Kunstenaars wat hulself op polichromie toespits, probeer vasstel hoe tempels en beelde in die antieke tye geverf was. As voorbeeld neem Fine polichrome voorstellings wat verskeie kunstenaars oor keiser Caligula gemaak het: hy was ‘n imperiale onderdrukker wat goddelike status vir homself toe geëien het. Sy standbeelde was antropomorf en veelkleurig, sy oë, hare, velkleur en kleredrag was bedoel om vrees in te boesem, gesag af te dwing en offers te eis – en alles was nie wit nie. Dieselfde geld vir die Herodiaanse tempel. As ‘n mens na verkillende literêre beskrywings van die tempel kyk, soos byvoorbeeld in die Talmud, dan was hierdie tempel inderdaad ‘n veelkleurige vertoonstuk van koning Herodes!

Die beroemde ‘Boog van Titus’ in Rome en die menorah wat daarop verskyn, is nog ‘n interessante artefak. Op hierdie boog word uitgebeeld hoedat die Romeine die buit vanuit die Jerusalemse tempel af wegdra, onder andere ‘n menorah. Deur die eeue heen het die rabbi’s se interpretasies oor wat van die menorah geword het, mitiese afmetings aangeneem. So byvoorbeeld besoek ortodokse Jode vandag steeds die Vatikaan, omdat hulle vas glo dat die menorah daar iewers moet wees.

Dura Europos is ‘n antieke stad aan die Eufraatrivier in Oos-Sirië. In die derde eeu nC, gedurende die stryd tussen Rome en die Sassanide van Persië, was die Jode se eie identiteit reeds deur ander kulture beïnvloed, in so ‘n mate dat hulle dit alreeds vir hulself as deel van hul identiteit toegeëin het. In die sinagoge in hierdie stad kan iets hiervan gesien word. Op die kunswerke teen die mure, is daar is heelwat voorstellings van Ou Testamentiese narratiewe, maar kruiskulturele invloede van die Grieks – Romeinse – en Persiese kulture is onmiskenbaar aanwesig. ‘n Soortgelyke waarneming kan by die Hamat Tiberias sinagoge gemaak word ( ca 286 – 337 nC). Hier kan ‘n helios-mosaïek met die Griekse songod en die res van die diereriem gesien word. Steven Fine merk op dat daar in ander sinagoges soortgelyke mosaïekwerke voorkom en hy sê dit is alles ‘… Judaized versions of rather typical Roman iconography appropriated by Palestinaian Jews to decorate their synagogue floors and maintained this slow-to-change culture long after Christians abandoned this imagery – specifically because it fit so well with broader Jewish conceptions of space and time (p 179). Dit is tog interessant dat identiteit nie ‘n statiese gegewe is nie; ofskoon die Jode die basis van hul Jodedom behou het – torah, sabbat, dieet, besnydenis – het hulle invloede van die Grieks-Romeinse wêreld rondom hulle absorbeer sodat dit op ‘n manier in hul eie kultuur en identiteit sin gemaak het.

‘Studie-huise’ – [beit ha-midrasj] is nog ‘n interessante artefak wat uit laat-antieke Palestina dateer. Hierdie geboue word op dieselfde perseel as ‘n sinagoge gevind en was vermoedelik ‘n studielokaal waar rabbi’s en hul volgelinge saamgekom het om te studeer en te bid. In die Kaïro Geniza is daar ‘n dokument wat as die ‘Pereq Meshiah’ (hoofstuk van die messias) bekend staan. Net soos die wysheidsleraars van die Talmud, het God ook sy eie studie-huis gehad. Hierdie dokument is egter verder interessant in die sin dat dit insig bied in die Joodse liturgie van die laat-Bizantynse en vroeë Islam-tydperk. Daar word na die rietmatte verwys wat die ‘bema’ van die res van die sinagoge skei – die ‘bema’ is die podium vanwaar die Skrif gelees word. Fine meen dat hierdie rietmatte amper iets soos die Christene se kanselkleed was, en dat die Joodse sinagoges moontlik hierdie artefak by die Christene geleen het.

Joods-Christelike simboliek blyk ook duidelik uit ‘n fragment wat in 2006 in Laodisea ontdek is en waarop daar baie duidelik ‘n menorah sowel as ‘n kruis afgebeeld is. Dit is opmerklik dat die kruis heelwat groter as die menorah is. En dit laat Fine wonder. Daar is baie ander fragmente met tipies Joodse simbole soos die sjofar, of die palmtak, en ook het die vroeë Christene ook soms ‘n kruis bo-oor die heidense simbole van die Romeine getrek. Op hierdie Laodisea-fragment is die kruis wel groter as die menorah, maar bokant dit, en dit laat Fine vermoed dat dit moontlik die handwerk van die eerste Joodse Christene in die Romeinse Ryk kan wees en ‘n poging om hul eie simboliek te skep.

Die boek sluit af met die Jode en Judaïsme onder Bizantium en Islam. Fine ondersoek die Joodse godsdiens en kultuur en wat daarmee onder Christelike en Islamitiese oorhhersing gebeur het. As voorbeeld neem hy die sinagoge van Na’aran, sowat 8 km suid van Jerigo. Dit is gebou in ‘n tyd toe die Romeinse regering eintlik die bou van sinagoges verbied het, maar die Jode het hulle nie daaraan gesteur nie. In die vierde eeu nC moes die Regering egter ingryp toe ywerige Christene sinagoges verwoes het, of vir eie gebruik oorgeneem het. Aanvanklik is Joodse sinagoges beskerm, maar hierdie beskerming het deur die loop van die eeue die getaan. In die ‘heilige land’ het die Jode nogal finansieel by Christen-pelgrims gebaat alhoewel die Christene op hulle neergekyk het en hulle as minderwaardige en onontwikkelde oorblyfsels van Jesus se verlede beskou het. Heelwat sinagoges is deur Christene vernietig en afgebrand.

Die inval van Islam was vir sommige van die Jode nie te sleg nie – hulle het dit selfs as ‘n messiaanse redding gesien wat hulle van die Bybellesende ‘heidense Christendom’ en hul bose oorheersing kom bevry. Alhoewel die Moslems nie sinagoges verwoes het nie, het hulle tog hul eie stempel afgedruk: alle afbeeldings van mense of diere is verwyder, maar die menorah’s en ander inskripsies het behoue gebly. Tog, die verowering van Islam het daartoe gelei dat ‘n Joodse gemeenskap vir die eerste keer ná 70 nC weer kom opbloei. Onder Christelike oorheersing in die laat-antieke tye, is Jode verbied om in die ‘heilige stad’ te woon; dit was die straf omdat hulle Jesus doodgemaak het, en nie die Christelike geloof aanvaar het nie. Onder Islam het hulle die status van ‘dhimmi’ verkry: hulle was die onderdane, maar hulle was ‘n beskermde groep, en dit was beter as onder die onverdraagsame Christene. Alhoewel daar ‘n beperking op die oprigting van sinagoges was, het Judaïsme en hul sinagoges onder Islam oorheersing vooruitgegaan. ‘Jews across the Middle East were transformed by the new umbrella civilization, even if they assumed a unique – if subject – place in the world of Islam’ (p 227).

Evaluering

Steven Fine probeer om deur ‘n ‘waas’ na die antieke wêreld van die Jodedom deur etlike eeue heen te kyk, en in hierdie ‘waas’ tas hy na tekste en artefakte om iets van hierdie wêreld te probeer verstaan. Vir hom gaan nie om teks of objek per se nie, hy wil werklik agterkom watter soort mense hierdie tekste en artefakte produseer het, en waarom en in watter omstandighede hulle dit gedoen het. Die boek is ryklik geïllustreer met foto’s en afbeeldings van talle voorbeelde waarna hy verwys. Dit is egter nie ‘n boek vir vermaak of ontspanning nie. Elke hoofstuk is met informasie gepak, en ‘n mens moet tyd neem om jouself in die historiese tydperk in te leef waarna verwys word. Soos die boek op die agterflap opgesom word: ‘Taken together, these essays suggest a humane approach to the history of the Jews in an age of deep and long-lasting transitions – both in antiquity, and in our own time.’