1.         INLEIDING

Gerald Schroeder (2001:1) begin sy boek, “The hidden face of God”, met die volgende opmerking: “When I picture the earth and solar system hanging in the vastness of space, I feel an anxious need to grab hold of something stable. We’re a minuscule speck, somehow floating in the seemingly endless dark of the night sky. It’s at those times that I realize all existence hangs by a thread, the breadth of a hair. But the puzzle of our tenuous place in space is secondary to the most baffling riddle of all: that of existence itself”.

 

Vrae en opmerkings soos hierdie is egter nie uniek, of net beperk tot die mens van die 21ste eeu nie. Hierdie is inderdaad vrae wat mense alreeds deur die eeue besig gehou het, en waarmee mense altyd deur die eeue heen geworstel het. In die Hebreeuse Bybel – die literêre erflating geskep deur die teoloë (skrifgeleerdes) van oud-Israel – kom ons ook in aanraking met skrywers wat gefassineerd was met die lewe, asook die oorsprong van lewe (Loader 2005:683). Ook hulle was geboei deur die aard van die mens se eksistensie en die kompleksiteite van die lewe. Hulle het inderdaad ook die behoefte ervaar om aan iets vas te hou wat stabiliteit aan die lewe kon verleen. Hierdie “iets” (wat stabiliteit verleen) kan met die begrip “God” aangedui word; en die naam wat aan die God van Israel gegee was, is Jahwe.

 

Die realiteit van Jahwe se teenwoordig neem ‘n sentrale posisie binne die Ou-Testamentiese geloofsvoorstelling(e) in. Hierdie teenwoordigheid is egter dikwels onbegrypbaar, ontwykend of selfs verborge: “Verily, verily, thou art a God that hidest thyself!” (Terrien 1983:xxvii). Selfs tydens die diepste godservaring bly die gesig van God verborge. Die Godheid, soos vir ons geteken in die Hebreeuse Geskrifte, onwyk die menslike begrip, en gevolglik ook enige vorm van manipulasie deur die mens. Die mens – die antieke Hebreër sowel as die hedendaagse mens – is dikwels op sodanige wyse bewus van die teenwoordigheid van hierdie Godheid dat hy/sy daardeur sin in die lewe, asook in die universum, vind. Die mens gee onvermydelik ‘n historiese dimensie aan sy/haar eksistensie; hy/sy bring sy/haar persoonlikheid in ooreenstemming met dit wat waargeneem word as ‘n “uiteindelike bestemming”.

 

Dit blyk egter dat die lewe dikwels anders verloop vir gelowiges. Die ervaring wat mense het, naamlik dat hulle deur God vergeet word, of selfs deur Hom verwerp word, is ‘n ervaring wat ‘n werklikheid was en is vir mense deur alle eeue heen en deur alle tydperke van die wêreldgeskiedenis. Hier kan byvoorbeeld verwys word na ‘n ontydige dood in die familie, ‘n lang en uitgerekte siekte, onregverdige behandeling, of – op ‘n groter skaal – natuurrampe, oorloë en selfs vervolging. Hierdie, en ander rampe, kan daartoe lei dat sowel individue as ook hele gemeenskappe God as verborge mag beleef – naamlik dat dit lyk asof Hy sy gesig vir die mens(e) verberg (het).

 

2.         DIE BEELD VAN DIE “VERBORGE GESIG” VAN GOD

Volgens Balentine (1983:v) moet die “verborgenheid van God” – in teenstelling met die indruk wat maar alte dikwels nog vandag deur sommige teoloë, predikante en pastore gewek word – nie altyd verstaan word as ‘n manifestasie van goddelike oordeel as ‘n reaksie op die sonde van die mens nie. Natuurlik is dit so dat ‘n oordeelsnuanse teenwoordig is in sommige kontekste in die Hebreeuse Bybel waarin hierdie beeld voorkom. Hier kan verwys word na (veral) profetiese orakels waarin Jahwe se verborgenheid gedurende die ballingskap gekoppel word aan Israel se ongehoorsaamheid (hier kan oa verwys word na die boek Jesaja). Profetiese lering gee dus ‘n ander dimensie aan die beeld van God se verborgenheid deur dit te koppel aan die sogenaamde blindheid as resultaat van Israel se sonde (Anderson 1962:419; vgl ook Balentine 1983:77). Alhoewel God eintlik naby is, is hy ook ver as gevolg van die feit dat sy volk hom versaak het en die verbond met hom verbreek het. Om ‘n opstandige hart te hê, beteken dat die mense hoor, maar nie verstaan nie; hulle kyk, maar tog sien hulle niks nie (Jes 6:9). Daarom sal God vir ‘n goddelose generasie sy “gesig verberg”, en hulle in wanhoop laat as gevolg van sy afwesigheid van hulle wêreld.

 

Elders in die Hebreeuse Bybel, en hier kan veral aan die Psalter gedink word, is God se verborgenheid eerder die subjek van die klaaglied – veral wanneer onskuldige bidders dit uitskreeu dat hulle niks gedoen het om überhaupt goddelike verlatenheid te regverdig nie. Die Psalter – meer as enige ander boek in die Hebreeuse Bybel – is ‘n ryke bron van die mees gevarieerde vorm van tekskomposisies (Human 1998:569 & Day 1990:11vv). Ons sou ook kon sê die Psalms openbaar aan ons teologiese denke, oftewel teologisering, op sy beste. Hulle spieël sowel die uniekheid asook die universaliteit van die Judese teologie van “teenwoordigheid”.

 

Dit is daarom ook nie vir ons verrassend dat Luther die Psalter bestempel het as die “Bybel in die kleine” nie; dit was ook die gunstelingsboek van ‘n groot hoeveelheid van die kerkvaders en heiliges (Janowski 1998:382; vgl ook Smith 1984:5). Johannes Calvyn het die Psalter beskryf as “the anatomy of all the parts of the soul, for not an affection will anyone find in himself whose image is not reflected in this mirror. All the grieves, sorrows, fears, misgivings, hopes, cares, anxieties, in short all the disquieting emotions with which the minds of men are wont to be agitated, the Holy Spirit hath here pictured exactly” (Childs 1979:523).

 

Hierdie versameling gedigte, wat gekenmerk word deur sy veelheid van ooreenkomste en verskille, kan tereg bestempel word as ‘n refleksie van ‘n groot verskeidenheid van gemoedstemminge en situasies. Von Rad (1989:355) postuleer dat, volgens Israel se geloofsinterpretasie, Jahwe hulle elke uur van die dag en nag vergesel – ook op alle plekke waar hulle sou vertoef het. Israel plaas daarom hulle totale eksistensie voor die voete van Jahwe. Hulle kon daarom ook nie gedwing word tot stilte nie: hulle het herhaaldelik die pen opgeneem om te getuig van hulle ervaring met God – selfs ook op ‘n totaal persoonlike manier. Hulle het lofprysinge aan hom gebring, vrae aan hom gestel, en klagsange opgehef ten hemele oor die lyding en swaarkry wat hulle moes deurmaak. Volgens Von Rad se formulering – wat inmiddels ‘n klassieke formulering geword het – kan die Psalms bestempel word as “Israel se antwoord”. Deur middel van hierdie “antwoord van Israel” sien ons hoe Israel hulle eksistensie in die nabyheid van Jahwe verstaan, maar ook aanvaar het.

 

Verder leer ons ook hoe Israel, in hulle omgang met Jahwe, tot groter selfverstaan gekom het – dit wil sê, hoe hulle hulself gesien het wanneer hulle voor Jahwe verskyn het om met hom te praat. In die Psalms kom dit duidelik na vore dat Israel hulleself gesien het as behorende tot die verbond met Jahwe. In hierdie verband konkludeer Zenger (1997:22) soos volg: “JHWH hat sich Israel eben nicht als stummes Objekt seines Geschichtswillens erwählt, sondern zum Gespräch. Die Psalmen sind Niederschlag dieses Gespräches, in dem Israel und der einzelne Israelit im Gegenüber Gottes zum Wir und Ich gefunden haben. Sie sind Israels Antwort auf die erfahrene Zuwendung und auf die erlittene Verborgenheit seines Gottes”.

 

Dit moet hier duidelik gestel word dat dit dikwels gebeur in sowel die lewe van die individu asook die lewe van die groep dat ‘n spesifieke lewenservaring die gevoel gee dat Jahwe se aangesig nie meer in goedheid na jou kant toe gedraai is nie (Von Rad 1989:398vv). Gekonfronteer met die lotgevalle van die lewe wat soms oor ‘n mens se lewenspad kom, lyk dit asof Jahwe homself heeltemal onttrek en teruggetrek het in ‘n ondeurdringbare en ondraaglike verborgenheid. Vir die gelowige mens is die moontlikheid van godverlatenheid ‘n verskrikking; vir die een generasie na die ander het dit ‘n angswekkende en verlammende bedreiging gebly. Dit is gevolglik nie verbasend dat die oudste vorms van die volksklaaglied alreeds na godsverlatenheid verwys het nie. Die individu, aan die ander kant, interpreteer ernstige ellende (wat selfs tot die dood kan lei) as ‘n verlatenheid van die kant van Jahwe. Dit word verder ook gesien as die einde van ‘n verhouding waarop hy gedink het hy kon onvoorwaardelik staatmaak. Die rede waarom die “individuele klaagliedere” soveel intense klagtes bevat, is waarskynlik omdat elke lewensbeproewing ‘n vraagteken plaas agter die verhouding met God. Die skildering van die lyding, soos wat ons dit in die klaagpsalms aantref, is inderwaarheid ‘n ander vorm van die mens se voorstelling van homself voor God; met ander woorde ‘n voorstelling waarin hy bely dat hy diégene is wat wag op hulp van Jahwe.

 

Die ervaring van die stilte en afwesigheid van die god/godin blyk ‘n primêre religieuse ervaring te wees: dit is in sowel antieke Mesopotamië as in ander dele van die Ou Nabye Ooste deur bidders (gelowiges) beleef en ervaar. Hierdie aanname word aan die hand van een voorbeeld geïllustreer, naamlik met ‘n teks komende uit die ryk skat van Akkadiese religieuse literatuur; spesifiek die laat-babiloniese “handopheffingsgebed” gerig tot die godin Ištar (Caplice 1980:5). Hierdie teks dateer waarskynlik uit die laaste gedeelte van die eerste helfte, of die begin van die tweede helfte, van die laaste millenium voor die moderne jaartelling (550-450 vC). Dit begin met die himniese gedeelte wat gekenmerk word sy uitsonderlike lengte van 41 reëls. Die himne sluit af met lofprysinge oor die ondeurgrondelikheid van die godin Ištar. In beide die klag en versoek wat na die himne volg, tref ons ‘n herhaalde pleidooi om medelye en appèl op genade aan. Die bidder voel totaal van die godin Ištar verlate, daarom sy hartverskeurende pleitbede dat sy haar gesig na hom moet terugdraai. Die resultaat van hierdie god(in)verlatenheid is onder andere dat hy deur sy vyande verag word. In hierdie gebed tref ons onder andere die volgende interafhanklike temas aan: aan die een kant is daar die bidder se swakheid, afhanklikheid en vertroue in die godin; aan die ander kant is daar die godin se verantwoordelikheid, outoriteit en bevoegdheid. In hierdie uitsonderlike gebed word al hierdie dele gekombineer, ten einde aan hierdie gebed ‘n besondere skoonheid, diepte en sublieme karakter te verleen. Hierdie bidder se lyding – wat die gevolg is van die godin se aangesig wat vir hom verberg is – is geensins ondergeskik aan enige korresponderende religieuse ervaring van enige Judese (Hebreeuse) bidder nie. Die genadige en deernisvolle aangesig van die godheid impliseer lewe – in Mesopotamië sowel as in oud-Israel; en die verborge aangesig van die god(in) is die oorsaak van die bidder se misère (Perlitt 1971:369). Dit is dus heeltemal verstaanbaar dat die beeld van God (die godheid) wat sy/haar aangesig verberg, so ‘n belangrike rol speel in die religieuse literatuur van Mesopotamië sowel as in oud-Israel. By laasgenoemde dink ons veral aan die bybelse psalms – spesifiek die klaaglied.

 

In die Bybelse psalms kom die beeld van die “verborge gesig van God” binne die konteks van die klaaglied voor (Balentine 1983:77v). Hier val die klem altyd op die bidder(s) se klagte, naamlik dat God se dade nie gerugsteun kan word deur enige sonde(s) waaraan hy/sy (hulle) skuldig is nie. Die klagte word daarom ten hemele uitgeskreeu deur middel van vrae en pleitbedes, sowel as deur middel van proteskrete. Die onskuld van die bidder(s) word in die sterkste moontlike taal uitgedruk. Daar is alreeds daarna verwys dat hierdie aspek van die klaaglied nie eintlik voorkom in die profetiese boeke waarin die uitdrukking “die verborge gesig van God” aangetref word nie. Die profete interpreteer die verborgenheid van God anders: hulle verbind dit naamlik met die hele gedagte van oordeel/veroordeling. In teenstelling tot die psalmbidders wat antwoord op die ervaring van skeiding tussen hulle en God met “waarom?” en “hoe lank nog?”, is daar in die profetiese interpretasie geen of min twyfel ten opsigte van hierdie vrae: (1) God verberg juis sy gesig as ‘n reaksie op die ontrouheid van sy volk; en (2) die skeiding is tydelik – sodra daar vergifnis plaasgevind het, sal God se teenwoordigheid weer herstel word.

 

3.         SAMEVATTING

Uit die voorafgaande bespreking het die duidelik geword dat die frase “die verborge gesig van God” in die OT in verskillende kontekste voorkom, en dat daar ook verskillende interpretasies hieraan toegeken word. Dit op sigself is geensins verbasend. Die literatuur van die Hebreeuse Geskrifte is bekend vir die rykheid van teologiese idees, metafore asook verskillende Godsbeelde wat daarin aangetref word (Zenger 1994:65, 113). Daarom behoort dit ook geen verrassing vir ons te wees dat hierdie beeld ook verskillend gebruik word in verskillende kontekste nie. Hierdie waarneming dien eerder as bevestiging en versterking van die uitspraak betreffende die verskeidenheid en rykdom wat ons aantref in die literatuur van die Hebreeuse Bybel.

 

Die profetiese literatuur gee uitdrukking aan die teologiese implikasie van die beeld van die verborgenheid van God. Dit word meestal gebruik in ‘n konteks van oordeel; dit word gesien as ‘n manifestasie van goddelike oordeel op die sondes van die volk Israel. Dit kom hoofsaaklik voor in profetiese orakels wat spesifiek God se verborgenheid gedurende die ballingskap verbind met die ongehoorsaamheid van Israel.

 

In ‘n groot aantal psalms kom die tema van die verborgenheid van God ook voor (vgl Balentine 1983:165). Deur middel van die psalms kry ons dus toegang tot die beeld van God se verborgenheid. Hier in die Psalter verskil dit dan ook in ‘n groot mate van die voorstelling van hierdie beeld soos ons dit in die profetiese literatuur teëkom. Dit is eintlik ook geen verrassing dat die grootste konsentrasie van psalms waarin hierdie beeld aangetref word, klaagpsalms is nie. Geen ander konteks sou op dieselfde wyse die moontlikheid aan die skrywers gebied het om uitdrukking te kon gee aan hierdie ervaring van verborgenheid, sowel as die verwerking van hierdie ervaring. In beide die klag en die bede (versoek) protesteer die bidder(s) teen die onregverdige situasie waarin hulle hulle bevind. In die klaagliedere speel die element van onsekerheid ‘n belangrike rol: die bidders kla dat die verborgenheid van God vir hulle onbegrylik is. Hulle protesteer daarteen, en maak dit duidelik dat hulle onskuldig is – tog het God Hom van hulle onttrek, of ten minste so lyk dit (Hermisson 1998:108).

 

Die element van onsekerheid is inderwaarheid die hart van die klag. Dit is baie belangrik dat dit nie oorskadu behoort te word deur die beweging van die klag na die lofprysing. Die moontlikhede van wat in die toekoms verwag sou kon word, kan nooit werklik die pyn, angstigheid en onsekerheid nihileer van dit wat die ervaring in die hede is nie. Met ander woorde, die hoop op toekomstige herstel word voortdurend ingeperk deur die frustrasie van die huidige omstandighede. Dit is dan juis ook die situasie van die bidders in daardie spesifieke klaagliedere waarin ons die beeld van die verborgenheid van God aantref. Hierdie ervaring word so traumaties beleef, juis omdat hulle weet dat God in die verlede nie altyd verborge was nie. En die versoek vir goddelike verhoring word juis gedra deur die hoop dat hierdie situasie in die toekoms omgekeer sal word, en dat God in die toekoms nie meer verborge sal wees nie.

 

Dit blyk egter dat die ervaring van die verborgenheid van God – soos ook die ervaring van sy teenwoordigheid – ‘n integrale deel was van die geloof van Israel. Dit was dan juis ook hierdie ervaring van dispariteit tussen godsdienstige oortuiging en die realiteit van die alledaagse lewe, wat hierdie saak voortdurend op die voorgrond gestel het in Israel se teologiese nadenke. Beide ervarings kan teruggevoer word na die aard van God. Hy is beide verborge en aanwesig – so ook ver en naby. Wanneer God se verborgenheid dus gesien word as ‘n integrale deel van hierdie lewe, word die weg gebaan om hierdie ervaringe van twyfel en angs in die regte perspektief te sien. Hulle is inderwaarheid ‘n integrale deel van die mens se geloofservaringe. ‘n Duidelike aanduiding hiervan is Israel se eerlikheid om hierdie gevoellens voor die aangesig van God te gaan neerlê – en hiervan kry ons voldoende voorbeelde in die boek van die Psalms.

 

BIBLIOGRAFIE

  • Anderson, B W 1962. Art. “Old Testament view of God”. IDB E-J, 417-430.
  • Balentine, S E 1984. The hidden God. The hiding of the face of God in the Old Testament. Oxford: Oxford University Press. (Oxford Theological Monographs.)
  • Caplice, R I 1980. Introduction to Akkadian. Rome: Biblical Institute Press. (StP.SM 9.)
  • Childs, B S 1979. Introduction to the Old Testament as Scripture. London: SCM.
  • Day, J 1990. Psalms. Sheffield: JSOT Press.
  • Hermisson, H-J 1998. Der verborgene Gott im Buch Jesaja, in Hermisson H-J, Studien zu Prophetie und Weisheit. Gesammelte Aufsätze, 105-116 (herausgegeben von Barthel, J, Jauss, H & Koenen, K). Tübingen: Mohr (Siebeck). (FAT 23.)
  • Human, D J 1988. Psalm 44: “Why do you hide your face, o God?!” SK 19/3, 566-583.
  • Janowski, B 1998. Die »Kleine Biblia«. Zur Bedeutung der Psalmen für eine Theologie des Alten Testaments, in Zenger, E (Hg.), Der Psalter in Judentum und Christentum, 381-420. Freiburg i.B.: Herder. (HBS 18.)
  • Loader, J A 2005. Emptied life – Death as the reverse of life in ancient Israel. OTE 18/3, 681-702.
  • Perlitt, L 1971. Die Verborgenheit Gottes, in Wolff, H W (Hg.), Probleme biblischer Theologie. Gerhard von Rad zum 70. Geburtstag, 367-382. München: Chr. Kaiser Verlag.
  • Schroeder, G L 2001. The hidden face of God. Science reveals the ultimate truth. New York: Free Press.
  • Smith, R L 1984. The use and influence of the Psalms. Southwestern Journal of Theology 27/1, 5-16.
  • Terrien, S 1983. The elusive presence. The heart of biblical theology. San Francisco: Harper & Row. (Religious Perspectives 26.)
  • Von Rad, G 61989. Old Testament Theology. Volume I: The theology of Israel’s historical understanding. London: SCM Press.
  • Zenger, E 21994 Am Fuss des Sinai. Gottesbilder des Ersten Testaments. Düsseldorf: Patmos Verlag.
  • Zenger, E 1997. Die Nacht wird leuchten wie der Tag. Psalmenauslegung. Freiburg: Herder.
Share this / Deel hierdie: