Tye het verander
Op 1 Oktober 2014 het Prof Daniël P Veldsman sy intreerede as hoof van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek aan die Universiteit van Pretoria gelewer. Dit was ‘n historiese geleentheid want sy oom, die baie bekende dogmatikus, Prof Johan Heyns (1928-1994), het so drie en veertig jaar gelede ook as departementshoof sy intertreerede by dieselfde universiteit gelewer. Toe Heyns se susterskind op een Oktober vanjaar sy intreerede gelewer het, kon ‘n mens aanvoel hoe die wêreld, veral die wêreld van die Afrikanerteoloog verander het.

In 1971 het Heyns in ‘n UP-publikasie, wat destyds R1.15 gekos het, hom sterk teen die destydse liberale of kritiese strominge in Nederland uitgelaat. Aan die einde sluit hy met ‘n gevoel van dankbaarheid ‘dat ons Gereformeerde Christene mag wees wat nie net Gods Woord mag ken nie, maar ook ons tyd só ken, dat ook ons ‘n boodskap sal hê vir die mens van die twintigste eeu’ (Heyns 1971:35).

In 2014 het dinge anders in Danie Veldsman se intreerede geklink. Sy tema, ‘Konstruktief betrokke in post-dogmatiese Dogmatiek/ Constructively engaging in post-dogmatic Dogmatics’, het veel wyer as die Bybel gestrek en ook die natuur of dan die natuurwetenskappe ingesluit. Sy doel met die intreerede was eerder om die kontoere van ‘n post-dogmatiese dogmatiek te skets deur eers verskillende dogmatiese tipes en trends te onderskei, en dan op sy departement en sy eie bydrae te fokus.

Tipes sistematiese teoloë
Volgens Veldsman kan die sistematiese teoloë in vyf tipes verdeel word. Tipe een verteenwoordig die kritieklose napraters. Hulle aanvaar die Christelike tradisie sonder kritiese nadenke of wetenskaplike ondersoek. Dié ingesteldheid kry ons dikwels by lede van die charismatiese en pentakostalistiese kerke. Tipe vyf is vir Veldsman die radikale moderniste wat vir ‘n moderne filosofiese stroming kies en die Christendom dan daarby laat aansluit.

‘n Tweede tipe word deur die teologie van Barth, Jüngel, Rowan Williams en andere verteenwoordig. Hiervolgens is die Christelike realiteit en identiteit so omvattend dat alles vanuit hierdie perspektief verstaan moet word.

‘n Derde tipe het Veldsman die teologies-filosofiese ‘correlaters’ genoem. Diegene het filosofie en teologie al hoe hegter gekoppel sodat ‘n gesprek tussen geloof en wêreld kon ontstaan. So het Paul Tillich die gewone alledaagse lewe se probleme met behulp van sy verstaan van die Christelike simbole probeer beantwoord. Hierdie ‘metode van korrelasie’ se waarde het daarin bestaan dat daar altyd ‘n oop dialoog met die hede was.

Tipe vier noem Veldsman die ‘teologiese integreerders’ wat ‘n spesifieke moderne filosofiese konsep of denkrigting gebruik om die Christelike geloof en boodskap vir die moderne mens verstaanbaar te maak. Rudolf Bultmann se gebruik van Heidegger is hiervan ‘n voorbeeld.

Veldsman is bewus van hierdie tipologie se tekortkominge. Dit is inderdaad ‘n verskraling van die sistematiese teologie want dit kan tog nie alle teologiese denke volledig saamvat nie en daarom moet daar ook nog iets anders bykom: trends of denklyne. As ons oor die sistematiese teologie wil praat, moet ons ‘tipe plus trend’ saambekyk: ‘Typology + Trends = What Systematic Theologians and Ethicists do!’.

Trends en denklyne
Een manier om ‘n denklyn te identifiseer, is om te beskryf hoe hedendaagse probleme aangespreek word. Uiteraard het dit van tyd tot verskil en het elke konteks sy eie probleme geformuleer. Hy verwys na verskillende voorbeelde. Een is historiese skemas soos voor en na die Aufklärung of Verligting. Voor die Aufklärung byvoorbeeld het drie dinge denkinhoude bepaal: groep, gesag en tradisie. Na die Aufklärung het subjektiwiteit, rasionaliteit en historisiteit weer sentraal gestaan.

‘n Invloedryke trend is die nadenke oor net een aspek van die sistematiese teologie. ‘n Voorbeeld hiervan is die Trinitariese Renaissance in die vyftiger jare van die vorige eeu. Dít het daartoe aanleiding gegee dat die Triniteit as uitgangspunt vir die teologie moes dien en alle denke oor die pastoraat en sakramente vanuit dié perspektief gedoen moes word.

Ten slotte is daar ‘n soort trend wat geheel en al op God gerig is. Veldsman verwys na ‘n Brits-Amerikaanse sistematiese teoloog vir wie teologie bloot verheerliking van God was asook ‘n ervaring van God wat jy net moes geniet: ‘In this trend Systematic Theology and Ethics finds its most intimate integration. Finds its closest connectivity with a life characterized by love / obedience’.

Vanuit die perspektief van ‘Tipe+Trend’ het Veldsman toe die ganse sistematies-teologiese konteks in Suid-Afrika beskryf. In ‘n langerige paragraaf het hy elke sistematiese teoloog binne hierdie skema ingepas en toe uiteindelik by sy eie department gekom.

Departement Dogmatiek, UP
Sy beskrywing van UP se Departement Dogmatiek en Christelike Etiek hou rekening met die bydraes van Johan Heyns, Conrad Wethmar en Etienne de Villiers (wat ook verantwoordelik vir die stigting van die Sentrum van Publieke Teologie was).

Eers vertel hy van die departement se visie. Klem val op onderrig, navorsing en gemeenskapsdiens wat binne ‘n veelkerklike konteks geskied en daarom die ruimte vir gesprek en nuwe denke skep.

In die lig hiervan formuleer hy vyf doelwitte van die Departement: Die verskaffing van relevante teologiese en religieuse opleiding; die vorming van leiers met ‘n vermoë om hulle wêrelde te verander; die bevordering van kwaliteitnavorsing asook geregtigheid, vrede en integriteit; die omgee vir die skepping en die skepping van ‘n versoenende diversiteit; die ontmoeting met die gemarginaliseerdes in die samelewing.

Veldsman gaan dan ook verder en sê dat hierdie doelwitte deur die volgende akademiese waardes of denkaktiwiteite bereik kan word: kritiese denke, intellektuele voortreflikheid, praktiese transformasie en inklusiwiteit

In die lig van alles wat hierbo gesê is, beskryf Veldsman dan kortliks die vyf lede van sy departement. Eerste is Prof Johan Buitendag, die huidige dekaan en sy klem op ‘n eko-hermeneutiek: ‘(he) focuses within the broader science-theology dialogue on ecological issues and has developed an eco-hermeneutics in which he especially stresses the importance of habitat for all life to prosper, including human life’.

Dr Willem Fourie fokus weer op ‘n spesifieke sosiale etiek vir ons tyd: ‘(he) investigates the possibility and contours of an ethic of sociality that’s useful in post-colonial, pluralist and unequal societies. His focus is the post-colonialities, pluralisms and inequalities of Southern Africa. Currently Willem is in Berlin, Germany with a Von Humboldt Scholarship’.

Dr Vuyani Vellem is direkteur van die Sentrum vir Openbare Teologie en staan in die tradisie van die bevrydingsteologe: ‘(he) comes from a strong liberation- theological background. In his research, he sharply distinguishes and exposes ongoing injustices in our society and searches for new ways of bringing about social cohesion.

Dr Tanya van Wyk fokus weer op twee aanverwante temas: ‘One focus area is the challenges that the church as institute is facing because of its struggle specifically with regard to diversity in terms of race and sexuality. The other focus area is the meaning and implications of heterotopia, a specific understanding of the concept of space where one is not afraid of the Other. Both research topics are investigated from both a postmodern and a post-colonial perspective’.

Veldsman se eie bydrae
Hy omskryf sy eie bydrae as ‘die her-konseptualisering van religieuse ervaring vanuit evolusionêre perspektiewe binne die teologie-natuurwetenskap dialoog (my kursivering)’.

Anders gestel: vir Veldsman is ervaring, religieuse ervaring die beginpunt; hy wil hierdie ervaring egter her-konseptualiseer of nuut omskryf en beskryf; en om dit te kan doen, gebruik hy perspektiewe uit die ewolusiedenke daarmee beklemtoon hy hoe belangrik die teologie-natuurwetenskap-dialoog vir hom is.

Om dit nog ‘n keer te sê: die beginpunt van Veldsman se denke is die konkrete biologiese bestaan van die mens. Biologies sit ons op ‘n bepaalde manier aanmekaar en hierdie ‘biologiese aanmekaargeweefdheid’ moet ons ernstig neem. Van hieruit moet ons oor God, skepping en geloof kan praat en die ewolusiedenke kan ons geweldig help. Sonder ewolusie was daar in elk geval geen ervaring of godsdiens nie: ‘Evolusionêre ontwikkelinge het religieuse ervaring moontlik gemaak’.

Een van die baie insigte uit die biologiese wetenskap of ewolusiedenke is dat ‘hart en kop’ bymekaarhoort en dat dit nooit los van mekaar gemaak kan word nie. Hy noem dit ‘die affektief-kognitiewe dimensie van menswees, van die self’. Ons ‘kan omgee (compassion), meegevoel hê, goedgunstelik optree (kindness)’, maar ons kan ook ‘daaroor nadink en insigtelik daaroor praat’. En dié insigte het die ewolusiedenke ons as ‘t ware as ‘n geskenk gegee en met behulp van hierdie kop-en-hart-insigte moet ons die sistematiese teologie bedryf. Dit moet so gedoen word dat die beste teologiese en natuurwetenskaplike insigte bymekaargebring word. Dié siening help Veldsman dan om geloof en denke as ‘t ware tot ‘n eenheid te smee; om teologie en natuurwetenskap intieme gespreksgenote te maak; om sinvol oor geloof in samehang met die natuurwetenskappe te praat.

Na al hierdie woorde verstaan ons Veldsman se post-dogmatiese dogmatiek beter. Die woordjie ‘post’ beteken nie dat hy die ‘tradisionele’ dogmatiek wil verwerp of dat die vak geen waarde meer het nie. Inteendeel, dit dui eerder op ‘n bereidwilligheid om die lewe in al sy volheid (ook biologiese en ewolusionêre volheid) met ‘n groot nederigheid te bestudeer: ‘Bereidwilligheid om die lewe self – voor God, in die wêreld en saam met ander mense – gevoelsvol-nadenkend in die oë te kyk; om by ervaring (as die bewussynsmatige interaksie met werklikheid) te begin as ons besin oor God as Skepper en Verlosser; om eksplisiet te sê daar is ook ander stemme ter sprake, ook ander plekke; om die teorie- en affektief-geladenheid van alle ervaring te erken; om kontekstueel eerlik te wees oor die dae en nagte van nie-weet; om nie as vanselfsprekend te aanvaar dat God aan ons hermeneutiese kant is nie; (die) kognitiewe dimensie van die self (te) erken en (te) her-konseptualiseer as deel van ‘n linguisties-kulturele proses of gebeurlikheid, ‘n web van gelaagde signifikasie wat ons onophoudelik herinner aan die onpeilbare diepte van alteriteit / Andersheid / Vreemdheid’ (my kursivering).

Veldsman se slotwoord
Al die woorde soos ‘ewolusie’ en ‘teologie’ en ‘post-dogmatiese dogmatiek’ sal ons nog weer en weer moet herdink, maar Danie Veldsman se intreerede toon dat hy bereid is om die intelekketuele grense van sy vak te toets en nogmaals te toets. Hy het getoon dat hy nuut en anders kan dink en dit sal die vak en die teologie net ten goede strek.

Aan die einde van sy intreerede hou self met moontlike onduidelikhede rekening en daarom het hy heel gepas met musiek afgesluit: ‘En as ek dalk dit nie mooi duidelik en verstaanbaar uiteengesit het nie, gaan ek op ‘n laaste kort wyse afsluitend nog probeer. Ek gaan musiek neem (Taize) en aan die hand hiervan dit nog oulaas probeer verduidelik. Musiek waarin die dogmatiese stelling: Christus is die Here Jesus sentraal staan’.

Bibliografie
• Heyns, J A 1971. Die huidige stand van die Gereformeerde teologie in Nederland en ons verantwoordelikheid. Pretoria: UP Publikasie, Nuwe Reeks 57.
• Veldsman, D P 2014. Konstruktief betrokke in post-dogmatiese Dogmatiek/ Constructively engaging in post-dogmatic Dogmatics. Intreerede UP.

Share this / Deel hierdie: