‘n Klassieke werk in Afrikaans

In die winter van 2013 het Kobus Krüger se boek, Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno, verskyn en dit is ‘n besondere werk. Dante Alighieri (1265-1321) se Divina Commedia bestaan uit drie dele of canticas: die Hel of Inferno, Loutering of Purgatorio en Hemel of Paradiso en Krüger het Inferno uit die Middeleeuse Italiaans in Afrikaans vertaal. Of soos hy dit self sê: ‘Wat hier aan die Afrikaanslesende publiek gebied word, is ‘n prosa-vertaling van Dante se Inferno in die konteks van ‘n besinning oor die mistieke gehalte daarvan’ (Krüger 2013:1).

‘n Bietjie later meer oor die mistiek, maar eers iets oor die ver-Afrikaansing van Dante. Hierdie is ‘n grootse werk wat jare geneem het en waarin die skrywer gepoog het om elke woordbetekenis en nuanse in die oorspronklike taal in Afrikaans te vertaal en te verwoord. Volgens Krüger moet elke taalgemeenskap Dante vir sy eie tyd relevant maak want hy het vir elke era iets te sê. Krüger is so oortuig van Dante se waarde ook vir ons dat hy sê: ‘Om te verseker dat hierdie erfenis nie vergeet sal word nie was een van die dryfvere agter hierdie vertaling en interpretasie van die Inferno’ (Krüger 2013:8).

Kobus Krüger is emeritus professor aan UNISA waar hy dekadeslank godsdienswetenskap doseer het en sy boek wys/ toon ook sy rype/besondere insigte in verband met geskiedenis, godsdiens en mistiek. Hy wou ook sy boek vir ‘denkende Afrikaanstaliges’ skryf wat ‘deesdae bewus (is) van die dieptes van menslike tragiek’ en die Inferno help die leser om iets van die tragiese van menswees asook die gevoel van vervreemding en ontnugtering te verstaan. Dit konfronteeer die leser met die swakheid en boosheid van mense asook die verskriklike lot wat sulke mense getref het. Die Hel is ‘n vreeslike plek en nou nog pak die angs jou as jy dit aandagtig lees.

Krüger se arbeid lewer ‘n besondere bydrae tot die Afrikaanse teologie, die verstaan van die Middeleeue en die Reformasie, asook die Afrikaanse intellektuele lewe in die algemeen en daarvoor verdien hy ons lof en dank.

 

‘n Mistieke reis

Kobus Krüger het besonder baie al oor die mistiek nagedink en daaroor geskryf en dit is vanselfsprekend dat dit ook in sy werk sal blyk. Trouens, ‘n mens kan sê dat die mistiek vir Krüger ‘n toegangspoort tot die verstaan van religie is.  is as Krüger oor religie praat, die mistiek invalspoort. Sy insigte oor die mistiek het hom die Divina Commedia asook die Inferno op ‘n heeltemal nuwe manier laat lees. ‘Mistiek’ verstaan hy as die soeke na en die vind van ‘helderheid van insig, klaarheid van emosie en wil, en suiwerheid van eksistensie’. Dit is ‘n ervaring wat ‘wat ander kant praat en dink, anderkant geykte godsbegrippe lê’ (Krüger 2013:34). ‘n Ervaring wat nie in begrippe vasgevat kan word nie. Die Inferno is die eerste deel van ‘n mistieke reis wat sy hoogtepunt in die aanskouing van God in veral Paradiso XXXIII vind.

Krüger praat van Dante se ‘religieus-mistieke’ denke en van ‘die hoogste mistieke ervaring, naamlik die sien van God’ (Krüger 2013:5,15). Vir hom is ‘mistiek die siel van die Divina Commedia’ en hy het ook ‘n grafiese voorstelling daarvan gegee (Krüger 2013:299,304-310). Interessant is die aansluiting by Meditereens-Nabye Ooste waar reise na die doderyk algemeen was en ‘tonele van Helse strawwe en Hemelse geluk … kerk-koepels in skilderye en mosaïeke versier’ het (Krüger 2013:312-320).

Dit is egter Krüger se konsekwente mistieke verstaan van Dante wat die leser bybly. Op verskillende plekke in sy verhaal het sy mistieke lees nuwe insigte en nuwe dimensies vir ons oopgemaak. Selfs in die donkerste donkerte van die hel kon ‘n enkele opmerking die leser na die vreugde van die mistiek se einddoel (die aanskouing van God) laat uitsien. Krüger het daarin geslaag om Dante as ‘t ware uit die veertiende eeu te lig en vir vandag relevant gemaak.

 

Die begin van die reis

Dante begin sy reisverhaal op Goeie Vrydag, 8 April 1300 in ‘n onbekende woud en eindig ‘n week later in die Paradys of die hoogste Hemel. Dit word uiteindelik ‘n reis wat hy moeilik kon oorvertel. Hy sê byvoorbeeld: ‘Van dié oomblik af was my sien groter/ as wat taal kan toon’ (XXXIII.55-56). Sy ervaringe was so oorweldigend dat taal dit nie kon verwoord nie en tog spreek hy die leser op verskillende maniere aan.

Dante se reis was eintlik ‘n innerlike reis. Hy het na lewensin verlang en het in homself gekeer en is in die proses gelouter en het mettergaan tog geluk en insig gevind. En dit is nie net Dante se reis in die begin van die veertiende eeu nie, maar dit is ook óns reis. Dante ‘maak ‘n appél op sy lesers, spreek die mistieke heimweë in hulle aan, nooi hulle uit tot die waarmaak in hul eie lewens van sy reis en bekronende ervaring in die Paradys’ (Dante 2013:6).

Die reis na innerlike geluk het egter deur Inferno, wat ‘n verskriklike ervaring was en waarvan ons hieronder kortliks wil vertel. In die eerste sin praat hy van ‘ons’ en ‘ek’. Die ‘ons’ sluit almal in hulle daaglikse sleurgang asook hulle verlorenheid in; hy laat sy verhaal ‘By die halfpad-merk van ons lewensreis begin’ en betrek sodoende almal tot vandag toe by sy reisberig.

Van homself sê hy dat hy hom op daardie oomblik ‘in ‘n donker woud bevind’. ‘n Vreeslike plek ‘wild en woes en wreed’ en baie erger as die dood. Dante sê dan iets wat tegelyk die ‘einde’ van sy reis asook die ‘begin’ en verloop daarvan saamvat. In die beginwoorde van die Inferno weet ons dus al dat die reis op ‘n hoogtepunt sal eindig, maar die pad daarheen was hel en daarvan wou hy vertel.

 

Die hel is verskriklik

Dante weet nie hoe hy in die in woud gekom het nie, maar toe hy die oggend wakker word, was hy aan die voet van ‘n heuwel waaroor die eerste sonstrale net begin skyn het. Angs het hom oorweldig, maar hy het nogtans die berg aangedurf ‘met my stewiger voet altyd laer’. Skaars het hy begin of sy weg is deur die een ongedierte na die ander versper. Eers ‘n luiperd, toe ‘n leeu en daarna ‘n wolvin en dié het Dante na die woud toe teruggedryf (I.1-19).

Skielik staan iemand voor hom en Dante skreeu, ‘Wees my genadig, wat jy ook al is, hetsy skim of regte mens’, en dit blyk toe dit was Vergillius, die Romeinse digter wat ‘die roem en lig van ander digters was’. Vergillius sou Dante se gids deur al die verskrikkinge van die hel wees. Of soos Dante hom versoek, ‘Digter, ek pleit by u … dat ek van hierdie en nog erger kwaad ontsnap. Lei my nou na die plek waarvan u gepraat het, sodat ek by die poort van die heilige Petrus kan uitkom en die jammerlike mense van wie u praat, kan sien’.

So begin die gesamentlike tog en teen die aand van Goeie Vrydag die agste April 1300 bereik hulle Limbus, die Eerste Sirkel van die Hel. Dit was die plek van die ongedooptes; van die mense van die Ou Testament asook goeie mense uit die heidendom. Aanvanklik was Vergillius doodsbleek van angs en dit het ook Dante ontstem: ‘Hoe kan ek kom, as u wat my troos as ek twyfel, self bang is?’. Vergillius antwoord dat dit die nood van die mense ‘daaronder (is) wat (my) gesig laat verkleur’. In Limbus is daar darem ‘n blye oomblik toe Dante die groot digters van weleer ontmoet het: die ‘soewereine digter’ Homeros, die satirikus, Horatius asook Ovidius en Lucanus. En dan natuurlik ook die digter Vergillius. ‘n Groot eer het Dante toe te beurt geval: die ander vyf groot digters het hom nadergeroep en ‘hulle … het my in hulle midde verwelkom, sodat ek nou die sesde digter onder daardie groot geeste was’ (IV.97-102).

Van die Eerste Sirkel het Dante na die Tweede Sirkel afgeklim wat kleiner as die eerste was, ‘maar veel meer smartelike pyn bevat het’ (V/1). Hier word die wellustiges en die onsedelikes deur hewige stormwinde gestraf.

In die Derde Sirkel hou die drie-koppige Cerberus oor alles die wag. Hier is allerhande soorte vrate wat ‘vir ewig in uitwerpsel, stinkende oorblyfsel van matelose oormaat’ rondspartel (Krüger 2013:38). Groot ‘stukke hael, vuilgekleurde water en sneeu’ het ‘stinkend deur die pikswart lug op die verrottende grond neer(gestort)’ (VI.6-7). Dit was die plek waar Cerberus met sy rooi oë, sy smerige vetterige swart baard, sy dik pens en sy kloupote die wag gehou het. Hy het sy kloue in mense ingeslaan, hulle afgeslag terwyl ‘die armsalige ongelowiges tjank soos brakke’ (VI.13-25).

In die Vierde Sirkel is die gierigaards en verkwisters saamgetrek en ook daar het dit maar ellendig gegaan. Terwyl Dante ‘langs die angswekkende skuinste’ staan waar al die wêreld se boosheid instort, loof Dante God se geregtigheid. Wie anders as Hy sou sulke kastydinge as ‘t ware kon uitdink en toepas, maar dan vra hy ook die vraag: ‘En waarom vernietig ons skuld ons so?’ (VII.16-21). Hy vra die vraag want hy beskryf wat hy voor hom sien: die spandabelriges en verkwisters is gedoem om ewiglik naak en met enorme inspanning groot swaar rotse te stoot wat teen mekaar bots en wanneer hulle hard teen mekaar stamp, sê die een ‘Waarom opgaar?’ en die ander ‘Waarom verkwis?’. Die hele herhalende stoot en bots van mense en klippe het Dante droewig gestem, maar Vergillius het hom verseker dat dié mense nooit matigheid voor oë kon hou nie en tussen hulle was geestelikes, pouse en kardinale ‘wat gewoonlik buitensporig hebsugtig’ is (VII.37-45).

Ewe erg was die plek waar die humeuriges hulle bevind het. Dié geeste het in ‘n moeras van modder gespartel, ‘almal poedelnaak, met gesigte vertrek van woede’. Hulle het verder ‘mekaar te lyf gegaan; nie net met die hande nie, maar ook met die kop en borskas en voete, en mekaar met hulle tande verskeur’ (VII.112-115). Dan was daar ook nog die Sesde Sirkel waar al die ketters vir ewig in brandende grafte opgesluit is en in die Sewende Sirkel is geweld gestraf.

En tog sê Krüger dat te midde van al die Inferno se ellende ‘is dit tog ‘n boek oor die lewe, liefde en skoonheid’. Dit is eintlik ‘n oproep om voluit te leef en die lewe te geniet. Selfs in die allerverskriklikste dele van die Hel ‘uiter verdoemdes … hul versugtinge na die sonbestraalde wêreld daarbo, die soet lewe van familie en vriende’. Hierdie sug na die goeie lewe bly die leser by en dit moet ons aanspoor om reg te leef (Krüger 2013:34).

Dante se Inferno werp besondere lig op die Middeleeuse angs vir God, die dood en selfs die lewe. Dalk kan die vroeë Luther as voorbeeld dien. Hy het sy tyd se tekeninge oor die grimmige Christus goed geken. Met ‘n swaard in die hand het die kwaai Christus mense tot die ewige verdoemenis veroordeel. Vir dié woedende Christus het Luther egter net nie kans gesien nie. Hy móés daarom klooster toe want alleen so kon hy sy siel gered en vir God aanvaarbaar geword het. In die klooster moes hy ook leer om sy angs te oorwin. En ’n mens wonder hoeveel van dié angs nie deur die invloed van Dante op die Middeleeuse samelewing geskep is nie.

 

‘n Besondere boek

Kobus Krüger se boek moet ‘n mens besit. Dit is ‘n boek wat jy optel, lees, neersit en later maar weer optel. ‘n Mens kry dit nooit klaar gelees nie want dit is te ryk aan inhoud en die kommentaar op woorde, begrippe en mense is van besondere belang. Dit is ‘n boek wat ‘n mens nie hoog genoeg kan aanprys nie en om weereens Henning Pieterse aan te haal: ‘Krüger gee ‘n deeglike verantwoording van sy vertaling “in effektiewe Afrikaanse prosa” … Krüger het hom uitmuntend van sy taak gekwyt’ (Voorwoord).

 

Kobus Krüger, 2013. Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Pretoria: Sentrum vir mistiek.

 

Jurie le Roux

Share this / Deel hierdie: