Geskiedenis van OT-eksegese (Ou reeks)

Augustinus het nie net sommer net geskryf nie, maar hy wou iets met al sy skrywery bereik. Daar moes iets in die leser gebeur. In sy ‘De doctrina christiana’ sê hy dat hy graag mense in beweging wou bring (Doctr chr 4.28.61/20). Aan die einde van sy lewe het hy in die ‘Retractiones’ verklaar dat sy ‘Confessiones’ bedoel was om mense se intellek en gevoel op God te rig (Retr 2.6). In sy psalmkommentaar moes dieselfde gebeur. Hy wou die leser help om met mense in 'n psalm te identifiseer, om hulle met alle lof- en klaagliedere te vereenselwig. En dit kon maklik gebeur want die psalms het 'n anonieme karakter en ons kan ons probleemloos met andere se woorde en gevoelens identifiseer. Wanneer dít gebeur, het ons 'n psalm verinnerlik en kan ons dit elke dag bid (Rutten 2005:117-119).

Volledige storie

Op die skutblad van Marianne Weber se biografie oor haar beroemde man, Max Weber , verskyn 'n gedig van Rainer Maria Rilke wat só begin: ‘Das war der Mann, der immer wiederkehret …’ (Weber 1986). So was en is Augustinus steeds. Die man wat telkens weer en weer terugkeer, weer en weer aan die deur klop. En nie almal wat die deur oopmaak, hou noodwendig van hom nie, maar dié man het die teologie tot vandag toe ingrypend beïnvloed. Vandag nog praat mense oor hom, lees hulle hom intensief en verinnerlik sy denke. Of ons dus die kloppende Augustinus innooi of wegwys hy is daar en gaan nog lank daar wees.

Volledige storie

Origenes was die grootste. So het baie in die vroeë kerk oor hom gedink. Volgens een het God aan Origenes die wondergawe van uitleg gegee. Hy het die Ou Testament (en ook die Nuwe Testament) so goed verstaan en die boodskap daarvan so goed vir gewone mense verwoord dat dit was asof God die Ou Testament heel eerste aan hom gedikteer het (Paget 1996:500). Volgens 'n moderne kerkhistorikus was daar nog nooit weer so 'n volronde Bybelgeleerde soos Origenes nie (Von Harnack 1969:189-193). Sy bydrae tot die destydse verstaan van die Ou Testament was oorweldigend en groots. Dit was asof baie sieninge, teorieë en probeerslae om die Ou Testament te verstaan in hom saamgekom en ryp geword het. En sy gawe om min te slaap, ontsaglik hard te werk, elke detailtjie in die teks raak te sien, te beskryf en vir die prediking vrugbaar te maak, dwing nou nog net die grootste respek af (vgl Schütz 1984:9-16).

Volledige storie

Ons weet nie presies wanneer die Africa ecclesiae of die kerk in Noord-Afrika gestig is nie. Daar is wel ’n dokument uit 180 wat van Afrika-martelare vertel en dan is daar ook ’n berig oor ’n Afrika-sinode van ongeveer 220 (Dassmann 2000:264). Van die begin af was die Afrika-kerk egter ’n kruising tussen hierdie kontinent en die weste. Dit was nooit net Afrika of weste nie, maar altyd ’n kruising, ’n mengsel van die twee. Dit was aan die een kant deel van die groot Romeinse Ryk en tog ook weer niks anders as ’n eenkant en soms vergete Afrika-provinsie nie. Van die begin af het Afrika-teologie op die kruising van die partikuliere (Afrika/ later Suid-Afrika) en die universele (die westerse teologie) gehuiwer. Van die begin was dit ’n spanning wat nooit opgelos is of ooit moet word nie.

Volledige storie

Teologie was nog nooit konteksloos nie. Elke teologie het altyd binne 'n bepaalde konteks gestalte gekry. Anders gesê, dit dra die merke van die tyd waarin dit ontstaan en gegroei het. So skryf Clemens van Rome (die derde biskop van Rome na Petrus) in 96 of 97 'n brief aan die gemeente van Korinthe in 'n poging om die onrus te temper. Jong gelowiges het hulle teen 'n  ourige presbiter van Korinte verset en hom afgesit. Clemens se brief het die belhamels se eersug veroordeel en tot groter nederigheid, vrede en harmonie aangespoor (Drobner 1994:39-40).

Volledige storie

Marcion was dalk nie iemand met wie ons graag sou wou vriende wees nie. Hy was 'n moeilikheidmaker en waarskynlik 'n ongure mens. Iemand wat so oortuig was van sy eie saak dat hy mense oorrompel het en andersdenkendes nie geduld het nie. En tog word hy tot vandag toe onthou as die man wat dit so ampertjies reggekry het om die Ou Testament uit die kerk te ban.

Volledige storie

Die Ou Testament en vroeë kerk se noue band is ’n historiese gegewe. Dit kon ook nie anders nie want van die begin af was die Ou Testament die boek van die kerk; dit het die vroeë Christene gehelp het om hulself te verstaan en hulle plek in die wêreld van Jode, gnostici en ander te bepaal. ’n Mens sou dit ook sterker kon stel: sonder die Ou Testament of Israel was daar nie ’n kerk nie en sou die dissipels na die paasgebeure nie geweet het wie hulle was nie. Te midde van swaarkry en ellende het die vroeë kerk aan die Ou Testament vasgehou want daardeur het hulle elke dag hulle identiteit ontdek, hulself in die gemeenskap georiënteer, hulle andersheid verwoord, hulle teologie begrond en hulle geloof gevoed.

Volledige storie

Die geskiedenis van die Ou Testament se uitleg raak ons eksistensieel. Soos twee duisend jaar se kerk- of teologiegeskiedenis nie maar iets is wat ver en vreemd is nie, maar deel van ons is, is ons ook onafskeidelik deel van die eeue lange verstaan en verklaring van die Ou Testament. En hierdie eksegetiese tradisie het ons teologie baie meer as wat ons dink, gevorm. Ons (die kerk, die teologie) is in die een en twintigste eeu wat ons is omdat die teologiegeskiedenis ons so geslyp het. Alhoewel Latyn en Grieks (ongelukkig!) nie meer so 'n integrale deel van ons teologiese wêreld vorm nie, bly ons nog onlosmaaklik deel van hierdie geskiedenis van die interpretasie en verstaan van die Ou Testament. Geloof bind ons dus nie net aan die voorgeslagte nie, maar ook aan die manier waarop hulle geteologiseer en eksegese gedoen het.

Volledige storie