2010 [2000; 2002]. Anthony G Pappas, Entering the World of the Small Church. An Alban Institute Publication: Durham.

Hierdie boek is ‘n derde en opgedateerde heruitgawe van wat Anthony Pappas die ‘klein kerk’ noem. Hierin verduidelik hy die unieke aard, die voordele en die nadele wat die bediening van so ‘n gemeenskap inhou. Klein kerke het min lidmate en ontstaan dikwels as gevolg van baie spesifieke behoeftes of omstandighede: ouderdom, etnisiteit, lewenssituasies, ensovoorts. Dit het voordele, maar ook nadele, en die unieke aard van die klein kerk, vra ‘n unieke bediening van die predikant.

‘n Klein kerk is ‘n hegte gemeenskap funksioneer baie soos ‘n familie: almal ken mekaar, en almal is by mekaar se wel en weë betrokke. Wanneer ‘n predikant as spirituele leier en bedienaar van die Woord by so ‘n gemeente betrokke raak, is daar sekere aspekte waarvan sy of hy bewus moet wees, en wat moontlik problematies in die bediening kan wees.

‘n Eerste probleem is dat die verantwoordelikheid om mekaar te vermaan, meestal nie nagekom word nie. In omgee-gemeenskappe soos dié van die klein kerk, is mense maar al te geneig om ‘n blinde oog te draai en iemand oor haar of sy destruktiewe gedrag aan te spreek, omdat hulle bang is dat hulle dalk kan seermaak of aanstoot gee. Wanneer konflik dreig, word die gemeenskap as’t ware heeltemal verlam.

Hegte en geslote gemeenskappe is ook geneig om in ‘n groef te verval. Dikwels bestaan daar vaste persepsies oor hoe dinge gedoen moet word: omdat dit in die verlede gewerk het, moet dit ook in die hede en in die toekoms werk – waarom is dit nodig om aan ‘n bestaande ‘sukses-resep’ te verander? Met ander woorde, die verlede word geïdealiseer, en mense, verhoudinge, persoonlike belange en ego’s kom in die gedrang wanneer daar gepoog word om bepaalde probleme aan te spreek of dit te probeer oplos.

Die grootste uitdaging vir die leier in ‘n klein kerk, is dat sy of hy met lidmate te doene kry wat oor die algemeen onbeweeglik is. Klein kerke se sosiale dinamiek is dié van ‘n volksgemeenskap waar daar vaste patrone bestaan en wat mense eerder wil behou as verander, omdat dit ‘n bepaalde sekuriteit en versekering bied. Pappas stel voor dat die pastorale leier in so ‘n gemeenskap moet leef en dit geniet, maar nie daardeur vasgevang moet word nie.

Dit is belangrik, sê Pappas, om die pluspunte raak te sien. Die betrokkenheid van mense by mekaar beteken dat elkeen belangrik is, maar ook dat elkeen ‘n verskil kan maak. Die erfenis en herinneringe van die verlede moet gekoester word – nie as vas en onveranderbare sekerhede nie, maar as fondamente waarop voortgebou kan word. Die gemeenskap se vertroue moet gewen word, hul eie selfvertroue moet ontwikkel word sodat hulle nie na bestaande patrone toe terugval nie, maar kreatiewe moontlikhede vir die toekoms ontwikkel.      In ‘n globale samelewing waar mega-kerke die realiteit is, meen Pappas dat klein kerke wel ‘n toekoms het, juis vanweë die persoonlike aard daarvan.

Evaluering

Die boek is nie vir groot stedelike mega-kerke bedoel nie. Miskien sal predikante wat by selgroepe, omgeegroepe of huiskerke betrokke is, hierdie boek wel kan gebruik. Predikante in klein en geslote plattelandse gemeenskappe sal waarskynlik die meeste aanklank by Entering the World of the Small Church vind want hier gaan dit hoofsaaklik oor hoe ‘n pastorale leier in so ‘n gemeenskap kan oorleef, en steeds ‘n waardevolle bydrae kan lewer.