Prof Johan Buitendag is die nuwe Dekaan van die Fakulteit Teologie, Universiteit Pretoria.

Sy CV kan gelees word op http://web.up.ac.za/sitefiles/file/CV/theology/Johan%20Buitendag%20_Verkorte%20CV_.pdf.

Teo.co.za het egter ‘n bietjie dieper gaan delf en het ‘n verrassende ‘ander kant’ van ons Dekaan ontdek. Ons stel hom graag self aan die woord.

Vraag: Wat het u werk by die SAUK behels en wat het u daaruit geleer?

Antwoord: Ek was einde tagtigs en begin negentigs hoof van die godsdiensprogramme van die SAUK. Aanvanklik was dit ál die radiodienste (Afrikaans, Engels, Nguni en Sotho) en al drie die destydse televisie-kanale, naamlik TV1 en TV2&3. Godsdiensprogramme het destyds ongeveer 3% van die SAUK se totale uitsendings behels. Met die herstrukturering van daardie jare het Radio en TV geskei en is Radio se godsdiensprogramme later ook aan buitevervaardigers gegee. Godsdiens is toe by die destydse TNP (Televisie Nuusproduksies) geplaas, onder Johan Pretorius en Christo Kritzinger. Ek het so in die dertig personeellede onder my gehad met ’n begroting van ongeveer R12m (dit is darem 20 jaar gelede se waarde!). TNP was ’n harde joernaliste-wêreld. Vinnige tempo, blitsige besluite en politiek uiters gespanne. My periode by die SAUK was juis die laaste era van die vorige bedeling en die voorbereiding tot die nuwe Suid-Afrika. Ek is ook in 1994 daar weg toe ek uit die bloute ’n beroep Stellenbosch toe gekry het. Ek meen die SAUK was die eerste nasionale instelling wat destyds ingrypend getransformeer het en onthou vandag nog die stakings en die inpak wat dit op ons werk gehad het.

Ek het ’n wonderlike tyd by die SAUK saam met my kollegas van al die verskillende taalgroepe gehad. Dit was ook ’n groot ervaring om ’n nuwe geslag mense gereed te maak vir bestuursposisies. Maar wat my veral sal bybly, was die goeie kontak wat ek met kerkleiers gehad het. Ek het met al die kerke wat uitgesaai het se moderamens ’n noue band gehad. Ek was selfs bevoorreg om by geleentheid die VGK se sinode in Belhar toe te spreek. Vriendskappe wat ek destyds gesluit met mense soos Frits Gaum, Pieter Potgieter e.a. duur vandag voort.

Ek het ook baie gereis. In die VSA het ek heelwat met die sogenaamde ‘televangelists’ te doen gehad. Almal wou gleuwe vir hulle programme bekom. Hier dink ek onder andere aan mense soos Paul Crouch van TBN, Pat Robertson van CBN, Robert Schuller van Crystal Cathedral, Joseph Tkach van die WWCG en selfs ook die Mormone. Ek was by geleentheid hulle gas in Salt Lake City en het ’n spesiale opvoering van die Tabernakel Koor bygewoon. Aangrypend!

My tyd by die SAUK was ook nie sonder teologiese navorsing nie. Om een voorbeeld te noem. Die New Age Beweging het destyds baie opslae gemaak en as daar net ’n reënboog op die televisie sou verskyn, was die gort gaar en het die besware ingestroom! Ek moes gevolglik ’n indringende studie oor die New Age doen en het toe ook ’n boek by CUM Boeke daaroor gepubliseer. So moes ek ook navorsing doen oor evolusie, oor ander godsdienste, selfs die Rastafarians ensovoorts.

Vraag: Watter sin het u MBA-graad gehad? Het dit u vir vandag se taak voorberei? Help dit u om ‘n beter dekaan te kan wees? Moet alle dekane nie so ‘n graad volg nie?

Antwoord: Dit is interessant dat hierdie aspek juis die vorige vraag opvolg! Ek het die graad M.Com. (Ondernemingsbestuur) in 1995 aan die destydse RAU verwerf. Juis vanweë die eise wat by die SAUK aan my gestel is, het ek die noodsaak van hierdie opleiding besef. Ek moes eers ’n oorbruggingskursus van een jaar deurloop het voordat hulle my toegelaat het. Dit was harde jare. Elke weeksaand (behalwe Vrydagaand) het ek klas geloop van 17:00 tot 21:00 en so het dit aangehou vir twee jaar lank (buiten die een jaar oorbrugging). Oggende het ek om 04:00 begin studeer en natuurlik ook naweke. Intussen het ek ’n harde dag op kantoor gehad waar mens nie gespaar is nie. Ek het die graad in die minimum periode voltooi en was stom verbaas met die gradeplegtigheid toe van die 120 studente wat begin het en later net omtrent 60 in die klas oorgebly het, ’n klein handjie vol daardie aand hierdie graad gekry het! Ek het saam met ingenieurs en ouditeure en ander professionele mense klas geloop en in sindikate met hulle saamgewerk en sekerlik uit my diepte gevoel, maar tog baie geleer.

Die basiese dimensies van Ondernemingsbestuur van finansiële rekeningkunde en finansiële bestuur, bemarking, menslike hulpbronne, strategiese bestuur, ekonomie, elk met sy onderskeie fasette, was byna netso van toepassing op my werk. Ek het toe vir die uitdaging daarvan, later in Stellenbosch ’n woonstelblok op die kerkgrond ontwikkel – sonder dat die gemeente geld daarvoor gehad het. Ons moes die pastorie daarvoor verkoop. Na agt jaar was die verband afbetaal en ek skat die woonstel se inkomste is vandag seker meer as ’n miljoen Rand per jaar.

Natuurlik sal dit wonderlik wees as professionele mense hierdie tegniese kennis het, maar ek het selfs gedink dominees moet ook so ’n kursus (in aangepaste vorm) deurloop. Ek het ’n kursus in ons fakulteit ontwikkel (TEO253) wat al hierdie aspekte aanspreek en die studente wat dit neem, geniet dit baie. Ongelukkig gaan ons dit nou verloor met die nuwe kurrikulum.

Vraag: Vertel ons iets van u doktorsgraad in die teologie. Waar, wanneer en onder wie het u gepromoveer?

Antwoord: Ek het tydens die voorbereiding vir my doktorale eksamen aan UP in 1981, verdiep geraak in Karl Barth se skeppingsleer en toenemend my daarin begewe. Adrio König het my toe genader om deeltydse dosent by UNISA te word en in daardie tyd het hy sy boek oor die skepping (God kan weer en meer), gepubliseer wat met sy verdiskontering van Westermann se insigte, goeie gesprekke tussen ons tot gevolg gehad het. Die kollegas wat ek in daardie departement leer ken het, veral Ras van Niekerk, het vormende invloed op my denke gehad. En so is die deur Europa toe oopgemaak. Suid-Afrikaners kon nie meer visums Nederland toe kry nie en ek is aanbeveel om na die Lutheraan, Friedrich Mildenberger in Erlangen te gaan. Hy was ’n baie sterk individualis en het nie teruggedeins om met ’n Suid-Afrikaner geassosieer te word nie. Ek het my predikantspos by die gemeente bedank en het 18 maande lank voltyds gaan studeer. In Erlangen het ek ook Alasdair Heron ontmoet, ’n Skotse professor wat vir die Calvyn-leerstoel in Erlangen aangestel is. Ons is vandag nog hegte vriende en hy is ook een van my navorsingsassosiate.

Ek het oor Skepping en Ekologie my proefskrif geskryf o.l.v. Friedrich Mildenberger, maar het die D.D. graad aan UP in 1985 ontvang met Ben Engelbrecht as die hoofpromotor. Administratief was dit net makliker om dit so om te doen. Basies het ek vanweë die ekologiese krisis, aangetoon dat ons die skepping te lank verkeerd verstaan het. Ons het trouens die hele Bybel, antroposentristies gelees en die natuur was net maar (in Barth se taal) die uiterlike vorm van die verbond tussen God en mens. Boonop was die aktiewe skepping (die skeppingsdaad dus) ten koste van die passiewe skepping (die skeppingsproduk) in die teologie gehanteer. Ons het net oor die skepping aan die begin nagedink, maar nie oor die skepping soos ons dit vandag ervaar nie. Ek het tot die oortuiging gekom dat ons meer vanuit die hier en die nou Pneumatologies oor die skepping moet reflekteer. ’n Mens sien vandag ook al hoe meer hierdie perspektiewe in die teologie raak, maar 25 jaar gelede was dit nie die geval nie. Volgens die RGN se indeks destyds, was hierdie die eerste navorsing oor ekologie en teologie in Suid-Afrika.


Vraag:
Ons weet van u belangstelling in die natuurwetenskappe – vertel ons iets daarvan?

Antwoord: Weer ’n logiese voortsetting van die vorige! Die subtitel van my proefskrif was ’n ‘teologiese werklikheidsverstaan’. Ek dink dit is wat teologie ook wesenlik is. As mens dus aanvaar dat teologie ’n wetenskap is en sy plek aan ’n universiteit moet verdien, dan moet mens aanvaar dat hy in dialoog met ander wetenskappe moet kan tree. Ons is almal met dieselfde werklikheid besig, al verskil die perspektiewe en benadering. Ek is oortuig dat ons almal gaan ten diepste met die vraag om oor wat waarheid is en al ontwyk die antwoord mens soos die horison voortdurend met die reisiger maak, kan teologie bydra tot die gesprek. Die een saak wat my bly fassineer is die tydsvraag. Dit is seker die mees basiese uitgangspunte in ons denke en helaas ook van die mees onbevraagde uitgangspunte. Nege uit tien mens redeneer asof tyd eendimensioneel en liniêr is. Mens kan natuurlik ook nie oor tyd praat sonder om ook oor ruimte te praat nie. Waar al hierdie dimensies volgens my die eerste keer sinvol bymekaargebring is, was Jan Smuts se Holism and Evolution (1926). ’n Boek wat my in geheel gevorm het. Smuts hanteer fisika, biologie en filosofie net eenvoudig verbysterend binne ’n sinvolle geheel. Alhoewel ek dit nog nooit nagegaan het nie, is ek daarvan oortuig dat hy en Einstein in korrespondensie was. Ek sien net te veel ooreenkomste raak wanneer mens die twee se werk lees. Hy het Darwin se teorie ook baie duidelik uiteengesit. Geen wonder Smuts was ’n botanikus van formaat nie.


Vraag:
Hoe bring u die natuurwetenskappe en die teologie bymekaar uit? Dink u byvoorbeeld dat Darwin vir ons vir vandag nog iets te sê het?

Antwoord: My professorale intreerede het gehandel oor ’n evolusionêre epistemologie. Verlede jaar was mos tegelyk Darwin se 200 jarige herdenking van sy geboortejaar asook die 150 jarige herdenking van die verskyning van sy [On] The Origin of Species. Ek meen hy het ons oë oopgemaak vir die waarde van induktiewe kennis (alhoewel Aristoteles dit darem reeds raakgesien het). Maar Darwin was die eerste wat met ’n sinvolle teorie geëindig het wat van onder af geformuleer is ook geverifieer en gefalsifieer kon word. Ons het in die teologie so maklik aan die verleiding van die Gnostisisme toegegee en die stoflike verbygegaan (ook ’n rede vir die ekologiese krisis!). Darwin het my oë weer oopgemaak vir ’n teks soos Gen 2:7, naamlik dat die mens basies uit stof gemaak is.

Mag ek tegnies raak? Die menslike brein bekom kennis deur ’n proses van seleksie. Dit beteken dat die menslike brein doelgemaak is, sowel deur, as vir, sy omgewing. Die menslike brein is nie soos ons dikwels sê, ’n uiters kragtige rekenaar nie, maar eerder te vergelyk met ’n Switserse weermag-mes. Elk van die lemme van die mes het ’n bepaalde funksie wat ’n sekere taak beter as die ander kan verrig. Of meer wetenskaplik gesê: kognitiewe en perseptuele sisteme is deur natuurlike seleksie afgestem op daardie aspek van die objekte wêreld wat vir die betrokke organisme relevant is.

Die biologie het aangetoon dat mense en diere oor aangebore en dus voorafkennis beskik. Dit geld byvoorbeeld van instinkte, aanleervermoëns en gedragdisposisies. Konrad Lorenz, Nobelpryswenner in 1973, het die sogenaamde ‘inprentingsmeganisme’ by voëls geïdentifiseer wat direk nadat hulle uitgebroei is, die nes verlaat. Jong eende en ganse byvoorbeeld het die aangebore voorafkennis om die eerste groot, bewegende voorwerp wat hulle sien die oomblik wanneer hulle uit die dop kom, te volg. Hulle kan selfs mislei word, indien die omstandighede sou bepaal dat dit ’n ander voorwerp as die ma is. Hieruit volg dat hulle gedrag deur evolusie gemodelleer is.

My ‘ek’ is dus be-liggaam en my bewussyn is ‘be-brein’. Dit is onmoontlik om die ‘ek’ binne my liggaam te isoleer. Daardie dualisme bestaan hoegenaamd nie. Die mens is ’n eenheid in die omvattende sin van die woord, en die term wat dit in Afrikaans die beste uitdruk, is waarskynlik die menslike persoon. Die menslike persoon is die produk van ’n baie komplekse stel faktore. Dit word gevorm deur voortdurende fisiologiese en chemiese prosesse, die kulturele omgewing, psigologiese herinneringe, ervaring, verwagtinge en nog meer. ‘Nature’ en ‘nurture’ is m.a.w. keerkante van dieselfde saak. Dit beteken dat daar ’n ‘ko-evolusie’ van genetiese en kulturele faktore is. En dit verseker dat alhoewel produsent, die mens ook produk van sy of haar werklikheid is. Daar is dus geen prinsipiële kloof tussen kenner en gekende nie.


Vraag:
Hoe het u voorsitterskap van die NHKA u visie op die kerk in die een en twintigste eeu gevorm?

Antwoord: Dit was ’n wonderlike en noodsaaklike leerskool vir my taak vandag. Ek het as uitgangspunt toe ek voorsitter geword het in 2004, die vraag na die identiteit en relevansie van die kerk in die 21ste eeu probeer beantwoord. Ons het ’n Colloquium in die kerk gereël en by wonderlike kontoere uitgekom. Een van die belangrikste aspekte was om die NHK weer internasionaal ekumenies betrokke te kry. Ons het wel daarin geslaag om lidmaatskap by die GER te kry en amper ook by die WARC. Die Algemene Kerkvergadering van 2007 het dit ongelukkig terugverwys.

My ekklesiologie is ook baie geskoei op wat ons al hoe meer vandag in die Sistematiese Teologie aantref, naamlik om die Kappadosiërs se Triniteitsleer weer opnuut te bedink en die gemeenskapsgebeure (communio) diensbaar in die teologie te maak. Saam met hierdie gebeure, is ook die inklusiewe karakter van die liefde van God in Christus, is vir my onontbeerlik. Die kerk moet die gemarginaliseerdes in haar boesem koester. Alhoewel ek dink die klassieke drievoudige amp (munus triplex) nuwe interpretasie vra, dink ek dat as ons dit wel wil handhaaf, die kerk eerder op die priesterlike funksie moet fokus en dienaar in die wêreld moet wees.


Vraag:
Hoe sien u die verhouding tussen kerk en teologie?

Antwoord: Soos ’n ellips. ’n Sirkel met twee middelpunte waar elkeen ewe belangrik is. Dit sluit baie aan by die vraag oor teologie en natuurwetenskap, geloof en rede. Ek meen die verskil tussen kerk en teologie is primêr die van eenduidigheid en meerduidigheid. Dit geld veral vir die vraag na die waarheid. Die een kan dit maklik formuleer, die ander is versigtiger. Die een is meer monologies, die ander meer dialogies. Die een meer preskriptief, die ander meer deskriptief. Maar die punt is: die een het die ander nodig. Ek betreur dit as die kerk meen ’n seminarie is die oplossing en ek is ook ewe hartseer as ’n teoloog die kerk vaarwel sou toeroep.


Vraag:
Het teologie die kerk nodig? Anders gestel: het die kerk nog ‘n plek aan UP?

Antwoord: Die kerke is ons belangrikste rolspelers (stakeholders). Ek sal graag die verhouding met die kerke wil koester en selfs ook uitbou. Ons lei immers predikante op vir bestaande kerke en nie vir virtuele kerke nie. Maar ons moet altyd ook onthou dat dit een van nege fakulteite aan die Universiteit is. Die fakulteit behoort aan die universiteit. Primêr vir die universiteit is dus wetenskapsbeoefening en akademiese integriteit. UP het ook as missie om internasionaal mededingend te wees én plaaslik relevant.


Vraag:
Watter ideale koester u vir die fakulteit teologie en hoe sal u dit wil bereik?

Antwoord: Ek voorsien ’n kernfakulteit in die toekoms met die verkillende kerke as belangegroepe wat soos ’n sirkel om die middelpunt, sin daaraan gee en waarde toevoeg. Hoe wil ek dit bereik? Ek is ’n span-mens. Ons dosente – in samewerking met die kerklike verteenwoordigers – moet ons visie en missie geformuleer kry en dit dan tree vir tree probeer bereik. Ons het reeds ’n fakulteitslekgotla geskeduleer waartydens ons dit gaan probeer formuleer. Hierna sal elke departementshoof dit moet help bestuur en elke lid van die Fakulteit hiertoe bydra.


Vraag:
Wat sou u vir jong voornemende studente sê wat graag teologie wil kom studeer? Moet hulle? Moet hulle nie liewers ‘n ander rigting kies nie?

Antwoord: UP is bekend vir sy hoë standaarde en wetenskaplike uitnemendheid. Ek sal wil sien dat die skrander skolier wat predikant wil word, ons fakulteit as die opleiding van eerste keuse sal beskou. Ons sal ook meer moet fokus op onderlinge gemeenskap en kruisbestuiwing tussen ons studente. Dit moet naas ’n intellektuele tuiste, ook ’n akademiese geborgenheid kan bied waar studente se geloof versterk en bevestig kan word. Ek sal aan die ander kant ook nie wil sien dat ons die taak van die studentegemeentes ooit probeer oorneem nie. Ons professore is nie kampus-kapelane nie, maar akademici in eie reg. Daar is oor as genoeg wérk in die kerk en die wêreld, miskien net nie genoeg geld of beroepe nie. Maar as voornemende predikante ook multidissiplinêr toegerus kan word, sal hulle ook makliker die finansiële mas eendag kan opkom sonder om volstrek finansieel van ’n gemeente afhanklik te wees.


Vraag:
U vak is dogmatiek, maar vir die volgende jare gaan die dekaanskap baie van u vra, hoe beplan u om by te bly?

Antwoord: Dit is dalk die grootste uitdaging. Hierdie afgelope twee weke kon ek haas geen tyd vir navorsing vind nie! Maar ek glo dit sal beter gaan, veral wanneer ek ’n adjunkdekaan kry. Ek hoop ek gaan dit regkry om een dag per week net aan die akademie te wy en my doelwit is ook om minstens een, maar verkieslik twee artikels per jaar te publiseer. Gelukkig het ek ’n taamlike goeie netwerk van assosiate wat hiertoe sal bydra. Ek en ’n kollega van Groningen beoog juis om iets saam uit te gee. Maar ek besef dit is ’n uiters swaar las. My primêre verantwoordelikheid is nou die fakulteit, die formulering van ’n visie en die bestuur van die stappe om daar uit te kom. En dit is meer as ’n 24/7 uitdaging!


Vraag:
Gaan u darem nog klas gee?

Antwoord: Ja maar ek het nog nie besluit watter modules nie. Daar is tans nog ’n paar veranderlikes wat eers uitgesorteer moet word. Ek sal egter nooit sonder blootstelling aan die studente my werk wil doen nie. Ek het ook ’n taamlike goeie getal nagraadse studente en sal met my kollegas in die departement onderhandel om van hulle af te staan. My huidige gevoel is om maksimum 4 Ph.D. studente en 6 magister studente te hê.


Vraag:
Vertel ons van u gesin.

Antwoord: Drie seuns. Adriaan is die oudste (28) en woon in Die Oord in Brits en is baie gelukkig daar. Hy is ’n ‘rekenaarkundige’ en kry die onmoontlike reg – dikwels tot frustrasie van sy broers as hy ons maandelikse ‘cap’ binne ’n week klaarmaak! Nico (23) doen sy LL.M. aan UP in Regsfilosofie. Johan (21) is weer met sy B.Com. (Hons.) in Finansiële Bestuur besig en het selfs vir die CFA ingeskryf (wat ek twyfel of dit die regte ding was!). Hierdie laaste twee manne woon nog by ons aan huis, maar ek hoor deesdae toenemend ander geluide by hulle.

 

Dit is in die Fakulteit bekend dat my vrou, Engela, verlede jaar met borskanker gediagnoseer is. Dit het ongelukkig versprei na die longe toe en ook die limfkliere in die nek. Sy kry tans binneaarse chemoterapie en ly maar onder die newe-effekte.  Sy is darem halfpad deur die 18 weke siklus. Sy is baie positief en dapper en holisties gesien, gaan dit met ons gesin baie goed.


Vraag:
Wat doen u om te ontspan?

Antwoord: Ek ontspan min. Dit gebeur maar Saterdae-aande wanneer ek en Engela en my pa van 88 jaar dalk saam braai en kuier. Ek probeer ook om nie-teologiese boeke te lees, maar kry nie genoeg geleentheid nie. Verder probeer ek dat Engela darem een keer per jaar saam met my oorsee gaan en dan voeg ek so week verlof by my amptelike verpligtinge by en kry ons dus kans om bietjie tyd saam te spandeer. Ek moes verlede jaar in Aix-en-Provence ’n konferensie bywoon en ons het ’n week voor die tyd gearriveer en met ’n kar na die suide van Frankryk getoer, die Loire Vallei, Bordeaux, Carcassonne, langs die Midi-kanaal af. Ons het André P. Brink se reisverhaal oor hierdie gebied, Midi, as gids gebruik en so al op sy spoor getoer. Wonderlik!

 

My tuin en swembad is ook vir my belangrik. Ek probeer altyd ’n tydjie afknyp om aandag daaraan te gee, alhoewel dit die laaste jare maar min gerealiseer het. My twee Jack Russels, gee my ook baie plesier, stout soos wat hulle is.

Share this / Deel hierdie: