Onmiddellik na my aankoms in München is ek na die Fakulteit Teologie, maar ‘n mens kan dié plek maklik verbystap. Dit is in Schellingstraat tussen Amalia- en Ludwigstrate en aan jou regterkant geleë. Dit is nou as jy in die rigting van Ludwigstraat afstap. Wat dit nog moeiliker maak, is dat dit tussen drie boekwinkels lê en ‘n mens jou so aan die boeke in die uitstalvenster kan vergaap dat jy net aanhou stap.

Dit is eers as jy omdraai en terugloop dat jy die naam ‘LMU’ (Ludwig-Maximilians-Universität) en die onopvallende ingang sien. En dan weet jy jy is by die regte plek. Die Ludwig Maximilians Universität se Protestantse teologiese fakulteit. En as ‘n mens die twee glasdeure oopstoot, betree jy ‘n besondere plek. ‘n Plek van groot geleerdheid en wetenskap.

Die fakulteit is eintlik nie so oud nie. Dit het in 1969 ontstaan, maar dit was die werkplek van belangrike teoloë. Een was Wolfgang Pannenberg. Sy klem op geskiedenis as wydste horison waarbinne die teologie beoefen en vergestalt moet word, het my radikaal gevorm. Ons is nie die eerste wat die Bybel lees en teologies daaroor nadink nie; vele voor ons het dit reeds en baie beter gedoen; goeie teologie vra dus dat hierdie stemme gehoor moet kan word; dat ons hierdie historiese gang ernstig sal neem, onsself binne hierdie teologiegeskiedenis sal vind en altyd by die teologiese sinsamehange van gister en eergister sal aansluit. Ciprianus het dus nie verniet gesê dat wie God as vader het, het die kerk as moeder nie. Dit moet verder deurdink word. En Augustinus was heel skerp toe hy die psalms in die sentrum geplaas het. Ons het nie die regte woorde om te bid of teologie te beoefen nie en daarom moet ons die psalms lees want daarin gee God ons die broodnodige woorde. Kortom: teologie moet dus altyd bewustelik in ‘n historiese tradisie staan.

My besoek aan die LMU het egter met Eckart Otto te make gehad. Hy tree binnekort af en sou op 22 Julie 2009 sy afskeidslesing lewer. Vir die Duitsers is dit ‘n groot ding. Almal word genooi om na die laaste formele lesing van hulle kollega te kom luister en daarna iets saam te geniet. En dit was die rede vir my koms na München. Eckart Otto is ‘n baie belangrike Ou Testamentikus wat die afgelope tien jaar ons lewens by die Universiteit van Pretoria verryk het. Hy het vir sy siening van die Pentateug baie bekend geword en het dit in fyn besonderhede uitgewerk. Aangesien hy Weber se godsdienssosiologiese tekste vir die Max Weber Gesamtausgabe moes herbewerk en kommentarieer, het Otto dié insigte met sy Pentateugbeskouing gepaar. Weber se godsdienssosiologiese insigte is dus so in sy Pentateugsiening ingemeng dat dit Otto se denke eintlik heel besonder maak.

In 2000 was Otto vir ‘n maand die gas van UP se Departement Ou Testament en sy lesings het tot ‘n boek, Das Deuteronomium im Pentateuch und Hexateuch, gegroei wat ook aan ons Fakulteit Teologie opgedra is. Dit was ook die begin van ‘n noue akademiese verbintenis wat al amper tien jaar duur. Otto het sedertdien honorêre professor by ons geword en is ook ‘n erelid van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika. Hy was medeverantwoordelik vir ‘n kontrak tussen die Münchense en Pretoriase teologiese fakulteite en het in 2007 ‘n ere-doktorsgraad van UP ontvang.

Daar is egter iets anders wat Otto aan ons vasmaak. Op 30 Augustus 2000 is Pro Pent onder ‘n Coca Cola-advertensie in La Pat gestig en sedertdien het hy ons nog elke jaar besoek. Pro Pent (of die ‘Projek vir die studie van die Pentateug’) vergader elke jaar aan die einde van Augustus buite Pretoria vir ‘n naweek waar intens oor die Pentateug nagedink word. Intussen is daar onder die leiding van Dirk Human met Pro Psalms begin en Otto het ook daarby betrokke geraak.

Eckart Otto het dus diep spore in ons Ou-Testamentiese wêreld getrap en dit was dus goed dat daar iemand van ons fakulteit by sy afskeidsvoorlesing sou wees. Dit is in die groot gehoorsaal van die Universiteit gehou en die saal het vroeg al volgeloop. Dit was interessant om die bekendes te sien wat van oraloor vir die geleentheid opgedaag het. Voor die tyd het ek enkeles gegroet en iemand soos Otto Kaiser, wat al in die tagtig moet wees en steeds skryf, onthou nog sy 1985-besoek aan Unisa baie goed en praat nog met soveel waardering van almal. Aan die einde sê hy dat groete aan al die Ou Testamentici van Pretoria gestuur moet word.

Jorg Jeremias was ook daar en hy het ook nog mooi herinneringe aan ons universiteit en sy oudstudent, Dirk Human. En soos die mense inloop, eien ek ook ander Duitse Ou Testamentici, veral geleerdes soos Hans Ulrich Steymans en Thomas Römer wat hulle met die Pentateug en Deuteronomium besighou.

Kwartoor elf presies het die verrigtinge toe begin. Eers het die Dekaan gepraat. Hy het ‘n lewensoorsig van Otto gegee en in sy toespraak ‘n hele paar keer na Otto se verbintenis met die Universiteit van Pretoria en ons fakulteit verwys. Dit was goed om te hoor dat dié verbintenis vir hulle ook saak maak. Dat veral die eredoktorsgraad vir Otto belangrik is, sien ‘n mens oral. Waar ‘n mens ook al kyk, is die woorde Dr hc deel van sy amptelike betiteling.

Uiteindelik het die heer Otto begin praat. Oor Deuteronomium as die middelpunt van die Ou Testament en ook die beginpunt van enige Ou Testament-teologie. Hy het ons aan Gerard von Rad laat terugdink. Von Rad se Deuteronomiumwerk is eintlik so mooi en die manier waarop hy oor dié boek (as prediking deur die Leviete) gepraat het, het Deuteronomium se sentrale plek in die Ou Testament beklemtoon. Woensdag het Otto die saak weer aan die orde gestel. Soveel teologiese strome kom in Deuteronomium bymekaar en soveel lewensvrae word hierin beantwoord dat dié boek inderdaad die beginpunt van ‘n teologie kan wees. Selfs profete soos Jeremia, wat krities teenoor die Sinaiverbond gestaan en ‘n nuwe verbond verwag het, was ook die heeltyd as ‘t ware met Deuteronomium in gesprek. So, Deuteronomium staan dus bo almal uit en Otto het ook al voor vandag Pentateugnavorsers van ‘n ‘Deuteronomium vergessenheit’ (Deuteronomium-vergeetagtigheid) verwyt. In Deuteronomium moet die geheim van die Pentateug se ontstaan en groei dus gesoek word.

Dit is natuurlik geen nuwe gedagte nie. Alles het in 1805 met ‘n voetnoot in ‘n proefskrif begin. Wilhelm Leberecht de Wette het in dié voetnoot gesê dat die wetboek wat in Josia se tyd in die tempel ontdek is eintlik dele van ‘n vroeë Deuteronomium was. Dit was soos ‘n sneller wat afgetrek is want die afgelope twee eeue het Ou Testamentici tot in die fynste detail na die vroeë Deuteronomium gesoek. Woord vir woord is die huidige boek Deuteronomium gefynkam om die oorspronklike wetboek te vind; om die woorde te lees wat Josia kon gelees het; om die teologiese impulse van die vroeë wetboek op Josia raak te sien en te verwoord. Uiteraard is die oorpronklike Deuteronomium of wetboek nooit gevind nie alhoewel hierdie twee-eeue-lange soektog oor en oor die moeite werd was. Soveel nuwe insigte is in die proses losgewikkel dat dit telkens tot ‘n nuwe verstaan van Deuteronomium gelei het. Deuteronomium het mettertyd die Archimedespunt gevorm: omdat ons Josia se tyd kon bepaal, kon ons ook verlangs die wetboek (of dan Deuteronomium) dateer.

Eckart Otto staan in dié tradisie. As ‘n mens die Pentateug wil verstaan, moet jy by Deuteronomium begin. Hy het egter net nie meer die Josia-teorie gebruik nie want tussen hom en De Wette het iets anders kom staan. Iets wat alles nog ‘n keer omgekeer het. En dit is die ontdekking van Esarhaddon se vasaalverdrae in 1956. Hy het dit met Deuteronomium vergelyk en tot ‘n ongelooflike insig gekom. Ongeveer dieselfde tyd as Josia het Esarhaddon, die Assiriese kroonprins, absolute gehoorsaamheid van die oorwonne volke gevra. Geen ontrou is geduld nie. Selfs as iemand se pa of se broer of ‘n familielid gesê het hulle moes ontrou word, moes hulle terstond gedood word.

Vir die sewende-eeuse priesters in Jerusalem was dit een te veel en daarom het hulle hulle verset. Hulle het Esarhaddon se verdrag geneem, dit heeltemal herskryf en alles op Jahwe van toepassing gemaak. Alle lojaliteit aan Esarhaddon is uitgewis en die verdrag is so herskryf dat alle trou aan Jahwe-alleen toegeken is. In die woorde van Deuteronomium 13 kan ons nog die woorde van Esarhaddon asook die priesters se omduiding herken: ‘Wanneer ‘n profeet of iemand wat drome uitlê by jou kom en vir jou vertel …    “Kom ons gaan dien ander gode …  moet jy nie na hom luister nie. … Daardie profeet of droomuitlêer moet doodgemaak word …  Dit kan gebeur dat jou broer, jou ma se seun, of jou seun of jou dogter of jou eie vrou of jou boesemvriend jou in die geheim wil verlei en vir jou sê: “Kom ons gaan dien ander gode” … Jy moet hom sonder meer doodmaak’ (vgl Deut 13:1-18). Harde woorde, maar die mense van  Jerusalem het dit verstaan. Hulle het Essarhaddon se vreesaanjaende oproep tot gehoorsaamheid geken en begryp wat die priesters van Jerusalem daarmee gedoen het: hulle het die Assiriese vors se woorde omgedraai en alles op God betrek; geloof in Hom vra absolute gehoorsaamheid en trou. Kortom: die Pentateug begin by verset; by mense wat gesê het dat Jahwe meer gehoorsaam moes word as mense.

Nog ‘n voorbeeld. Gedurende die ballingskap het die getraumatiseerde ballinge gewonder of hulle ooit dié krisis sou oorleef en of hulle op ‘n nuwe lewe na die ballingskap sou kon hoop. In Deuteronomium word die antwoord gegee en ‘n mens sien dit in die rangskikking van die hoofstukke: eers word die tien gebooie gegee, dan volg die verhaal van die goue kalf en dan die wette. Daar is nogal ‘n besondere samehang tussen hierdie hoofstukke. Die verhaal van die goue kalf vertel van die oortreding van die belangrikste gebod, naamlik dat geen andere gode ooit geduld moes word nie, maar Israel se lus vir die ander gode was onblusbaar. Dít was die probleem voor die ballingskap: Jahwe was nie meer alleen in Jerusalem aanbid nie en in die verhaal van die goue kalf word dié ontrou op ‘n besondere manier verwoord. Soos in Eksodus 32 dui die kalfverhaal in Deuteronomium egter ook op God se genade. Ten spyte van Israel se ontrou by Sinai sou God ook die ballinge se sondes vergewe en sou ‘n nuwe lewe na die ballingskap op hulle wag.

So het Otto voortgegaan om die middelpunt-posisie van Deuteronomium teologies te verduidelik. In Deuteronomium lê daar soveel worsteling, soveel lewensvrae en –antwoorde opgesluit dat Ou Testamentici en predikante dáár moet begin. Toe hy na ‘n driekwartuur sy lesing afsluit het, het ‘n mens tog die gevoel gehad dat ons vandag na iemand geluister het wiese rype insigte oor dertig, veertig jaar gegroei het. Iets wat net die akademie en lewenslange studie ‘n mens kan bied.

Na die lesing het Reinhard Achenbach, ‘n vroeëre Münchense kollega van Otto, gepraat. Hy het verwys na Otto se baie boeke en artikels en ‘n student wat op ‘n keer gevra het of Otto alles self geskryf het. ‘Ja’, was die antwoord, ‘en hy skryf alles nog met die hand en ‘n pen’. ‘n Festschrift is toe aan Otto oorhandig. Dit word deur Harrosowitsch uitgegee en sal eers formeel op 9 Augustus wanneer Otto vyf en sestig is, verskyn. ‘n Groot klomp Ou Testamentici (onder andere ook van die Universiteit van Pretoria) het bydraes daarin gelewer en dít maak die boek ‘n besondere publikasie. Reinhard Achenbach en Martin Arneth was die redakteurs.

Na die oorhandiging was daar ‘n onthaal. Snaakse goed waarvan ek die name nie ken nie, is voorgesit en dit was lekker, maar helaas gou klaar. Miskien kan ons hulle in dié opsig tog ‘n bietjie leer.

Die twee en twingste Julie was dus ‘n besondere dag en al die teo-lesers wens Eckart Otto net die beste toe.

 

Enkele werke van Eckart Otto:

Otto, Eckart. Das Mazzotfest in Gilgal. Beiträge zur Wissenschaft vom Alten und Neuen Testament 105. Stuttgart: Kohlhammer, 1975.

Otto, Eckart. Jakob in Sichem. Überlieferungsgeschichtliche, archäologische und territorialgeschichtliche Studien zur Entstehungsgeschichte Israels. Beiträge zur Wissenschaft vom Alten und Neuen Testament 110. Stuttgart: Kohlhammer, 1979.

Otto, Eckart. Theologische Ethik des Alten Testaments. Theologische Wissenschaft III/2. Stuttgart: Kohlhammer, 1994.

Otto, Eckart. “Die Paradieserzählung Genesis 2–3. Eine nachpriesterschriftliche Lehrerzählung in ihrem religionshistorischen Kontext.” Pages 167–192 in “Jedes Ding hat seine Zeit …”. Studien zur israelitischen und altorientalischen Weisheit. Festschrift für Diethelm Michel. Edited by A. A. Diesel. Beihefte zur Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft 241. Berlin: de Gruyter, 1996.

Otto, Eckart. “Das Deuteronomium als archimedischer Punkt der Pentateuchkritik. Auf dem Wege zu einer Neubegründung der de Wette’schen Hypothese.” Pages 321–339 in Deuteronomy and Deuteronomic Literature. Edited by J. Lust and M. Vervenne. Bibliotheca Emphemeridum theologicarum Lovaniensium 133. Leuven: Peeters, 1997.

Otto, Eckart. “Forschungen zur Priesterschrift.” TR 62 (1997): 1–50.

Otto, Eckart. “Bibelwissenschaft I. Altes Testament.” Pages 1517–1528 in vol 1 of Religion in Geschichte und Gegenwart. Edited by H.D. Betz, D. S. Browning, B. Janowski and E. Jüngel. Tübingen: J. C. B. Mohr (Paul Siebeck), 1998.

Otto, Eckart. “False Weights in the Scales of Biblical Justice? Different Views of Women from Patriarchal Hierarchy to Religious Equality in the book of Deuteronomy.” Pages 128–146 in Gender and Law in the Hebrew Bible and the Ancient Near East. Edited by V. Matthews, B. M. Levinson and T. Frymer–Kensky. Journal for the Study of the Old Testament Supplement Series  262. Sheffield: Academic Press, 1998.

Otto, Eckart. Das Deuteronomium. Politische Theologie und Rechtsreform in Juda und Assyrien. Beihefte zur Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft 284. Berlin: de Gruyter, 1999.

Otto, Eckart. “Human Rights: The Influence of the Hebrew Bible.” Journal of Northwest Semitic Languages 25 (1999): 1–20.

Otto, Eckart. “Innerbiblische Exegese im Heiligkeitsgesetz Levitikus 17–26.” Pages 125–196 in Levitikus als Buch. Edited by  H. J. Fabry and H.–W. Jüngling. Bonner Biblische Beiträge 119. Berlin: Philo, 1999.

Otto, Eckart. Krieg und Frieden in der Hebräischen Bibel und im Alten Orient. Aspekte für eine Friedensordnung in der Moderne. Theologie und Frieden 18. Stuttgart: Kohlhammer, 1999.

Otto, Eckart. Das Deuteronomium im Pentateuch und Hexateuch. Studien zur Literaturgeschichte von Pentateuch und Hexateuch im Lichte des Deuteronomiumrahmens. Forschungen zum Alten Testament 30. Tübingen: J. C. B. Mohr (Paul Siebeck), 2000.

Otto, Eckart. “Forschungen zum nachpriesterschriftlichen Pentateuch.” Theologische Rundschau 67 (2002): 125–155.

Otto, Eckart. Gottes Recht als Menschenrecht. Rechts– und literaturhistorische Studien zum Deuteronomium. Beihefte zur Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte 2. Wiesbaden: Harrassowitz, 2002.

Otto, Eckart. “Pentateuch.” Pages 1089–1102 in vol. 6 of Religion in Geschichte und Gegenwart. Edited by H.D. Betz, D. S. Browning, B. Janowski and E. Jüngel. Tübingen: J. C. B. Mohr (Paul Siebeck), 2003.

Otto, Eckart. “Die Rechtshermeneutik des Pentateuch und die achämenidische Rechtsideologie in ihren altorientalischen Kontexten.” Pages 71–116 in Kodifizierung und Legitimierung des Rechts in der Antike und im Alten Orient. Edited by M. Witte and M. Th. Fögen. Beihefte zur Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte 5; Wiesbaden: Harrassowitz, 2004.

Otto, Eckart. “The Judean Legitimation of Royal Rulers in its Ancient Near Eastern Context.” Pages 131–139 in Psalms and Liturgy. Edited by D. Human and C. J. A. Vos. Journal for the Study of the Old Testament Supplement Series 410. London: T&T Clark, 2004.

Otto, Eckart. “The Pentateuch in Synchronical and Diachronical Perspectives: Protorabbinic Scribal Erudition Mediating between Deuteronomy and the Priestly Code.” Pages 14–35 in Das Deuteronomium zwischen Pentateuch und deuteronomistischem Geschichtswerk. Edited by E. Otto and R. Achenbach. Forschungen zur Religion und Literatur des Alten und Neuen Testaments 206. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht, 2004.

Otto, Eckart. “Vom biblischen Hebraismus der persischen Zeit zum rabbinischen Judaismus in römischer Zeit. Zur Geschichte der spätbiblischen und frühjüdischen Schriftgelehrsamkeit.” Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte  10 ( 2004): 1–49.

Otto, Eckart. “Das Deuteronomistische Geschichtswerk im Enneateuch. Zu einem Buch von Erik Aurelius.” Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte 11 (2005): 323–345.

Otto, Eckart. “Mose, der erste Schriftgelehrte. Deuteronomium 1,5 in der Fabel des Pentateuch.” Pages 273–284 in L’Ecrit et l’Esprit. Etudes d’histoire du texte et de théologie biblique. Festschrift für Adrian Schenker. Edited by  D. Böhler, I. Himbaza and Ph. Hugo. Orbis Biblicus et Orientalis 214. Freiburg, Schweiz: Universitätsverlag, 2005.

Otto, Eckart. Mose. Geschichte und Legende. Beck’sche Reihe 2400. Munich: C. H. Beck, 2006.

Otto, Eckart. “The Pentateuch between Synchrony and Diachrony. Perspectives for the Encounter between Africa and Europe.” Pages 22–49 in A Critical Study of the Pentateuch. An Encounter Between Europe and Africa. Edited by E.Otto and J.  Le Roux. Altes Testament und Moderne 20. Münster: LIT, 2005.

Otto, Eckart. “Das postdeuteronomistische Deuteronomium als Schlußstein der Tora.” Pages 71–102 in Die deuteronomistischen Geschichtswerke. Redaktions– und religionsgeschichtliche Perspektiven zur „Deuteronomismus“–Diskussion in Tora und Vorderen Propheten. Edited by J. Ch. Gertz, D. Prechel and K. Schmid. Beihefte zur Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft 365. Berlin: de Gruyter, 2006.

Otto, Eckart. “Der Pentateuch im Jeremiabuch. Überlegungen zur Pentateuchrezeption im Jeremiabuch anhand neuerer Jeremia–Literatur.” Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte 12 (2006): 245–306.

Otto, Eckart. “Review of L. L. Grabbe (ed.), ‘Like a Bird in a Cage’. The Invasion of Sennacherib in 701 BCE.” Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte 12 (2006): 393–397.

Otto, Eckart. “Zur Geschichte der deuteronomistischen Geschichtswerke. Anmerkungen zu einem neuen Entwurf von Thomas Römer”, Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte 12 (2006): 354–361.

Otto, Eckart, “Old and New Covenant. The post–exilic discourse between the Pentateuch and the Book of Jeremiah.” Old Testament Essays (2006).

Otto, Eckart. Das Gesetz des Mose. Eine Literatur– und Rechtsgeschichte der Mosebücher. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft, 2007. Pending publication.

Otto, Eckart. “Das Wissen um Gut und Böse in der Weisheit.” Pending publication in Tora in der Hebräischen Bibel. Studien zur Redaktionsgeschichte und synchronen Logik diachroner Transformationen. Edited by R. Achenbach, M. Arneth and E. Otto. Beihefte zur Zeitschrift für Altorientalische und Biblische Rechtsgeschichte 7. Wiesbaden: Harrassowitz, 2007.

Otto, Eckart. “Die Urmenschen im Paradies. Vom Ursprung des Bösen und der Freiheit des Menschen.” Pending publication in Gestalten der Bibel in Kultur und Geschichte. Edited by J. Rohls. Leipzig: Evangelische Verlagsanstalt, 2007.

Share this / Deel hierdie: