4166310[1]

2014, Jan Assmann, To Moses from Akhenaten. Ancient Egypt and Religious Change. The American University in Cairo Press: Cairo.

Só beskryf Assmann (2014:61) die verskil tussen Moses en Akhenaten: ‘Akhenaten is a figure of history without memory; Moses is a figure of memory without history.’ Die historisiteit van die figuur Moses kan nie bo twyfel bewys word nie, hy het nie ‘n kultus of ‘n graf nie, hy leef voort in herinnering, in die religieuse tradisies van Judaïsme, die Christendom en selfs Islam. Daarenteen was Akhenaten wel ‘n historiese figuur, maar min of meer direk ná sy dood is sy monumente verwoes, sy geboue afgebreek, sy naam uit die koningslyste uitgevee . . . damnatio memoriae . . . verdoem is alle herinneringe aan hom.

Wat het Moses en Akhenaten in gemeen?   Albei word met ‘n radikale vorm van monoteïsme geassosieer: daar is net een God, en geen ander.

Akhenaten is min of meer in die jaar 1360 vC gebore, het die Egiptiese troon in 1345 vC bestyg, en het vir sewentien jaar regeer. Gedurende sy regeringsjare het hy ‘n religieuse rewolusie teweeg gebring. Hy het verklaar dat daar net een god is, die Aten, skeppergod, en god van alles wat lewe. Die Aten was die god van lig en lewe, anders as die ander Egiptiese gode, is hy nie antropomorfies of teriomorfies voorgestel nie, maar in die onpersoonlike genderlose vorm van die sonskyf. ‘n Mens kan eintlik sê dat die Aten ‘n geslagslose hy/sy godheid was. Vir Akhenaten was die Aten die enigste god, hy het die tempels en kultiese simbole van ander gode afgebreek, hul beelde stukkend geslaan, hul name van inskripsies uitgewis, en hul priesters om die lewe gebring.

In die Ou Testament, in die boek Eksodus, word Moses met ‘n soortgelyke vorm van radikale monoteïsme geassosieer: daar is net Een God en geen gesnede beeld of ander gelykenis word geduld nie. Ook vir Moses was die vernietiging van beelde – soos die Goue Kalf – belangrik om die soewereiniteit van ‘n monoteïstiese God te bevestig. Net soos vir Akhenaten mag Moses se God nie met menslike beeld of afbeelding voorgestel word nie; Hy is die Enigste, Hy is die Skepper, van Hom kom lig en lewe.

Eens op ‘n tyd was daar ‘n populêre en uiters aantreklike hipotese, deur Freud geïnspireer, dat Moses moontlik in die tyd van Akhenaten kon gelewe het, en moontlik onder die invloed van laasgenoemde se rewolusionêre teologie van suiwer monoteïsme sy eie teologie van Een God Alleen kon formuleer het. Hierdie teorie is lankal nie meer aanvaarbaar nie, nêrens in Egiptiese, Bybelse, buite-Bybelse argiewe of argeologiese bronne is daar enige aanduidings dat Moses en Akhenaten se lewens op enige manier sou kon oorvleuel het nie.

Vir Assmann lê parallelle tussen Moses en Akhenaten nie op historiese vlak nie, maar op psigologiese vlak, en dit is die herinnering aan trauma. In sy boek bespreek hy die trauma wat Akhenaten se monoteïstiese rewolusie op die Egiptiese samelewing veroorsaak het, en Israel se herinnering aan die trauma van die eksodus. ‘n Deurlopende tema by Moses sowel as by Akhenaten, is religieuse verandering, van politeïsme na monoteïsme. In Moses se geval was die verandering blywend, monoteïsme het geseëvier. Akhenaten se monoteïsme was van korte duur; kort na sy dood het Egipte weer die ou politeïstiese religieuse gebruike en kultus nagevolg.

Tog het dit nie heeltemal uitgesterf nie. In ‘n uiters insiggewende hoofstuk, ‘Egyptian Mysteries and Secret Societies in the Age of Enlightenment’ bespreek Assmann die herlewing van die Egiptiese misterieë in die eeu van die Aufklärung. As voorbeeld neem hy Mozart se bekende opera, ‘Die Towerfluit’. Mimi Coertze se legendariese vertolking van die ‘Koningin van die Nag’ is vandag steeds ‘n onderwerp by Suid Afrikaanse opera liefhebbers – en die feit dat ‘n deel van hierdie opera in in die tempel van die Egiptiese gode, Isis en Osiris afspeel, is deel van die intrige. Maar die wete dat Leopold Mozart, Wolfgang se vader, ‘n besondere hoë rang in die Vrymesselaars beklee het, en dat Wolfgang Amadeus Mozart self ‘n toegewyde Vrymesselaar tot sy dood was, word nie wyd verkondig nie.

Die boek sluit af met ‘n hoofstuk oor ‘Total Religion: Politics, Monotheism, and Violence.’ Hier bespreek Assmann die verdelende magte van totale, of fundamentalistiese uitwasse van religie. Assmann gebruik die term ‘Ernstfall’ om ‘n soort noodtoestand, soos byvoorbeeld oorlog aan te dui, wat mense polariseer en aanleiding daartoe gee dat die een groep die ander met geweld wil uitwis. Religieuse ‘Ernstfall’ gaan dikwels met eksklusiewe monoteïsme gepaard, soos in die gevalle van Akhenaten en die gewelddadige narratiewe oor Moses en die eksodus, en die regering van koning Josia. Assmann beklemtoon dat ‘totale religie’ nie op een spesifieke religie betrekking het nie, maar die intensiteit wil aandui waarmee godsdiens ‘n goddelike openbaring of ‘n gekodifiseerde wil van God aanvaar. Dit sluit in: die Makkabese verset; die Christendom van die pouslike oorheersing in die Middeleeue; die Protestantse bewegings; hedendaagse Islamitiese teokrasieë.

Maar, sê Assmann, ‘n mens moet aanvaar dat daar nooit een ‘ware’ religie op aarde sal wees nie, en dat dit onaanvaarbaar is dat ‘waarheid’ tot geweld aanleiding gee. Meer sinvol sou wees om die inherente onverdraagsaamheid van die ‘waarheid’ en die polariserende, vyandige uitwerking daarvan aan te spreek, en te oorkom. Om saam te stem oor globale respek en verdraagsaamheid kan nie op God en openbaring gebaseer word nie, maar op rede en insig. Religie en rede hoef egter nie teenoor mekaar te staan nie, maar hande vat en saamwerk as agente van ‘n meer menslike samelewing. ‘Violence belongs to the realm not of religion but of politics. Religion appears to be the only power that is strong enough to confront politics, to overcome violence, and to promote peace, understanding and justice’ (p 129).    

Share this / Deel hierdie: