Inleiding

Chanukkah is ‘n Hebreeuse woord wat ‘wyding’ of ‘toewyding’ beteken. Dit is ook ‘n Joodse fees wat min of meer dieselfde tyd as Kersfees gevier word. Die datum vir die begin van Chanukkah is 25 Kislev en die fees duur ‘n volle agt dae lank. Soms gebeur dit dat 25 Kislev en 25 Desember saamval, maar omdat die Joodse kalender ‘n bietjie anders werk as die Christelike jaartelling, is dit nie altyd die geval nie. Vanjaar byvoorbeeld begin Chanukkah op 1 Desember en duur tot 9 Desember.

   Alhoewel Jode wêreldwyd Chanukkah vier, is dit nie ‘n fees wat in die Hebreeuse Bybel voorkom nie. Al die ander feeste, soos Pasga, die Loofhuttefees, Purim ensovoorts, het ‘n ‘Bybelse’ oorsprong. Chanukkah is egter die enigste Joodse fees wat aan ‘n baie duidelike historiese gebeurtenis gekoppel kan word. Twee van die sogenaamde apokriewe boeke beskryf die gebeure wat aanleiding tot die fees gegee het: I en II Makkabeërs. Hierdie boeke is nie deel van die Joodse Bybel of die Protestantse Ou Testament nie, maar is wel opgeneem in die Heilige Skrif van die Rooms Katolieke en Oosters Ortodokse Christene. Die Makkabeërboeke vertel van die tussen-testamentêre tyd, die tyd tussen die Ou en die Nuwe Testament. Hierdie teo.co.za-bydrae fokus slegs op een van die gebeure, naamlik dit wat tussen 167 en 164 vC gebeur het.        

    

Aanloop

Die Ballingskap was vir die Joodse volk ‘n katastrofe, maar nadat sewentig jaar verloop het, was toestande aanvanklik nie so sleg nie. Die Perse het die Jode na hul eie land toe laat terugkeer, hulle het Jode aangestel om die provinsie Judea te regeer, die tempel kon herbou word, godsdiensvryheid is nie slegs geduld nie, maar selfs aangemoedig. Daar was natuurlik voorwaardes aan verbonde soos verpligte hoë belastings en absolute lojaliteit teenoor die Persiese oorheersers. Die situasie was egter draaglik, toestande was gunstig.

   Sowat 200 jaar later verskyn die Grieke op die toneel onder leiding van Aleksander die Grote. Spoedig buig die een na die ander nasie die knie voor hierdie nuwe wêreldmag – selfs die eens onoorwonne Perse. Maar in 333 vC sterf Aleksander ‘n vroeë en ontydige dood. Hy laat ‘n weduwee, Roxanne (Rauxnaka wat ‘klein sterretjie’ beteken) agter wat eers na sy dood geboorte skenk aan ‘n moontlike troonopvolger. Aleksander se magtige ryk word onder sy vier goewerneurs verdeel. Steeds gaan dit nie te sleg in Judea nie. Hul nuwe heersers is die gematigde Ptolemeërs wat die status quo min of meer handhaaf. Maar in ongeveer 220 vC begin alles verander. Judea val onder beheer van die Seleuside.

   Ons lees van hierdie gebeure in die apokriewe boeke van die Makkabeërs. ‘n baie negatiewe prentjie word geskets. Dit lyk asof die Grieke ‘n aktiewe helleniseringsprogram op die Jode afgedwing het (1 Makk 1:41-53). Die realiteit is egter dat die Jode op hierdie stadium verdeeld was. Daar was inderdaad Jode wat alles prysgegee het: hul geloof en hul kultuur, en volledig ver-Grieks het. Party het selfs sover gegaan om hul besnydenis te probeer omkeer, sodat hulle naak aan die Griekse spele kon deelneem. ‘n Meer gematigde groep het die kuns en opvoeding van die Grieke omhels, maar tog daarin geslaag om die Joodse godsdiens en godsdienstige tradisies te behou. En dan was daar die ekstreme groep wat alles wat Grieks was, verwerp het, en die tradisionele Jodedom met mag en mening probeer behou het. Die Makkabeërboeke vertel van die spanning tussen die ekstreme uitwasse binne die Jodedom.

   Antiogus IV (Epifanes – godsverskyning) was ‘n onstabiele figuur. Hy is ook genoem ‘Epimanes’ (malverskyning), selfs deur sy eie mense. Maar tydens sy regering word sake in Judea tot ‘n spits gedryf. Volgens I Makkabeërs 1:57-59 verbied hy die besnydenis, verban hy die Tora (Wet) en dwing hy almal om Griekse gode te aanbid. Op 25 Kislev (Desember) 167 vC doen hy ‘n verskriklike ding. In die tempel van Jerusalem rig hy ‘n heidense altaar op, bo-oor die altaar vir die brandoffer. Hier word die eerste offer vir Zeus op Olimpus geoffer. I Makkabeërs 1:54 beskryf dit as ‘n ‘gruwel vir God’.

   In I Makkabeërs 2 verskyn Mattatias op die toneel. Hy is ‘n bejaarde priester van die dorpie Modiin wat uit die familie van Hasmon afkomstig is. Op ‘n dag kom hy in die Jerusalemse tempel waar hy sien hoedat ‘n mede-Jood ‘n afgodsoffer op die altaar bring terwyl ‘n Griekse amptenaar toesig hou. Sy oë kan so ‘n tragedie nie langer aanskou nie, hy kan homself nie bedwing nie en hy slaan beide Jood en Griek dood. Daarvoor moet hy berge toe vlug. Sy vyf seuns vlug saam met hom, en mettertyd sluit baie vrome en godvresende Jode by hulle aan. Maar ‘n jaar of wat later (166 vC) sterf Mattatias en sy seun Judas neem die leiding oor.

   Twee jaar later gebeur die wonderwerk. Judas lei die verset, en saam met die rebelle van die berge verdryf hulle die Grieke uit die heiligdom in Jerusalem. Judas se heldhaftige en onverskrokke optrede besorg hom die bynaam ‘Makkabeus’ – ‘n woord wat klaarblyklik met ‘hamerslaner’ verband hou. Op 25 Kislev 164 vC, presies drie jaar nadat die ‘gruwel vir God’ sy verskyning gemaak het, verower Judas-hulle die tempelarea en herstel die Joodse offerdiens in ere (1 Makk 4:36-59).

   Alles het weer gelyk soos wat dit vantevore was. ‘n Belangrike teken was die wierook wat op die wierookaltaar gebrand is, en die kandelaar se lampe wat aangesteek is. Die fees vir die toewyding van die altaar het agt dae lank aangehou (I Makk 4:56). Volgens ‘n Talmoed-legende was daar eintlik net genoeg suiwer olie om die lampe vir die fees ‘n dag lank te laat brand, maar ‘n wonderwerk het gebeur en die klein bietjie olie het ‘n volle agt dae lank gehou. Hierdie legende word nie in die Makkabeërboeke self vertel nie, maar I Makkabeërs 4:59 bepaal wel dat die fees jaarliks op 25 Kislev herdenk moet word en ‘n volle agt dae lank aanhou.  

  

Spore na vandag

Die duidelikste bewys dat hierdie fees vroeg reeds ‘n instelling was, vind ons in die Nuwe Testament, in Johannes 10:22. Jesus loop in die tempel, in die pilaargang van Salomo. Dit was in daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. Die psalmbundel was en is steeds besonder gewild tydens Joodse feesgeleenthede: die opskrif van Psalm 30, Lied vir die inwyding van die tempel is ‘n moontlike aanduiding dat hierdie psalm ook tydens Chanukkah ‘n rol gespeel het. En dan het ons die boek Daniël, een van die laatste boeke in ons Ou Testament. Daniël word voorgestel as ‘n besondere begaafde profeet wat homself aan die hof van eers die Babiloniese en dan die Persiese vorste bevind. Veral gedurende die bewind van die Perse, sien hy visioene van die eindtyd. Keer op keer sien hy hoedat die daaglikse offer afgeskaf word en plek maak vir ‘n ‘gruwel vir God’ wat in die tempel opgerig word, maar hy sien ook hoop – hierdie verskriklike tyd sal ook verby gaan (Dan 9:27; 11:31; 12:11). Die skrywer van die boek Daniël het dus ook die geskiedenis geken.    

   Die geskiedskrywer Josefus is ons belangrikste buite-Bybelse bron wat oor hierdie gebeure verslag doen. Hy lewe in die tyd van die Joodse opstande teen die Romeine en hy vertel die geskiedenis van die Joodse volk. Die verhaal van die Makkabese rebellie  interpreteer hy op ‘n heel unieke manier. Josefus noem die fees nie die ‘fees van die tempelwyding’ nie, maar die ’fees van die ligte’. Hy doen mooi verslag oor hoedat Judas die offers en die religieuse tradisies weer in ere herstel het, maar Josefus lê die klem op die lig van hoop vir die Jode wat in hierdie fees skyn. Klaarblyklik was dit vroeg reeds ‘n ritueel om tydens die ‘fees van die tempelwyding’ die lampe van die kandelaar op te steek.

   Die Jode vier vandag nog steeds Chaukkah. Vir hulle is dit ‘n tyd van welwillendheid en persente uitdeel, veral vir die kinders. Elke huis het ook ‘n spesiale Chanukka-kandelaar. Hierdie kandelaar verskil van die tradisionele menorah met sy sewe lampe: die chanukkah-menorah het nege lampe. Die eerste rede is natuurlik omdat die fees agt dae lank duur en elke volgende dag ‘n volgende lamp opgesteek moet word. (Die middelste lamp word die ‘sjamasj’-lig genoem en word gebruik om die ander aan te steek). ‘n Ander rede is egter ook dat die Talmud die gebruik van die menorah buite die tempel verbied. Daarom lyk die chaukkah-menorah anders.

 

Slot

Chanukkah is ‘n Joodse fees en die oorsprong daarvan kan direk teruggevoer word na wat in I Makkabeërs opgeteken word. Verder bied hierdie boek ook vir Christene ‘n belangrike perspektief op die geskiedenis tussen die Ou – en die Nuwe Testament. ‘n Vraag is dan sekerlik: hoekom vorm Makkabeërs nie deel van die Hebreeuse of Protestantse kanon nie? Die antwoord is redelik voor-die-hand-liggend: I en II Makkabeërs is in Grieks geskryf en die Jode het slegs boeke in hul Bybel opgeneem wat in Hebreeus geskryf is. Die Makkabeërboeke was wel deel van die kanon van die vroeë kerk, maar die Reformatore, onder andere Martin Luther, het besluit om die voorbeeld van die Joodse kanon na te volg. Vir ‘n lang ruk het daar ‘n stigma aan die sogenaamde ‘apokriewe boeke’ gekleef en het die Protestantse kerke hulle heeltemal vermy. Vandag is dit gelukkig nie meer die geval nie, en soos ons gesien het, inderdaad, soos wat Luther self gesê het, ‘nuttig en goed om te lees’.                         

  

Bronne

  • ·         De Vaux, R 1988. Ancient Israel. Its Life and Institutions. London: Darton, Longman & Todd.
  • ·         Donin, HH 1972. To be a Jew. A Guide to Jewish Observance in Contemporary Life. New York: Basic Boks, Inc., Publishers.
  • ·         Goldberg, GJ s.a. Hanukkah. The Festival of the Dedication, The Festival of Lights in http://www.josephus.org/hanukkah.htm – toegang 2010/11/29.
  • ·         Kratz, RG 2006. Fest in Frevel, C & Berlejung, A (Hrsg.), Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament, 184-186.
  • ·         Kruger, JS; Lubbe GJA & Steyn, HC 2010. The Human Search for Meaning. Pretoria: Van Schaik.
  • ·         Pretorius, EAC 1985. Van Jerusalem tot Betlehem in Deist, F (red) et al, Van Eden tot Rome. Pretoria: J.L. van Schaik, 122-142.
  • ·         I Makkabeërs – soos vertaal deur Jan van der Watt en Francois Tolmie, 2005. Die Apokriewe Ou en Nuwe Testament. Vereeniging: CUM.
Share this / Deel hierdie: