Die model van Rein Bos, 2008. We have heard that God is with you. Preaching the Old Testament. Grand Rapids, Mi./Cambridge, UK: Eerdmans.

 

Die vraag in die homiletiek en by predikers in die praktyk van hoe om uit die Ou Testament in ‘n Christelike gemeente te preek, is so oud soos die Christelike prediking self. In die jongste tyd is daar by UP en by Unisa doktorale studente wat hulle opnuut in die vraag verdiep. Rein Bos, predikant van die Protestantse Kerk in Nederland, het in 1992 ‘n proefskrif hieroor geskryf, maar nou in hierdie nuwe boek oor dieselfde tema ‘n leser vriendelike en baie behulpsame boek vir teoloë en predikers in die praktyk gepubliseer.

 

Die probleem is veral vir ons in die Reformatoriese tradisie baie aktueel. Predikers moet uit die Bybel alleen as die bron van ons prediking die preek, getrou aan die teks, gaan voorberei. Om so ‘n Bybelgetroue preek, gebonde aan die gekose teks, voor te berei, moet tradisioneel veral by die grammaties-historiese eksegese gehou word. Die letterlike (literal) sin van die teks is belangrik om Bybelgetrou te kan preek. Vanuit die perspektief van ‘n Christelike gemeente waarin die eis ook tradisioneel vasstaan dat die preek die evangelie van Jesus Christus moet verkondig, en waarin uitgegaan word van die eenheid van die twee testamente as die geopenbaarde woord van God (Bos 2008:8), rys die vraag hoe kan ons Christus uit Ou Testamentiese tekste preek? Bos gaan daarvan uit dat die Ou Testament se boodskap, van dieselfde God van die twee testamente, aan Israel in hul omstandighede gerig is. Die Christelike prediker in ons tyd stuit soms (vir ons) op vreemde sake in die Ou Testament – veelwywery, die banvloek., ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand, ensovoort. En dan worstel ons van die begin af al met die vraag of die Ou Testament van Jesus praat?

 

Christelike predikers kan nie by die letterlike betekenis van die tekste uit hierdie testament alleen ‘n boodskap formuleer nie. Daarom is daar na verskeie hermeneutiese sleutels gesoek om die ‘dieper sin’ of die geestelike betekenis van die teks te vind (Bos 2008:14, 16). Allegorie kom van die begin af. Dit beteken: “there is a deeper story hidden behind the story that can be read in a book…” (Bos 2008:14). Predikers soek ‘n geestelike betekenis agter die teks. Tipologie word ingespan, byvoorbeeld dat Josef ‘n tipe is van Jesus (Bos 2008: 30-43). Die skema van belofte in die Ou Testament en vervulling daarvan in die Nuwe Testament is ‘n volgende hermeneutiese sleutel (Bos 2008:46-48). Die heilshistoriese sleutel, naamlik die openbaring van God aan die ‘ou Israel’ en die volledige openbaring in Jesus Christus met die ‘nuwe Israel van die kerk, word ingespan om sin te maak in die ontmoeting met die God van die Skrif (Bos 2008:59-72). In Karl Barth se teologie van ‘n radikaal christologiese verstaan van die Bybel het baie predikers ‘n oplossing gesien (Bos 2008:73-93). Bos lewer egter indringende kritiek op hierdie hermeneutiese sleutels vertrekkend vanuit die siening “…that there is no hermeneutical room for the distinctive voice of the Old Testament” (Bos 2008:94). Hy bied dan ‘n hermeneutiese model vir die homiletiek aan wat werk met verskeie sleutels.

 

Bos se model werk wat die “… multi-voiced choir of the text and its reverberations in the canon as a whole, while respecting the ‘fences’ that are given with the words of the text as part of Scripture” (Bos 2008:167).

 

Die eerste stem wat in die teks gehoor moet word is die Sensus Israeliticus: “A foundational step for a Christian interpreter of the Old Testament is an awareness that these words have abiding meaning and relevance for the Jewish community, being their Holy Scripture …” (Bos 2008:169). Die konteks van die teks destyds en die boodskap vir daardie eerste Israelitiese hoorders moet vasgestel word. Daar moet egter ook in gedagte gehou word dat die Ou Testament nie net vir Israeal alleen bedoel is nie, maar vir alle nasies.

 

Die tweede stem is die Christological Sense. Die manier waarop die skrywers van die Nuwe Testament die Ou Testament ten opsigte van Jesus gebruik het, verskaf aan ons ‘n creative ‘grammer’ vir so ‘n Christologiese re-kontekstualisering. Dit beteken dat ‘n mens jou eie eksegetiese en hermeneutiese metodes gebruik, maar met ‘n re-kontekstualisering van die teks in die Christelike konteks werk. Met so ‘n interpretasie moet altyd weer teruggegaan wod na die teks vir kontrole (Bos 2008:172-173).

 

Daar is ook ‘n Ecclesiological Sense in ons homiletiese interpretasie. Met die resultate van die eerste twee dimensies kan teruggegaan word na die teks met die vraag of dit ‘n venster kan oopmaak in die rigting van die gemeente van die ‘gentiles” die Christelike gemeente, ook vandag se gemeente (Bos 2008:174-176).

 

Laastens moet aandag gegee word aan die Eschatological Sense. In ons dag is talle mense skepties oor die eskatologiese beloftes van die Skrif. Die Ou Testament leer ons dat Israel nooit die betroubaarheid van God se beloftes opgegee het nie, hoe donker die toekoms ookal gelyk het. Ons hoor dat die profete droom van ‘n ander wêreld, ‘n beter wêreld hierna. In die lig van hierdie waarheid moet die teks ook na vensters gevra word in die rigting van die beloftes van God vir die toekoms, ook in relasie met die beloftes in die Nuwe Testament. Daar moet in sulke interpretasies egter by die teks gehou wod, met die ‘fences” wat dit vir interpretasie oprig (Bos 2008:177-178).

 

Bos se hermeneutiese model probeer om die fundamentele insig van die Reformasie in preekvoorbereiding vrugbaar te maak, naamlik die sola Scriptura. Die teks bly die basis van ons verstaan. Tog stel Bos met sy model kontoere op waarvolgens ons die teks relevant kan interpreteer met die oog op ‘n preek uit die Ou Testament vir vandag se Christelike gemeente.

Share this / Deel hierdie: