Inleiding

Bestaan daar iets soos demone? Waar kom hulle vandaan? Waar woon hulle? Wat doen hulle? Kan hulle gesien word? Moet hulle gevrees word? En, hoe kan daar van hulle ontslae geraak word? Teo ondersoek die saak.

 

Die woord

Die woord demoon word afgelei van die Grieks daimôn en sy adjektief, daimonion. Die oorspronklike klassieke betekenis van die woord, in Homeros se tyd, het op die goddelike betrekking gehad, om die waarheid te sê, Homeros het theoi en daimones min of meer as sinonieme gebruik. Miskien kon daar ‘n onderskeid gemaak word tussen die hoër gode op Olympus, en die klas gode net onder hulle: laasgenoemde was die daimones, die tussengangers tussen die gode en mense en het bemiddelend opgetree tussen die goddelike en menslike sfere. Plato, in sy Symposium, vertel hoedat die priesteres Diotima vir Socrates leer dat liefde nie ‘n god is nie, maar ‘n groot daemon. Sy verduidelik dat daemones tussen die goddelike en die menslike optree. Daemones interpreteer en vervoer menslike aangeleenthede na die gode en goddelike aangeleenthede na die mense, dit wil sê, versoeke en offers van benede, en verordeninge en vergelding van omhoog. In Plato se Apologie van Socrates, beweer Socrates dat hy ‘n daemon het, ‘n soort innerlike stem wat hom waarsku teen moontlike foute wat hy kan begaan, maar nooit voorskryf wat hy moet doen nie. Hierdie daemon van Plato se Socrates is egter nie ‘n god nie, maar eerder ‘n onpersoonlike ‘iets’ of ‘teken’.

   Die latere Hellenistiese Grieke sou wel onderskei tussen daimones wat vir menslike geluk en voorspoed verantwoordelik was, en ander wat ongeluk en ramp oor jou pad gebring het. Eersgenoemde was die eudaimonia, en laasgenoemde die kakodaimonia. Alhoewel die een positief en die ander negatief was, was albei deel van die lewe, en albei se bestaan teologies legitiem.

 

Die Ou Nabye Ooste

Die wêreldbeeld en die kulture van die Ou Nabye Ooste was monisties van aard, dit wil sê, die heelal is gesien as ‘n samehangende sisteem waarin alles – god en mens, goed en kwaad – ‘n vasgestelde plek en funksie gehad het. Daar was goeie en slegte magte, maar die twee het nie teenoor mekaar gestaan nie. Daar was nie ‘n kosmiese stryd tussen goed en boos nie, en daar was ook nie twee stelle gode wat tot in der ewigheid met mekaar baklei het nie. Nadat Marduk vir Tiamat verslaan het, het hy die hemel en aarde uit haar liggaam gevorm, en die mens uit Kingu se bloed gemaak. Daarmee is die chaos-magte onder bedwang gebring. Ramp en teenspoed het nie opgehou nie, maar dit was nie ‘n stryd tussen opponerende magte nie. Veel eerder kan dit gekoppel word aan die mens se individuele stryd om voortbestaan en oorlewing.

   Destruktiewe geeste was veral aktief tydens gevaarlike situasies en gevaarlike tye: in die nag, wanneer ‘n mens slaap, in windstorms, sonsverduistering, in die hitte van die middag, en veral tydents swangerskap en kindergeboorte. So byvoorbeeld vertel ‘n Mesopotamiese mite van Pashittu, die ‘baba-steler’. Hy gryp klein babatjies en voer hulle voortydig weg na die Onderwêreld. Maar in werklikheid is hy deur die groot gode self geskape met die doel om die menslike getalle te beheer en ‘n bevolkingsontploffing teen te werk. Sy vroulike eweknie is Lamashtu, ‘n vreesaanjaende gees wat vroue tydens swangerskap en geboorte laat sterf, en klein babatjies wat soog, van hul moeders se bors kom wegruk. (In die latere Joodse volksmond, is Lamashtu Lilith genoem.)

    Hulle het in gevaarlike plekke gebly, in die woestyn, onherbergsame streke, verlate ompaaie. Pazuzu, die Babiloniese god van die woestynwinde, was lief om onverwags toe te slaan en die mensdom te teister met teenspoed en siekte. Erra was die pesgod, Adad was die stormgod. Hierdie geeste was doodgewoon personifikasies van al die aaklige en droewige dinge wat die brose bestaan van die Ou Nabye Oosterse mens bedreig het: die noodlot, peste en plae, maar veral die dood.

   Alle mense het gesterf, slegs die gode kon vir ewig bly lewe. Na die dood was daar ook geen beloning of straf nie: die mens is hier en nou, op die aarde terwyl hy lewe, vir sy dade beloon of gestraf. As hy sterf, gaan hy, ongeag wat hy gedoen het, slegs na een plek toe – die Onderwêreld. Hier kraai Ereshkigal koningin, en nee, sy is nie boos nie. Die Onderwêreld is haar terrein waar sy die septer swaai. Toegegee, sy is nie ‘n aangename figuur nie, met haar lang naels krap sy haarself stukkend en ruk haar hare uit haar kop asof dit preie is – maar sy is nogtans nie die bose nie, veel eerder die verpersoonliking van ‘n gefolterde gees. Die Onderwêreld is ‘n skemerdonker plek onder die aarde waar geeste rondskuifel, klere dra wat van voëlvere gemaak is, en ritsel-geluide maak as hulle beweeg. Dit help ‘n bietjie as iemand in die land van die lewendes jou onthou en gereelde offerandes bring, anders is jy gedoem om rond te aas vir ‘n stukkie of brokkie wat iemand anders dalk per abuis laat val het. Hier is almal gelyk: dit maak nie saak of jy nou in ‘n huis, paleis, pondok of varkhok gebly het nie, die dood ken geen klas nie. Daar was tog enkele uitsonderings: soldate wat in ‘n oorlog as held gesneuwel het, kry voorkeur behandeling, en klein babatjies wat voortydig van hul moeder se bors geruk is, word gevoed met verhelderde botter en heuning.  

   Die gevaarlike geeste is geeste van diegene wat nie ‘n behoorlike begrafnis gekry nie. Dit is die geeste van mense wat op onbekende terrein gesterf het, of nog erger, mense wat verbrand het. Hierdie geeste ken geen rus nie. Geen rites en geskenke het hulle na die Onderwêreld vergesel nie. Hulle is woedend, en soek ‘n liggaam – nie net om te teister nie, maar veral ‘n liggaam om in te woon. Toestande soos epilepsie, kranksinnigheid, liggaamlike gebreke is toegeskryf aan die inwoning van rustelose geeste. Jy kon jouself teen hierdie geeste beskerm deur gebed, deur besweringsformules en magie. En wanneer ‘n gees van jou of van een van jou naasbestaandes besit geneem het, kon jy die hulp van ‘n spesialis inroep. Hy of sy diagnoseer die probleem, spreek die  gepaste besweringsformules uit, en hopelik gee die gees pad. Meestal het die eksorsis een van die hoër gode aangeroep en die gees beveel om in ‘n substituut in te vaar – soms was dit ‘n dier wat toevallig naby rondgedwaal het, of soms in ‘n beeld of ‘n riet wat net so groot soos die menslike slagoffer was. Eksorsisme het meestal gepaard gegaan met towermiddels en rituele handelinge.                                                      

 

Ou Israel

Ou Israel handhaaf die monistiese wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste met een belangrike verskil: die goeie en kwade word nie as gode of godinne personifieer nie, want daar is net een God en dit is Jahwe. Die name van die gode bly, maar in Hebreeus is dit nie persoonlike eiename nie, maar bloot selfstandige naamwoorde. Yam is nie ‘n seegod nie, yam is die Hebreeuse woord vir ‘see’. Mot is nie ‘n god van dood nie, mot is die Hebreeuse woord vir ‘dood’. In Genesis 4:7 lees ons van die sonde wat vir Kain daarbuite lê en wag – letterlik, bekruip. Die Bekruiper – rabiwas ‘n god wat Israel se Kanaänietiese bure gevrees het, want hy het jou dinge laat doen wat jy normaalweg nie sou doen nie.

   Ou Israel deel die vrees van sy bure vir siekte en pes wat op die hitte van die middaguur of in die donkerte van die nag toeslaan. Psalm 91 verwoord aangrypend: die skrik van die nag, die pes wat in die donker wandel, en die siekte wat op die middag verwoes (verse 3-6). Maar die Psalm stel gerus, jy hoef nie te vrees nie, want Jahwe is in beheer, en Hy sal jou beskerm. Siekte, pes en dood is egter nie Jahwe se teenstanders nie. Om die waarheid te sê, hierdie angswekkende toestande is kenmerkend van die magtige verskyning van die Here: Voor Hom uit loop die pes, en ‘n koorsgloed trek uit agter Hom aan (Habakuk 3:5, Ou Vertaling).

   Onherbergsame gebiede was ook vir Israel plekke van onheil. Aäron moet die sondes van die hele volk op die kop van ‘n bok oordra, en dan moet iemand wat beskikbaar is, die bok injaag na ‘n onherbergsame streek, die woestyn in, na Asasel toe (Lev 16:21-25). Jesaja vertel van ’se’îrîm wat in die verwoeste stad Babel sal rondspring (13:21), en na mekaar sal roep nadat Edom uitgeroei is (34:14). Die Ou Vertaling noem hulle veldduiwels, en volgens die NAV is hulle veldgode, maar hierdie gedaantes, volgens die Hebreeuse woordeboek is eintlik harige bokgode. Hulle kan ook verband gebring word met ‘n kultus van afgode wat eksplisiet in Levitikus 17:7 verbied word, maar wat Jerobeam weer laat herleef het (2 Kron 11:15).            

   Negatiewe, selfs destruktiewe magte tree op op Jahwe se bevel. Nadat sy gees van Saul wyk, stuur Hy ‘n bose gees wat die koning voortdurend ontstel (1 Sam 16:14). Tydens koning Agab se regering word die gees van die Here ‘n leuengees in die mond van die profete aan die hof (1 Kon 22:22-23). Eksorsisme, soos wat dit elders in die Ou Nabye Ooste beoefen is, is egter nie in Ou Israel bekend nie.     

                 

Onder heerskappy van die Perse

Na die ballingskap, onder Persiese heerskappy, sou die monistiese wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste, Israel s’n inkluis, verander. Die Persiese godsdiens het die leer van Zoroaster nagevolg wat ‘n dualistiese beeld van die wêreld gehandhaaf het. Volgens Zoroaster se leer is daar twee magte in die wêreld wat in ‘n voortdurende stryd met mekaar verkeer – die mag van die goeie en die mag van die bose. Hierdie twee magte is persoonlik van aard. Die hoof van die goeie magte is Ahura Mazda. Hy is die skeppergod van hemel en aarde en uit hom kom alles wat goed is. Onder hom is ‘n leërskare van aartsengele wat in bepaalde rangordes ingedeel is, en wat sy opdragte getrou uitvoer. Ahura Mazda het egter ‘n teestaander, die bose Ariman. Ariman het sy eie leërskare van aartsduiwels en tesame is hulle verantwoordelik vir alles wat sleg en destruktief is. Ahura Mazda en Ariman is in ‘n kosmiese stryd gewikkel wat uiteindelik tot ‘n einde sal kom as Ahura Mazda die finale oorwinning behaal.

   Ahura Mazda en Ariman se stryd is egter nie beperk tot die onsigbare wêreld nie. Ook op aarde het elk sy volgelinge. Dit is nie altyd duidelik wie is wie nie, maar aan die einde van die tyd sal Ahura Mazda se getroues beloon word deur uit die dood op te staan en vir ewig saam met hom in die hemel te leef. Ariman se volgelinge daarenteen, kry die straf van ‘n ewige pynlike hel, net soos hul leier.

   Hierdie denke sou eers tydens die aggressiewe Hellenistiese bewind ten volle in die Joodse tussen-testamentêre lektuur en Qumran-geskrifte ontplooi word. Maar die eerste saad vir apokaliptiek, goed en kwaad, hemel en hel, ‘n hiernamaals en ‘n opstanding uit dood, is gedurende hierdie tydperk gesaai.

 

Die Nuwe Testament

Wanneer die tyd van die Nuwe Testament aanbreek, is Joodse dualisme reeds gevestig. Die vier evangelies ken duiwels. Soms word hulle bose of onrein geeste genoem, en soms word hulle met die Griekse daimones aangedui. Soos die aggressiewe dwaalgeeste van die Ou Nabye Ooste kan hulle van ‘n mens besit neem en in hom woon (vgl Luk 11:24-26). Een mens se liggaam kon selfs meer as een bose gees huisves, soos byvoorbeeld die besetene van Gerasa (Mark 5) en Maria Magdalena van wie vertel word dat sy sewe duiwels gehad het (Luk 8:2). Die effek wat die inwonende duiwels op mense gehad het, was enorme fisiese en psigiese lyding. Die Gerasener (Mark 5) het op ‘n verlate plek tussen die grafte en in die berge gebly en homself met klippe stukkend gekap. Duiwels is ook verder verantwoordelik gehou vir allerlei vorms van gestremdheid en siektes byvoorbeeld in  Markus 1:32; Matteus 4:24; vir stomheid – Matteus 9:32; vir blindheid – Matteus 12:22; vir epilepsie (om maansiek te wees) – Matteus 17-14-18. Maar een van die belangrikste manifestasies van duiwels was kranksinnigheid. Wanneer die duiwels uit die Gerasener padgee, word daar gesê dat hy by sy volle verstand is (Mark 5:15). En, as iemand van ‘n ander verskil het, was dit algemeen om te sê dat hy van die duiwel besete is. Dit is van Johannes die Doper gesê (Luk 4:39), en ook van Jesus (Joh 8:48; 10:20-21).

   Jesus het die gesag om duiwels uit te dryf, ‘n gesag wat Hy ook op sy dissipels oordra. Maar die punt wat die evangelies wil beklemtoon as daar vertel word hoe Jesus die duiwels uitdryf, is nie slegs om die lyding van die slagoffer te verlig nie, maar om ook te illustreer dat die koninkryk van die bose die wyk neem as die koninkryk van God kom. Hier is dan duidelik sprake van twee botsende koninkryke waar die oorwinning van die een alreeds sigbaar word in Jesus se bediening.

   Vir Paulus is die twee botsende koninkryke eerder ‘n stryd tussen twee kosmiese magte en godsdienstige lojaliteite. Vir Paulus egter is demone tot ‘n groot mate die gode uit die wêreld van die Grieke en die heidene (vgl 1 Kor 10:20-21), en die aanvanklike neutrale betekenis van die woord daimôn kry nou ‘n onmiskenbare negatiewe konnotasie: Paulus demoniseer die ou Griekse gode heel letterlik. Maar wie of wat die daemones ookal mag wees, Paulus maak dit baie duidelik dat God alle bose magte deur Christus ontwapen het (Kol 2:15), en dat die gelowige van hul mag bevry is.

 

Slot                    

Dit is dus duidelik dat ‘duiwel’ of ‘demoon’ deur die loop van ongeveer tien eeue heen se geskiedenis nie dieselfde gebly het nie. Verskillende gemeenskappe het verskillende voorstellings van die kosmos en die geesteswêreld wat nie staties bly nie, maar voortdurend verander namate sosio-kulturele omstandighede ook verander. Dit sluit in die interpretasie van goed en kwaad.  

   Ek sluit af deur enkele verse uit Van Wyk Louw se Ballade van die Bose aan te haal:

 

Ken jy my nou?

Het jy die spieël gesien

en ken jy jou?

 

Ek is jou wese

se ondergrond

en ek trap in jou spoor

soos ‘n goeie hond.

 

O waar sal jy gaan

en met watter skip?

die aarde is branding

en oral is klip,

of as jy wil vlug

uit die stad wat brand,

dan vlug ek saam

soos ‘n vrou aan jou hand.

Ken jy my nou?

Het jy die spieël gesien,

en ken jy jou?

 

Bronne

  • ·         Berlejung, A 2006. ‘Dämon.’ Paginae 127-128 in Berlejung, A & Frevel C, Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • ·         Jacobsen, T 1976. Treasures of Darkness: A History of Mesopotamian Religion. London: Yale University Press.
  • ·         Krüger, JS, Lubbe, GJA & Steyn, HC 2009. The human search for meaning. Pretoria: Van Schaik.  
  • ·         Riley, GJ 1999. ‘Demon.’ Paginae 235-240 in Van der Toorn, K, Becking, B & Van der Horst, PW, Dictionary of Deities and Demons in the Bible. Leiden: Brill.

·         Van Wyk Louw, NP 1975. ‘Ballade van die Bose.’ Paginae 142-144 in Opperman, DJ, Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Share this / Deel hierdie: