The God of Second ChancesBoekbespreking: Clark, Ron 2012. The God of Second Chances. Finding Hope through the Prophets of Exile. Eugene: Cascade Books. ISBN 13: 978-1-62032-083-9. Viii + 180 bladsye, bibliografie ingesluit.

 

Die titel van Ron Clark se boek is ‘The God of Second Chances’ met die subtitel ‘Finding Hope through the Prophets of Exile.’ Hy skryf vanuit sy eie konteks as dominee in Portland en sy bediening is hoofsaaklik onder die gemarginaliseerdes van die samelewing: die armes en verstotenes, dwelmveslaafdes, alkoholiste, prostitute, mense wat seksueel misbruik of geviktimiseer word, en ander dakloses wat – ten minste, sommige van hulle – uiteindelik ‘n toevlugsoord in ‘n plek vind met die naam van Dignity Village.

Clark sien parallelle tussen hierdie mense en die Israeliete wat in die Babiloniese Ballingskap gegaan het. Albei groepe het fouteer, en ervaar as gevolg daarvan gevoelens van vernedering, skaamte, en selfs self-haat. Nogtans is daar ‘n God van liefde wat die verlede vergeef en vir elkeen weer ‘n kans gee. Dit is die ‘God of Second Chances.’ Vir Clark manifesteer hierdie God in die hedendaagse kerk van tweede kanse wat uitreik na diegene wat in desperate nood verkeer en hulle met waardigheid en respek behandel, ongeag wat hul situasie mag wees.

Die boek bestaan uit vier dele. Deel Een kyk na die ‘God of Hope’, eerstens deur die bril van die eksiliese profete. Hier, maar ook deur die hele boek, word die metafoor van huwelik en egskeiding verken, soos wat dit in verskeie bybelse tekste voorkom. Aan die een kant ervaar die ballinge ondraaglike lyding, aan die ander kant toon die profete ook die medelye van God of Jahwe aan wat treur oor die gebroke verhouding tussen Hom en sy volk.

Die huweliksmetafoor word verder uitgebrei in Deel Twee: ‘Advocates of Hope.’ Hier fokus Clark eerste op die profeet Jeremia en beeld hom as ‘n huweliksterapeut uit. Jeremia hoor albei kante van die saak: hy sien die ramp wat Juda getref het, maar hy hoor ook Jahwe se kant, van sy passievolle liefde, sy pyn oor sy ontroue eggenote, en die woede waarmee Hy reageer. Juda verdien om gestraf te word. Nogtans is daar hoop.  As die eggenote haar owerspelige verhoudinge met die ander gode verbreek, is die God van Tweede Kanse bereid om die egskeidingsprosedures terug te trek.

Veral die boek Jeremia skets ‘n kwesbare God. Clark maak ‘n baie belangrike punt deur daarop te wys dat heelwat van die bybelse tekste waar God as ‘n gewelddadige en misbruikende eggenoot voorgestel word, van metaforiese taal gebruik maak (p 67). Hierdie tekste wil uitdrukking gee aan Jahwe se woede en seerkry – as die verontregte eggenoot in die verhouding; goddelike straf word nie voorgeskryf nie, en seksuele misbruik in verhoudinge word nie goedgepraat nie.

Onder die ‘Advokate van Hoop’ is die profete Obadja, Habakkuk en Sefanja. Obadja spreek medelye aan, Habakkuk roep om genade, en Sefanja maan tot berou deur die geregtigheid van Jahwe op te soek. In elke geval stel Clark bepaalde uitdagings aan hedendaagse gemeenskappe, en lig dit toe met werklike gevalle uit sy Portland-agtergrond waar ‘profetiese’ optrede nodig is.

Die ‘Visionaries of Hope’ in Deel Drie is Joël, Esegiël, Haggai en Sagaria.  ‘n Prominente tema onder hierdie profete is die herstel van die verbond met Jahwe – die God van Tweede Kanse. Juda is gestraf en verneder. Maar hul vernedering sou hulle so kon verblind dat hulle geen hoop vir die toekoms kan hê nie (p 145). Benewens versoening met Jahwe, gaan dit vir hierdie ‘Sieners van Hoop’ ook daaom om alle gevoelens van vrees, skuld, nutteloosheid, vernedering en skande uit die weg te ruim. Dwlemverslaafdes, alkoholiste, prostitute en ander wat die spoor byster geraak het, ervaar gewoonlik sulke negatiewe en self-vernietigende emosies. Hierdie mense het hoop bitter nodig. Die kerk van tweede kanse kan baie doen om hul selfrespek te herstel, en vir hulle hoop te gee.

‘Calling for Hope’ is Deel Vier se titel. Slegs twee profete is aan die woord: Maleagi konfronteer diegene wat hoop vernietig, en Jesus, die God van tweede kanse. In die gedeelte oor Maleagi neem Clark egskeiding onder die loep. Dikwels word misbruik in ‘n huwelik voortgesit omdat daar aangeneem word dat egbreuk ‘n ‘sonde’ is. Maar sulke verhoudings rig aansienlike emosionele skade aan – en vernietig daardeur hoop. Clark is heeltemal korrek as hy sê dat geweld, onderdrukking en onreg in verhoudings is groter oortredings as egskeiding (p 156).

Die boek sluit af met Jesus, die God van tweede kanse. Jesus het die gebroke verhouding met God nie primêr met prediking herstel nie, maar veral deur sy dade van medelye en sorg. Die mense na wie Hy uitgereik het, was die ‘ballinge’ van sy tyd, die armes, die prostitute, en tollenaars en sondaars. Die belangrikste is dat Jesus by sy gemeenskap betrokke was, en in voeling met die mense rondom Hom verkeer het. Dit is wat Clark wil beklemtoon: ‘n kerk van tweede kanse is werklik ‘n ‘missional-incarnational’ kerk, ‘n kerk verbind tot die wêrld. Dit wil lewens verander, dit wil hoop gee, selfs al lyk alles hopeloos.

 

Bespreking                                        

‘The God of Second Chances’ is vanuit ‘n pastorale eerder as ‘n akademiese perspektief geskryf. Soos hierbo aangedui, eksiliese en posteksiliese stemme weerklink ook in hedendaagse uitroepe. Alhoewel Clark die meeste omstrede menings rondom outeurskap, datum, teks-, redaksie- en bronnekritiek vermy, weerspieël sy boek nietemin vakwetenskaplike insig. Byvoorbeeld, elkeen van die profetiese boeke wat hy bespreek, plaas hy binne die historiese raamwerk van Juda / Israel, en waar nodig, verduidelik hy die betekenis van sommige Hebreeuse woorde, sonder om in te veel detail in te gaan. Hy sien die profete in die eerste plek as boodskappers wat die gemeenskap van hul tyd aanspreek – en daarom is die parallelle wat hy tussen sy kontemporêre Portland-gemeenskap en die res van die missionale-inkarnasie-kerk trek, oortuigend.

Ron Clark se boek voer die leser mee, en wek simpatie vir die mense met wie hy te doene het. ‘The God of Second Chances’ kan aanbeveel word nie slegs vir predikante of pastorale beraders nie, maar vir enigeen wat hoop aan die verstotenes van die samelewing wil bring.

 

Gerda de Villiers