Kan ons nog van die dominee as intellektueel, as geleerde, as denkende mens (Louw 1957:69-83) praat? Dalk nie! Dalk wil vandag se dominee hom-/haarself ook nie só verstaan nie. Pas dit dalk nie in sy/haar selfbeeld nie. Het dinge soos leierskap, gemeentebestuur en goeie administrasie so belangrik geword dat vir fyn teologiese denke net nie meer tyd is nie. Het die druk van gemeentebediening so oorweldigend geword dat vir lees, studie, besinning weinig tyd is.

Dit is tog jammer as dit so is want die westerse teologie is by wyse van spreke in die pastorie se studeerkamer en op die kansel gevorm. Tertullianus of Augustinus was nie professore nie, maar predikante. Universiteite is ‘n onlangse verskynsel en is maar vyf, ses honderd jaar oud. In die vroeë kerk was dit die dominee wat die geloof intellektueel deurdink en teologies verwoord het; was dit die gewone predikant wat met die beste denke van sy tyd die praktiese bedieningsprobleme probeer oplos het (Le Roux 2008:309-311). Dít moet ons tog nooit verloor nie want daar is iets in goeie teologie wat vir die hele samelewing belangrik is. Anders gesê: die gemeenskap roep ook na dié soort intellektuele insigte wat so eie aan teologiese opleiding en die teologie is. Dit kan dus nie anders nie, die dominee is en moet ’n intellektueel wees en dié beeld van hom/haar moet ook bevorder word (vgl Degenaar 1993:45-64).

Dit kan ook nie anders nie want die universiteit is tog ’n heel unieke ruimte waarin almal groei, ryp word, verander. Dit is nie net ’n blote opleidingsplek nie, maar is ‘die institusionalisering van die akademiese denke, dit wil sê van die menslike strewe na wetenskaplike kennis’ (Rossouw 1993:33). Wanneer dus oor die universiteitswese gepraat word, moet ‘die erflikheidselemente van die universiteit’ in ag geneem word (Rossouw 1993:32); moet voortdurend daarna gestreef om sy identiteit te behou ‘as ‘n sentrum van vrye, onafhanklike ondersoek, as ‘n agent van intellektuele en kulturele vernuwing en as bakermat van dié soort opvoeding wat inklusiewe, universele ervaring en ekspressie van menslikheid bevorder’ (Rossouw 1993:30); moet die universiteit altyd beskou word ‘as bakermat van nuwe kennis, van intellektuele kreatiwiteit en kritiese denke – die dinge waarsonder ‘n vrye en ope samelewing self nie moontlik is nie’ (Rossouw 1993:48).

Universiteitsonderrig het dus ook die vorming van die intellektuele en wetenskaplike vermoëns van die jong teologiese student ten doel. Tersiêre (en ook teologiese) onderrig is pas universitêr van aard wanneer ‘dit plaasvind in die milieu van navorsingsbedrywighede’ en wanneer dit ‘die gees van kritiese bevraagtekening (en) van verbeeldingryke vernuwing’ weerspieël en ‘van avontuurlike ontdekking op die grense van die onbekende’ getuig (Rossouw 1993:34). Deel van hierdie akademiese (teologiese) skoling word ook aan ‘vrye verbeelding, kritiese bevraagtekening en innoverende vermoë gekoppel’ (Rossouw 1993:43) asook ‘n ‘vrye, skeppende denke wat die lewensbloed van die universiteit is’ (Rossouw 1993:73). Hierdie soort teologiese opleiding is so totaal anders as dié van ’n seminarie want daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen ‘die opvoeding van beroepsbekwame intellektuele’ en ‘die afrigting van funksionele praktisyns’ (Rossouw 1993:17; vgl Van Niekerk 1993a:1-10;1993b:i-iv;1993c:1-43).

Vir sommige mag dit bedreigend klink, maar dit is nie. Goeie prediking roep tog om grondige teologiese opleiding en kritiese denke. En geloof en rede hoef nie teenoor mekaar te staan nie. Eeue gelede het Anselmus van Kantelberg ons hiermee gehelp. Volgens hom is die ‘ratio’(die rede) nie iets afsonderlik wat teenoor die geloof staan nie, maar streef die geloof self ook na verstaan (‘fides quaerens intellectum’); smag die geloof na die rede (die kritiese wetenskap); moet wat geglo word ook met behulp van die rede verstaan kan word; is die teologie wat redelik verstaan word, as ‘t ware die konsekwensie van die geloof (‘credo ut intelligam’). Vir Anselmus gaan dit dus hoegenaamd nie om ‘n koue rasionele verstaan van God of die geloof nie, maar om ‘n verstaan wat deur die geloof aangevuur word: ‘the quaerere intellectum is really immanent in fides’ (Barth 1962:16). Omdat ons glo, ‘we must hunger after the fidei ratio’ (Barth 1962:21; Busch 1976:206).

Die dominee moet weer die intellektueel word. Dit pas by hom/haar wat in die smeltkroes van die universiteit gevorm is en wat deur harde werk, wetenskaplike navorsing, kritiese denke vir bediening geslyp is (vgl Le Roux 1992:297).

 

Barth, K 1962. Anselm. Fides quaerens intellectum. Cleveland/ New York: The World Publishing Company.  

Barth, K 1964. Die Kircliche Dogmatik, I/1. Zürich: EVZ-Verlag. 

Busch, E 1976. Karl Barth. London: SCM, Press. 

De Wit, H  & West, G 2008. African and European readers. In Quest of a shared meaning. Leiden: Brill.

Degenaar, J 1993. Die konsep van die intellektueel, in Van Niekerk & Esterhuyse, 45-64.

Dekker, G 1957. Beskouings oor poësie. Pretoria: Van Schaik.

Le Roux, J H 2008. Africa and the future of our scholarly tradition, in De Wit & West, 307-324.

Le Roux, J H 1992. Op die breuklyn. NGTT 33/3, 291-300.

Louw, N P Van Wyk, 1957. Die digter as intellektueel, in Dekker, 69-83.

Ortega y Gasset, J 1959. De taak van de universiteit. S’Gravenhage: Leopolds.

Ortega y Gasset, J 1966. De opstand der horden. S’Gravenhage: Leopolds.

Pauw, J R 1975. Die westerse universiteit. Johannesburg: De Jong.

Rossouw, H 1993. Universiteit, wetenskap en kultuur. Kaapstad: Tafelberg.

Van Niekerk, A & Esterhuyse, W 1993. Intellektueel in konteks. Pretoria: RGN.

Van Niekerk, A 1993a. Ter inleiding, in Rossouw 1993, 1-10.

Van Niekerk, A 1993b. Voorwoord, in Van Niekerk & Esterhuyse, i-iv.

Van Niekerk, A 1993c. Wetenskap, kultuur en universiteit in die denke van Hennie Rossouw, in Van Niekerk & Esterhuyse, 1-43.

Versfeld, M 1962. Rondom die Middeleeue. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Share this / Deel hierdie: