Die apokriewe evangelies vertel ‘n ander verhaal.

Die vroeë kerk was eintlik nooit ‘n eenheid nie. In elk geval nie soos ons dikwels dink nie. En dit word onder andere in die kerk se worsteling met die sogenaamde nie-kanoniese boeke gesien (vgl Markschies 2007:1-100). Einde Julie vanjaar het die baie bekende Leuvense dagen of Colloquium Biblicum Louvaniense juis op hierdie stryd in die vroeë kerk gelet. Dit was die vyftigste keer dat die Colloquium plaasgevind het en oor die jare is ‘n verskeidenheid temas in die Ou Testament en Nuwe Testament behandel.

 

Inleiding  

Vanjaar se tema was ‘The Apocryphal Gospels within the Context of Early Christian Theology’ en van die sprekers was Jens Schroeter (HU-Berlin), François Bovon (Harvard Divinity School), Geert Van Oyen (UC Louvain), Rémi Gounelle (Strasbourg), Stephen J. Patterson (Eden Theological Seminary), Judith Hartenstein, Jörg Frey (Zürich), Pheme Perkins (Boston College), Ismo Dunderberg (Helsinki), Paul-Hubert Poirier (Laval), Tobias Nicklas (Regensburg), Christoph Markschies (HU-Berlin) en Joseph Verheyden (KU Leuven). Daar was ook twee Suid-Afrikaners, Andries van Aarde (Universiteit van Pretoria) en Eben Scheffler (Unisa), wat lesings gelewer het. 

Verskillende aspekte van die apokriewe evangelies is indringend deur middel van uitstekende lesings met waardevolle voetnote en boekelyste bespreek. Sommige temas wat aangeroer is, was die apokriewe evangelies en die ontstaan van die kanon; die apokriewe evangelies binne die konteks van die vroeg-Christelike teologiegeskiedenis; die band tussen die apokriewe en die gnostici; die verhouding tussen die apokriewe en die kerk; die Judasevangelie se teologiese wêreld; die Johannesevangelie se invloed op apokriewe soos die Evangelie van Maria; die Evangelie van Thomas se leefwêreld; die Evangelie van Petrus as ‘n voorbeeld van kreatiewe omgang met die evangelies van die Nuwe Testament; die gebruik van die apokriewe deur vroeg-Christelike teoloë soos Clemens Alexandrinus en Origenes; die rol van kreatiewe verbeelding en die apokriewe; die aporkiewe literatuur se onlosmaaklike verbondenheid aan die teologie van die eerste eeue, ensvoorts.

Soos gewoonlik is die oggendsessies deur almal bygewoon en was deurwinterde geleerdes die hoofsprekers. Die kongrestale was Duits, Frans, Nederlands en ook Engels. Teen die middaguur het die vergadering in die vier taalgroepe verdeel en kongresgangers het by die taal van voorkeur ingeskakel. Die agtermiddae is aan kortreferate gewy en die verskeidenheid van perspektiewe was stimulerend. 

 

‘n Ander siening van apokrief 

Dikwels beskou ons die apokriewe, in hierdie geval die Nuwe-Testamentiese of antieke Christelike apokriewe, as vals of ketters of afwykend of waardeloos. Die afgelope jare is ruimer, oper oor ‘apokrief’ gedink en dit het ook weer tydens die Colloquium geblyk. Eerstens, ‘apokrief’ word deskriptief gebruik en fel geen teologiese of inhoudelike oordele nie. Tweedens, is dit boeke wat in die dampkring van die Nuwe-Testamentiese geskrifte ontstaan het en nou daarmee verweef is. Derdens, lê die gesag van die apokriewe eerder in hulle historiese waarde; in die feit dat dit ‘n wêreld reflekteer wat vir die studie van die vroeë kerk belangrik is. Vierdens, werp die apokriewe besondere lig op die tyd waarin die Nuwe Testament ontstaan het. Anders gesê: dit vertel van die veelkantigheid van die Nuwe Testament se ontstaanswêreld. Vyfdens, is die apokriewe gewoonlik ‘n reaksie op die Nuwe Testament en daarom kry ons ook evangelies, apostelverhale, briewe en openbarings.

Ten slotte, en dit is baie belangrik, dui apokrief op boeke wat ‘apokrief geword’ het, wat die kerk ‘apokrief gemaak’ het. Hierdie boeke het nie by die groot kerk en sy kanon ingepas nie en is apokrief gemaak. En daarom reflekteer die apokriewe die vroomheid, die teologie van die gemarginaliseerdes binne die kerk wat as ketters beskou en uitgestoot is (Markschies 2011). Soos reeds gesê, moet ons hierdie boeke eerder as ‘n integrale deel van die destydse kerk sien wat die volksvroomheid van dié kerk weerspieël.

Gevolglik moet die apokriewe literatuur nooit los van die teologiese wêreld van die tweede en derde eeue bestudeer word nie. In dié verband word ‘n interressante verhaal van Hans Lietzmann en Wilhelm Schneemelcher vertel. Albei was belangrike kerkhistorici verbonde aan die bekende Von Humboldtuniversiteit in Berlyn. Lietzmann, die opvolger van Adolph von Harnack, het aan sy student en latere opvolger, Schneemelcher, gesê dat hy hierdie apokriewe omvattend moet verstaan. Daarmee het hy bedoel dat die teks deeglik bestudeer moet word, maar dat dit ook binne ‘n teologiese konteks geplaas en begryp moet word en die band met die ander teologiese literatuur beklemtoon moet word. En dit is ook wat tydens die Colloquium gebeur het (vgl Markschies 2011).

 

‘n Ander soort vroomheid

Hierdie apokriewe vertel van die groot verskeidenheid vorme van vroomheid wat in die tweede en derde eeue voorgekom het. ‘n Voorbeeld hiervan is die kruis wat op verskillende maniere gefunksioneer het. Dit wissel van die kruisteken wat gemaak word tot die lê op die kruis. In die Quaestiones Bartholomaei word die waarde van die kruisteken in ‘n gesprek tussen Adam en Jesus verduidelik. Jesus sê vir Adam dat Hy vanweë Adam en sy kinders aan die kruis gehang het en daarom was die maak van die kruis so ‘n magtige handeling. Dit was ‘n handeling wat selfs demone kon uitdryf.

En in die Evangelie van Nikodemus word die maak van die kruis met Jesus self verbind. Toe Hy in die doderyk was, het Hy die gelowiges van die Ou Testament vanuit die dood na die lewe oorgebring deur die maak van die kruis. Die maak van die kruis het as ‘t ware die persoon van die ryk van die demone na die ryk van die heil gebring. Later was dit die bedoeling dat die kruis krag bemiddel en dat dit mense moes vertroos en versterk.

Mettertyd het die kruisvroomheid so ontwikkel dat gelowiges die kruis fisies moes aangeraak het. Lyflike kontak met die kruis was onontbeerlik. Aetheria, die bekende vierde-eeuse Spaanse non wat ‘n pelgrimstog na die heilige land onderneem het, vertel van ‘n besondere gebruik van die kruis in Jerusalem tydens pase. Mense kon ‘n houtkruis waaraan Jesus gehang het, omhels en Jesus as ‘t ware op die voorkop en oë soen.

In ‘n Koptiese geskrif lees ons egter van ‘n meer gevorderde kruisteologie of kruisvroomheid. Die skrywer vertel dat hy op ‘n kruis gaan lê en hom so in die kruisgebeure ingeleef het dat hy Jesus aan die kruis omhels het; sy hande op die hande van God se seun gelê het; sy liggaam teen dié van Jesus gedruk het; sy voete op dié van Jesus gelê en sy voete gesoen het; sy mond op dié van Jesus gelê en hom gesoen het; ook Jesus se sy, wat vir ons almal se heil deurboor is, gesoen het; uiteindelik het hy Jesus oor sy hele liggaam gesoen.

In nog ‘n geskrif, wat die Unbekannte Berliner Evangelium (UBE) genoem word, is daar ‘n interessante variasie op Jesus se gebed in die Getsemane. In die sinoptiese evangelies worstel Jesus met God en vra dat die beker by Hom verby sou gaan. In die UBE bid Jesus dat die Jode Hom tog nie moes dood maak nie; enige ander volk kon Hom kruisig, maar net nie die Jode nie. Hiermee verraai die UBE dalk die begeerte dat anders oor die Jode in die kerk gepraat moet word. Jesus was ook vir Abraham, Isak en Jakob lief en daarom moes dit maar eerder ‘n ander sondige volk wees wat Hom sou oorlewer om gekruisig te word (Schroeter 2011).

 

‘n Ander soort evangelie

Soms wou ‘n apokriewe geskrif net op ‘n kanoniese evangelie kommentaar lewer of verder daarop uitbrei (Verheyden 2011). So was die Evangelie van Maria in die laaste deel van die tweede eeu ‘n poging om die Johannesevangelie vir ‘n nuwe konteks te herinterpreteer. Die vraag waarmee die Maria-evangelie worstel, was die lot van die siel en dit weerspieël ‘n konteks waarin geleerde Christene die kwelvrae van hulle tyd meer filosofies en intellektueel wou aanpak (Dunderberg 2011). In die proses word dit ‘n ander soort evangelie as wat ons in die Nuwe Testament ken.

As dié evangelie byvoorbeeld sê dat die gelowiges hulle met ‘die volmaakte mens’ moes beklee, sluit die skrywer by ‘n bestaande filosofiese tradisie aan. Hiervolgens het ‘volmaakte mens’ op ‘n persoon gedui wat volkome in beheer van sy emosies was en vir wie gedragsvoorskrifte onnodig was omdat hy vanself geweet het wat reg of verkeerd was. Die Evangelie van Maria het by hierdie filosofiese tradisie aangesluit en die afsterwe van die oue mens en die vanselfsprekende kennis van goed en kwaad beklemtoon. Waarskynlik het die Evangelie van Maria in ‘n konteks ontstaan waarin sommige Christene meer ‘akademies’ oor die geloof nagedink en die filosofie probleemloos nadergetrek het.

Die Evangelie van Maria se skrywer het waarskynlik die Johannesevangelie geken en het dieselfde temas as Johannes gebruik. So troos Maria die dissipels netsoos wat Jesus dit gedoen het (Joh 14:27); in albei evangelies word gesê dat die gelowiges sou ly; in Johannes word gesê dat na Jesus se vertrek daar trane, klaagliedere en pyn sou wees (Joh 16:20); in die Evangelie van Maria word gesê dat die gemeente reeds hierdie lyding ervaar.

Interessant is dat Maria met verborge kennis troos. Kennis wat Jesus vir sy dissipels verborge gehou het. Volgens Johannes 16:12 het Jesus sekere inligting van die dissipels weerhou (Joh 16:12). Volgens die Evangelie van Maria het Maria die dissipels met hierdie verborge kennis getroos; soos die parakleet het Maria getroos en die dissipels aan Jesus se woorde herinner. Maria troos die mense van haar tyd met die klem op die ‘volmaakte mens’. Aan die een kant moet die liggaam gekruisig word, moet alle aardse bindinge afgelê en alle bose luste vernietig word. Aan die ander kant moet ‘n mens volledig op die siel en innerlike kalmte fokus. Wanneer dit gebeur, kan alle lyding oorkom word.

 

Slot

Dit blyk dat die apokriewe evangelies al hoe belangriker vir die studie van die Nuwe Testament en die eerste eeue van die kerk word. Dit was ‘n integrale deel van die kerk en weerspieël die vroomheid van gewone mense en die manier waarop hulle Jesus en die Nuwe Testament verstaan het. Sonder kennis van hierdie evangelies word ons beeld van die vroeë kerk verskraal. 

 

Boekelys 

  • · Bovon, F 2011. Jésus en Égypte: Les évangiles apocryphes de l’enfance comme livres utiles a l’âme.
  • · Dunderberg, I 2011. Johannine Traditions in the Second Century.
  • · Frey, J 2011. Apokryphisierung im Petrusevangelium.
  • · Gounelle, R 2011. Les Actes de Pilate: un évangile judéo-chrétien?
  • · Hartenstein, J 2011. Erscheinungsevangelien (Gespräche mit dem Auferstandenen) im Kontext frühchristlicher Theologie: Anknüpfungspunkte und Besonderheiten der christologischen Vorstellungen.
  • · Markschies, C 2007. Kaiserzeitliche christliche Theologie und ihre Institutionen. Tübingen.
  • · Markschies, C 2010. Was wissen wir über den Sitz im Leben der aporkryphen Evangelien, in J Frey, Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament. Mohr Siebeck.
  • · Markschies, C 2011. Apokryphen als Zeugnisse spätantiker mehrheitskirchlicher Frömmigkeit – das Beispiel des Bartholomäusevangeliums.
  • · Nicklas, T 2011. Das Judasevangelium.
  • · Patterson, S 2011. Platonism in the Apocryphal Gospels.
  • · Perkins, P 2011. Jewish Christian Gospels: Primitive Tradition Imagined.
  • · Poirier, P-H 2011. L’Évangile de Thomas (NH II,2), témoin de la théologie chrétienne primitive.
  • · Schroeter, J 2010. Die apokryphen Evangelien und die Entstehung des neutestamentliche Kanons, in J Frey, Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament. Mohr Siebeck.
  • · Schroeter, J 2011. The Apocryphal Gospels within the Context of Early Christian Theology.
  • · Van Oyen G 2011. Het Protevangelium Jacobi: een apocriefe tekst buiten categorie.

· Verheyden, J 2011. The Early Church and “the Other Gospels”.

Share this / Deel hierdie: