1. John Bowker, Why Religions Matter. Cambridge University Press: New York.

Wat is religie, en waarom is dit belangrik om iets daarvan te verstaan? Religieë – in die meervoud – is die onderwerp van John Bowker se boek met die titel: ‘Why Religions matter.’ Die boek bestaan uit tien hoofstukke en kan min of meer in twee afdelings verdeel word: ‘Religions and sciences’ (hoofstukke 3, 4, 5 en 6); en ‘Understanding religions’ (hoofstukke 7, 8, 9 en 10).

Ná die inleidende hoofstuk waarin Bowker kortliks die uiteensetting van sy boek verduidelik, ondersoek hy eers die ‘paradoks van religieë’. Daar is twee kante aan religieë: enersyds is religie vreesaanjaend en destruktief. Rondom die wêreld en deur die geskiedenis heen is oorloë gevoer en mense uitgemoor, alles in die naam van ‘godsdiens’. Andersyds bied religie ook ‘n belangrike stimulus vir die kunste en die wetenskap – die natuurwetenskappe het immers as deel van religieuse ondersoek in die kosmos begin! Vir baie mense is religie fundamenteel vir hul bestaan en gee sin en doel aan die lewe. Om te verstaan waarom religieë saak maak, is dit nodig om hierdie paradoks van religie in gedagte te hou, meen Bowker.

Vervolgens spreek hy die opvatting aan dat religie en die natuurwetenskappe teenoor mekaar staan. Hy verwys herhaaldelik na skrywers soos Richard Dawkins en Christopher Hitchens wat meen dat wetenskap die waarheid is, maar dat religie as blote onsin beskou moet word. Volgens Bowker is dit ‘n wanvoorstelling en hy verwoord dit soos volg as hy oor die betekenis van mites praat: ‘The paramount importance of not equating “myth” with “falsehood” lies in the fact that mythology often contains insight and invitation into a more profound understanding of truth about ourselves and our circumastances’ (p 55).

Natuurwetenskaplikes beskuldig die religie dikwels daarvan dat daar in die godsdiens geen ruimte vir twyfel is nie, en dat daar op ‘vaste en ware dogma’ aangedring word. Die wetenskap daarenteen hou aan twyfel totdat waarneming en empiriese bewyse aantoon wat die ‘waarheid’ – sonder twyfel – is. Ook hierdie aantyging, sê Bowker, is nie geldig nie. ‘n Bybelwetenskaplike metode soos die historiese kritiek se oorsprong is juis in twyfel geleë. Hy noem onder andere die voorbeeld van Colenso, ‘n wiskundige van Cambridge wat ‘n biskop geword het. By noukeurige lees van die Pentateug het hy uitgewerk dat twee vroedvroue vir meer as twee miljoen mense voldoende was; dat die tou van Israeliete voor die tabernakel ten minste 20 myl lank was; dat elke priester ongeveer 88 duiwe per dag opgeëet het (p 89). Só ‘n twyfel oor die historiese en wetenskaplike onfeilbaarheid van die Bybel het gelei tot ‘n bevrydende verstaan van die Bybel se ontstaan, en hoe dit gelees en geïnterpreteer moet word.

Vanuit die evolusionêre sfeer en die genetika word aangevoer dat alles deur die gene bepaal word. Biologie, oorlewing en reproduksie ondersteun kultuur en ook religie. Met ander woorde, ‘n religieuse besef, net soos al die ander vermoëns van die mens, word geneties bepaal. Bowker gee toe dat dit inderdaad die geval mag wees. Só ‘n verklaring is egter ‘n oorvereenvoudigde en enkelvoudige verduideliking vir komplekse gedragsvorme. Die skoonheid en die krag van kommunikasie met die transendente, die ervaring van gebed, meditasie en kontemplasie gaan om meer as die waarneming dat daar sekere breinaktiwiteite by betrokke is. Religie en religieuse ervaringe kan nie maar net tot gene en breingolwe gereduseer word nie.

Wanneer Bowker religieë probeer verstaan, kyk hy na religieuse gemeenskappe: wat glo die mense, wat doen hulle, en waaroor praat hulle. Die groot probleem is interpretasie (hermeneutiek). In die eerste plek is ‘n mens meestal op tekste – die geskrewe woord – aangewese as jy iets van ‘n bepaalde religie wil verstaan. Bowker benadruk die misverstand wat as gevolg van vertaalde tekste en ‘n vreemde kultuur kan ontstaan, en daarom is ‘n werklike verstaan van religie eintlik maar beperk, selfs onmoontlik.

Religie is egter ook meer as woorde; nie-verbale religieuse uitdrukkings gee selfs meer as tekste te kenne. Hier gaan dit om gedrag (etiek) en verskillende kunsvorms. Eers probeer Bowker verstaan hoedat geloof en optrede met mekaar verband hou. Religie stel norme en verwag dat die mense dit sal gehoorsaam. Persoonlike keuses en verantwoordlikhede speel ‘n belangrike rol. Dit mag voorkom asof religie ‘n beperkende faktor in mense se lewens is en konformisme en herhaling in die hand werk, maar paradoksaal genoeg, is daar in religie ook ruimte vir vryheid, vernuwing en kreatiwiteit wat veral in die kunste tot uitdrukking kom. Die kunste stel die religieuse wêreld visueel voor, en dit sou nie sonder die kreatiewe verbeelding van die kunstenaar moontlik gewees het nie.

Rituele en simbole is ook deel van die nie-verbale en verbeelde wêreld van religie waarop mense uitdrukking aan hul geloof gee. Om hierdie punt te illustreer, gebruik Bowker die ietwat somber voorbeeld van dood en gebruike en simboliek rondom sterftes. Ook hier speel verbeelding ‘n rol, veral wanneer daar gedink word oor wat met iemand ná die dood gebeur: die meeste religieë het een of ander voorstelling van hetsy hemel of hel, ‘n spirituele heengaan na die voorouers, of reïnkarnasie.

Bowker sluit sy boek af deur te wys op die belangrike rol wat verbeelding in religieuse gemeenskappe speel. Religieë skep wêrelde van gemeenskaplike verbeeding waarin mense lewe en bestaan, waarin hulle kan verstaan wie en wat hulle is, wat hul oorsprong en wat hul bestemming is. Heelwat navorsing oor religieë stuit op die beskrywende vlak – antropologie, sosiologie, psigologie, fenomonolgie, geskiedenis ensovoorts neem religieë waar en maak afleidings, waarvan die meeste inderdaad geldig is. Maar om religieë werklik te verstaan, is dit belangrik om die religieuse verbeelding van ‘n gemeenskap te probeer peil, want dit gee ‘n aanduiding van die ‘waarom’: waarom maak religie saak. En dit, sê Bowker, is moeilik …

Evaluering

Ten spyte van die eenvoudige titel ‘Why Religions Matter’ is dit nie ‘n maklike boek om te lees nie. John Bowker is wydbelese en gebruik talle voorbeelde uit die letterkunde, filosofie, kuns, geskiedenis en wetenskap, en voorveronderstel heelwat kennis oor hierdie onderwerpe by die leser. Die belangrikste saak wat Bowker aanroer, is die feit dat religie en wetenskap nie teenoor mekaar staan nie, dat religie en rede mekaar nie uitsluit nie. Hy wil hoegenaamd nie ‘n óf /óf standpunt handhaaf nie, maar hy wil veral teen ‘n reduksionistiese verduideliking van religie waak. Religie is soveel meer as genetika en tekste. Alhoewel Bowker ‘n Christen is, is alle religieë ewe kosbaar vir die onderskeie geloofsgemeenskappe. Telkens verwys hy na Judaïsme, Islam, Hinduïsme ensovoorts. En vir elke geloofsgemeenskap, maak religie saak. ‘Why Religions Matter’ vra die dieper vrae oor die wat en die waarom in religie wat werklik saak maak.