By die bekendstelling van Intieme afwesige deur Cas Vos

 

Wanneer ’n redakteur begin werk aan ’n digbundel, is hy/sy aanvanklik veral op die besonderhede ingestel: Is daar kommas, punte en hoofletters op die regte plekke? Is al die woorde reg gespel? Is die feitelike inhoud korrek? (Verwys die digter byvoorbeeld dalk na De la Rey terwyl hy eintlik De Wet bedoel?) Is die aanhalings korrek? (Teoloë en dominees is berug daarvoor dat hulle die Bybel soms verkeerd aanhaal, en letterkundiges dat hulle gedigte verkeerd onthou.)

Maar wanneer die intense redigeerwerk aan ’n digbundel afgehandel het, begin die skerp besonderhede daarin onvermydelik verdof. Dan bly daar ’n vaer, maar miskien ook omvattender indruk in die geheue oor, iets wat ek die tekstuur van ’n bundel sou wou noem. Hierdie tekstuur word ingegee deur die woorde, die klanke en beelde wat die digter gebruik, deur eiesoortige sinskonstruksies, deur temas en motiewe. Die tekstuur kan wees soos dié van ’n grondpad, of ’n hoop droë blare, of dalk ’n soet malvapoeding.

Ander lesers sal heel moontlik ‘n ander indruk van die bundel daarop nahou, maar die tekstuur van Cas Vos se vyfde digbundel, Intieme afwesige, is vir my soos dié van ’n laat Middeleeuse tapisserie of wandtapyt, soos dit op Nederlands genoem word. Ek dink byvoorbeeld aan die Bayeux-tapisserie waarop die Slag van Hastings uitgebeeld word, of die reeks getiteld Die dame met die eenhoring. Sulke tapisserieë is op ’n weefgetou geweef en nie geborduur nie. Die vertikale of kettingdrade was gewoonlik van wol of linne in ’n neutrale kleur waardeur gekleurde drade van wol of sy gevleg is om die voorgrond te vorm. Goud- of silwerdraad is dikwels ook ingeweef vir beklemtoning. Die voorgrond was meestal ’n tafereel met ’n mitologiese, godsdienstige of geskiedkundige onderwerp, soms ook jag- of oorlogstonele en ook die liefde in verskillende gedaantes. Die wandtapyt het meestal ’n sierlike rand gehad met ’n patroon van blomme of loof en by sommiges is klein motiewe  soos blomme, vrugte, voëls en diertjies teen die agtergrond ingewerk.

Hierdie tapisserie-beeld is by my gevorm deur die struktuur van die bundel enersyds, maar veral deur die weefmotief wat verspreid deur die bundel voorkom. Reeds in die eerste gedig, in die afdeling “Geboortes”, lees ons

in die diep donker en leë holte

het die kunstenaar jou aaneengeweef

hart niere longe in die tapisserie geborduur

jou tong om woorde met klank te knoop. (p. 11)

Terloops, as u iets Bybels hier hoor saamklink, is u moontlik reg: Die digter is immers ’n kenner van die Psalms. Maar ook woorde soos “donker” , “kunstenaar”, “woorde” en “klank” kan u maar onthou as inslagdrade wat deur die weefwerk van die bundel tot die spesifieke kleur daarvan sal bydra.

Die bundel is gebou rondom die sentrale reeks, “Abélard en Héloïse: Tweegesprek”, wat uit twintig gedigte bestaan. Hierdie reeks vorm as ’t ware die vernaamste fokuspunt van die tapisserie-as-metafoor, die gegewe waarna die leser/kyker se blik telkens weer sal terugkeer, met ander temas en motiewe in die agtergrond of om die rand. In twee gedigte van dié reeks kom die weefmotief weer voor, naamlik in die sewentiende en agtiende. Abélard skryf aan Héloïse:

Ek weef vir jou met rympatrone melodieë,

strofes van herinnering aan ligte dae.

Die himnes wat ek met woorde knoop,

lê ek as my weefwerk voor jou voete neer.

Trap ligvoets as jy op my tapyt loop,

blootvoets op die klankmat, warm, teer. (p. 68)

Hierop antwoord Héloïse:

Onthou, ons het ’n slaapmat geknoop

en snags ons liefde teen mekaar aangevuur;

smak in die oudag oor die blomtyd se stroop. (p.69)

En só word die drade tot aan die einde,van geboorte tot sterwe, in die laaste gedig, “Vertrek”, deurgevleg:

Knip nou die weefdraad.

Ek sê naand:

die skielikste en laaste aand. (p. 102)

 

Met hierdie terugverwysing na die eerste gedig en na die sentrale reeks word die eenheid van die bundel versterk. Dan maak dit ook sin dat die bundel begin met ’n reeks van vyf gedigte oor geboortes, en dat die laaste afdeling sterk in die somber teken van “suster dood” staan.

Alles is egter nie net somberheid nie. Soos in die agtergrond of randpatroon van ’n tapisserie, kan  ook ander deurlopende temas en motiewe in die bundel raakgesien word. Hierdie motiewe en temas sluit op verskillende maniere aan by die sentrale tema, die liefdesgeskiedenis van Abélard en Héloïse. Een van die opvallende temas is dié van die skepping van kuns, veral beeldende kuns . Daar is gedigte oor Van Gogh, Michelangelo, die Franse skilder Gerard Hoet en nie minder nie as ses gedigte na skilderye van die Suid-Afrikaanse kunstenaars Marlene Dumas en Diane Victor. Daar is ook gedigte oor musiek en sangers, van Johann Sebastian Bach tot by Katie Melua en Edith Piaf, en gedigte waarin die poësie self aan die bod kom. By die skryftema sluit woorde soos papier, bladsy, potlood, ink, pen en veer aan.

Ek het reeds gewys op die gebruik van die woord “donker” en u kan met die lees van die bundel gerus oplet hoeveel maal dit as motief voorkom, ook in die gedaantes van nag, aand, skadu en skemer. Maar, soos die goue en silwer drade in ’n tapisserie opheldering bring, word die donker in die bundel telkens deurbreek met die sagte lig van sterre, kerse en die maan, enkele kere ook met die son. Só klink dit in die gedig “Voor dit donker word”:

Vanaand sal ek vir ons tafel dek,

vye se melk drup en skille aftrek,

rooiwyn uit die kelder se koelte

skink tot jou beker vol vreugde skyn

en my hart ligvoets dans

op die maan se aandrefrein.

 

En dan is daar ook nog die talle tekens van lewe: blomme, veral rose, vrugte en vere, soos in die randpatrone van die ou tapisserieë.

Intieme afwesige is ’n heg verweefde, ryk bundel. Mag die kleure van hierdie tapisserie helder glans vir sy lesers.

 

Martjie Bosman

Pretoria

15 September 2009

Intieme afwesige is beskikbaar by Protea Boekehuis

Tel.nr: (012) 362-5683 / 362-3444 / 362-6073

Epos: protea@intekom.co.za

U word ook verwys na die onderhoud van Johann de Lange met Cas Vos oor sy digkuns

Share this / Deel hierdie: