1. Cas Vos, Fragmente uit die Odusseia. Homeros. Pretoria: Cordis Trust Publikasies.

Cas Vos het gedurende die afglope paar dekades naam gemaak as digter, en veral vir die wyse waarop hy die letterkunde van die ou Nabye Oosterse en Griekse wêrelde vars, kreatief en in idiomatiese Afrikaans ‘omdig’. Geen vertaling kan daarin slaag om werklik die siel en die gees van die oorspronklike te adem nie – vertaling is verdraaiing, selfs verraad, meen Vos. ‘’n Omdigting in (vertaling) in die eie taal is soos soetvye op die tong … [en] kry in Afrikaans ‘n eie lewe, ritme en stukrag’ (p 37). Voorbeelde van sulke omdigtings uit Vos se pen is die ‘Uruk-fragmente’ gebaseer op die Gilgamesj-epos (pp 73-94, in sy bundel, die afdruk van ons hande, 2007), en Fragmente uit die Ilias (2014).

Fragmente uit die Odusseia volg op die ‘Ilias’, nie net in Vos se oeuvre nie, maar ook in die Homeriese epos bou die Odusseia voort vanwaar die Ilias geëindig het. Daar is egter ‘n verskil: die Ilias vertel van ‘n oorlog en helde; die Odusseia vertel van ‘n eensame man en sy moeisame omswerwinge en ontberings. Dié man is Odusseus. Ná afloop van die Trojaanse oorlog (wat in die Ilias beskryf word), het Odusseus net een begeerte, en dit is om na sy huis in Ithaka terug te keer waar sy geliefde vrou, Penelope al die jare lank vir hom wag.

Homeros se epiese gedigte kleur ‘n tydperk in die Griekse geskiedenis in wat as die ‘donker eeue’ beskryf word – tussen ongeveer 1300 – 850 vC.  Die gebeure wat gedurende hierdie tydperk afgespeel het, kan met moeite gerekonstrueer word, want Homeros is die enigste verslaggewer, sy berigte is min of meer 450 jaar laat, en bestaan uit maksimum mite en minimum – dalk geen – feit. Die wêreld waarvan Homeros vertel, is wêreldvreemd in ‘n een en twintigste tegnologies gedrewe samelewing. Mense is uitgelewer aan wispelturige gode, nimfe en hul toorkuns, monsters en magte buite hul beheer. Tereg kan ‘n mens vra: waarom sou jy die moeite doen om enigiets te lees oor ‘… eenmaal lank lank gelede in ‘n land ver ver hiervandaan?’

Cas Vos vertel jou.

Eers maak hy ‘n venster op Homeros en sy letterkunde oop. Net soos die onsekerheid rondom die gebeure wat in die Odusseia verhaal word, bestaan daar groot onsekerheid oor wanneer Homeros geleef en gesterf het, behalwe dat dit iewers tussen die 9e en 7e eeu vC was. Na alle waarskynlikheid is Homeros se eposse ook op lankbestaande mondelinge oorlewerings gebaseer, soos herinneringe aan die Trojaanse Oorlog en Odusseus, heerser oor Ithaka. Die Grieks wat Homeros gebruik, is ‘n argaïese vorm van primêr Ioniese Grieks, maar daar is ook ontleings aan ander Griekse dialekte en nie-Griekse leenwoorde. Verder is die epos in ‘n baie spesifieke poëtiese versvorm geskryf, naamlik die diaktiliese heksameter wat Vos meer breedvoerig op bladsye 41-46 verduidelik.

Die inligting wat Cas Vos oor die epos self verstrek, is ook insiggewend. Die Odusseia bestaan uit XXIV boeke en verskillende verhale wat op verskillende maniere in hierdie boeke saamgeweef word. Maar ‘[D]aar is een tema wat soos ‘n skip op die grys see van die Odusseia seil, naamlik heimwee’, skryf Vos op bladsy 7. Dit gaan oor Odusseus se heimwee na Ithaka, sy land, na Penelope, sy vrou, na Telemachos, sy seun, maar dit gaan ook oor hul heimwee en verlange na hom. ‘n Ander tema wat die verhaal aanmekaar weef, is xenía (gasvryheid) wat deur sekere rituele handelinge gekenmerk word: ‘voetewas, bad, oliesalwing, die gee van ‘n onder- en bokleed as geskenk, ‘n rojale feesmaal, uitgesoekte wyn, siterspel, lierspel, sang en ‘n offer aan Zeus (p 9).

Vos wys ook op die belangrike rol wat vroue in die Odusseia speel. Enkele voorbeelde: daar is menslike vroue soos Penelope, Odusseus se eie vrou en Eurukleia, die ou oppasser wat hom en sy seun albei opgepas het. Eurukleia is dan ook die eerste een is wat hom by sy terugkeer herken. Wanneer sy sy voete was, sien sy ‘n ou wond raak wat ‘n vark met sy wit tand hom toegedien het, en dan weet sy dit is hy. Dan is daar die verskillende godinne en nimfe. ‘Grysoog Athena’ is beide Odusseus en Telemachos goedgesind en help hulle op verskillende maniere deur verskillende gedaantes aan te neem. Maar dan is daar die slu en wrede Krike wat Odusseus se makkers in varke verander, en die listige en betowerende Kalipso wat hom nie van haar eiland wil laat vertrek nie.

Voordat Vos tot sy eie ‘omdigting’ van die Odusseia oorgaan, gee hy eers ‘n oorsig oor die invloed van Homeros se werke (pp 19-39). Hy noem verskillende romans en gedigte wat spesifiek deur die Odusseia geïnspireer is, onder andere James Joyce se welbekende Ulysses en Sándor Márai (‘n Hongaarse skrywer) se Vrede op Ithaca wat in Nederlands vertaal is. Onder die digters wat die Odusseia nagevolg het, is daar Odysseus Elytis, Ted Hughes, Yannis Ritsos, Rainer Maria Rilke, Federico García Lorca, Konstantinos Kavafis, Breyten Breytenbach, Alfred Tennyson, Giorgos Seferis en ‘n prosagedig van Anne Carson. Hy noem ook spesifiek ander Suid Afrikaanse digters: AG Visser, NP van Wyk Louw, Sheila Cussons en DJ Opperman.

Anders as sy vorige omdigtings van klassieke werke, verskyn Cas Vos se Fragmente uit die Odusseia nie in poësie nie, maar in prosavorm. Dit is wel ‘n kreatiewe herskepping en poog hoegenaamd nie om ‘n vertaling van die oorspronklike te wees nie. Vos het in sy voorafgaande bespreking op JPJ van Rensburg se letterlike vertaling van die Ilias en die Odusseia gewys en dit as ‘n winspunt vir Afrikaans beskryf omdat dit hierdie klassieke eposse vir lesers toeganklik gemaak het wat nie Grieks magtig is nie. Ekself het ook Van Rensburg se werke gelees en ek stem met Vos saam: ‘n mens kry ‘n indruk van die antieke Griekse wêreld en taal; nogtans lees die vertaling betreklik moeilik, juis omdat dit ‘n letterlike vertaling is. Antieke letterkunde soos eposse waarvan die Ilias en die Odusseia voorbeelde is, was aanvanklik mondelinge komposisies wat eers later neergeskryf is, en om die memoriseer van sulke langer tekste te vergemaklik, is dit altyd as gedigte voorgedra, of moontlik selfs gesing. Daarom bevat alle eposse van die vroeë tye ook al die tipiese elemente van poësie: talle herhalings, parallelismes, geykte vorme, wat ‘soos trosse meulsteune om lesers se nekke hang’ (p 40).

En dít is die winspunt van Vos se omdigting. Hy kies prosa en vermy daardeur die elemente wat steur, die leesspoed vertraag en die trant van die verhaal onderbreek. Terselfdertyd behou hy die poëtiese elemente van die oorspronklike teks: die godin Athena is ‘grysoog Athena’ en die sonsopkoms is ‘vroeggebore roosvinger Daeraad’. Namate dit dag word, ‘verlaat [die son] die aarde soos ‘n voël wat in sy vlug van die water opskrik en na die koperkoepel van die hemel opskiet om oor onsterflikes en sterflikes te straal’ (p 74). Met Afrikaans wat soos ‘soetvye op die tong’ val, neem Vos die leser deur die XXIV boeke van die Odusseia, en boei ‘n mens van begin tot einde.

‘n Mens beleef Telemachos se verlange na sy vader en Penelope se hunkering na haar man. Elke keer as grysoog Athena haar verskyning maak, bokspring jou hart van blydskap, en jy verwens die onstuimige Poseidon wat al Odusseus se pogings om na Ithaka toe terug te keer, verydel. Jy hou asem op as die held die gevare van die sikloop en die sirenes moet trotseer, jy kry ‘n knop in jou keel as hy Hades besoek en oorlede moeder en ander wat sien wat in die Trojaanse Oorlog gesneuwel het. Jy jubel as vader en seun mekaar herken, jy verwens Penelope se lastige minnaars en bewonder haar vernuf as sy telkens haar weefwerk lostrek om hulle te frustreer.

Na lang en moeisame omswerwinge, keer Odusseus uiteindelik na Ithaka terug, maar hy is as ‘n sukkelende bedelaar vermom. Slegs enkeles herken hom – sy seun en die ou vrou wat hom versorg het. Sy identiteit bly selfs vir Penelope geheim, want hy beplan wraak op haar minnaars wat hulle trommeldik aan sy kos eet en sy beste wyn uitdrink. ‘Soos ‘n teef bo oor haar kleintjies staan om hulle te beskerm as sy iemand nie ken nie, en grommend tande wys, so grom sy hart van ergernis oor hulle bose dade’ (p 154). Athena lei Penelope daartoe om ‘n wedstryd vir die minnaars op te stel: sy sal haar hand gee aan die een wat met Odusseus se pyl en boog direk deur die steelgate van twaalf byle kan skiet – iets wat net Odusseus kon regkry. Natuurlik misluk hulle die een na die ander, selfs Telemachos kan net ‘n ligte trilling uit die wapen kry.

Odusseus versoek dan dat die instrumente aan hom oorgehandig word sodat hy ook kan probeer, en natuurlik lag almal hom uit. Penelope sê egter dat hy wel ‘n kans moet kry. Die snaar ‘fluit soos ‘n swaeltjie’ en met een pyltrek skiet hy dwarsdeur al die byle se steelgate. Vervolgens word al die minnaars die een na die ander afgemaai totdat almal in stof en bloed lê. En dis nie al nie. In die huis was daar twaalf vrouebediendes wat ook laat blyk het dat hulle Odusseus geminag het en ontrou was. Hulle word deur Telemachos opgehang: ‘Soos wanneer langvlerk lysters of duiwe op pad na hulle slaapplek toe in ‘n strik vasvlieg, so word die vrouens se koppe in ‘n ry gehou met ‘n strop om elke nek gespan’ (p 162).

Tog is daar ‘n gelukkige einde. Penelope herken haar man en hulle maak liefde soos van ouds. Sy soen hom sonder ophou en ‘haar lippe is soos ‘n mossel wat aan ‘n rots vassuig’ (p 166). Hermes, die boodskappergod lei die siele van minnaars uit Odusseus se huis waar hulle by ander gestorwenes van die Trojaanse Oorlog aansluit. Odusseus besoek sy bejaarde vader wat heeltemal oorstelp van blydskap is. Maar nou wil Zeus, die hoof van die gode, ‘n einde aan al die woede en geweld maak. Hy gee aan Athena ‘n opdrag om ‘n vredesverdrag tussen Odusseus en sy vyande te sluit. Die epos eindig: ‘Rus en vrede sif soos ‘n reënvlaag in Ithaka neer’ (p 169).

Ten slotte verstrek Vos ‘n verklaring van al die name – mense, gode, monsters en plekke – wat in die epos voorkom.

Evaluering

Cas Vos se omdigting van die Odusseia is uiters geslaagd. Dit is veral belangrik om te onthou dat die groot Griekse eposse, soos die Ilias en die Odusseia as die begin van die Westerse literêre kanon, selfs as die beginpunt van wêreldletterkunde beskryf word (p 1). Om ‘n waardering vir letterkunde te hê, moet ‘n mens dus by die begin begin. Die meeste Afrikaanssprekende mense wat ook erns met letterkunde maak, kan nie Grieks lees nie, veral nie Homeros se Grieks nie. Hulle is aangewese op kort en dikwels onvolledige opsommings in ensiklopedieë, of lang, verwarrende vertalings in ‘n taal wat hulle wel kan lees. In hierdie verband vervul Vos se omdigting ‘n baie groot leemte: uit die bespreking hierbo is dit duidelik hy in goeie, leesbare en idiomatiese Afrikaans geskryf het, en dat die boek vir enigeen wat kan lees, toeganklik is.

Wat moontlik vir die hedendaagse leser ‘n uitdaging kan bied, is om jouself in ‘n wêreld van gode en monsters te verbeel. In hierdie verband het jonger lesers het inderdaad ‘n groot voorsprong, want ek hoor by studente dat ‘n daar hele aantal rekenaarspeletjies bestaan wat op Grieks-Romeinse mites en heldefigure gebaseer is! Ek kan dus die boek sterk aanbeveel: by oud en jonk, by die leser wat ernstig oor letterkunde voel sowel as by die een wat bloot vir ontspanning wil lees.

Fragmente uit die Odusseia kan aangekoop word by: cas.vos@vodamail.co.za