Om Angus Buchan, volksprediker, te kritiseer, is nie altyd ewe maklik nie. Hy het oor die afgelope jare ’n populêre godsdiens-ikoon geword, en mense ag ikone heilig: eensydig betekenisgewend; bo bevraagtekening verhewe. Sy lewe spreek van ’n tipe egtheid wat wyd resoneer: hy ken swaarkry; hy lewe onbeswadderd; hy het ’n gemaklike “common touch”. Verder is hy geen teoloog nie – iets waarop hy soms op ’n manier roem; iets waarmee hy homself teen kritiek kan immuniseer. Opreg is hy ook: hy glo werklik als wat hy sê, al kan dié wat dieper kyk sy oppervlakkighede skaars verstaan; al kan dié wat anders kyk sy eensydighede skaars uitstaan. Want maak geen fout nie, so volgraan-organiesgesond as wat die evangelie wat hy opdis lyk, Buchan brou.

 

Angus Dei?

Een van die redes waarom die Buchan-fenomeen getallegewys so suksesvol is, is omdat dit lyk of hy die “goeie ou tyding” verkondig. Die evangelie volgens Buchan is eenvoudig: glo net; wonderwerke gebeur; pa is baas. Dit is die stapelvoedsel van die wêreldwye evangelikale[1] beweging. Hierdie tipe geloofstroming spoel na ons tyd toe oor die afgelope drie eeue, naamlik uit twee bronne: ‘n innerlik-emotiewe meer Europese oorsprongsgestalte, wat die Afrikaanse kerklandskap sedert veral die dae van Andrew Murray wyd beïnvloed, en in ‘n rofweg eeu-oue ekstaties-uitbundige meer Amerikaanse oorsprongsgestalte, wat eintlik maar die afgelope halfeeu eers groter Afrikaanse aanhang kry. Telkens, ook plaaslik, onder andere in die Buchan-beweging, gryp hierdie evangelikale manier van glo terug na ’n geromantiseerde, onhistoriese “hoe dit was”-geloof. “Keer terug na God” (“Return to Jesus”) is ’n gewilde herlewingslagspreuk. Dit verlang na, en roep altyd mense op om “terug te keer” tot ’n meer gelowige tyd – toe mense God meer vertrou het; eintlik: toe mense nét God vertrou het. Geloof was tóé meer eg. Dáárna moet ons weer streef: voorwaarts, naamlik terugwaarts.

   Hierdie is egter ’n gekonstrueerde paradystydperk; nie ’n gerekonstrueerde edenstuin van naakte gelowigheid nie. In die 40 millennia homo sapiens-geskiedenis, en met groter sekerheid, oor die afgelope 27 eeue (om ons te beperk tot die tyd van wanneer af die Bybelse geskrifte tot stand begin kom het) was daar geen maklike, kontestasielose geloofsfase nie. Daar is geen tyd om na terug te keer waarin geloof probleemloos was, God se ingrype in die wêreld duidelik was, en “die man” nog “die hoof” van “die huis” was nie. ’n Era van “glo net; wonderwerke gebeur; pa is baas” wás net nooit nie. Om so ’n hunkering na ’n beter verlede as motivering vir geloofsherlewing aan te bied, soos wat die evangelikale geneigdheid maar is, is vals advertering.

   Erger as hierdie historiese mistasting, is egter die skade wat mense aangerig word. Hoe positief ’n herlewing ookal beleef word – “Maar hy doen dan sulke goeie werk” is ’n amperse mantra wat jy hoor waarookal ’n kritiese geluid oor Buchan se invloed val – moet die oë nie gesluit word vir mense wat die rasperkant daarvan moet voel nie. Heelwat is byvoorbeeld al geskryf oor Buchan se mannesaamtrekke wat vroue uitsluit, soms selfs op ’n krasserige manier. Hoe sodanige afgrensing ookal geregverdig probeer word, die absurditeit van ’n monoseksuele byeenkoms bly soos ’n seer vinger die lug in steek, vermanend: maar wat lê dan onderliggend hieraan? Die telkens aangebode redes is so liggewig, ’n mens moet noodgedwonge psigo-analities na meer grondige motiverings soek. Is dit ‘n ongemak rondom seksualiteit, wat ’n mens vind by alle godsdienstighede wat respektabel wil wees, wat ook hier in die onderbewuste wegkruipertjie speel?

   Meer nog, dat vroue tot tweedeklaswesens gerangeer word deur die teologie geïnsinueer in die “Mighty Men”-geslagseksklusiwiteit, skrei ten hemele. Om geslagsrolle só te omskryf dat primêr “die man” nog “sy gesin” moet (terug)lei na die Here toe, is om in so ’n mate slagoffer te wees van ’n sekere kultuurfase in die Weste, dat terapie nou dringend nodig geword het. (Dié stelling word nie neerhalend bedoel nie; dit spruit uit ernstige kommer dat gelowiges nog deur hierdie histories-gekondisioneerde idees geviktimiseer word.) Verder, praat gerus met ’n vrou wie se eks-man sy naweekbeurt met die kinders vryspring deur skielik te gaan kamp saam met “Oom Angus”, en dus godsdiens as deurtoeklap-verskoning aanbied vir sy ontduiking, en nog ‘n skadukant van die “goeie werk” begin deurskemer… Voorbeelde van sulke seksisme, patriargie en onderduimsheid, onderskeidelik, word nooit van bekeringsverhoë af gehoor nie. Hierdie is die stille lyding wat die Jesusmannebewegings in Noord-Amerika, maar ook elders, en nou hier, veroorsaak.

Grootwit

Die gewildheid van hierdie onnatuurlike, en eintlik ook maar on-Christelike, eengeslagtelike Buchan-byeenkomste dwing ’n mens om die breër, sosiologiese vraag te vra: wat dring dan nou so baie (veral wit) Afrikanermans om op hierdie manier saam te wil kloek? Die antwoorde hierop kom redelik voorspelbaar: die Afrikaner is in die nuwe Suid-Afrika polities gekastreer, en mans meer nog as vroue; ditto, in die werksplek; terselfdertyd wikkel groeiende vroueregte allerlei ongemaklikhede los in mans wat anders grootgeword het; op kerklike gebied word vroeëre sekerhede ontwrig deur onbekende sake soos die gay debat, historiese Jesus-navorsing en ander sulke geloofsgesprekke van ons tyd; selfs die laaste identiteitsmerker van die wit Afrikanerman, rugby, word gedestabiliseer deur onder meer rassekwotas en ministeriële dreigemente. Die Groot Wit Man, soos die Grootwithaai, is ’n bedreigde spesie, en hy voel dit instinktief aan.

   Dán word hierdie bedreigde spesie ’n aartappelgeloof aangebied: ‘n eenvoudige dis wat gesond lyk, veilig klink, en groot loon bied. Laasgenoemde weeg swaar: die welvaartsteologie, nie ’n noodwendige onderdeel van die evangelikale beweging wêreldwyd nie, dien in die Buchan-teologie om allerlei onsekerhede te besweer. Dit sluit in die politiek, misdaad, geslagsrolle, ekonomiese wankelrigheid, die emigrasie-kragte, en dies meer. Die antwoord op al hierdie vrae word maklik gemaak: Jesus. Glo net; God sal sorg. Daarom word geloof nie primêr gesoek ín hierdie sake, of hoe God deur hierdie belewenisse heen werk nie. Geloof word eerder gestel teenoor al hierdie sake; as prominente voorbeeld: selfs teenoor weerpatrone (in die openingstoneel van Buchan se boek en na aan die slot van die Buchan-rolprent, albei getiteld Faith like potatoes). Dit is hier waar die openbare evangelikale getuienis-beoefening altyd op sy swakste is: die “sukses”-verhale van gelowiges word luid uitgebasuin, maar die veel meer algemene verhale van mislukking bly onbesonge. Tog is die mees diepgaande geloofsverhale dié van mense wat die terugslae moet vát, en hulle eiendom of kinders of lewens verloor, en juis daarin moet probeer geloofsin maak. Hierdie veel meer egte lewens bied egter niks imponerends, waar “sukses” ‘n geloofskriterium is nie.

   Die aartappelgeloof is dus soos ’n poniekoerant: die ongewone word altyd die grootletternuus, sodat die indruk naderhand gewek word dat dít die ware, of die beter toedrag van sake is. Die indruk bly onvermybaar: diegene wat nie aan hierdie grootletterverwagtinge voldoen nie, is eintlik maar vrot tamaties. Die blinde arrogansie van sulke ponieformaatgeloof is verbysterend. Miskien moet ons daarom maar, analoog aan die sogenaamde “geel pers”, na hierdie tipe godsdienstigheid begin verwys as die “geel geloof”. ’n Realistiese blik op gewone geloof, op diep geloof, op die geloof, bied dit tog nie.

   Is dit egter dan nou al wat oorgebly het vir die Grootwit-Afrikaner? – ’n Tipe godsdienstigheid wat redelik infantiel is? – ‘n “Glo net; al jou probleme sal verdwyn; wonderwerke sal gebeur, al sien jy nie uitkoms nie; God sê jy’s die baas” geloofskonstruksie? Die regressie tot so ‘n tipe goedgelowigheid, ’n emosionelerigheid wat die realiteit nie in die oë hóéf te kyk nie, want Die Leier sê dan God sê dan so, is dus sosiaal-sielkundig te verklaar. Die feit dat die gewildste tipe plekke vir ’n Buchan-saamtrek ’n plaas en ’n rubystadion is, maak in so ‘n konteks ook semioties sin: nie alleen is sulke arenas groot genoeg nie, maar hierdie ruimtes is ook tekens van ’n tipe hartland wat by die Grootwit-Afrikaner onwillekeurig assosiasies oproep van tuiswees in ’n veilige, tradisioneel-bekende hawe. Hierdie geografiese simboliek alleen vorm al ’n raamwerk wat onderbewustelik die teologie wat met hierdie saamtrekke meegaan, steun: ’n vertroudheid met “die goeie oue”; ’n sekere tipe manlikheid; ’n saamwees-gevoel en selfs eenwees-gevoel wat nie verwoord hoef te word nie, maar berus op implisiete verbintenisse (“commitments”).

   Die tragiek is dat sulke “tradisionele”, geforseerd-vereenvoudigde geloof nie kan standhou nie. Daar is altyd daarvoor ’n redelik nabye vervaldatum, wanneer dié melkkos suur word, vir ’n paar redes: moeilike geloofsvrae gaan in der ewigheid nie verdwyn nie, en met Afrikaners se hoë opvoedingspeil, kan hulle hulleself nie lank paai met onnadenkende vroomheid nie; die impulse van ons tyd wat mans ontstig, verdwyn nie sonder meer noudat ’n mens op ’n sekere manier glo nie; hoewel die gelowigheid waartoe Buchan-mans hulle bekeer dalk langduring waardeer sal word, sal die soort gelowigheid, soos die patriargale en oorvereenvoudigende kante daarvan, selde lank verdra word: kinders wat grootword en daarmee saam krities raak, ouers of vriende wat al voorheen sulke “herlewings” sien kom en gaan het (die siklus is so om en by die sewe jaar), die meer algemeen-menslike nie-suksesverhale wat ook Buchaniete maar moet verduur, meer soliede teologieë wat ook in die samelewing bestaan en sommige toetssituasies beter hanteer, onder andere, bly skaaf onkritiese geloof tot groter volwassenheid.

   ‘n Buchan-boek of -byeenkoms kan dus nie finale redding bied vir ’n spesie wat sigself bedreigd voel nie. Daarvoor bly die lewe, en God, net te groot.

Immuniteit

Dat ’n evangelikale beweging soos dié van Angus Buchan bestaan, is geensins verbasend nie. Dit is ’n natuurlike deel van die teologiese palet van die Suid-Afrikaanse samelewing, ook binne die konteks van die internasionale geloofstrominge van ons tyd. Wat almal wel onkant betrap het, is dat dit so gewild onder so veel so wit so manlik so Afrikaans ’n gehoor sou word. Dat hierdie beweging goed sou kon wees vir die individue daarby betrokke en vir die breëre gemeenskap, is heeltemal moontlik – mits dit van die skadukante van daardie teologie, sommige waarvan ek hierbo aangeraak het, ontslae kan raak.

   Maar sal dit?

   Nee.

   Een van die moeilikste kenmerke van die evangelikale tradisie om te hanteer, is dat dit selde analise, praat nie eers van kritiek nie, verduur, te meer nog met ’n jong, voortvarende spruit binne hierdie tradisie. So ‘n denk-, gevoels- en geloofswêreld se verwysingspunte is alles intern. Kritiek wat wel voorkom, is uit die binnekring, en is dan net daarop gerig om die reeds onbevraagtekenbare nog sterker te vestig. Daarom dat godsdienstige fundamentalisme maklik in sulke kringe groei, dat ekumeniese kontak grootliks beperk word tot diegene wat reeds “soos ons” is, en dat alle eksterne evalueringspogings geïgnoreer, of selfs as boos afgemaak kan word.

   Om hierdie afgeslotenheid (of, van die binnekring af gesien: suiwerheid) in stand te hou, is die retoriek van sulke bewegings redelik tipies. Nie verbasend nie, vind dit ook op verskillende maniere weerklank in die Buchan-beweging, met die retoriese doel om volgelinge te immuniseer teen (geloofs)perspektiewe wat verskil van die eie kanon.

   Onder andere: ’n geloofsleier wat sy/haar voorbeeld-ervaring vir die volgelinge daarstel, word hulle normerende verwysingspunt. Middelpuntsoekende kragte word sodoende die refleks-ingesteldheid. Die aanspraak dat God se boodskap hier suiwer verstaan word, maak kritiese debat bykans onmoontlik. Gesprekke wat fundamentele vrae durf vra, word dus ru gesmoor. ’n Baie algemene strategie is die argument dat die geloofsleier geen teoloog is nie; hy/sy is maar net ’n gewone gelowige wat nou die stap neem om God se Woord (óf die Bybel, op ’n voorgeskrewe manier gelees, óf ’n ander openbaring – ’n boek of ’n visioen) te verkondig.

   Laasgenoemde stelswyse – dat die geloofsleier geen teoloog is nie – is ’n besonder kragtige retoriese strategie, en impliseer drie punte duidelik: die geloofsleier is maar “een van ons”, weliswaar spesiaal-geroepe, maar darem baie “soos ek”, wat beteken hier word in “my taal” gepraat; opgeleide teoloë word onmiddelik verdag gemaak, en daarmee saam word hulle potensiële bydraes by voorbaat reeds as “skadelik” onskadelik gestel, so asof hulle om sinistêre redes “die waarheid” sou wou vertroebel; laastens, die implisiete gevolgtrekking word gemaak dat alles wat hier, in die binnekring, gehoor word, dramaties meer gewig dra as enigiets wat enige plek elders gehoor word.

   Hierdie self-aanbieding in die eenvoudige, kort sin – “Ek is geen opgeleide teoloog nie” – lyk verleidelik opreg; asof die geloofsleier niks wil “verkoop” nie, behalwe as om net “die (Goddelike) waarheid” onbevange oor te dra. “Verleidelik” is egter hier ’n meer toepaslike woord as wat dalk met die eerste oogopslag lyk. Word dieselfde argument naamlik op enige ander spesialisgebied van toepassing gemaak, blyk die skrikwekkende aard daarvan onmiddelik – byvoorbeeld: “Ek is geen opgeleide chirurg nie; ek is maar net ’n doodgewone mens soos jy, en wat besorg is oor jou gesondheid; laat ek jou dus opereer…”; of: “Ek is geen opgeleide ingenieur nie; ek is maar net ’n doodgewone mens soos jy, en wat besorg is oor ons vervoerstelsel; laat ek dus die brug oor die hoofpad bou…”. Waarom word die adsurditeit van hierdie tipe magsargument egter verduur, selfs waardeer, as dit by geloof kom? Geldig soos wat dit is dat eenvoudige mense se geloof bewonderenswaardige diepgang kan hê, waar juis dít egter tot gesagsaanspraak verhef word, verraai so ’n geloofshoogmoed juis die teendeel.

   Die immuniseringskrag van presies hierdie retoriek is egter so diepgewortel in die herlewingskultuur van die evangelikale tradisie, dat dit nooit laat staan sal word nie. Daarom juis dat geen Buchan-aanhanger hierdie opstel ooit ernstig sal neem nie. Daarom ook dat daar nie groot hoop is vir bewegings soos dié, dat dit werklik goeie bydraes sal maak tot volwasse geloof onder hulle aanhangers of in die breëre samelewing nie.

   Daarom dat die evangelikale tradisie, ten spyte van die reuse-potensiaal tot die positiewe wat dit inhou, maar steeds sal aanhou bak en brou.

   Of is daar dalk tóg ruimte vir bekering?


[1] “Evangelikaal” is as ’n goeie vertaling vir “evangelical” aan my voorgestel; dit is hier beter as die woord “evangelies”, wat meer gebruiklik in Afrikaans is. In die Duitse wêreld beteken die term “evangelies” min of meer “Protestants” of “nie-Katoliek”. In die Engelse wêreld dra “evangelical” egter konnotasies van konserwatief-konfessionele geloofsuitdrukkingswyses. In Afrikaans staan die woord “evangelies” weer nader aan “Bybels”. Bybelwetenskaplikes wat soms as liberaal vervloek word omdat hulle op tekshistoriese gronde voorheen onkrities-aanvaarde sieninge omverwerp, sien hulleself dikwels as “evangelies”, want hulle wil die Bybel binne sy eie kontekste verstaan, eerder as om aan interpretasies wat eeue later aan tekste en temas toegevoeg is, te bly vashou. Ek gebruik die term “evangelikaal” in die res van hierdie essay in die Engelse sin van “evangelical”.

[Hierdie artikel het eerste verskyn op www.litnet.co.za en is geplaas met die volle toestemming van die outeur sowel as die webwerf. Besoek ook die skakel www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=87578&cat_id=165 ].

Share this / Deel hierdie: