Inleiding
Een van die dae vier ons Kersfees. Gedurende die vier weke van Advent tot en met 25 Desember, herdenk ons die gebeure wat aanleiding tot die geboorte van Jesus Christus gegee het. Wêreldwyd, ongeag aan watter denominasie hulle behoort, vier Christene Kersfees – of ‘Christusfees’ soos soms daarna verwys word. Daar is verskeie redes waarom sommige Christene verkies om liewers van ‘Christusfees’ te praat, onder andere om die essensie van die Christusgebeure te verwoord en die heiden / pagan oorsprong van Kerfees te onderbeklemtoon. Die datum 25 Desember en die kersboom is inderdaad van heidense oorsprong wat hul weg in die Christelike kerk gevind het, maar in hierdie teo-artikel wil ek fokus op die vroegste Christene, voordat Kersfees ‘n instelling geword het. Wie was hulle?
Die heel eerste ‘Christene’ was Jode, en na alle waarskynlikheid wou Jesus graag gehad het dat alle Jode ‘Christene’ sou word.

 

Jesus se Joodse volgelinge
Jesus was ‘n Jood. Hy het Homself as ‘n Jood gesien en sy eie perspektief was eksklusief Joods. Hy was hoofsaaklik besorg oor die ‘verlore skape van Israel’ (vgl Matt 10:5-6; 15:24) en het sy dissipels beveel om van die heidene en die Samaritane weg te bly.
Die vroegste gemeenskap van Jesus se volgelinge was ‘n handjievol – sowat honderd en twintig – Jode, wat die elf dissipels, sy moeder en sy broers ingesluit het (Hand 1:14-15). Jesus bly lewendig in hul gedagtes, want Sondag vir Sondag, die eerste dag van die week, vier hulle sy opstanding. Hulle doen dit stil, in die geheim, uit vrees vir die Joodse en die Romeinse owerhede.
Daarna volg die Pinkstergebeure, wat besonder dramaties in Handelinge 2 vertel word. Onder die invloed van die Heilige Gees verander Petrus en die ander dissipels van gedaante: nou nie meer bang vlugtelinge nie, maar wedergebore kampvegters vir geloof in Jesus Christus, die Opgestane Messias. Die verkondiging moes besonder charismaties gewees het, want die honderd en twintig volgelinge vermeerder spoedig tot drie duisend – maar almal is nog Jode. Al wat van hulle verwag word, is om te glo wat Petrus hulle vertel, en om in Jesus se naam gedoop te word.
Hulle noem hulself nie op enige spesifieke naam nie; hulle is ‘mense van die Weg’ (Hand 9:2), wat die ‘Weg’ verkondig (Hand 19:9), en volgens die ‘Weg’ lewe (Hand 24:14 – vergelyk die Ou Vertaling). Met ‘Weg’ word waarskynlik die ‘Weg van God’ bedoel, maar die verwysing daarna as ‘n ‘sekte’ – die ‘sekte van die Nasareners’ (Hand 24:5; 14), laat blyk dat hierdie groep mense iewers weggebreek het van die tradisionele Joodse siening van die ‘Weg van God’. Nogtans is dit ‘n Joodse sekte binne die Jodedom wat uit Jode bestaan.
Jesus se eerste volgelinge beskou hulself as Jode – net soos Jesus – wat in wese nie anders as hul eg-Joodse bure is nie. Hulle onderhou die Sabbat, hulle besoek die tempel gereeld, hulle handhaaf Joodse gebruike wat betref besnydenis en dieet, kortom: soos alle Jode, volg hulle die Wet van Moses getrou na.
Die Jesus-volgelinge in Jerusalem het wel ‘n tipe religieuse ‘kommunisme’ gepraktiseer deur alles met mekaar te deel (Hand 4:32), en dit wil voorkom asof dit eerder ‘n morele as ‘n formele verpligting was. Deel van hul godsdienstige rituele was om van huis tot huis die ‘brood te breek’. In die heel vroegste stadium was dit nie bloot ‘n simboliese kultiese handeling nie, maar ‘n werklike maaltyd wat ‘n dubbele doel gedien het: om voedsel te verskaf aan almal wat deelgeneem het, en om hulle ook simbolies met mekaar, met Jesus die Christus en met God te verenig. Dit lyk asof die breek van die brood aanvanklik ‘n daaglikse gebruik was, en wat later minder gereeld (laat in die eerste eeu) slegs een keer per week op die Sondag plaasgevind het (vgl Hand 20:7).
Hierdie eerste volgelinge van Jesus was gewone Jode, en al wat hulle anders gemaak het, was dat hulle ‘n bepaalde sekte verteenwoordig het: die sekte van die Nasareners (Hand 24:5; 14).

Die heidense bekeerlinge
Die ‘sekte van die Nasareners’, of die ‘Weg’, sou egter nie vir lank tot Joodse kringe beperk word nie. Die eerste (en enigste) heiden in die Nuwe Testament wat in die Heilige Land tot bekering kom, is Kornelius, ‘n hoofman oor die Italiaanse regiment (Hand 10). Rondom 40 nC kry hy ‘n direkte openbaring dat hy Petrus moet laat haal en luister na wat hy te vertel het. En terwyl Petrus nog praat, word ‘n Pinksteragtige gebeure herhaal waartydens die Heilige Gees, tot almal se verbasing, ook op nie-Jode uitgestort word.
Nóg die Jode, nóg die Romeine is egter beïndruk met hierdie sekte wat besig is om veld te wen, en ‘n aktiewe vervolgingsveldtog word op tou gesit. Na die dood van Stefanus word Jesus se volgelinge gedwing om uit Jerusalem pad te gee, en so word die boodskap van Jesus ook in die aangrensende Griekse wêreld bekend. Hier praat die Jode egter nie Aramees nie, maar Grieks. Die eerste gemeente van Jesus-volgelinge wat buite Jerusalem gevestig word, is in Antiogië, en spoedig ontstaan ‘n gemengde Joods-Griekse Christengemeenskap, bestaande uit uitgeweke Jerusalemmers en nuwe heidene wat tot geloof gekom het.
Die grootste beweegkrag vir heidense Jesus-volgelinge kom egter ook uit Joodse bodem. Op dramatiese wyse kom Saulus, ‘n ywerige vervolger van die ‘mense van die Weg’ tot bekering – tot die einste ‘Weg’ (Hand 9). Sy eerste arbeidsveld is heel toevallig die gemeente in Antiogië waar Barnabas, ‘n afgevaardigde deur die Jerusalem-gemeenskap sy hulp as medewerker inroep. En daar, onder die invloed van Saulus en Barnabas, word die gelowiges vir die eerste keer ‘Christene’ genoem.
Saulus sou egter nie te lank in Antiogië vertoef nie. Beter bekend as Paulus, onderneem hy etlike sendingreise om die ‘Weg’ en die ‘sekte van die Nasareners’ met dieselfde ywer te verkondig as wat hy dit vervolg het. In Klein-Asië is hy besonder suksesvol, en menigte der menigte heidene sluit by die Jesus-beweging aan. ‘n Oorwegend Joodse Jesus-gemeenskap bly onder moeilike omstandighede slegs in die Jerusalemse moederkerk voortbestaan, terwyl nuwe Joods-heidense Jesus-gemeenskappe orals oor die res van Sirië, Klein-Asië en Griekeland gevestig word.
Maar saam met die begin van die Joods-heidense Christendom, kom meer as een probleem ter sprake.

Konflik
Daar is die kwessie oor dieet: die Jode het streng voorskrifte oor wat en wat nie geëet mag word nie, en watter soort kos nie gemeng mag word nie. Hierdie voorskrifte geld nie vir die heidene nie. Verder word Jode ook verbied om aan huis van iemand uit ‘n ander volk te kom en saam aan tafel te sit (vgl Hand 10:28). In einste Antiogië word hierdie probleem op die spits gedryf.
Sedert sy ervaring met Kornelius, het Petrus nie ‘n probleem met heidene gehad nie, en tydens sy besoek aan Antiogië, het hy lustig saam met nie-Joodse gelowiges geëet (vgl Gal 2:12). Maar toe daar van Jakobus se mense van die moedergemeente in Jerusalem opdaag, het hy skielik omgeswaai, en sy voorbeeld het die ander gelowiges – selfs Barnabas – ook laat veins (Gal 2:12-13). Vir Paulus is dit onaanvaarbaar, en hy berispe Petrus openlik daarvan dat hy hom aan dubbele standaarde skuldig maak – en dis die eerste herrie in die Christendom as twee groot kerkleiers van die jong geloof koppe stamp …
Maar dis nie al nie. Volgens die Wet van Moses moet alle manlike Jode besny word. Heidene is onbesnede. Sommige van die Joodse gelowiges het gereken dat hul heidenbroers nie gered kan word tensy hulle ook besny word nie. En in die Joods-heidense Christengemeenskappe het dit verwarring veroorsaak en onmin gesaai, soveel so dat ‘n vergadering in Jerusalem belê is om oor hierdie pynlike saak te beslis (Hand 15). Hierdie keer stem die kerkleiers saam. Jakobus, die leier van die gemeenskap in Jerusalem lewer die uitspraak: die besnydenis is nie vir die heidene ‘n voorvereiste nie, nogtans moet hulle hulle van alles weerhou wat deur afgode besoedel is – dit raak waarskynlik die eet van kos wat aan ‘n afgod geoffer is, en seksuele praktyke van die Grieks-Romeinse godsdiens.
Op die heel eerste Kerkvergadering in die geskiedenis van die Christendom, beslis die Joodse gelowiges in die heidene se guns: laat ons dit nie dit vir hulle onmenslik moeilik maak om die geloof te behou nie, en laat ons eise billik wees. Dis egter ‘n besluit tragiese gevolge vir die Joodse Christene het.

Die einde van die Joodse Christene
Hierdie beslissing is die begin van twee aparte ontwikkelinge binne die Joodse en heidense Christendom. Oor wesenlike aangeleenthede stem die twee groepe saam: die koms van die Koninkryk van God, die wederopstanding van die dode, en die imminente wederkoms van Christus – nog in hul leeftyd. Maar vir die Jode geld daar ander reëls as vir die heidene: besnydenis, dieet, onderhouding van die Joodse Sabbat, gereelde besoeke aan tempel of singagoge, waar hul mede-heidengelowiges nie toegelaat is nie.
Spoedig sou die twee groepe ook verskillende perspektiewe ontwikkel oor sekere gebruike wat later sakramente geword het. Die Joods-Christelike doop was oorspronklik ‘n ritueel van reiniging. Binne die heiden-Christelike gemeenskappe het dit ontwikkel tot ‘n mistieke deelname aan die dood, begrafnis en opstanding van Jesus. So ook het die Joodse Christene se gemeenskaplike maaltyd – ‘breek van die brood’ – die heiden-Christene se Nagmaal geword: ‘n sakramentele herlewing van die Laaste Avondmaal.
Die Joods-Christelike gemeenskap en die vroeë Jerusalem-kerk sou nie oorleef nie. Die verskillende gebruike, en verskillende perspektiewe op sake het nie net tot twee verskillende strome van ontwikkeling gelei nie, maar het ‘n toenemende anti-Joodse gesindheid en vyandskap by die heiden-Christene tot gevolg gehad. Volgens Melito, biskop van Sardis (oorlede 180 nC) is ‘ … God vermoor … deur die regterhand van Israel.’ Joodse Christene is duidelik nie meer welkom binne die kerk nie. Hulle staar een van twee keuses in die oog: om óf terug te keer na ‘n eg-Joodse geloof en gebruike, óf om alles wat Joods is te ontken en volledig binne die heiden-Christelike tradisie opgeneem te word.

 

Slot
Joodse Christendom, die moeder van die Christelike geloof, het nie oorleef nie. Die heiden-Christene het toenemend ander gebruike in die vinnig-groeiende geloof ingevoer wat die Christelike liturgiese jaar gestempel het: epifanie, vastyd, paasfees, pinkster, advent en kersfees – waarvan pase en kersfees sekerlik die hoogtepunte is. Paasfees word deur paashasies en paaseiers gestempel, en geen kersfees is volmaak sonder die kersboom nie.Die heidene het oorwin.
Jesus het gesterf, die Christendom het gekom.

[Hierdie teo-bydrae is gebaseer op ‘n artikel van Geza Vermes in BAR, November / Desember 2012, Vol 38 (6), ‘From Jewish to Gentile. How the Jesus Movement Became Christianity’, 53-58, 76 & 78.]

Share this / Deel hierdie: