1. Cas Wepener. Johanna.

Uitgewer: Protea Boekhuis; info@proteaboekhuis; www.proteaboekhuis.com;

ISBN gedrukte boek: 978-1-4853-0790-7;

ISBN E-boek: 978-1-4853-0791-4;

ISBN ePub: 978-1-4853-0792-1;

Sagteband;

Aantal bladsye: 208;

Prys: R195.00 (BTW ingesluit).

 

Die omslag

Op die omslag is ‘n afdruk van Irma Stern se ‘Eternal Child’ – ‘n kind met ‘n hartvormige gesiggie, groot donker oë, donker hare wat in twee stywe vlegsels gevleg is, en dun lippies. Outydse kleredrag, en in haar hande hou sy ‘n bossie blomme vas. Namate ‘n mens die boek lees, kom jy agter – die ‘ewige kind’ vergestalt Johanna de Swardt se eie kindwees, maar wat sy iewers verloor het, wat haar van dertien na tagtig laat verander het.

Die karakters

Johanna

Die hoofkarakter in die boek is Juffrou Johanna de Swardt, en die boek begin waar sy haar eie lewe beëindig. Haar gedagtes, gevoelens, gebare rondom die laaste oomblikke van haar lewe word aan die leser meegedeel, maar die verteller is anoniem. Johanna kom nooit self aan die woord nie.

Behalwe vir Muriel, is die res van die karakters in die boek ‘ek’-sprekers, Johanna se vriende en familie wat oor haar vertel. Haar dood is onverwags; daar was geen opvallende aanleidende oorsake soos siekte of depressie nie. Hulle onthou Johanna op verskillende maniere, en praat met besondere deernis oor haar. Alhoewel dit geblyk het dat Johanna van kleins ‘anders’ was en sy grootgeword het in tyd toe lesbiese verhoudings nie sosiaal aanvaarbaar was nie, het haar nabye familie haar nie verwerp nie, en was daar ‘n besondere hegte band tussen haar en haar pa.

Johanna se lewe eindig met haar hand op ‘n swart telefoon, en haar pa se stem in haar ore wat sag haar naam noem.

Tog handel die boek nie oor Johanna se dood nie, maar oor haar lewe.

Willie Raubenheimer

Willie Raubenheimer is Johanna se susterskind, prokureur en eksekuteur van die boedel. Hy en sy tante het ‘n liefde vir boeke gedeel, en hy daag by die woonstel op om te kry wat hom toekom: haar boeke. Sy indrukke van die gestroopte woonstel, sy mymering oor wat van haar juweliersware geword het, sy irritasie met die besoek van ‘n Engelse dame, word deur ander karakters in die boek verder uitgebrei.

Nonna

In die boek praat Nonna die meeste: Nonna, Juffrou de Swardt se half-Bruin half-Xhosa huisbediende wat vir die laaste jaar of so van haar lewe vir haar gewerk het. Haar taal is ‘n pittige Kaaps, sy is ‘n besondere kleurryke figuur en sy beskik oor ‘n fyn waarnemingsvermoë. As huisbediende ontmoet sy die meeste van Johanna se vriende en familie, neem sy hulle op grondvlak waar, en is haar evaluering van hulle meestal in die kol.

Pieter

Pieter Louw is die predikant wat Johanna begrawe het … wie se drankasem Nonna van ver af kon ruik wanneer hy besoek kom aflê het. Wie kan hom egter kwalik neem? Hy is in ‘n ongelukkige huwelik vasgevang, sat vir sy gemeente en hulle vir hom, en sy enigste vreugde ‘n ‘n ou wyntjie, so nou en dan. Tydens ‘n kerkbasaar daag ‘n Engelse vrou op, op soek na boeke wat Johanna de Swardt vir ‘n ‘Wit Olifanttafel’ geskenk het. Hierdie vrou is Muriel Gordon, Johanna se lewensmaat vir die laaste 50 jaar van haar lewe.

Muriel Gordon

Muriel is die enigste ander karakter in die boek wat nooit self aan die woord kom nie, maar wat deur ander se oë waargeneem word. Sy word voorgestel as ‘n statige Engelse dame wat oudmodiese snyerspakkies en hakskoene dra, wat ‘n perfekte Afrikaans met ‘n sterk Engelse aksent praat, maar soms ook na Engels oorskakel. Veral vir Muriel het Johanna se dood nie sin gemaak nie, en daarom gaan sy op soek na dié mense wat ook naby haar geleef het. In die proses word kom die ander karakters in die boek aan die woord, met wie Johanna haar lewe gedeel het.

Elize

Muriel ontmoet Elize, Johanna se ouer suster. Kenmerkend van Elize se taalgebruik is ‘ag shame’ waarmee sy haarself telkens onderbreek. Elize vertel vir Muriel dat sy vroeg besef het haar sussie is ‘anders’. Elize onthou egter ook van ‘n naweek, toe Johanna haar ouers gesmeek het om haar toe te laat saam met ‘n skoolvriendin op die familie se plaas te gaan kuier. Daar het iets gebeur wat die vriendskap beëindig het, en wat die res van haar lewe sou beïnvloed. Johanna was toe dertien jaar oud. Muriel blaai saam met Elize deur ou foto-albums en herken Johanna en die einste vriendin. Op die foto dra Johanna nog die kettinkie om haar nek wat die twee susters elk op hul tiende verjaarsdag van hul pa ontvang het. Beide Muriel en Elize wonder wat van Johanna s’n geword het.

Karien

Karien is ook ‘n jonger familielid van Johanna. Haar taalgebruik is deurspek van irriterende verkleinwoordjies. Sy doen haarself as baie vroom voor, sy gaan kuier gereeld vir haar tannie Johanna en gee vir haar geestelike boekies as geskenkies, maar Nonna sien gou-gou deur haar. Karien het duidelik bybedoelings. Na Johanna se dood werk dinge dan ook nie uit soos wat Karien beplan het nie. As Muriel haar konfronteer, begin sy op haar skree, en so word haar oënskynlike liefdevolle optrede aan die kaak gestel: selfsugtig en berekend.

Maaike

Maaike is ‘n randfiguur, ‘n Nederlandse vrou wat Johanna in haar studiejare by die VU leer ken het. In Holland was daar op ‘n keer die moontlikheid van ‘n man in Johanna se lewe, maar uiteindelik het daar niks van gekom nie. Muriel word gerus gestel.

Susan

Uiteindelik besoek Muriel vir Susan: Susan Stander, nou Barnard, die vriendin op wie se plaas Johanna as dertienjarige gaan kuier het. Susan onthul op hoogs emosionele wyse wat daardie dag daardie dag gebeur het, en waarom die vriendskap verbreek is. Tydens hierdie besoek oorhandig Susan ‘n klein juwelierskissie met ‘n kettinkie daarin aan Muriel. Dit was Johanna s’n.

Die einde

Na Johanna se dood, gaan werk Nonna vir Muriel, ook as ‘n huishulp. Saam beplan hulle ‘n verjaarsdagete ter ere van Johanna in Nonna se nederige woonbuurt in George, Thembalethu. Almal in die boek word uitgenooi – behalwe Maaike wat in Amsterdam is – en Karien wys die uitnodiging van die hand. Die res kom almal. Nonna se dogter, Belinda wat ‘n buite-egtelike dogtertjie het, berei die ete voor: bobotie, Johanna se gunsteling. Die tweedelaaste hoofstuk, ook vertel vanuit Nonna se perspektief, wentel rondom die gebeure tydens hierdie ete, en hier blyk dit dat die kleinkind, benewens haar Xhosa-naam, ook Joanna genoem word. ‘Oh Nonna dear, I’ve been thinking how I wish Johanna actually knew she had a namesake,’ sê Muriel ingenome.

In die heel laaste hoofstuk vertel Nonna van die dag van die klein dogtertjie se geboorte – en dit eindig met ‘Missed call’ – Johanna de Swardt.

Evaluering

Wepener slaag uitmuntend daarin om persoonlikheid aan sy karakters te verleen deur die manier waarop hy hulle laat praat, selfspraak sowel as dialoog. Soos Nonna met haar unieke Kaapse aksent en uitdrukkings; Elize se kort-kort ‘ag shame’; Karien met die irriterende ou verkleinwoordjies. Ewe geslaagd is die verteltegniek waarvan hy gebruik maak, naamlik fokalisering, die wyse waarop die karakters mekaar en die situasie waarneem, elk deur sy of haar eie oë. Telkens word ‘n insident, ‘n oomblik, ‘n objek in Johanna se lewe belig, maar vanuit ‘n ander hoek.

Dis nie ‘n aksiebelaaide roman nie, eerder ‘n sielkundige verkenning van menswees, emosie, skuldgevoel, uiteindelike berusting. Die boek weerspieël ‘n besondere insae in mense en die menslike psige.

‘n Boek wat ek sal aanbeveel.