Wat maak ‘n mens daarvan as ‘n Nederlandse dominee sê dat vir hom God gebeur en nie bestaan nie? En boonop nog deur die kerk vrygespreek word en toegelaat word om met sy bediening voort te gaan!

 

Die uitsprake van ds Klaas Hendrikse, wat bekend staan as die ateïstiese dominee van Nederland, is behoorlik ‘n knuppel in die hoenderhok.

 

Hendrikse verduidelik sy eie posisie as ateïsties omdat hy nie ‘n teïs is nie. Hy is teen teïsme en in dié sin ‘n ateïs. Hy maak dit egter duidelik dat daar vir hom ‘n onderskeid is tussen ‘n ateïs en ‘n godloënaar, wat  hy nie is nie. Dit is ook veelseggend dat die ring (klassis) van Zierikzee in die oorweldigend konserwatief-Protestantse provinsie Zeeland, na ‘n ondersoek, bevind het dat Hendrikse kan voortgaan met sy werk as dominee.

 

Hendrikse sê “God bestaan nie”, maar “God gebeur”. En hierdie gebeur van God vind veral tussen mense plaas. Volgens ‘n berig in Beeld (5 Februarie 2010) het hy gesê: “God is vir my geen wese nie, maar ’n woord vir wat tussen mense kan gebeur.

 

Soos ek vir Hendrikse verstaan, wend hy ‘n poging aan om weg te beweeg van teïstiese taal oor God en daarom die woord “bestaan” bevraagteken. Dit is ‘n vraag of sy voorstel van “gebeur” ons help tot ‘n nuwe verstaan wat bevrydend is van die verknegting van die teïsme.

 

In die teïsme is God ‘n aparte wese wat eenkant, iewers sy eie bestaan voer. ‘n Wese met eienskappe soos almag, goedertierenheid en geregtigheid. Van dáár af, vanuit sy eie domein maak hy met ons kontak en onderhandel met ons oor ons saligheid of verdoemenis. Hierdie God is konsekwent manlik en sterk. Die verskil tussen die deïstiese en teïstiese godsbeeld is dat in eersgenoemde die godheid onbetrokke en veraf sy eie bestaan voer en die heelal soos ‘n klokwerk opgestel het wat volgens sy eie wetmatighede afloop. Die teïstiese godsbeeld, daarteenoor, plaas God steeds buite en ver, maar Hy is ‘n God wat betrokke is en in verhouding met die mens tree.

 

Ons het oor geslagte en eeue so deurdrenk geraak van teïstiese godskonsepte dat ons dit byna onmoontlik vind om in enige ander kategorieë oor God te dink en te praat. En as jy dit waag word jy maklik verketter.  Ons het eenvoudig begin om God gelyk te stel aan ons selfgeproduseerde begrippe/taal/dogma oor God.

 

Beide die deïsme en die teïsme is gebore uit die konstellasie-wêreldbeeld. Daardie antieke siening wat die ganse heelal in drie lae opgestel het, met God op die boonste verdieping, ons op die ondermaanse, of middelste en die bose in die dieptes onder die aarde. Tot en met die bevindinge van Kopernikus en Galileo was dit die enigste en gangbare wêreldbeeld. Binne so ‘n konstellasie kan nie eintlik anders oor God gedink word as in teïstiese konsepte nie. Die metafoor is ‘n drieverdieping huis. God woon op die boonste en tree soms met die onderste verdiepings in interaksie, soos in Psalm 2 beskryf word.

 

Met die ontwikkeling van die wetenskaplike wêreldbeeld waar daar nie meer ‘n bo en onder in die heelal is nie en waar daar bewyse is van ‘n evolusionistiese ontwikkeling oor miljoene jare, word dit toenemend moeilik vir die denkende mens om aan ‘n teïstiese God te glo. Wat is die uitweg?

 

  • Sommige verwerp God geheel en al (godloënaars)
  • Sommige verwerp die nuwe idees en hou net krampagtig vas aan ‘n letterlike verstaan van die Bybel.
  • Sommige verwerp die teïsme en word ateïste (Hendrikse).
  • Sommige sê hulle weet glad nie en is agnostici.
  • Sommige verloor alle belang by die vraag en word agnoste (agnosme is ‘n nuwe opkomende kulturele tendiens waar die vraag na die bestaan van God mense eenvoudig nie meer interesseer nie.)

 

Die uitweg kan dalk in ‘n ander rigting lê. As ons by ‘n punt kan uitkom waar ons nie a-teïsties dink nie, maar post-teïsties.  Gelowig, maar verby die teïsme en nie in stryd en in reaksie daarop nie. Miskien bedoel Hendrikse dit so, maar dan is dit jammer dat hy homself as ‘n ateïs bestempel, want dit skep baie verwarring.

Ek sou myself aan die ander kant  ‘n post-teïs wou noem. Dit beteken dat ek doelbewus aanvaar dat daar ‘n era met denkwyses en taal oor God verbygegaan het. Natuurlik word ek nog daardeur beïnvloed en is dit bykans onmoontlik om nie reste daarvan in my eie denke en taal saam te dra nie. Ek dink nog, praat nog en sing nog in die ou taal en word selfs daardeur aangespreek. Maar aan die ander kant weet ek dat ek onherroeplik aanbeweeg het en nou gefasineer en geïnspireer word deur nuwe denkraamwerke oor God.

 

En dan ontdek mens dat daar Bybelse uitsprake oor God is wat die post-teïstiese verstaan van God ondersteun. Dit het nooit dogma geword nie en dit was miskien nie so dominant in die vorming van ons wêreldbeeld nie, maar dit was al die tyd daar.  In kerklike dogma is allerhande filosofiese eienskappe aan God toegedig, maar die Bybel praat bloot van God as Liefde en Gees. En het iemand al die diepte van die betekenis van Paulus se uitspraak in Atene (Handelinge 17:28) deurgrond?: “Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” Dit klink na taal wat pas by ‘n post-teïstiese verstaan van God.

 

Vir baie Christene is die panenteïsme, waarvolgens alles in God is en God in alles, ‘n uitweg uit die vasgeloopte teïsme. Dan word God die immer Moontlike, die Een wat is en wat was en wat kom; die Een wat om elke hoek en draai kan verskyn in enige gedaante of gebeure, maar wat nooit voorspel en vasgevang kan word in ons gedagtes en formulerings nie. Die God, oor wie ek nie meer kan praat asof “hy” ‘n manlike koning of generaal is nie, maar die God wat nooit verder van my af is nie as my eie gedagtes en woorde.

 

Soos dit treffend verwoord word in Stef Bos se Lied van God:

Ik ben de wolken en de wind

Het vuur dat eeuwig brand

Ik ben de stroming

De zee

Ik ben het grenzeloze land

Onvoorspelbaar

Ik ben niet wat je denkt

Er is teveel van mij gemaakt

Wat ik helemaal niet ben.

Share this / Deel hierdie: