1. Sigmund A. Wagner-Tsukamoto. The Economics of Paradise. On the Onset of Modernity in Antiquity. Palgrave Macmillan: New York.

 Inleiding

In hierdie boek pas Sigmund A. Wagner-Tsukamoto die beginsels van ekonomiese teorie op die Paradysverhaal in Genesis 2-3 toe. Volgens hom is hierdie verhaal ‘n antieke voetspoor van moderniteit, en ‘n mens kan dit sien as jy na mense in ‘n groep kyk en die manier waarop hulle probleme hanteer. Daar is opvallende ooreenkomste tussen die situasie in die Paradys en die hedendaagse samelewing. Wagner-Tsukamoto reken dat die ‘verlies’ van die Paradys nie as ‘n tragedie beskou moet word nie, maar dat die verhaal ‘n positiewe uitkoms en ‘n vryer, meer gelyke en meer morele samelewing tot gevolg het.

 Inhoud

Die boek bestaan uit ses hoofstukke. Wagner-Tsukamoto se hele argument is daarop gebaseer dat die Paradys nie werklik ‘paradys’ was nie. In ekonomiese terme was daar beperkte goedere – die vrugte van goddelike bome was verbode. God was onwillig om sy bronne te deel, daar was geen wederkerige uitruil van middele nie, en God het nie regtig toesig gehou oor wat in die tuin aangaan nie. Met ander woorde, sedert die begin was daar die moontlikheid van konflik oor kapitaal wat die bestaande orde bedreig het en tot anargie kon lei.  

Verder het Adam en Eva ook nie regtig ‘n sorgvrye lewe gehad nie. Inteendeel, hulle moes hard werk, niks word oor vrye tyd en ontspanning gesê nie. God het nie alleenreg net op die bome gehad nie, maar ook op kennis. God was die Enigste Een wat die konstitusionele en institusionele orde bepaal het wat sosiale interaksie bepaal het. Die Paradys is dus geskoei op ‘n model van outoriteit en gehoorsaamheid, en dit is nie hoe ‘n vrye samelewing behoort te lyk nie. Daar moet oor regte en kapitaal onderhandel kan word, daar moet ‘n werksooreenkoms wees waar beide partye ‘n kontrak aangaan oor presies wat en hoeveel van albei kante verwag kan word. Niks hiervan in die Paradys nie!  

Daar is alreeds baie spanning aan die begin van die storie. Dan kom die slang. Wagner-Tsukamoto gebruik die terme homines economici om die verhaal verder te laat ontvou. Die homines economici in die tuin, is God, Adam en Eva, en die slang. Hulle is nie goed of sleg nie, maar elkeen tree in eiebelang op. Op hierdie stadium gebeur alles in belang van God. Oënskynlik ‘gee’ Hy baie geskenke aan die menslike paar, maar terselfdertyd beskerm hy sy belange en sy kapitaal. Die mense werk hard in sy tuin, ontspan min, en het geen reg op sy bome en sy kennis nie. Die slang kom en ontmasker God se outoritêre heerskappy, onredelike verwagtinge, gebrek aan ‘n billike kontrak tussen God en mens en moedig Adam en Eva aan om ook hul aandeel in die saak te eis. Die gevolg hiervan is diefstal – die slang is instrumenteel daartoe dat die verbode vrug gevat word. En die hele sosiale orde word omgekeer. Die samewerking en die verhouding tussen God en mens verbrokkel.

Verder verminder die slang ook die risiko dat die mens sal sterf as hy van die vrug eet – die wins is soveel groter, naamlik die verkryging van kennis, goddelike kennis. Wagner-Tsukamoto gebruik die term ‘dilemma van die gevangene’ of ‘oorlog vir almal’ om te verduidelik wat uiteindelik in die Paradys gebeur. Konflik word gestimuleer deur wederkerige wins / wederkerige verlies aan beide kante. Die ideaal is dat almal wen, of almal verloor, en dat albei partye daaroor saamstem. In die Paradys het God die reëls gemaak. Daar was geen wedersydse wins nie. Adam en Eva moes aan God gehoorsaam wees, en het geen deel aan God se eksklusiewe goedere gehad nie. Toe hulle die vrug gesteel het, het hulle die orde waarop die Paradys berus het, ondermyn, naamlik gehoorsaamheid. Net daardeur kon hulle hul omstandighede verbeter. Dit lyk asof alles in duie gestort het, maar, sê Wagner-Tsukamoto, dit is nie noodwendig ‘n tragedie nie. Die uiteinde blyk tog ‘n vryer, meer volwasse mens te wees, een wat gebaat het by die kennis wat hy gekry het.

Dus: waarom het die mens die Paradys verloor? Sedert die begin was daar ernstige beperkinge op vryheid en ontspanning, onbillike verwagtinge van algehele gehoorsaamheid, en geen redelike kontrak van wedersydse verwagtinge nie. Adam en Eva se gewilligheid om hierdie beperkinge uit te daag, is geen verrassing nie. Maar die anargie en verbrokkeling van samewerking tussen God en mens, maak die volwasse en vry om sy eie kontrakte te sluit en eie keuses uit te oefen. Buite die Paradys kan die mens werklik die natuur bewerk en bewaak, menslike samelewings bestuur en daarin slaag om werklik ‘n ‘vennoot’ van God te word. ‘The final vision is libertarian, democratic social order, as envisioned by libertarian economic constitutionalism in general (p 172).  

Aan die einde van die boek is daar vier aanhangsels wat die meer tegniese ekonomiese formules verduidelik en hoe hulle op die Paradysverhaal toegepas word.

Evaluasie

Die boek is interessant om te lees, veral vanuit die perspektief van ‘n ekonoom. Wagner-Tsukamoto het geïllustreer dat die Paradysverhaal komplekse probleme reflekteer wat ‘n mens ook in hedendaagse samelewings kan waarneem, probleme wat veral in terme van ekonomiese beginsels verstaan kan word. Deur ekonomiese beginsels op ‘n Bybelse teks toe te pas, blyk dit – trou aan ons eeu van post-modernisme – dat daar beslis meer as een manier is om ‘n teks te lees. ‘n Punt van kritiek is miskien dat die boek nie werklik ‘n teologiese bydrae lewer nie, dit ontgin nie die oorspronklike verstaan van die teks in die lewe van ou Israel nie. Nietemin, Wagner-Tsukamoto daag beslis die tradisionele opvatting van die ‘verlies’ in die Paradys uit, sonder om die wa heeltemal om te keer. ‘The Economics of Paradise’ is goeie leesstof, en bied ‘n alternatiewe wyse om die ‘Sondeval’ te verstaan.

Share this / Deel hierdie: