‘n Figuur uit die grys verlede

Iemand het op ’n keer gesê dat ons die historiese Abraham nooit sal kan peil nie en daarom moet ons eerder op Abraham as gelowige mens let. Dit is darem ’n bietjie te maklik, maar aan die ander kant is daar ook geen manier om die historiese Abraham te kan ken of te rekonstrueer nie. Sedert die negentiende eeu het die mense ook van ‘geskiedenis’ se vlugvoetigheid bewus geword en soos Blenkinsopp dit in ’n onlangse publikasie ook bevestig, ‘Abraham’s relation to real history will continue to elude us’ . Hy verwys na die optimisme van die Baltimoreskool dat daar tog voldoende inligting bestaan ‘supporting the substantial historicity of the patriarchal tradition’ (Blenkinsopp 2015:2), maar helaas het veral die werk van Thompson (1974, 1978, 1987) en Van Seters (1978) gewys dat so iets nie moontlik is nie.

In Israel se geskiedenis was daar wel altyd die herinnering aan Abraham. Diana Edelmann en Ben Zvi wy ’n hele boek aan ‘herinnering’, veral ‘sosiale herinnering’ en wys daarop dat ’n groep altyd sekere dele van die geskiedenis vergeet en ander gebeure pertinent onthou. En volgens Ben Zvi was daar in die na-ballingskapse tyd ’n groep priesters, wat hy die ‘literati’ noem, ‘who were the only group in society competent to re-read time and again the repertoire of authoritative books held by the community at large (Ben Zvi 2013:4). Hulle het gesorg dat Israel nie hulle verlede vergeet nie; hulle het die verlede voortdurend geherinterpreteer en relevant vir hulle tyd gemaak. Abraham is ook so geherinterpreteer en dit is die rede waarom hy nie in die voeë van die geskiedenis weggebêre is nie en waarom hy oor die eeue relevant gebly het.

Waarom het Abraham dan relevant gebly? Anders gestel: waarom was hy so belangrik dat mense hom altyd onthou het, hom weer en weer in nuwe kontekste verinnerlik en geherinterpreteer het? Dit het met Israel se geskiedenis te make, maar ook met sy God. Abraham se geloof het vir mense in verskillende tye iets beteken. Veral na die ballingskap. In 538 vC het die eerste groep ballinge in Jerusalem aangeland en gewoonlik oorskat ons die geleentheid. Dit was nie ’n terugkeer na die vaderland van ouds en Jerusalem met mure, tempel en ’n paleis nie. Alles is deur die Babiloniërs in 586 vC vernietig en in 538 is hulle waarskynlik ook nie so goed deur hulle familie in Jerusalem ontvang nie. Trouens, die Jerusalemmers was nie so trots op hulle familie in die vreemde nie. Die mense wat die moeilike jare 597 en 586 tot 538 in Jerusalem oorleef het, het altyd gemeen hulle familie in Babilonië was die skuldiges wat al die ellende van die ballingskap veroorsaak het en nou hulle straf in ’n ver land uitdien. Volgens een denkrigting, wat ons ook in Deuteronomium raaklees, sou Israel die land verloor indien hulle ontrou aan God se gebooie sou word en dit is mos presies wat in 586 gebeur het: die ontroues het die land verloor en is as ballinge na Babilonië toe geneem (Blenkinsopp 2011:461-482).

Daar was ook iets anders wat die lewe moeilik gemaak het: hulle ‘land’ wat hulle na die ballingskap bewoon het. In 539 vC het het die Perse die Babiloniërs oorwin en dit was hulle wat die ballinge toegelaat het om na Jerusalem terug te gaan, hulle alles het nou verander. Hulle was ingeprop in ‘n gebied van twintig, dertig kilometer rondom Jerusalem in die provinsie van Jehud. Rondom hulle was ander nasies en Israel moes leer om met hulle of sommige van hulle saam te leef. Dit was nie so maklik nie en die mense van Jehud moes veel oor hulle identiteit gewonder het. Hulle wêreld was weg, of dan die ouwêreld waarvan hulle ouers hulle in ballingskap vertel het. Hulle was nou een van vele ander nasies en hoe moes hulle oor hulself dink? En hoe moes oor hierdie nuwe lewe nadink? (Frevel 673-678).

En dit was toe dat die geloofsgemeenskap Abraham, die figuur uit hulle vroeë geskiedenis opnuut ontdek het en hom vir hulle tyd en konteks nuut geherinterpreteer is. Abraham sou hulle help om oor hulself en hulle identiteit te praat. In die herinterpretasie van Abraham het hy as‘t ware verskillende betekenisse gekry. Een daarvan het met die teenwoordigheid van God te make. Die Abrahamverhaal is so geïnterpreteer en so oorvertel dat die na-ballingskapse geloofsgemeenskap iets van God se nabyheid kon ervaar.

Die bedreiging van beloftes en God se nabyheid

God se nabyheid kry as’t ware in dié gedeeltes gestalte waar die vervulling van die belofte uitbly. Anders gesê: God se nabyheid kry betekenis daar waar die belofte se vervulling ‘n probleem geword het. Tydens Abraham se diepste frustrasie omdat niks gebeur nie, is die nabyheid van God intens ervaar. ‘n Spaanse filosoof het op ‘n keer ‘dekadensie’ as ‘n lewensgevoel beskryf: die gevoel dat jou vandag minder is jou gister en dat jou môre minder as jou vandag sal wees. Miskien verwoord dié siening ook Abraham se lewensgevoel. Sy lewe het elke dag voortgesleur, sy frustrasievlakke was hoog, van die belofte se vervulling is niks gewaar nie en daarom vra hy op ‘n keer aan God, ‘wat kan U vir my doen (Gen 15: 2). God het hom ‘n nageslag en ‘n land beloof, maar sy daaglikse werklikhede het daarteen geskreeu. Niks het ‘n werklikheid geword nie! En tog was God altyd naby Hieronder volg ‘n paar voorbeelde van God se teenwoordigheid ten spyte van enorme frustrasie.

  • As dit byvoorbeeld lyk asof God teen Genesis 11 klaar is met die mens dan is dit nie so nie. God het weer begin en hierdie keer met ’n enkele familie wat by Tera en sy seun Abraham begin en deurloop tot by Isak, Jakob en die twaalf stamme van Israel. Abraham word geroep om na ’n ander land te trek, maar hy was skaars in die nuwe land toe hy besef dat dit aan die Kanaäniete behoort. Die land was hoegenaamd nie syne nie en dit sou ook nie binnekort aan hom behoort nie en dalk was Abraham teleurgesteld of ontnugter, maar skielik was God net daar en sy belofte bevestig: ‘Aan jou nageslag gee Ek hierdie land’. En die ervaring van God se nabyheid was so intens dat Abraham ‘daar ’n altaar gebou vir die Here wat aan hom verskyn het’ (Gen 12:4-8).
  • Hulle was skaars in die land toe moes hulle dit weer verlaat. Hongersnood het uitgebreek en Abraham-hulle moes die beloofde land verlaat en Egipte toe vlug. Hoe nader hulle aan Egipte gekom het hoe banger het Abraham egter geword. Die farao sou Sara vat en Abraham sou die vrou uit wie die nageslag gebore sou word, kwyt wees. Dit het toe nie gebeur nie want God was skielik net weer daar en het ingegryp: ‘Maar die Here het die farao en sy huis met swaar plae getref oor Sarai die vrou van Abram’ (Gen 12:17) en so het die Abrahamfamilie veilig uit Egipte gekom.
  • ‘n Volgende terugslag het egter gewag: terug in die beloofde land het Lot van sy oom en tante geskei. ‘n Groot slag vir Abraham want hy het dalk gemeen dat hy deur Lot sy nageslag sou kon bou, maar sy hoop is verydel. Ook die landbelofte is afeskaal want Lot het vir hom die beste deel van die land gevat. Mooi word dan vertel dat Lot skaars weg was, toe was God net daar en het het vir Abraham gesê: ‘Nadat Lot van Abram af weg is, het die Here vir Abram gesê: ,Kyk tog rond, kyk van hier af waar jy is, na die noorde en die suide, na die ooste en die weste. Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die stof van die aarde. As iemand die stof van die aarde kan tel, sal jou nageslag ook getel kan word. Trek nou deur die land, deur sy lengte en sy breedte, want Ek gee dit vir jou’. Weereens was die ontmoeting intens en weereen het Abraham ‘’n altaar vir die Here gebou’ (Gen 13:14-18).
  • Aan die begin van Genesis 15 klink Abraham baie moedeloos want niks het nog gebeur nie: ‘Toe sê Abram: ‘Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry. Abram het verder gesê: ‘U het nie vir my ’n nageslag gegee nie. ’n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees. Jahwe antwoord dan: ‘Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees … Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees … Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan … So baie sal jou nageslag wees’ (Gen 15:1-8).
  • Abraham twyfel nog steeds en sê: ‘Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?’. Dan sluit Jahwe ‘n ooreenkoms met hom: hy moes diere neem, dit middeldeursny en teenoormekaar sit. Dit was ‘n bekende rite by ‘n ooreenkoms: mense wat mekaar iets beloof het, het tussen sulke oopgesnyde diere geloop en daarmee is beklemtoon dat wie ontrou sou wees, sou soos hierdie opgesny kon word. En toe gebeur iets wonderlik. God ‘stap’ deur en nie Abraham nie: ‘En toe die son ondergegaan het en dit donker was, gaan daar skielik ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand, tussen die stukke vleis deur. Op daardie dag het die Here ’n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land …”’ (Gen 15:8-17).
  • In Genesis 16 staan die Abraham-Sara-Hagar-gebeure sentraal. Abraham en Sara is moedeloos en Sara doen die wonderlike voorstel: Abraham moet haar slavin, Hagar, neem en dan deur haar Sara se nageslag bou. Dit gebeur ook so, maar met ongelooflike spanning en lyding. Soveel so dat Hagar haar goed vat en loop. En dan is sy net weg dan is Jahwe se engel daar: ‘Die Engel van die Here het vir Hagar ontmoet by ’n fontein in die woestyn, die fontein langs die pad na Sur toe, en vir haar gevra: ‘Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?’. Toe antwoord sy: ‘Ek loop van my eienares Sarai af weg,’ en die Engel van die Here sê vir haar: ‘Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp jou aan haar gesag’ (Gen 16:6-9). En vir Hagar was die ontmoeting so intens dat God volgens haar ‘n God was wat sien: ‘Hagar het toe die Naam van die Here wat daar met haar gepraat het, aangeroep en gesê: “U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het”. Daarom word die fontein genoem Lagai-Roï-fontein. Die fontein is tussen Kades en Bered’ (Gen 16:13-14). Abraham en Sara wou God as’t ware help om die belofte van ‘n nageslag waar te maak, maar die poging het nie geslaag nie. Die kind van die belofte is toe nie gebore nie en tog was hy/hulle nie alleen nie want in die gebeure is ontdek dat God sien en dat Hy naby is.
  • En dan is daar die amper hartverskeurende verhaal in Genesis 21. Sara sê op ‘n dag dat Hagar en haar seun, Ismael, moet weggaan, maar Abraham wou nie. So iets sou hom weerloser maak en die belofte onder nog groter druk plaas. Dan is God net weer daar en sê hy moet dit aanvaar: ‘Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word. Tog sal Ek die seun van die slavin ’n nasie laat word, want hy is jou kind’. Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en ’n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf. Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder ’n doringbos neergesit en ’n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil. God het die kind hoor huil, en God het deur ‘n engel uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: ‘Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor. Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom ’n groot nasie laat word’. In dié krisis het Hagar ontdek dat God ook ‘n God is wat hoor want Hy het haar oë oopgemaak en sy het ’n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir Ismael gegee en die verhaal word dan mooi afgerond: ‘God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog. Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met ’n vrou uit Egipte laat trou’ (Gen 21: 8-21).
  • Die grootste bedreiging sou egter nog kom. Uiteindelik is Isak die seun van die belofte gebeure en toe kom die skokopdrag: ‘Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan … offer jou seun as brandoffer’ (Gen 22:2). Abraham het alle voorbereidings getref, maar toe dit lyk asof al die gebeure vanaf Genesis 12 op ‘n finale fiasko sou uitloop, sê God: ‘Los jou seun!’. En toe Abraham omkyk, staan daar ‘n skaapram magteloos met sy horings in ‘n bos en ‘n tragedie is afgeweer.

’n Abrahamteologie

Indien ’n mens teologie baie wyd verstaan, dui dit op woorde oor God en in die Abrahamverhaal is daar ’n spesifieke spreke oor God. Anders gestel: in die Abrahamverhaal en soos dit ook uit bogenoemde voorbeelde blyk, word op ’n baie spesifieke manier oor God gepraat en op enkele trekke van hierdie God word kortliks gewys: Hy laat Hom in die gewone dingetjies van elke dag ken: Hy verbind Hom aan die node en die behoeftes van gewone mense; Hy fokus op dit wat vir hulle belangrik is. God word ervaar as Iemand wat by mense teenwoordig is: Hy help diegene wat swak is en is by diegene wat moedeloos is. Verder is Hy onvoorwaardelik betrokke: Hy is sommer net daar en dit nogal sonder enige voorwaardes. Belangrik is dat daar geen vrees vir Hom bestaan nie: by die latere kultus was daar angs en vrees vir die numineuse God; in die aartsvaderverhale is nêrens van angs sprake nie. God is ook nie ‘n krygsgod nie: Hy help nie deur mag of geweld nie. Daar is ook nie die ongeduld met die ander gode nie: die slegs-een-god-aanbidding en die gevolglike ongeduld met die ander gode is tipies van die Jahweaanbidding van ‘n latere tyd.

In die lig van bogenoemde is dit interessant om te sien waarmee die aartsvaderverhale begin: die belofte van ‘n seun. Dit illustreer net die aard van El se ingrype: hy raak by mense se nood betrokke. Vir die voortbestaan van ‘n familie was seuns onontbeerlik: hulle het arbeidskrag beteken, hulle het die familie-ambag laat voortleef, hulle het die groep laat oorleef, hulle het hul ouers tot die einde versorg, hulle het die ouers se begrafnisreëlings getref, ensovoorts. Onvrugbaarheid van die vrou was dus ‘n verskriklike probleem met geweldige sosio-ekonomiese konsekwensies. El ken die vrese en die node van kleinmenswees en daarom beloof Hy aan Abraham ‘n seun.

Wat verder baie belangrik is, is dat Hy vir die vrou omgee. In die latere kultus is die vrou uitgesluit, maar in die aartsvaderverhale is sy belangrik: sy kry as’t ware deel aan die ervaring met God; sy is deel van God se heilshandelinge met die ganse Israel. So help El vir Sarai as sy in nood is by die koning (Gen 12:10-20); maak Hy haar die onmisbare skakel by die geboorte van die beloofde kind en die daaropvolgende geslagte. So keer Hy Hagar voor (Gen 15:7-14) en help haar in die woestyn (Gen 21:8-21 ). Selfs ‘n kind funksioneer in hierdie teologie: as die kind in die woestyn huil, hoor God hom (Gen 21:17) en as een se pa hom wil doodmaak, gryp Hy in (Gen 22:1-14). Op die aartsvadertyd volg die Egiptiese gevangenskap. Omdat die konteks radikaal verander het, is anders oor God begin praat. Dis nie meer die tyd van die Abraham-God nie, maar van die groot groep en politieke bevryding.

Bronnelys

  • Albertz, R., 1992, Religionsgeschichte Israels in alttestamentlicher Zeit, Vol 1, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
  • Albertz, R., 2001, Die Exilszeit: 6. Jahrhundert v. Chr., W. Kohlhammer, Stuttgart.
  • Ben Zvi, E., 2013, ‘The memory of Abraham in Late Persian/ Early Hellenistic Yehud/ Judah’, in V. E. Edelman & E. Ben Zvi, Remembering Biblical figures in the late Persian and the early Hellenistic periods, pp. 3-37, Oxford Press, Oxford.
  • Blenkinsopp, J., 2011, ‘Judaens, Jews, Children of Abraham’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judaeans in the Achaemenid period, pp. 461-482, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • De Pury, A., 2000, ‘Abraham: The Priestly Writer’s “Ecumenical” Ancestor’, in S. L. McKenzie and T. Römer (eds), Rethinking the Foundations: Historiography in the ancient world and the Bible, pp. 163-181, Walter de Gruyter, Berlin.
  • Frevel, C., ‘Grundriss der Geschichte Israels’, in E. Zenger (ed.), Einleitung in das Alte Testament, Kohlhammer, Stuttgart.
  • Gerstenberger, E. S., 2005, Israel in der Perserzeit, W. Kohlhammer, Stuttgart.
  • Hagendorn, A. C., 2011, ‘The absent presence: Cultural responses to Persian presence in the Eastern Mediterranean’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid period, pp. 39-66, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • Köckert, M., 1988, Vätergott und Väterverheissungen, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
  • Köckert, M., 2013, ‘Vom “Urgestein” der Väterüberlieferung zum “theologischen Programmtext” der späten Perserzeit’, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft, 125(1), 25-48.
  • Levin, C., 2013, ‘Jahwe und Abraham im Dialog: Genesis 15’, in C. Levin Gesammelte Studien zum Alten Testament, Vol 2, pp.80-102, Walter De Gruyter, Berlin.
  • Mühling, A., 2011, Blickt auf Abraham, euren Vater, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
  • Otto, E., 1997, ‘Forschungen zu Priesterschrift’, Theologische Rundschau, 62, 1997, 1-50.
  • Römer, T. & Brettler, M.Z., 2000, ‘Deuteronomy 34 and the Case for a Persian Hexateuch’, Journal of Biblical Literature, 119 (3), 401–419.
  • Römer, T., 1989, ‘Genesis 15 und Genesis 17’, DBAT, 26, 32-49.
  • Schaper, J., 2011, ‘Torah and identity in the Persian Period’, in O. Lipschits, G. N. Knoppers & M. Oeming (eds.), Judah and the Judeans in the Achaemenid period, pp. 27-38, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana.
  • Thompson, T L ,1987. The origin tradition of ancient Israel. Sheffield: JSOT.
  • Thompson, T L 1974. The historicity of the patriarchal narratives. Berlin: Walter de Gruyter. ????1978
  • Thompson, T L, The background of the patriarchs. JSOT 9, 2-43.
  • Van Seters, J, 1978. Abraham in History and Tradition, Yale University Press, New Haven.
  • Ziemer, B., 2005, Abram–Abraham, Walter de Gruyter, Berlin.
  • Ziemer, B., 2013, ‘Die aktuelle Diskussion zur Redaktionsgeschichte des Pentateuch und empirische Evidenz nach Qumran’, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaf 125(3)3, 386–388.
  • Zimmerli, W., 1979, Ezekiel, Vol 1, Fortress Press, Philadelphia.
Share this / Deel hierdie: