2017. Cas Wepener, Die reis gaan inwaarts. Die kuns van sterwe in die kreatiewe werke van Karel Schoeman

Uitgewer: SUN MeDIA MeTRO

Druknaam: SUN PRESS

ISBN: 978-1-928355-14-4: R325

ISBN: 978-1-928355-15-1: R260 [e-book]

Verkrygbaar by: www.africansunmedia.co.za / www.sun-e-shop.co.za / afrocansunmedia.snapplify.com

E-pos: orders@africansunmedia.co.za

Telefoon: 021 201 0071

 

Inleiding

Hierdie boek van Cas Wepener is die produk van ‘n MA in Kreatiewe Skryfkuns wat hy onder leiding van prof Henning Pieterse in 2014 aan die Universiteit van Pretoria gedoen het. Soos die subtitel van die boek laat blyk, is die fokus op die skrywer, Karel Schoeman, en die tema van die dood, wat soos ‘n goue draad deur feitlik as sy werke loop. Wat die boek besonder merkwaardig maak, is die opmerkings ‘Vooraf’. Op 27 April 2017 stel Wepener vir Schoeman in kennis oor die komende publikasie; op 29 April 2017 reageer Schoeman besonder positief hierop; op 1 Mei 2017 neem Schoeman sy eie lewe. ‘Ars morendi’, die kuns om te sterwe is iets wat aangeleer word, namate elke mens met sy of haar eie reis inwaarts aanbeweeg.

Inhoud

Willie Burger lewer ‘n ‘Voorwoord’ waarin hy sy indrukke van Wepener se benadering tot Schoeman se werke gee. Volgens hom slaag Wepener daarin om nie voorskriftelik of moraliserend te raak nie, maar om ‘uiteindelik op ‘n praktiese manier leiding [te gee] aan diegene wat met die dood gekonfronteer word’ (p viii). Daarna kom Wepener self aan die woord: ‘Inleiding: “Om dood te gaan, is eintlik nie so moeilik nie”’, maar wat moeilik is, is die gedagte aan doodgaan. Wepener begin deur enkele inleidende opmerkings te maak, oor die dood, die aanloop tot die skrywe van die boek, en hy deel kortliks ‘n paar besonderhede oor homself mee: hy is ‘n opgeleide teoloog wat ‘n aantal jare lank self in die bediening gestaan het, en is tans ‘n dosent wat in Liturgie en Homilietiek spesialiseer (p 9). Vervolgens gee hy ‘n oorsig oor Schoeman se lewe en sy werke: ‘Karel Schoeman se kreatiewe oeuvre en die kuns van sterwe’, oftewel, ‘ars morendi’. Wepener verwys na heelwat bronne wat hy in sy navorsing gebruik het, en hy motiveer waarom hy drie spesifieke werke gekies het: sy fokus is op liturge en versorgers in Suid Afrika.

In die tweede hoofstuk sit Wepener sy leesstrategie uiteen: ‘Oorgangsrituele, “dominees” en die dood: fiktiewe ritueel as leesstrategie’. Hier gaan dit om metodologie, dit wil sê, die bepaalde teorieë waarmee Schoeman se werke benader word. Wepener dui aan dat hy deur die lense van ‘n sosiaal-wetenskaplike bril lees, en dat hy ook gebruik maak van insigte uit die Sosiologie, Sosiale en Kulturele Antropologie, die Sielkunde en die Pastoraat. Hy poog om die verskillende teksture van die teks met mekaar in gesprek te laat tree, maar dis belangrik dat die leser ook hierby betrek word. Die drie romans wat hy gekies het, speel tydens ‘n bepaalde historiese tydperk in Suid Afrika af, en daar is inderdaad heelwat historiese inligting beskikbaar, maar die fiktiewe aard daarvan maak dit anders as geskiedskrywing, en dit is waar die leser aktief by die gebeure betrek word, en sy of haar eie interpretasie daaraan gee.

Die drie romans wat Wepener vir die bestudering van ‘ars morendi’ in Schoeman se werke selekteer, is: ‘n Lug vol helder wolke (1967); ‘n Ander land (1984); en Die uur van die engel (1995) wat moonlik ook verskillende fases in Schoeman se eie reis inwaarts verteenwoordig. Pastorale versorging van sterwendes in Suid Afrika het hierdie keuse gemotiveer, en alhoewel dit nie deel van die oorspronklike kriteria uitgemaak het nie, word al drie werke teen ‘n Vrystaatse agtergrond geskets. Die eerste twee speel af in die laat negentiende en vroeg twintigste eeu, en die laaste strek oor ‘n langer tydperk, beginnende in die negentiende eeu en eindig in 1995. Om die historiese agtergrond van hierdie werke van Schoeman te verstaan, staan Wepener ‘n oomblik stil by ‘portrette van dominees’, ook in die laat negentiende en vroeg twintigste eeu in Suid Afrika. Formidabele, somber, strak, gesaghebbende figure wat waarskynlik ‘n sterk patriargale samelewing verteenwoordig. Watter insig sou hierdie soort ‘dominee’ in Elisabeth Kübler Ross se tradisionele vyf fases in die mens se sterwensproses gehad het, om nie eens te praat van Boeddhisme en gedagtes aan die lydende mensdom en meditasies nie – temas wat ook in Schoeman se werke gevind kan word.

Die volgende drie hoofstukke handel oor die drie romans van Schoeman wat Wepener in sy boek bespreek. ‘n Lug vol helder wolke is die eerste, en daar is drie figure wat by sterwende mense betrokke is: twee dominees en ‘Meester’. Die twee dominees vaar nie baie goed nie. Een is onbeholpe en futloos, en verval in geÿkte uitdrukkings by mense in nood. Die ander veroordeel en preek hel en verdoemenis sover hy gaan. Daarenteen is die a-teïstiese ‘Meester’ wat geen teologiese opleiding het nie, ‘n veel meer simpatieke figuur wat ‘n gesindheid van begrip en genade betoon wanneer ‘n jong vrou selfmoord pleeg omdat sy ‘n buite-egtelike kind verwag.

‘n Ander land vertel ook van die sterwensproses, dood en versorging, en soos wat uit die titel van die boek afgelei kan word, is die sterwendes sowel as die pastor almal van ‘’n ander land’. Die jong pastoor August Scheffler is ‘n Lutheraan en van Duitsland. Eers sterf ‘n naamlose Skotse dame, en dan menere Gelmers en Versluis, albei van Nederland. Pastoor Scheffler hanteer al hierdie begrafnisse en word besonder empaties voorgestel – hy maak byvoorbeeld geen onderskeid tussen hoe hy die meer welgestelde Versluis en armoedige Gelmers behandel nie. Benewens sterwe en dood, is die tema van die buitestaander, die ‘ander’, besonder prominent in hierdie roman.

Die laaste roman wat uitvoering bespreek word, is Die uur van die engel. Opvallend is die Bybelse en Christelieke motiewe waarop daar in hierdie werk gesinspeel word. Wepener wys op die parallelle tussen ds Heyns, Danie Steenkamp en Jesus. Benewens die feit dat hulle vir mense in hul diepste nood omgee, sterf hulle almal redelik jonk, geniet nie erkenning in hul leeftyd nie, en word deur die gemeenskap verdryf. Wepener merk verder op dat die wyse waarop die ideale liturg in die roman voorgestel word, na alle waarskynlikheid Karel Schoeman self is: ‘… die kloosterling, teologiestudent, versorger, verpleër, Rooms Katoliek, Boeddhis, historikus en skrywer wie se reis in die verloop van drie aantoonbare fases van sy kreatiewe oeuvre self inwaarts gegaan het’ (p 172).

‘n Volgende hoofstuk word afgestaan aan ‘Nog vier stemme’ wat by die tema van sterwe, dood en pastorale versorging aansluit. Wepener verwys kortliks na vier ander van Schoeman se romans: Die laaste Afrikaanse boek (Schoeman se biografie); Veldslag; Hierdie lewe; en Verliesfontein. Nou word dit belangrik om op die titel en subtitel van Wepener se boek te let: ‘Die reis gaan inwaarts. Die kuns van sterwe … ’. Die ‘ars morendi’, die kuns van sterwe, word die beste beoefen deur elke karakter se besig wees met sy of haar eie inwaartse reis. Dit geld nie net vir die sterwende nie, maar veral ook vir die versorgers. Vir Wepener gaan dit om ‘’n reis wat dikwels tussen disoriëntasie en heroriëntasie plaasvind en dus ‘n reis is wat in die teken van verlies staan’ (p 184), en wat dit moontlik maak om onvoorwaardelik te gee.

Aansluitend hierby is die hoofstuk oor die kern van die kriterium waarvolgens die liturge of pastors geoordeel word. Wepener gebruik ‘n term wat hy aan die pastorale teoloog Henri Nowen ontleen: ‘gewonde genesers’ (p 197). Dit is diegene wat self van hul  eindigheid en broosheid bewus is terwyl hulle voortdurend met hul eie inwaartse reis besig is. ‘n Inwaartse reis, gedagtes rondom lyding en verlies is begippe wat in Boeddhisme, die Christelike geloof maar ook in algemene ritualiteit en spiritualiteit teruggevind kan word, en wat baie duidelik in al Schoeman se werke kreatief en karaktervol uitgebeeld word.

Wepener sluit sy eie boek af met ‘n paar kort opmerkings oor die waarde van hierdie studie vir Suid Afrika vandag en veral binne die terrein van Praktiese Teologie.

Evaluering

Cas Wepener toon besondere insig in die werke van Karel Schoeman en die wyse waarop hy die drie gekose romans behandel. Die reis gaan inwaarts getuig van goeie navosing en ‘n grondige teoretiese basis. Dit is nie net ‘n bespreking van Schoeman se werke nie, deurgaans word insigte van ander vakgebiede betrek, word daar ook met ander teoloë in gesprek getree. ‘n Winspunt is dat Wepener heelwat van voetnote gebruik om om begrippe te verduidelik wat moontlik vir die gewone leser vreemd kan wees, of om inligting te verskaf waar iets dalk onduidelik mag wees. Aan die einde word ‘n volledige bibliografie verstrek.

Die reis gaan inwaarts kan beslis aanbeveel word nie net vir pastors en ligturge nie, maar vir enigeen wat by mense betrokke is waar daar hulp verleen moet word.