Vanjaar is Charles Darwin se gedenkjaar. Met reg word sy prestasies en genialiteit met groot akklamasie herdenk, maar ons wag vergeefs dat Emma Darwin, sy vrou van 43 jaar, ‘n spreekbeurt kry. Haar bydra tot sy sukses is onmeetbaar want sy was die medium waarin hy kon bestaan en werk. Sy was ook ‘n vrou in eie reg. Ons is dit aan Emma Darwin verskuldig om haar verhaal te vertel, ‘n opreg menslike verhaal.

In Julie vanjaar toe ons in die dorpie Sevenoaks in Kent (so 25 kilometers suid van Londen) gekuier het, loop ek vir twee pond ‘n effe moeg-geleesde biografie van Emma Darwin op ‘n sypaadjie-boekstalletjie raak. Hierin ontvou die ander kant van Charles Darwin se lewe en haar ervaring van ‘n lewe saam met hom, opgeteken in haar briewe en dagboekinskrywings. Emma Darwin se sestig dagboeke en ‘n leeftyd se familiebriewe word vandag in die Cambridge Universiteitsbiblioteek bewaar.

Naby Sevenoaks, tussen die groen lanings van die Kentse platteland, ontdek ons ook Down House, die groot vierkantige huis waarin die Darwins hulle kinders grootgemaak het, waar hy On the origin of species geskryf het en waar hy in 1882, en veertien jaar later ook Emma, in 1896, gesterf het.

Charles en Emma se lewe saam is vervleg met hulle agtergrond. Charles Darwin en Emma Wedgwood het mekaar van kleintyd geken want hulle was bloedneef en -niggie met ‘n gemeenskaplike oupa, Josiah Wedgwood, stigter van die beroemde Wedgwood pottebakkersryk wat vandag nog wêreldwyd besigheid doen. Die Wedgwoods en Darwins was welgestelde aristokratiese families in Victoriaanse Engeland. Hulle het onder mekaar getrou en ‘n hegte vriendskaps/familieband het ontstaan, hoewel die Darwins ‘geleerd’ en godsdienstig-vrydenkend was (Charles se pa en oupa was gerekende mediese dokters), terwyl die Wedgwoods skeppende kunstenaars en toegewyde Unitariërs was.

Emma se verhaal begin met haar geboorte in 1808 op die familielandgoed Maer in Staffordshire, die jongste van agt kinders. Sy het ontwikkel in ‘n borrelende, uiters onnet omdat die lewe oor belangriker goed gaan, en ‘n geliefde en mooi vrou. Haar pa het gesorg vir ‘n goeie opvoeding. Sangonderrig het sy van ‘n operasangeres gekry; ’n taaltutor het Frans by haar ingeprent; op sestienjarige ouderdom is sy en haar susters met ‘n perde-koets op ‘n Grand Tour deur Europa geneem waar sy die kunste ingedrink het en gaande was oor ‘n trop buffels wat hulle in die suide van Italië raakgeloop het. Buffels in Italië? Wel, hulle is nog daar. Nietemin, Emma was ‘n buitengewoon ingeligte jong vrou vir haar tyd, ‘n Renaissance-vrou. Sy was ‘n uitstekende pianis en is in Londen deur beroemde pianiste (Chopin self, sê sommige) onderrig. Politieke intriges van die tyd was haar kos en sy het aktief geagiteer vir slawevrystelling. Trou was nie ‘n opsie nie.

Haar ernstige nefie Charles, met sy obsessie vir die versameling en klassifikasie van goggas, plante en klippe, het sy vervelig gevind. Daar is min verwysings na hom en sy epiese vyf jaarlange reis om die wêreld in die Beagle in haar geskrifte. Sy terugkeer in 1836, in haar 28ste jaar, het egter haar lewe verander. Met nuwe respek luister sy na sy vertellings van vreemde lande en teorieë oor die evolusie van spesies. En vir die eerste keer is Emma verlief. Charles begin die moontlikheid van trou analiseer, maar Emma was ‘so much his superior in every respect’, skryf hy, dat sy moed om haar as vrou te kry, maar laag is. In November 1938 kry hy tog die jawoord en hulle wedersydse minnebriewe is roerend. Hulle trou stil die volgende jaar op die Maer-landgoed en na ‘n kort verblyf in Londen, trek hulle na Down House in Kent.

Charles begin nou sy loopbaan wat vir hom bekendheid sou verwerf vir alle tye. Hulle huwelik sou ‘n eenheid van teenoorgesteldes wees. Hy waarsku haar dat hy ‘n alleenloper is, maar vertrou dat sy hom sou leer dat daar groter geluk is as om teorieë en data in afsondering te versamel. Sy skryf aan hom – sy kon haarself beter op papier as in woorde uitdruk – oor haar vrees dat die verskil in hulle geloofsoortuigings verwydering in hulle verhouding sou bring. Sy waardeer sy openheid en glo dat die twyfel oor God wat sy navorsing meegebring het en wat mettertyd tot agnostisisme en ongeloof sou lei, eerlike soeke na die waarheid is, en daarom nie sonde kan wees nie. Lewe na die dood was vir haar ‘n werklikheid en sy wou nie aanvaar dat hulle ooit geskei sou wees nie. Dit is tog ironies dat dit wel gebeur het toe hulle uiteindelik apart begrawe is.

Uit die huwelik is tien kinders gebore. Emma noem dit haar ‘affliction’ om vir twaalf jaar lank, tot haar agt-en-veertigste jaar, permanent swanger te wees. Ná een geboorte-vry jaar, skryf Charles aan sy vriend, Hooker: ‘ Emma has been very neglectful of late, we have not had a child for one whole year!’ Geboortebeperking was vir hom ondenkbaar, want wie sal die kolonies koloniseer as die bevolking verminder?  Maar, ‘in Victorian times there were many little coffins’ en hulle het drie kinders verloor van wie die laaste Downsindroom gehad het. Dit kon Charles nog aanvaar op grond van die ‘survival of the fittest’-beginsel, maar die elfjarige Annie se dood aan tering in 1850, het Charles se geloof finaal vernietig. Emma se troos was dat hulle weer met haar herenig sou wees, maar vir Charles was sy ‘a flower  cut down into the dust.’

Onder Emma se invloed het die Darwinkinders met vryheid, sonder die gebruiklike Victoriaanse outoriteit grootgeword. Vry spel was belangriker as reëls. Charles het glyplanke gemaak waarop hulle en hulle ma op die trappe van die verdiepinghuis afgegly het; kleuters het oor die studeerkamermeubels geklouter terwyl hy sy teorieë neergepen het. The origin of species het inderdaad teen ‘n ‘disturbed background’ tot stand gekom. Hulle was ook Charles se oë en het die plantmonsters versamel wat hy gesoek het. Die huis het ‘n museum geword en Emma was ongesteur deur slymerige plante, verottende skulpe en dooie voëls, gestuur vanoor die hele wêreld, wat as Down House se binneversiering moes dien. In haar swanger toestand kon dit nie aangenaam gewees het nie. By tye moes sy klavier speel vir wriemelende wurms sodat Charles hulle reaksie op musiek kon waarneem!

Maar Charles se gesondheid het alles van haar gevra. Hy het ‘n ingewandsiekte in Suid-Amerika opgedoen en ‘the sound of violent retching’ het meermale die huis gevul. Daar bestaan vandag ‘n sterk vermoede dat Charles Darwin Asperger Sindroom gehad het. Sy genialiteit, obsessiewe gedrag, aanvalle van depressie en skuheid vir mense wil daarop wys. Buite sy studeerkamervenster is ‘n spieël aangebring sodat hy kon sien as gaste arriveer en dan onttrek. Emma se daaglikse hantering van sy idiosinkratiese gedrag moet ons bewondering vir haar laat styg, meer so omdat sy self gereelde migraine-aanvalle gekry het. Sy is ook die een wat jaarlikse seevakansies gereël het sodat hy kon afskakel.

The descent of man sien die lig in 1871 en sy vrees vir kritiek, ook van Emma, bring weer hewige episodes van die siekte aan, maar dit word beter ontvang as Origin. Emma het albei sy boeke geproeflees, maar nou vertaal sy vir hom die briewe wat van oraloor instroom en ontvang die groot wetenskaplikes wat by die huis aanklop. Uit sy briewe is dit duidelik dat hy sy vrou oneindig waardeer het. Charles was ‘n gelukkige mens en hy het homself as geseënd beskou.

Op 18 April 1882 sterf Charles Darwin. Die begrafnis sou in Downe plaasvind. Die plaaslike skrynwerker het reeds die eenvoudige kis gemaak en die George & Dragon sou die begrafnisgangers ontvang, toe op aandrang van Charles se wetenskaplike vriende, aan Emma getelegrafeer word om toestemming te vra dat hy in Westminster Abbey te ruste gelê word. Emma se toestemming was haar laaste opoffering aan hom omdat sy hom liefgehad het. Sy het nie die staatsbegrafnis bygewoon nie.

As jy weer deur Westminster Abbey loop terwyl die orrelis oefen vir die volgende staatseremonie, en jy gaan staan by die plak skuins onder Isaac Newton se monument wat Charles Darwin se graf aandui, dink aan Emma Darwin. In 1896 is sy begrawe in die begraafplaas van die Sint Mary’s kerkie in die stil Kentse dorpie Downe. Haar graf is moeilik om te vind, die gras is lank en die woorde op die grys grafsteen is verweer. Haar requiem word gesing deur die voëltjies in die bome van die kerktuin. En sy sou dit nie anders wou gehad het nie.

Bronne:

Edna Healy 2002. Emma Darwin: The inspirational wife of a genius. London: Headline Book Publishing.

Viktoria Lyons & Michal Fitzgerald 2005. Asperger Syndrome—a gift or a curse? New York: Nova Biomedical Books.    

http://en.wikipedia.org/wiki/Emma_Darwin

Share this / Deel hierdie: