Reisberigte

Hier kan jy lees van die reis-ervarings van kollegas, georiënteer aan hulle sienings van geloofsake. Laat gerus weet as jy ook ‘n bydrae hier wil lewer.

… ek staan op heilige grond …

 

Hoe voel hulle diep binnekant, terwyl hulle afkyk op die krioelende massa mense hieronder? Hoe voel hulle oor toeriste met groot kameras wat mekaar vertrap om hulle af te neem? Ontbloot? Verneder? Hoe voel hulle oor argeoloë wat hul diepste geheime ontrafel en aan die wêreld bekend stel? Geïrriteerd? Woedend? Hoe voel hulle oor die dekadensie, geleidelik oor eeue heen, oor ʼn eens magtige ryk waar die grootste getal mense nou min of meer onder die broodlyn leef? Meewarig? Geskok?

Volledige storie

Ek het reeds vertel dat die magtige Axumitiese ryk in die jaar 341 formeel christelik geword het toe die eerste biskop – Frumentius – as Aba Salam ingeseën is. Hieragter lê 'n mooi verhaal. Frumentius, wat as skipbreukeling-slaaf in die paleis gekom het, het deur sy christelike getuienis uiteindelik koning Ezana beinvloed om ‘n christen te word. Hy is na Athanasius die Patriarg van Alexandrië gestuur met die versoek om ‘n biskop vir die kerk van Axum te stuur. Athanasius het die boodskapper deurgekyk en gesê: ek kan aan niemand meer geskik as jy dink nie. Hy is georden en teruggestuur.

Volledige storie

Noord-Etiopië se mense lyk anders. Hulle is tipies bruin na ligbruin, het donker gladderige hare, en gelaatstrekke wat amper Semities wil lyk... tipies driehoekige gesigte wat meer herinner aan ons eie San. Dit is dan ook nie vreemd gesien die bewerings dat die oorspronklike inwoners rondom Axum, die ou hoofsentrum, oor 'n lang tyd saamgesmelt het met die Sabeërs en ander groepe in die suide van Arabië (die huidige Yemen). Dit is ook heeltemal verstaanbaar, want hierdie groepe is maar net geskei deur die Rooi See, wat hier ook maar redelik smal is. Die Axumitiese koninkryk het via die Rooi See met die buitewêreld handel gedryf, en het dan ook sy invloedsfeer na Arabië uitgebrei.

Volledige storie

Dit is 'n oorweldigende ervaring om gekonfronteer te word met die Ethiopies Ortodokse Kerk ... 'n Kerk waarvan ons (ten minste ons hier in die suide van Afrika) te min weet! Stel jou voor: op die stadium dat die Romeinse Ryk van Konstantyn sukkelend begin het om "christelik" te word, toe ons noord-Europese en Afrika-voorouers nog in die bosse op mekaar jag gemaak en nog niks van Christus gehoor het nie, kom die magtige koning Ezana van Axum tot bekering en word die Ethiopiese Ortodokse Kerk formeel gekonstitueer met die aanstelling van Biskop Frumentius! Dit was in die jaar 341.

Volledige storie

Hier staan ek nou, effens vooroorgeboë, met my neus amper teen ‘n muur gedruk.  Agter die glas is ’n bladsy.  Ses, sewe honderd jaar oud.  ’n Kunswerk.  Uit Persië.  Arabiese Midde-Ooste.  Muslim-wêreld.  Wat hang tussen soortgelyke prente uit Indië.  Prente met titels soos Jahangir en Jesus.  Alles in die Mughal-tradisie (wat iewers nog van Genghis Khan afstam).

Volledige storie

Die Republiek van Libanon is ‘n klein landjie langs die Middellandse See, tussen Sirië en Israel. Topografies is dit al beskryf as "‘n berg wat in die see stort", want feitlik teenaan die see, plek-plek minder as 20 kilometer ver, verrys die indrukwekkende Libanonberge. Die Anti-Libanonreeks, wat parallel met die Libanonreeks loop, vorm die Oosgrens, en skei die woestynagtige Sirië van die waterryke Libanon. Ingeklem tussen die twee bergreekse is die Beka-vallei.

Volledige storie

Die Siriese Arabiese Republiek lê op die Noord-Westelike draai van die ou Vrugbare Halfmaan, en was nog altyd die Oos-Wes handelskorridor van die Midde-Ooste. Die besit van Sirië was essensieel vir enige wêreldmag wat die are van die geskiedenis wou beheer. Dit is ‘n land van kontraste, met ‘n mooi stukkie Mediterreense kus en die dorre Siriese woestyn na die Ooste; die Suid-vloeiende Eufraatrivier en die Noord-vloeiende Orontes, met die gepaste benaming "Ongehoorsame Rivier", omdat dit die reisiger lelik kan disoriënteer. ‘n Land met twee van die oudste stede ter wêreld, Damaskus en Aleppo, wat nog dig bewoon word, en waar vroue geklee in swart abbeyas saam met modieuse stadsvroue op die sypaadjies skouers skuur. ‘n Onopgesmukte land sonder toeristeglans, met ’n eie karakter en ‘n ryk geskiedenis wat oor baie millennia strek.

Volledige storie

Ons vertrek suidwaarts op die ou Koningsweg op pad na Madaba, Nebo, al-Kerak en Petra waar ons sou oornag – dieselfde Koningsweg wat in die Bybelse tyd reeds die hoof-handelsroete tussen Arabië en Damaskus was. Die pad kronkel al langs die vrugbare plato van die Oosbank. Die Jabbok-, Arnon- en Zeredriviere, vandag met Arabiese name, sny diep ravyne in die rand van die plato in hulle weswaartse vloei na die Jordaanvallei. Die Jordaan en die Dooie See lê ver onderkant ons aan die regterkant, en links strek die steppe-woestyn tot by die grens van Sirië, Irak en Saoedi-Arabië. My gedagtes gaan na Jordanië se verweefdheid met die Bybelse geskiedenis.

Volledige storie