Die mens is broos

As God weg is, voel ‘n mens dit. Dit was egter nie altyd so nie. Volgens Genesis 2 en 3 was God en mens eens naby mekaar, maar toe het iets gebreek en die mens sou vir altyd die gemis aan God intens ervaar. Vandag nog staan ons magteloos en frustreerd voor die aanslae van die lewe en word God se nabyheid, of afwesigheid ‘n groot probleem.

Dit het natuurlik ook met ons eie broosheid te make. Dit is ‘n broosheid waarvan ons dag en nag bewus is. Ons kan nooit daarvan loskom nie. Elke dag moet ons daarmee rekening hou. Ons het perke (of dit nou geld of gesondheid is) en ons moet dit in ag neem. Ons het grense (of ons nou oor kennis praat of ekonomiese berekeninge maak) en in alle besluite moet ons daarvan bewus bly.

‘n Baie bekende Engelse filosoof, Isaiah Berlin, het ‘n boek met die treffende titel, ‘The crooked timber of humanity’ (1990 & 2000), geskryf. Hy wou daarmee sê dat die mens uit krom en skewe hout getimmer is. Met hierdie insig het Berlin al die mislukte politieke en ekonomiese drome van die twintigste eeu bekyk. Waarom al die verlore drome? En Berlin se antwoord? Die twintigste eeuse mens wou te hoog vlieg en het nooit met die ‘crooked timber’ van sy menswees rekening gehou nie.

In Psalm 143 blyk die brose mens se ‘crooked timber’ veral uit die psalmskrywer se angs en alleenheid te midde van groot spanning. Sy probleme is oorweldigend en hy is te swak om dit alleen te hanteer en daarom die dringende gebed in verse 1 en 7. In vers 1 word die smeekgebed met die woorde ‘hoor’, ‘luister’ en ‘antwoord’ verskerp en verdiep (Hossfeld & Zenger 2011:570). Eers word net gesê, ‘Hoor my gebed, Here’; dan word iets bygevoeg: ‘ luister tog na my smeking’ en dan word die smeking aan God se getrouheid en geregtigheid verbind: ‘U is getrou en regverdig, antwoord my tog’. In vers 7 klink die gebed om ‘n antwoord nog dringender as die woordjie ‘gou’ bygevoeg word: ‘Antwoord my tog gou, Here’ (Kraus 1972b:936,938).

 Voor God is die mens niks

Hierdie koppeling tussen ‘getrou’ en ‘regverdig’ in vers 1 dui vir sommige op God se trou aan sy verbond. Dié verbond waarin Hy vir Israel gesê het, ‘Jy is myne en Ek is joune’. Ons kan egter ook die spanning tussen ‘die getroue God’ en ‘die God wat oordeel’ handhaaf want dit benadruk die psalmskrywer se dilemma. Hy smag na God se nabyheid, maar is van sy eie eindigheid en gebreke bewus.

Albei woorde, ‘getrou’ en ‘regverdig’ beklemtoon weer iets van God self: Hy is die een wat oordeel, maar wat ook genadig is. Dít werp lig op die psalmskrywer se versoek reg aan die begin: Hy is niks en voor God kan hy nie standhou nie. In sy diepste ellende staan hy in sy kleinheid magteloos voor God se oordeel (Hossfeld & Zenger 2011: 572). Aan die einde van die psalm (vs 12) sê hy hy is God se ‘dienaar’ en verklaar daarmee sy besondere verhouding met God, maar ook sy kleinheid en afhanklikheid. Dáárom sê hy in sy swaarkry: ‘Moet tog nie ‘n regsaak teen my begin nie want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie’ (vs 2) (Hossfeld & Zenger 2011:573).

Dieselfde magteloosheid kry ons ook in Psalm 25 waar die psalmskrywer bid dat God tog nie moet dink ‘aan die sondes en oortredinge van my jeug nie’, maar dat Hy aan hom sou dink ‘in u trou, Here, omdat U goed is’ (vs 7). Ewe-mooi word in Psalm 103 gesê dat God vergeef omdat ‘Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is’ (vs 14) (vgl Kraus 1972a:208-213).

In sy ervaring dat God weg is, is die psalmskrywer ook van sy eie swakheid en broosheid bewus: ‘He appeals to his special servant relationship to YHWH, appeals to God’s nature in the polar tension of fidelity and righteousness, and points the ontic weakness and sinfulness of the human being’ (Hossfeld & Zenger 2011:573).

Ellende mergel ‘n mens uit

Alhoewel ons die spanning en angs van die skrywer in Psalm 143 kan aanvoel, weet ons nie wat dit veroorsaak het nie. Geen konkrete inligting word verskaf nie en dít is nogal tipies van die psalms. Elke psalm is eerder ’n teks-vir-alle-tye en kan nie so maklik aan ’n spesifieke konteks vasgemaak word nie. In elke psalm hoor ons eerder die stemme van vele mense wat in verskillende tye van Israel se bestaan gebid, geworstel en God geloof het. Elke psalm is amper soos ’n venster wat op die ervaringe, egte lewenservaringe van gewone mense oopmaak.

En tog word in Psalm 143 van vyande gepraat. Hy praat vaag en algemeen daaroor, maar dit was waarskynlik ’n groep mense wat sy lewe vergal het. Hulle het hom in die grond getrap en hom in die donker gevange gehou (vs 3). Die Hebreeuse woord vir ‘trap’ dui op ’n kragtige handeling waarin iemand se lewe in die grond getrap, vertrap en vernietig word (Kraus 1979:161-167). Vir die skrywer van Psalm 94:5 is dié vernietiging so erg dat hy by God hieroor gekla het: ‘Hulle vertrap U volk, Here, hulle verdruk die volk wat aan U behoort’. In Psalm 143:3 kry ’n mens dieselfde magtelose gevoel van vernedering en vernietiging waaraan die skrywer niks kan doen nie (Kraus 1972b:655).

Met die woord ‘donker’ suggereer die skrywer die nabyheid van die dood. In Klaagliedere 3 vertel iemand van God se oordeel en bring die woorde ‘duisternis’ en ‘dood’ baie naby aan mekaar: ‘Hy maak die donker my tuiste, ek is dié wat lankal dood is’ (vs 3). In Psalm 143 het die angs en spanning so erg geword dat die skrywer gevoel het asof hy reeds dood is. Mooi word hierdie band tussen probleme, angs en die dood ook in Psalm 88:4-7 vertel: ‘Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie’. In Psalm 143:4 sê die skrywer ook dat hy so geknak is dat hy moed verloor het: ‘Ek het alle moed verloor, ek is verslae’. (vs 4) (Hossfeld & Zenger 2011:574).

God se afwesigheid het die skrywer ‘heeltemal gedaan’ gemaak en hy het soos ’n sterwende weggekwyn. Hy bid dat God tog nie ‘van my af (sal) wegkyk’ nie want dit is die ergste wat met ‘n mens kan gebeur: ‘Without a favoring glance from the Lord’s face, the singer feeled doomed’ (Clifford 2003:296). Ons kan dié angs verstaan want in die Ou Nabye Oosterse wêreld (waarvan Israel deel was), was die mens niks nie. Veral gewone mense se lyding was verskriklik. Hulle was minder as niks nie, moes ondraaglike werk verrig en is deur gode en konings verag en vertrap. So was dit in Israel nooit nie. Die mens was wel buitengewoon fyn, breekbaar en brosserig soos die grond waarvan hy gemaak is, maar nooit is hy deur God verag of vertrap nie. Trouens, van die begin af was daar iets van God in die mens. Elkeen het met die beeld (Gen 1:26) of die asem (Gen 2:7) van God rondgeloop en het van sy erbarming geleef (Weiser 1987:565-568).

Daar was egter altyd die sluimerende angs dat Hy sy ‘aangesig sou verberg’. En wanneer Hy weggekyk het, het die mens verkrummel. Dan het hy swak geword, weggekwyn en magteloos gevoel. Pragtig word dit in Psalm 44 verwoord. Dit begin met die intog, ‘’n groot daad … in die gryse verlede’ (vs 2) en ‘n teken dat ‘U hulle liefgehad het’ (vs 4), maar skielik is daar ‘n wending: ‘Tog het U ons nou verstoot’ (vs 10). Dít het Israel in sy diepste wese geroer en daarom die skerp waaromvrae: ‘Waarom slaap U, Here? … Waarom verberg U U aangesig …’ (vs 25 – OV). God se verborgenheid was verskriklik en daarom pleit hy vir ‘n nuwe ervaring van ‘u troue liefde’ (27). Eers wanneer God se deernis as ‘t ware geproe is, het die mens weer werklik mens geword (Kraus 1972a:655)..

Vir die skrywer van Psalm 143 was dinge nie so eenvoudig nie. Die ervaring van sy ellende was so groot dat hy in frustrasie sy hande in gebed na God toe uitgesteek het. Hy het sy gevoel van magteloosheid en alleenheid met die uitdrukking ‘uitgedroogde land’ verwoord (vs 6). Hy was soos ‘n dorre, droeë stuk land waarop niks kon groei nie (Hossfeld & Zenger 2011:575).

 God se afwesigheid en die geskiedenis

Te midde van al die spanning doen die skrywer van Psalm 143 iets merkwaardigs: hy het oor die geskiedenis nagedink. Hy het nuwe moed gekry toe hy oor God se verlede met hom en Israel begin dink het: ‘Ek dink aan die verre verlede, ek peins oor alles wat U gedoen het en oor die werk van u hande dink ek na’ (Ps 143:5). Mooi vertel die skrywer van Psalm 77:6-7 dat ook hy in sy diepste ellende juis met die God van die geskiedenis besig was: ‘Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare’ (vs 6 –OV),

Waarom was die geskiedenis dan vir Israel so belangrik? In hulle gisters het hulle die tekens van God se liefde raakgesien. Omdat Hy vir hulle lief was, het Hy hulle uit die swaarkry van Egipte gelei. Omdat Hy so intens vir hulle omgegee het, het Hy hulle in die moordende woestyn soos ‘n goeie pa versorg. Omdat Hy hulle in sy hart gekoester het, het Hy sy beloftes aan Abraham nagekom en Israel ‘n mooi land gegee. Dié geskiedenis moes ín hulle geleef het. Oor al die groot gebeure moes hulle altyd weer nagedink het. Hulle moes dit as ‘t ware binne-in hulself herleef het. En telkens wanneer dié verlede naby aan hulle gekom het, moes hulle God se liefde opnuut ervaar. In die allergrootste ellende het die herinnering aan God se deernisvolle omgang met Abraham, sy erbarming in Egipte en sy sorg in die woestyn mense moed gegee.

Psalm 143 se skrywer verwerk dus die probleem van God se afwesigheid deur oor die verlede na te dink. En om dit weer te sê: Dit was ‘n soort nadenke waarin die verlede nabygekom het en alles weer herbeleef is. Dit was asof hy opnuut weer God se liefdesdade van hulp en versorging in die verlede binne-in homself ervaar het. Dít het hom gehelp om te midde van ellende voort te leef (Hossfeld & Zenger 2011:574).

Daar is vreugde in die oggendstond

Die skrywer van Psalm 143 vertel ons van die probleme en hoe dit sy lewenlus demp en hy stadig wegkwyn en aan die grense van dood geraak het. As ‘dienaar’ van God het hy steeds aan God vasgehou en gevra dat elke oggend anders sou wees: ‘Laat my elke môre U liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue … want my hoop is op U gevestig’ (vs 8). Die skrywer sê nie die vyand is weg en dat sy lewensomstandighede radikaal verander het nie. Niks daarvan nie. Al wat hy gebid het, was dat God se liefde hom elke oggend vol sal maak (vgl Delitzsch 1952:373-375).

In Psalm 17 kry ons dieselfde gedagte: ‘As ek wakker word, sal ek my verbly in u teenwoordigheid’ (Ps 17:15). Die woorde ‘wakker word’, ‘verbly’ en ‘u teenwoordigheid’ in hierdie vers is belangrik. Volgens die psalmskrywer was elke oggend se wakker word iets besonder. Teenoor die nag se angste was die oggend telkens ’n nuwe ervaring. Niks van die nag se donkerte en swarigheid het in sy gemoed oorgebly nie. Vir elke dag het hy nuwe moed gehad. En die rede daarvoor lê in die woordjie ‘teenwoordigheid’ opgesluit. By die tempel is God wel intens ervaar, maar in die sleurgang van die lewe was Hy ook naby. Dít het die psalmskrywer ook ondervind. Vrees het hom uitgeput, maar op God se ‘wonderlike trou’ het hy steeds gereken en op sy beskerming gehoop (vs 8). En terwyl die spanning opgebou het, het hy aan God bly vashou.

Psalm 143 praat egter van ‘n wakker word met God se liefde. Sy woorde kan ons dalk omskryf as ‘n versadigwees of ‘n volwees met God se liefde. Geen angs of spanning het hom vroegoggend al laat wakker word nie, maar met ‘n onpeilbare vreugde het hy opgestaan. Pragtig word dié gedagte ook in Psalm 30 saamgevat: ‘Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer’ (vs 6) (vgl Hossfeld & Zenger 1993:45-49).

Daar is hoop

Die skrywer van Psalm 143 se frustrasie en magteloosheid is voelbaar en tog het hy aangehou want uiteindelik het hy op die getroue God gereken. Dié God wat nie net regverdig oordeel nie, maar ook getrou aan die liefdesband met sy ‘dienaar’ gebly het. En dít het die gevoel van God se afwesigheid draagliker gemaak (vgl Witte 2009:430-431).

  • Berlin, I 1990. The crooked timber of humanity. London: Fontana Press.
  • Berlin, I 2000. Three critics of the Enlightenment. London: Pimlico.
  • Clifford, R 2003. Psalms 73-150. Nashville: Abingdon Press.
  • Delitzsch, F 1952. The Psalms, III. Grand Rapids: Wm B Eerdmans.
  • Hossfeld, F-L & Zenger, E 1993. Die Psalmen, I. Würzburg. Echter Verlag.
  • Hossfeld, F-L & Zenger, E 2011. Psalms III: A commentary on Psalms 101-150. Minneapolis, MN : Fortress Press
  • Kraus, H-J 1972a. Psalmen 1-63. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
  • Kraus, H-J 1972b. Psalmen 64-150. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
  • Kraus, H-J 1979. Theologie der Psalmen. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
  • Weiser, A 1987. Die Psalmen. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht
  • Witte, M 2009. Der Psalter, in Berlejung, A, Schmid, K & Witte, Moses, Grundinformation Altes Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 414-432
  • Zenger, E. (ed) 1998. Einleitung in das Alte Testament, KStTh 1/1, Stuttgart.
Share this / Deel hierdie: