Inleiding
In ons Christelike liturgiese jaar is dit tans pinkstertyd. Alhoewel die meeste Afrikaanse kerke deesdae pinkster slegs vanaf hemelvaart tot Pinkstersondag vier, begin pinksterfees tradisioneel net na paasfees en duur ‘n volle vyftig dae lank. Vir Christene is die hoogtepunt van pinkster die uitstorting van die Heilige Gees, en Jesus se volgelinge wat skielik in vreemde tale begin praat het, sodat almal die evangelie kon hoor en verstaan.
Pinkster is egter ook ‘n fees van Ou Israel, en ‘n fees wat die Jode tot vandag toe vier. Volgens Joodse gebruik word sekere feesrolle by sekere feeste voorgelees. Die boek wat tradisioneel by pinkster voorgelees word, is die Boek van Rut. In hierdie teo-bydrae gaan ek die verband tussen die Rutboek en pinkster van naderby bekyk.

Pinkster en shavuot
‘Pinkster’ word afgelei van die Griekse pentēkostē wat letterlik ‘vyftigste’ (dag) beteken. Dit het betrekking op die Ou Testamentiese ‘fees van die weke’. Die Hebreeuse woord vir ‘week’ is shavuah; die meervoud daarvan is shavuot. Wat Christene dus ‘pinkster’ noem, word deur die Jode shavuot genoem, en die Ou Testament se shavuot-fees word in dieselfde tydperk as die Nuwe Testament se pinkster gevier. Op daardie dag in Jerusalem, toe die Heilige Gees uitgestort is en die dissipels in vreemde tale gepraat het, het Jesus se volgelinge shavuot gevier. Eers later sou pinkster ‘n ander betekenis kry.
Maar wat is die betekenis van shavuot – of die fees van weke?
In die Ou Testament is daar ‘n ander fees wat met die fees van weke saamval, en dit is die sogenaamde oesfees. Ons lees daarvan in Eksodus 23:16. Net na die fees van die ongesuurde brood, met ander woorde, die pasga of paasfees, moet die fees van die oes gevier word. Maar Eksodus 34:22 noem die fees wat ná die fees van ongesuurde brood gevier moet word, die ‘fees van die weke’. Het ons dan nou met ‘n ander fees te make? Die vers self verskaf egter ‘n verduideliking: dit is die fees aan die begin van die koringoes. Deuteronomium 16:9-10 maak dit nog duideliker. Na die paasfees, die fees van die ongesuurde brood, moet die volk sewe weke bereken van die dag af dat hulle hul graan begin oes. ‘Vier die fees van die weke tot eer van die Here jou God’ (v 10).
Moontlik was die oesfees ‘n baie ou landboufees wat uit die dae dateer toe Israel hoofsaaklik ‘n landelike selfonderhoudende familie-gebaseerde bestaan gevoer het. Namate die bevolking al hoe meer verstedelik het, het die klem op die oes vervaag. ‘n Verdere faktor is Israel se toenemende historiese bewussyn en die impak van die uittog uit Egipte en die Sinaï-gebeure. Dit lyk dus asof die ‘oesfees’ en die ‘fees van die weke’ dieselfde fees is: albei volg op paasfees en duur min of meer sewe weke lank.
In die latere Joodse tradisie, word die fees van die weke met die Sinaï teofanie in verband gebring. Die redes is nie heeltemal so duidelik nie, maar ‘n mens kan wel bespiegel. Gedurende hierdie sewe weke was daar twee gewasse wat geoes is: die garsoes het direk na paasfees begin, en die koringoes was teen die einde van die tydperk. Volgens die vae tydsaanduiding in Eksodus 19:1, is dit gedurende hierdie tyd, gedurende die fees van die weke, wat Israel aan die voet van die berg Sinaï te staan gekom het. Siende dat shavuot die fees is wat op pasga volg, is die Sinaï-gebeure die aangewese geleentheid om ‘n besondere sin daaraan te gee.
Dit ook moeilik om te bepaal wanneer presies die gawe van die Torah en shavuot saamgeval het. Dalk heel vroeg. Maar miskien het die skrywer van Handelinge iets raakgesien tussen die skouspelagtige gebeure in Jerusalem, daardie dag van die pinksterfees, en dit wat die Hebreeuse Bybel in Eksodus 19-20 beskryf. Shavuot vier die gawe van die Torah, die Wet van die Here; pinkster vier die uitstorting van die Heilige Gees, wat elke gelowige leer hoe om hierdie Wet te lewe.

Feeste in die Joodse liturgiese jaar
Net soos die Christene, het die Jode ook ‘n liturgiese jaar waarin bepaalde godsdienstige feeste op bepaalde tye gevier word. Hierdie feeste sluit ten nouste by Ou-Israel se geskiedenis aan. Hierbo is reeds twee genoem: paasfees en die fees van die weke. Paasfees is die eerste en die belangrikste fees van die liturgiese jaar. Dit roep die gebeure van Eksodus 12 in herinnering, toe die Here alle eersgeborenes van die Egiptenare laat sterf het, en Israel met sy magtige dade uit die hand van slawerny verlos het, en die beloofde land toe uitgelei het. Soos reeds gesê, shavuot, of die fees van die weke staan ‘n tydjie lank by Sinaï stil, tussen die uittog en die intog, en herdenk die gawe van die Torah – al die dinge wat die Here verwag die volk moet doen of nie doen nie, die dag as hulle hulle in die beloofde land vestig.
Die fees wat ná die fees van die weke gevier word, is sukkot, die fees van die tente, oftewel die loofhuttefees soos dit algemeen bekend staan. Nou word die woestyntyd onthou, die tyd toe Israel in die woestyn rondgetrek en in tente gewoon het. Daarna volg die herdenking van Tisha Ba’av – die 9e Av. Na regte kan dit nie werklik ‘n fees genoem word nie, want op hierdie geleentheid word een van die grootste tragedies in Ou Israel se geskiedenis herdenk. Dit is naamlik die dag in die jaar 586 vC toe Koning Nebukadneser se magte die Jerusalemse tempel verwoes het, en baie van die Judeërs in ballingskap weggevoer het. Purim, die fees van loterye, is egter weer ‘n vreugdefees. Deur die waagmoedige ingrype van koningin Ester, is die Jode in Persië nie slegs van ‘n gewisse massamoord gered nie, maar is die bordjies selfs verhang: in plaas daarvan dat die Jode bloot toegelaat is om hulself te verdedig, kon hulle ook al hul vyande om die lewe bring.

‘n Feesrol vir elke fees
Net soos in die Christelike tradisie, is dit ook Joodse gebruik om ‘n bepaalde boek – in hierdie geval ‘n Ou Testamentiese boek – aan ‘n bepaalde fees te koppel. Maar eers kortliks iets oor die verskil tussen die Joodse Bybel en die Christelike Ou Testament.
In die Septuagint en die Christelike Ou Testament word die verskillende Bybelboeke min of meer kronologies gerangskik, dit wil sê, na aanleiding van hoe die geskiedenis ontvou, probeer die boeke die historiese verloop van die gebeure weerspieël.
Die Hebreeuse Bybel werk ‘n bietjie anders. Dit bevat dieselfde boeke as die Christelike Ou Testament, maar is op ‘n ander manier gerangskik. Dit staan ook bekend as TeNaKh, en word in drie dele verdeel. T staan vir Torah (Wet), en volg die orde van die eerste vyf boeke van die Christelike Bybel. Ons noem dit ook die Pentateug noem, en dit is met ander woorde, die boeke Genesis tot Deuteronomium. Hierna volg die Nevi’im – die profete. En daar word ‘n bietjie van die bekende patroon afgewyk. Die volgorde van die profeteboeke is soos volg: Joshua, Rigters, Samuel, Konings, Jesaja, Jeremia, Esegiël en die twaalf kleinprofete – en laasgenoemde se volgorde is ook anders as dié van die Christelike Bybel. Heel laaste kom die Ketuvim, die geskrifte. Die boeke wat as ketuvim geklassifiseer word, is: Psalms, Job, Spreuke, Rut, Hooglied, Prediker, Klaagliedere, Ester, Daniël, Esra, Nehemia en Kronieke.
Onder die ketuvim – die geskrifte is daar ook dié boeke wat vir die liturgiese feeste uitgesonder word, naamlik die feesrolle, die sogenaamde megillot. En slegs twee van hulle kan werklik met geskiedkundige gebeure in verband gebring word. Klaagliedere word saam met Tisha Ba’av, die 9e Av gelees om die verwoesting van die tempel te betreur. En die boek Ester word uiteraard tydens Purim voorgelees.
Die boek wat tydens paasfees voorgelees word, is Hooglied. Waarom? Wat het die sekulêre seksuele liefde tussen man en vrou met paasfees te doen? Die verband tussen Hooglied en paasfees is waarskynlik teologies-allegories te verklaar, en sinspeel op die liefde tussen God en sy volk wat Hy uit Egipte bevry het.
Tydens sukkot, die loofhuttefees, word die boek Prediker voorgelees, en hierdie verband is ietwat moeiliker om te lê. Die redes moet miskien gesoek word in die aard van die fees self en die basiese boodskap van Prediker: alles kom tot niks. Tydens sukkot verlaat mense hul gerieflike wonings en bly in nederige tente. Dit doen hulle om hulle daaraan te herinner dat aardse, materiële besittings en sosiale status verganklik is. Ware vreugde is te vinde in die regte verhouding met God, virende en familie. Dit kan egter nie opgegaar word nie, en daarom moet sulke kosbare momente binne die oomblik self geniet word.

Die boek Rut, die fees van die weke en die gawe van die Torah
Hierbo is reeds aangedui dat die Rutboek ‘n ander plek in die Hebreeuse Bybel as in die Christelike Bybel beklee. Ons Ou Testament plaas die boek op ‘n historiese kronologiese tydlyn, en neem die vertelde tyd van die narratief in ag. Die boek Rut word tussen Rigters en die Samuel-boeke geplaas, volgens Rut 1:1 begin die storie ‘in die tyd van die rigters’ en eindig met die geslagsregister van Dawid.
Maar in die Hebreeuse Bybel vind Rut haar plekkie binne die laaste derde van die boeke, naamlik die geskrifte, en is een van die feesrolle. Die boek Rut word tradisioneel tydens shavuot, die fees van die weke voorgelees. En, net soos met paasfees en die loofhuttefees, is daar sommige meer en sommige minder duidelike redes waarom hierdie boek ook met die gawe van die Torah op Sinaï in verband gebring word.
In die eerste plek is daar die voor-die-handliggende tydsaanduiding in die boek self. Die oestyd vorm die agtergrond van die belangrikste gebeure in die Rutboek. Rut en haar skoonmoeder, Naomi kom in Betlehem aan aan die begin van die garsoes (Rut 1:22). Vir ‘n geruime tyd tel sy are op op die landerye van die welvarende en welwlende Boas om haarself en Naomi aan die lewe te hou, totdat die ‘gars- en koringoes ingesamel was’ (Rut 2:23). Rut se bedrywighede op Boas se landerye val dus vermoedelik saam met die oesfees, wat later as die fees van die weke bekend sou staan.
Hierdie tyd, wanneer die produkte van die landerye geoes en geniet word, is ook ‘n tyd van besondere omgee vir diegene wat minder het en gebrek ly. So gee die Here self opdrag: ‘Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, afoes nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God’ (Lev 23:22). Liefde vir God, en liefde vir die naaste is die kern van die Torah.
Dit is presies wat in die Rutboek gebeur. Rut kies teen die einde van hoofstuk 1 om saam met haar skoonmoeder na haar land en haar God te gaan – en by implikasie om aan die God gehoorsaam te wees; en vanaf hoofstuk 2 gaan dit om selflose liefde tussen mens en medemens. Boas ontferm hom oor Rut, die vreemde, die arme Moabitiese, en sy op haar beurt, ontferm haar oor Naomi, haar Judese skoonmoeder wat in haar tuisland sonder heenkome gelaat is. Die Torah word eers werklik vervul wanneer mense naasteliefde teenoor mekaar openbaar sonder om kostes te bereken. Soos Rut teenoor Naomi, en soos Boas teenoor Rut.
Die boek Rut gaan egter nog verder as dit. Die kern van die verhaal is die opname van Rut, die Moabitiese in die Judese gemeenskap van Betlehem, en uiteindelik word sy as koning Dawid se oumagrootjie uitgebeeld. In hierdie sin skrei die boek direk téén die Torah, wat uitdruklik opdrag gee dat geen Moabiet of Ammoniet in die gemeente van die Here mag kom nie (vgl Deut 23:3).
Wanneer ‘n mens die Rutboek oppervlakkig lees, lyk dit of die verhaal slegs ‘n mooi romantiese verhaal van naasteliefde is. Rut se storie lewer egter ‘n sterk, roerende pleidooi, soortgelyk aan die vooruitsigte van profete soos Jesaja (56:3-7), dat diegene wat voorheen van die gemeente van die Here uitgesluit is, nou met ope arms verwelkom gaan word. In die Rutboek gaan dit weliswaar om selflose liefde – of hesed, soos dit in Hebreeus staan – maar hesed wat nie deur die Torah aan bande gelê word nie. Deur roekelose dade van selflose liefde radikaliseer die boek van Rut die voorskrifte van die Wet, om sodoende die armes, die ellendiges en die verwerpelinge in die gemeente van die Here op te neem. So vier die boek van Rut wel die gawe van die Torah, maar interpreteer dit deur oë van liefde. Dit kyk verby die letter van die Wet, en sien die Een raak wat dit gegee het. Anders gestel, die boek van Rut wil sê, God is groter as die Torah.

Slot
Om dus nou saam te vat: die Hebreeuse boek Rut en die Nuwe Testamentiese pinkstergebeure soos wat dit in Handelinge beskryf word, lyk twee wydeenlopende vertellings te wees. Die Rutverhaal speel af in die rigterstyd, maar is waarskynlik in die Persiese tyd, in die tyd van die Tweede Tempel geskryf. Dit is op die vroegste ten minste vier eeue voor Christus. Dis ‘n storie van eenvoudige mense en die alledaagse lewe op die Judese platteland. Dit vertel ‘n verhaal van selflose roekelose liefde wat grense van die Torah oorskry en groot droefheid in uitbundige vreugde verander.
Die pinkstergebeure in Handelinge 2 speel heelwat eeue later af. Jesus het geleef, sy boodskap van vrede en liefde verkondig, is gekruisig, het gesterf en is begrawe, het opgestaan uit die dood en het alreeds na die hemel toe opgevaar. Vyftig dae na paasfees, na sy kruisiging, vier sy volgelinge die gebruiklike shavuot. En op skouspelagtige bonatuurlike wyse word die Heilige Gees uitgestort, word die Wet van die Here as’t ware weer geopenbaar. Dit is die Wet soos wat Jesus dit geradikaliseer het en waarin Hy in sy lewe dit ook gewaag het om die grense van die Torah te oorskry: liefde tot God en liefde tot die naaste.
Twee radikaal uiteenlopende verhale, radikaal verskillende gebeure. En tog ‘n merkwaardige ooreenkoms.

Bibliografie
Fischer, I 2001. Rut. Herders Theologischer Kommentar zum Alten Testament. Freiburg im Bresgau: Herder.
Frevel, C 1992. Das Buch Rut. Stuttgart: Verlag Katholisches Bibelwerk GmbH. Neuer Stuttgarter Kommentar – Altes Testament 6.
LaCoque, 2004. Ruth. Minneapolis: Fortress Press.
Zenger, E 1986. Das Buch Ruth. Zürich: Theologischer Verlag. Zürcher Bibelkommentare.

Share this / Deel hierdie: