Ek is Wes.  ’n Gebedderigheid, om nét te kan lees…

(Na ’n besoek verlede week aan die Sackler en Freer museums in Washington, DC,  skryf Christo Lombaard uit Ottawa, Kanada.)

Heer Jesus, hoekom het ek net ’n halwe wonderwerk gekry?  Hoekom, toe u my my oë gegee het om te lees, het u die modder opgesit, maar nooit is dit afgewas nie..?

Hier staan ek nou, effens vooroorgeboë, met my neus amper teen ‘n muur gedruk.  Agter die glas is ’n bladsy.  Ses, sewe honderd jaar oud.  ’n Kunswerk.  Uit Persië.  Arabiese Midde-Ooste.  Muslim-wêreld.  Wat hang tussen soortgelyke prente uit Indië.  Prente met titels soos Jahangir en Jesus.  Alles in die Mughal-tradisie (wat iewers nog van Genghis Khan afstam).

Dis ’n ánderste wêreld, dié.  Die figure is nie eintlik geskilder nie.  Eerder, geteken.  Toe, ingekleur.  Soms, nie ingekleur nie, maar met fyn goudblaaie ingevul.  Egte goud.  Langs purper.  Rooi.  Skakerings wat práát.  ’n Persiese kleurkoor.

Daar’s ‘n kantlyn.  Ook met goud omklee.  Daar’s ’n papier-omraming ook.  Drie honderd jaar lê tussen dié drie “lae” van die kunswerk.  Híér is kuns op kuns.  Meer nog: want onder andere is die binneraam, die “kantlyn”, versierd.  Fyn.  So klein, ‘n vergrootglas is nodig.  Maar dáár lê juis die grootste kuns.  Dis die klein dingetjies wat hier tel… Simmetrie, masjienloos gemaak: komplekse patrone van blare en voëls en bokke, ineengeweef, sonder om te raak.  Pieppiepklein. Presiesfyn gekuns.

Ek word gevang deur die oomblik.  Vasgevang.  Ek wéét daar is meer daar as wat ek sien.  Ek weet, want ek het net onlangs hierdie historiese roman gelees: Orhan Pamuk  2001.  My name is red  (vertaal deur EM Göknar).  London: Faber and Faber.

Daarin word die Middeleeuse Muslim-filosofie oor kuns en die miniatuurskilders opgeneem.  Hoe die skilders jare der jare studeer, onder wrede leermeesters.  Die kuns bemeester.  Dan, dekadeslank vooroorgeboë sit, om hulle miniatuur-illustrasiewerk van manuskripte te doen.  In hulle 60s, oogontspanningsoefeninge ten spyt, word die skilders blind.  ’n Gawe van Allah!  God het hulle toewyding só geseën, dat hy hulle gesig weggeneem het.   Nou is die kuns nie verby nie; allesbhelawe, want nou lê die beste werk nóg voor!  Die handspiere wat oor ’n leeftyd heen ingeoefen is, om die lyne presies só te trek, doen dit steeds.  Op pure refleks, sonder oë, word die buitelyne van die perd, of watter figure ookal oor en oor geteken is, nou weer gemaak.  Geheel onder Gods geleiding.  Perfek.  God se perfeksie.

Hiér is geloof!  Álles gebeur onder God se beskikking.  Vandaar die intense debatte oor perspektief in die skilderwerk.  Skilder ons soos die Weste, waar figure wat nader is groter geteken word, en die agtergrond kleiner, want dis verder…?  Maar dis ketters!  Want dit is hoe mense die wêreld sien.  Voor God is alles en almal gelyk – daarom moet die kunswerk dít weerspieël.  Perspektiwiteit is uit!.

Ja, máár…

God gee verskillende vorme van kreatiwiteit.  Soos ons, die miniaturiste in die Ooste dit doen, en soos wat Europa dit doen.  Die Ooste én die Weste behoort aan God.  Ons kan dus maar daar gaan kyk, gaan leer, aanpas, inkorporeer…

Seker goed so, maar: dan nooit maar nooit ’n mens in die sentrum sit, soos met ’n portret, nie.  Die mens mag nooit in die middel staan nie.  Net God mag… En God mag nie geteken word nie.

Wáárr, ja, maar die sultans & kie wat ons onderhou – hulle vra dit soms.  Hulle help ons om God se werk te doen.  Om hulle dan ’n keer te eer – dis tog nie verkeerd nie…

Die debatte draai en draai, soos die skilders hulle kuns en ambag bedink en bedryf.  Telkens is hulle randfigure.  Behalwe oor waar die kettergrens lê, tussen wat en hoe afgebeeld mag word, is daar die grondvraag: mag énigiets geskilder word?  Alle kuns is re-presentasie; dus: lieg.  Tog voer dit ons die hoogtes van die kultuur in, waar die estetika die mooiste in/vir die mens losmaak.

Tog weer, so aards: verander die stadsleier, moet jy óf vlug vir jou lewe, óf jy word bo almal vereer, soos die meester-miniaturiste van ouds…

          Niks is vas nie.  Niks is los nie.  –  Die plek van kuns.  Eweneens: die plek van die mens.

So draai-draai Pamuk se roman deur my kop, in die minute wat ek voor die kunswerk staan, en probeer, probéér… sien.  Ek wéét dis daar.  Maar ek weet te min.  My kultuur is anders.  Ek is Wes.  Dié kuns is Oos.  Ek is een kant van Modern; dié kuns lê aan die ander kant daarvan.  Ek is Christen; dié kuns is Muslim.  Ek is teoloog: ek dink, daarom glo ek – en vice versa.  Dié verfwerk is van kunstenaars: hulle skilder, daarom is hulle, daarom glo hulle – en omgekeerd.

          Miskien, miskien, as ek béter geweet het, net nou die dag nog – al is dit al amper twe dekades gelede.  Toe ek die keuse gehad het om Latyn en Arabies as vakke te neem.

Ek het nie.

Ek het verkeerd gekies.

Verkeerd.  Oningelig. Dom.

En nou staan ek maar weer dom, hier voor die kunswerk, want ek kan nie sien nie…

Liewe Heer, pak maar nog modder op.  Was niks af nie.  Ek kan nie sien nie.  Nie die mooi nie.  Nie so mooi nie.  Want ek het so dom gekies…

(Die kunswerke en agtergrond van dié uitstelling is te boek gestel, vir diegene wat meer wil lees:  Wright, E  2008. Imperial Mughal albums.  From the Chester Beatty Library.  Alexandria, Virginia: Art Services International.  US $ 45, + posgeld.)

Share this / Deel hierdie: