2016. Cas Vos, God die groot Digter.  Cordis Trust Publikasies: Pretoria

Inleiding

Cas Vos het reeds naam verwerf as digter, as ‘omdigter’ van verskeie grootse werke uit die klassieke Griekse letterkunde, waarvan die Ilias en die Odussea ook alreeds op teo.co.za bespreek is. In sy jongste bundel is Vos nie aan die woord nie, en die gedigte is ook nie sy eie nie. ‘God die groot digter’ is die titel van die boek, en die gedigte oor Hom en vir Hom is die psalms. Die ontwerp op die voorblad sê alreeds waaroor die inhoud gaan: dit is ‘n afdruk van ‘n skildery van Vincent van Gogh – ‘Stilleven met Bijbel’. Op ‘n blanko bladsy staan die eenvoudige woorde: ‘Vir Niek en Dirk’, en dit is ook hierdie twee persone wat die voorwoord skryf. Niek Schuman is ‘n emeritus-hoogleraar in Ou Testament en later Liturgiek aan die Vrije Universiteit van Amsterdam, en Dirk Human is tans professor in Ou Testament en Adjunk-dekaan aan die Universiteit van Pretoria. Met ‘n inleidende ‘Woord uit die hart’ sê die skrywer kortliks iets oor die psalms en spreek enkele bedankings uit.

Inhoud

Die boek bestaan uit twintig hoofstukke en word as ‘n reis deur die landskap van die psalms voorgestel. Dit is egter nodig dat die leser vir hierdie reis voorberei word. Die eerste vyf hoofstukke is inleidend van aard en pak as’t ware die tas vir die vertrek. Om die landskap van die psalms te verstaan, gee Cas Vos ‘n oorsig oor die oorsprong en ontwikkeling van die Psalmbundel, en verduidelik hoe die bundel as geheel in vyf boeke ingedeel word (hoofstuk 2). Dan skenk hy aandag aan metafore (hoofstuk 3). Die metafoor is een van die belangrikste kunsgrepe in die genre van poësie, en die psalms is inderdaad poësie, wat net soos ander digkuns ook van metafore gebruik maak. Maar in die psalms gaan die metafoor om meer as net ‘n literêre kunsgreep. Cas Vos beskryf die psalms as ‘teopoësie’ (pp 1 & 64), en sê dat hulle nie geloofsleer vorm nie, maar ‘geloofspoësie’ onder woorde wil bring (p 19). Deur die gebruik van metafore probeer die psalms iets oor God en aan God onder woorde bring, maar wat eintlik onverstaanbaar en onsegbaar is.

Uiteindelik is die psalmbundel ‘n boek van meditasie, sang en gebed (hoofstuk 4). Hier word nagedink oor God, word liedere oor sonde en genade gesing, hier word innige bede deur die gemeente maar ook deur die enkeling gerig waarin gesmeek word om in ‘n verhouding met God te wees en sy betrokkenheid in alle sfere van die lewe te ervaar. ‘In die Psalms is God teenwoordig: reddend, beskermend, troostend en vergewend’ (pp 28-29).

Die mensbeeld van die antieke wêreld vorm ook deel van die agtergrond waarteen ‘n mens die psalms moet lees en verstaan (hoofstuk 5). Cas Vos verduidelik dat mens se siel, liggaam en verstand in die antieke wêreld nie geskei was nie, maar ‘n eenheid gevorm het, dat die hart die sentrum van die denke was, en die lewer die orgaan waar intense emosies ervaar is (pp 30-31). Die mens van die antieke wêreld was ook veel minder van ‘n individu, elkeen was in ‘n sosiale sfeer ingebed en moes by die voorgeskrewe sosiale orde en norme van die tyd inpas.

Vanaf hoofstuk 6 begin die reis deur die geskakeerde kleurryke landskap van die Psalms. In hierdie reis word die transendente God in die ‘poreuse’ werklikheid ontdek (hoofstuk 7), breek sy lig deur (hoofstuk 7), word Hy as die Koning ervaar (hoofstuk 11) aan wie die hele skepping behoort (hoofstuk 10), en aan wie die hele kosmos lof betuig (Psalm 150, hoofstuk 19). Die reis is egter nie ‘n goddelike triomftog wat sonder gevare is nie. Daarvan getuig die pelgrimspsalms (hoofstuk 9), of die ‘bedevaartsliedere’ soos wat dit vroeër bekend gestaan het.   Heelwat van die psalms spreek van die mens se problematiese verhouding met God, spreek van twyfel aan God in ‘n samelewing vol ongeregtigheid en geweld. Waar is God as ‘n mens net die boosheid in die wêreld sien? Psalm 88 (hoofstuk 12) is die donkerste psalm in die hele psalmbundel en word deur Vos as ‘n teodiseeklag bestempel (p 77). In die midde van die lewe, ervaar die mens die dood – en waar is God?

Hierdie moeilike vrae word toegelig deur gebeure uit die hedendaagse konteks: die gebeure in Parys 13 November 2015, die bedrywighede van ISIS, en andere. Vos gebruik ook voorbeelde van hedendaagse digters wat by die worstelinge van die psalms aansluit, onder andere Cussons, Kavafis en sy eie. Soos hy Psalm 23 omdig: ‘Die Here is nie my herder nie, ek kom alles kort …’ (p 41-42). Meer as een keer word daar na die teoloog Dietrich Bonhoeffer verwys wat in die donkerste tye en in ‘n wêreld vol boosheid aan God bly vashou het, terwyl hy geweet het dat hy met sy lewe gaan boet. Die psalms bied nie maklike antwoorde of vlak troos nie. Maar juis in die klag lê die hoop. Soos Vos oor Psalm 88 skryf: ‘Solank daar – en juis deurdat daar – ten dode toe gekla word, bly die vlam van hoop flikker’ (p 80).

Vos verwys ook telkens na voorbeelde uit die Nuwe Testament waar die Psalms aangehaal word, en besonder insiggewend is sy vergelyking tussen Psalm 103 en Matteus 6:9-13, die ‘Onse Vader’- gebed (p 118). En toe Jesus Christus aan die kruis sterf, roep hy Psalm 22 uit: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’ Jesus se Godverlatenheid, ons Godverlatenheid. Maar, sê Vos, ‘Jesus Christus is deur God verlaat sodat ons nooit deur Hom verlaat sal word nie. In lewe en in sterwe’ (p 119).

Evaluering

Die skrywer, Cas Vos neem die leser op ‘n reis deur die psalms, begelei ‘n mens deur ‘n geskakeerde landskap van vreugde maar ook droefheid, van sekerheid maar ook twyfel, van lofprysing maar ook klag. Dis ‘n reis deur diepe menslike emosies en ‘n blywende hunkering na die versekering dat God in alle tye teenwoordig is. Dit was die versugtinge van die psalmdigters van die Ou Testament, die versugtinge van gelowige mense deur al die eeue heen daarna, en dit is ook die bede van die mens vandag.

‘God die groot Digter’ is nie net vroom nadenke oor die Psalms nie. Die Psalms wat Vos in die bundel bespreek, word deeglik ontleed deur middel van ‘n struktuur en eksegese. Vir elke hoofstuk is daar eindnotas, daar is ook ‘n volledige bibliografie, sleutelbegrippe en ‘n persons- en sakeregister.  Akademies ja, maar terselfdertyd hoogs toeganklik vir nie-teoloë. Dit is wat aan Cas Vos se boek ‘n besondere trefkrag verleen en kan met vrymoedigheid vir enige leser aanbeveel word.