Dr. Kobus Gerber
Algemene Sinode: NG Kerk

Op die 10e Julie vier die gemeentes van die Hervorming die 500ste herdenking van die geboorte van Johannes Calvyn. Hierdie gedenkwaardige oomblik skep die geleentheid vir ons, lede van die Katolieke Biskoppe Konferensie van Suider Afrika, om saam met die gemeentes van die hervorming waardering uit te spreek vir die werk, voorbeeld en bediening van hierdie man van God.

 

Heel eerste moet ons die Here dank dat die omstandighede van vyfhonderd jaar gelede nie meer vandag se omstandighede is nie. Die Here self het die kerk verseker van die teenwoordigheid van sy Gees (Joh 14:26). Daardie genadegawe het oor die eeue heen die onmin en misverstande wel tot ‘n groot mate verwerk. Ons bely met diepe dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader dat ons nie meer met dieselfde halsstarrigheid mekaar betrag nie.

 

As Katolieke Biskoppe bely ons dat Calvyn se groot sorg oor eenheid tussen alle Christene, ook ons sorg is. In sy brief aan Cranmer van Kantelberg bely Calvyn: “Ek wens dat dit bemagtig sou word dat geleerde en standvastige mense uit die meerdere kerke in die een of ander plek sou byeen kon kom en, na versigtige bespreking van elke artikel van die geloof, aan die toekoms, vanuit hul gesamentlike ooreenkoms, die helder leer van die Skrif sou kon oorlewer. Dit moet onder die euwels van ons eie tyd genoem word dat die kerke so verdeel is van mekaar dat daar skaars plek is vir vriendskaplike omgang tussen ons; nog minder bloei daardie geseënde gemeenskap van die lede van Christus tussen ons, wat ons almal met die mond bely maar min met oorgawe van die hart vaskleef.”

 

Ook sou Calvyn verder in dieselfde brief bevestig dat hy graag “tien oseane sou aandurf om hierdie doel te bereik” (Brief XVII aan Cranmer). Hierdie wens van Calvyn het ook die hoeksteen gevorm van die onlangse Konvent tussen die gemeentes van die hervorming op internasionale vlak.

 

Beide ons gemeenskappe het tot die insig gekom dat onderwyl ons aardse reis in verhouding met mekaar nog voortduur, ons ons op die wil van God vir die eenheid van die liggaam van Christus moet berus en volgens daardie wil moet optree. Dus leer ons as Katolieke vanuit die hervorming die noodkreet van semper reformanda, soos weergegee in die Tweede Vatikaanse Konsilie: “Ten einde, word almal gelei om in hulle getrouheid aan Christus se wil vir die kerk te besin en dienooreenkomstig, met oorgawe, die arbeid van hervorming en reiniging te onderneem” (Vat II, Untitatis Redintegratio §4).

 

Calvyn het in sy eie tydvak en met die kennis tot sy beskikking daardie hervorming onderneem. Saam met die ander hervormers van sy tyd het dit tot uiteenlopende gemeenskappe gelei. Tog lê daar diep in Calvyn se erfenis aan sy gemeenskappe die oortuiging dat God se wil tot eenheid van die Christen gemeente ‘n genadegawe is en ons doel móét wees.

 

Dit is ons bede dat die geleentheid van hierdie eeufees van Calvyn se geboorte ook sal dien as ‘n hernude oproep vir ons as Christene om mekaar te vind in gemeenskap en vriendskap, sodat die eenheid van God, Vader, Seun en Heilige Gees van ons belydenis as voorbeeld aan die wêreld weergegee mag word.

 

Ons bid God se rykste seën vir ons broers en susters in Christus op hierdie geleentheid.

 

Aartsbiskop Buti Tlhagale

Voorsitter: Suider-Afrikaanse Biskoppekonferensie

Share this / Deel hierdie: