Op Maandag 27 Augustus 2012 het prof Gert Steyn ‘n intreerede as hoof van die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria gelewer. Sy tema was, ‘Pauls’s interpretation of Yehoshua ben Yoseph through the Scriptures of Israel as “retrodiction”’, en sy rede is ‘n belangrike bydrae tot die eerste eeuse verstaan van die Ou Testament. Die tema verraai dit ook: dit gaan oor Paulus se gebruik van die Ou Testament om Jehoshua ben Joseph (Jesus seun van Josef) te verstaan, en die manier waarop dit geskied, word ‘teruglees’/ ‘retrodiction’ genoem. Dít het nogal groot gevolge vir die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament en hieronder wil ons aan die hand van dié uitstekende intrerede van Gert Steyn verder daaroor dink.

 

Is die Ou Testament Christusvoorspellings?

Dit was nog altyd ‘n gesukkel om die band tussen Ou en Nuwe Testament netjies te verwoord. Is die Ou Testament bloot ‘n profesie wat die koms van Christus voorspel? Augustinus se bekende woorde, ‘in vetere novum lateat, et in novo vetus pateat’ (‘in oue is die nuwe latent teenwoordig, en in die nuwe het die oue verskyn’), het die oortuiging van vele in die vroeë kerk saamgevat en tot vandag toe is die belofte-vervulling-skema die bril waarmee die verhouding Ou en Nuwe Testament beskryf word. Die invloed van hierdie perspektief sien ‘n mens vandag nog in die populêre geestelike literatuur: die Ou Testament is bloot ‘n heenwysing na die Nuwe Testament en daarom word byvoorbeeld maklik van Christus in die Psalms gepraat en word oral hoofletters gebruik om dié heenwysing te beklemtoon.

Veral met die opkoms met die kritiese (lees: wetenskaplike) Bybelnavorsing in die negentiende eeu het dié siening onhoudbaar geword. Uit al die fyn teksstudies en histsoriese navorsing het dit geblyk dat elke boek in die Ou Testament sy eie wordinggeskiedenis en sy eie baie spesifieke teologie vir ‘n baie spesifieke konteks gehad het. Om die Ou Testament dus as ‘n boek vol ‘messiaanse’ verwysings of voorspellings te lees, het onmoontlik geword.

Beteken dit die einde van die band tussen Ou en Nuwe Testament? Hoegenaamd nie. Al wat moet verander, is die leesrigting: in plaas daarvan dat ons vanaf die Ou Testament (as Christusvoorspellings) na die Nuwe Testament toe lees, moet ons eerder die orde omkeer; ons moet eerder van die Nuwe Testament na die Ou Testament se kant toe beweeg; ons moet verstaan hoe die skrywers van die Nuwe Testament die Ou Testament gelees het; ons moet verstaan hoe hulle in die eerste eeu die Christusgebeure met behulp van die Ou Testament verwoord het.

Hierdie gebeure was so oorweldigend en die belangrikste manier waarop hulle inhoud daaraan kon gee, was deur middel van ‘n herinterpretasie van daardie eerste eeuse geskrifte wat ons vandag die Ou Testament noem. Dit is hulle, die gelowiges van die eerste eeu (soos Paulus) wat Christus in die Ou Testament teruggelees het; dit is nie die Ou Testament wat Christus voorspel het nie, maar Paulus wat dit in die eerste eeu só geïnterpreteer het.

 

Vyf historiese momente

Steyn verduidelik dit deur vyf historiese momente (of ‘bedrywe’ soos hy dit noem) in die eerste eeu te onderskei. Dié vyf momente moet ons in gedagte hou indien ons iets van die tipiese eksegese van die vroeg-Christelike gemeenskap wil verstaan. Eers was daar die Ou Testament (soos wat dit destyds bestaan het). Eintlik moet ons eerder van ‘rolle’ praat: ‘n Pentateugrol, ‘n Jesajarol, ‘n psalmrol, ensovoorts. Dit is dikwels gelees of aangehoor en het sekere toekomsverwagtinge by mense geskep. Sommige het ‘n koning verwag en ander weer ‘n profeet en nog ander ‘n soort apokaliptiese figuur.

Die tweede moment (of bedryf) fokus op die lewe van Jehoshua ben Joseph. Hy was ‘n Joodse seun wat in die tyd van keiser Augustus gebore is. Hy het ‘n Hebreeuse naam, Jehoshua, gehad en was die seun van ‘n timmerman genaamd Josef. In sy klein gemeenskappie is hy waarskynlik ‘Jehoshua ben Joseph’ genoem terwyl hy vir die Grieke bloot ‘Jesus’ was. Hy het deel van Johannes die Doper se groep geword, is gedoop, het ‘n eie groep versamel en begin preek. Tipies van Jesus se bediening was genesings en sy omgang met die armstes en die ellendigstes in die samelewing. Sy verset teen die religieuse establishment het hom in onguns gebring en is toe gehang. Die derde moment of bedryf beskryf Jehoshua ben Joseph of Jesus van Nasaret se geestelike nalantenskap: die liefde van God asook die hoop op die herstel van die verhouding met Hom. Meer nog: hy het gesê dat al dié dinge met sy koms ‘n werklikheid ‘n geword het.

Die Christusgebeure het egter geroep om dieper begrip en verstaan en daarom was die vierde en vyfde historiese momente beslissend. Dit vertel van Paulus se bekering en sy herinterpretasie (vanuit die Ou Testament) van alles wat met Jehoshua ben Joseph gebeur het. Paulus is deur rabbi Gemaliël in die uitleg van die Joodse geskrifte onderrig en met die geoefende oog van ‘n eerste eeuse eksegeet het hy die Ou Testament op so ‘n bepaalde manier gelees dat hy inhoud aan die Christusgebeure kon gee. En hoe het Paulus die Ou Testament gelees? Die antwoord hierop is uiters belangrik vir ons verstaan van die band tussen Ou en Nuwe Testament.

 

‘n Voorbeeld

Steyn het aan die hand van ‘n paar voorbeelde Paulus se werkswyse verduidelik het. Om te begin het Paulus nie die Hebreeuse teks gebruik nie, maar die Griekse vertaling of die Septuagint. Verder het sy tyd en sy konteks hom gehelp om die Ou Testament op ‘n bepaalde manier te lees en te verstaan.

‘n Voorbeeld hiervan vind ons in Deuteronomium 21:23 en Galasiërs 3:13. In Deuteronomium staan daar: ‘Wanneer iemand tereggestel word vir ‘n oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan ‘n paal op, mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe, want wie opgehang word, is deur God vervloek. Jy mag nie die land wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee is, verontreinig nie’ (Dt 21:23). Dit handel oor ‘n oortreding waarvoor iemand gehang moes word. God se toorn rus op die veroordeelde en sy liggaam moes voor die aand afgehaal en begrawe word. Dit is geen heenwysing na Christus se lyding of ‘n voorspelling van sy kruisiging nie, maar is bloot ‘n wet in verband met oortreders wat gehang is.

Eers in die eerste eeu het Paulus die unieke band tussen vloek en kruisiging in Deuteronomium 21:23 raakgesien en dit toe op die dood van Christus toegepas: ‘Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is’ (Gal 3:13). Kortom: Paulus gebruik die Ou Testament op so manier dat hy Christus daarin kan terugvind.

 

Konklusie

Die Ou Testament wou nie die lewe en dood van Jesus Christus voorspel nie, maar dit was die New Testament-skrywers wat die Ou Testament radikaal Christologies geïnterpreteer het. Na die paasgebeure (die kruisiging en opstanding) asook Christus se verskyninge moes gelowiges sin van alles maak en het daarom die Ou Testament anders of Christologies begin lees. Paulus is ‘n voorbeeld van hoe dinge gebeur het. Hy het Jesus teruggelees in die Ou Testament; hy het Christus in die Ou Testament gevind en dít het die  boumateriaal vir sy Christusteologie geword.

In die lig hiervan wil Gert uiteindelik ‘voorspelling’/ ‘prediction’ met ‘teruglees’/ ‘retrodiction’ vervang: ‘Hence … this study would like to propose the coinage of a new term in canonical biblical scholarship, namerly the term “retrodiction” – in opposition to “prediction”’. Dié perspektief open nuwe dimensies vir ons verstaan van die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament.

 

Leeswerk

 

  • · Albertz, R 1992. Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit, 2. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht. (Ook in Engels)
  • · Daniélou, J 1977. The origins of Latin Christianity. London: Darton, Longman & Todd.
  • · Dunderberg, I 2011. Johannine Traditions in the Second Century.
  • · Frend, W H C 1984. The rise of Christianity. London: Darton, Longman & Todd.
  • · Frey, J 2011. Apokryphisierung im Petrusevangelium.
  • · Hartenstein, J 2011. Erscheinungsevangelien (Gespräche mit dem Auferstandenen) im Kontext frühchristlicher Theologie: Anknüpfungspunkte und Besonderheiten der christologischen Vorstellungen.
  • · Hossfeld, F-L & Zenger, E 1993. Die Psalmen, I. Würzburg. Echter Verlag.
  • · Markschies, C 2007. Kaiserzeitliche christliche Theologie und ihre Institutionen. Tübingen.
  • · Markschies, C 2010. Was wissen wir über den Sitz im Leben der aporkryphen Evangelien, in J Frey, Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament. Mohr Siebeck.
  • · Markschies, C 2011. Apokryphen als Zeugnisse spätantiker mehrheitskirchlicher Frömmigkeit – das Beispiel des Bartholomäusevangeliums.
  • · Patterson, S 2011. Platonism in the Apocryphal Gospels.
  • · Pelikan, J 1971. The emergence of the catholic tradition. Chicago: University of Chicago Press.
  • · Perkins, P 2011. Jewish Christian Gospels: Primitive Tradition Imagined.
  • · Schroeter, J 2010. Die apokryphen Evangelien und die Entstehung des neutestamentliche Kanons, in J Frey, Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament. Mohr Siebeck.
  • · Schroeter, J 2011. The Apocryphal Gospels within the Context of Early Christian Theology.
  • · Schütz, W 1984. Der Christliche Gottesdienst bei Origenes. Stuttgart: Calwer Verlag.
  • · Söding, Th 2003. Der Kanon des Alten und Neuen Testaments zur Frage nach seinem Theologischen Anspruch, in J-M Auwers & H J De Jonge, The Biblical canons, XLVII-LXXXVIII. Leuven: Peeters.

· Zenger, E (red) 2008. Einleitung in das Alte Testament. Stuttgart: W. Kohlhammer.

Share this / Deel hierdie: