1. David G Firth en Philip S Johnston, Interpreting Deuteronomy. Issues and approaches. IVP Academic: Illinois

David Firth is aan Suid-Afrikaanse Ou Testamentici goed bekend. Hy is eintlik ‘n Australiër wat die Ou Testament in Johannesburg doseer het en sy doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Tans is hy aan die St John’s College in Nottingham verbonde. Hy en Philip S Johnston van Cambridge het in samewerking met kollegas uit die Verenigde Koninkryk, Maleisië en Australië hierdie werk oor verskillende aspekte van Deuteronomium geskryf. Die boek bestaan uit drie dele. Die eerste fokus op die literêre samestelling van die boek asook resente interpretasies daarvan. Die tweede deel beskryf enkele temas in die boek Deuteronomium en die derde word Deuteronomium in die lig van gemengde huwelike, volksmoord, ensovoorts bekyk.

In ‘n interessante hoofstuk oor Deuteronomium en Esra-Nehemia toon die skrywer, Csilla Saysell, hoe laasgenoemde Deuteronomium se wette relevant vir ‘n na-eksiliese gemeente wou maak. Deuteronomium het hulle denke geslyp, maar Esra-Nehemia volg ‘n harder houding tussen ‘ons’ en ‘hulle’: daar is duidelike grenslyne en ook geen moontlikheid vir die vreemdeling om deel van Israel te word nie (207-208).

‘n Ander hoofstuk handel weer oor Deuteronomium se ‘parateks’ en daarmee bedoel die skrywer, Greg Coswell, dinge soos die plek van Deuteronomium in die Pentateug en die hele Ou Testament. Met ander woorde Deuteronomium se verhouding tot die boeke wat dit voorafgaan (dus Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri) en wat daarop volg (soos Josua, Rigters, ens.) ander boeke. Ook Deuteronomium se Hebreeuse en Griekse naam en titel is belangrik: die Hebreeuse naam vir Deuteronomium is ‘woorde’ en dit dui op ‘a report of words which were spoken’ (217). In die Griekse vertaling (of Septuagint of LXX) is dit bloot ‘Deuteronomion’ of ‘tweede wet’ en hiervolgens moet ons Deuteronomium beskou as ‘n herhaling of tweede uitgawe van die wet wat in Eksodus gegee is. Volgens Coswell is hierdie en ander aspekte van Deuteronomium se parateks nogal belangrik vir die verstaan van die boek. Sy sieninge sluit baie nou by James Robson se bydrae oor die ontstaan, ontwikkeling en samesteling van Deuteronomium aan (60-92). Robson probeer nog Deuteronomium aan Moses koppel, maar hou ook rekening met verskillende stadia in die ontwikkeling van die boek asook die bronne wat gebruik is om Deuteronomium te skryf. Die band tussen Josia se hervorming en Deuteronomium asook laasgenoemde se verhouding tot die profete en die wysheid word ook toegelig. .

Aan die ‘vreemdeling’ in Deuteronomium is ook ‘n hoofstuk gewy (229-2390. Volgens Jenny Corcoran was die verbond met Israel in Maob die gronslag waarop ‘n oop gemeenskap gebou moes word. Die verbondsgemeenskap moes duidelik, sigbaar en dramaties anders as die ander omringende volke wees. Dit moes ‘n toonbeeld van liefde en gasvryheid en ‘n voorbeeld vir die ander nasies wees. As ‘n groep ‘they had to live a life of justice, love, righteousness and compassion, because these are the qualities of their God’ (237). Die vreemdeling moes Israel daaraan herinner dat hulle ook eens vreemdelinge in ‘n vreemde land was en dít moes hulle tot liefde vir die vreemdeling aanspoor. Hierdie spesifieke siening van Deuteronomium moes ook in die kerk ‘n neerslag vind: ‘This … suggests that the church should live out its paradigm of hospitality as a community that is inclusive, regardless of ethnicity, age, gender and social status’ (238).

Volksmoord in Deuteronomium word ook aangespreek. In Julie 1099 het die kruisvaarders Jerusalem binnegestorm en almal afgemaai. Inwoners het voor die aanstormende Christene neergeval en om genade gesmeek, maar tevergeefs. Selfs kinders het gepleit, maar is voor die voet doodgemaak. Of soos een berig vertel het: ‘For the Christians gave over their whole hearts to murder, so that not a suckling little male child or female, not even an infant of one year would escape the hand of the murderer’ (241). Volgens die skrywer, Christian Hofreiter, vervul die moord van Jerusalem se mense in Julie 1099 ‘n ons met weersin en tog word iets soortgelyk ook in Deuteronomium en elders in die Ou Testament aangetref. En dit nogal op bevel van God (vgl Dt 2:33-34; 3:2-6)! Die kruisvaarders van Julie 1099 het ook voor die tyd gebid en uit die Bybel gelees en toe hulle woede op onskuldige mense uitgegiet. Presies soos Israel eeue vroeër. Volgens Hofreiter het hierdie soort optrede God se liefde, getrouheid en geregtigheid verdag gemaak en vandag se Christen in ‘n baie moeilike posisie geplaas.

Die boek van Firth en Johnston is die moeite werd om te bestudeer want dit werp interessante lig op die veelkantigheid van Deuteronomium. Dit is geskryf deur mense met ‘n aanvoeling vir die wetenskap asook vandag se probleme.

Share this / Deel hierdie: