Inleiding

Die volk Israel waarvan die Hebreeuse Bybel vertel, was een van meerdere volke in die ou Nabye Ooste, soos die Assiriërs, die Babiloniërs en die Egiptenaars. Alhoewel die tydperk van Dawid en Salomo as ‘n ‘goue eeu’ in Israel se geskiedenis voorgestel word, was Israel in werklikheid nooit ‘n wêreldmoondheid soos enige van hierdie groot volke nie. Inteendeel, die hele geskiedenis het uiteindelik op ‘n katastrofe geëindig: die Babiloniese ballingskap. Nogtans het Israel se godsdiens oorleef terwyl die magtige nasies se gode tot niet gegaan het. Hierdie teo-artikel gaan kyk wat het in Israel se godsdiens gelê wat dit anders as dié van die nasies gemaak het, en hoe dit in die Hebreeuse Bybel, ons Ou Testament, neerslag gevind het.

Monoteїsme en moraal?

Verskeie redes word vir Israel se religieuse voortbestaan aan die hand gedoen. Een daarvan word in ‘n soort ‘evolusionêre’ verduideliking gevind. Daar word gesê ons moet onthou dat Israel se religie monoteïsties van aard was, dit wil sê, Israel het een God alleen aanbid. Die res van die nasies het ‘n politeïstiese religie beoefen waar hulle meerdere gode en godinne aanbid het. Monoteïsme is kenmerkend van moderne samelewings, terwyl politeïsme tipies van antieke samelewings is. Met ander woorde, dis min of meer vanselfsprekend dat politeïsme mettertyd deur monoteïsme vervang sal word.

So ‘n siening is egter oorvereenvoudig en kan nie summier aanvaar word nie. Die belangrikste bewys hiervan die voortbestaan van Hindoeïsme, ‘n politeïstiese religie wat sy wortels diep in die antieke tyd het – geskrewe tekste kan terug na 1700 vC dateer word, maar die bestaan van Hindoeïsme as religie is na alle waarskynlikheid veel ouer (Krüger, Lubbe & Steyn 2009:63). Onder Hindoes is daar hoogs bekwame geleerdes is allerlei vakrigtings, daarom kan ‘n mens nie aanneem dat politeïsme slegs tot antieke samelewings beperk moet wees nie.

Vervolgens is daar die argument van die ‘morele aard’ van Israel se God en godsdiens wat met die ‘immorele optrede’ van die gode van die ander nasies gekontrasteer word. Dit lyk na ‘n aanvaarbare verduideliking, veral as ‘n mens na die seksuele eskapades van die Griekse gode en godinne soos Zeus, Apollo, Afrodite en andere kyk. Die probleem met hierdie verklaring is dat die antieke wêreld se verstaan van ‘moraliteit’ heel anders was as wat ons vandag daaroor dink (Otto 2007:84-86). ‘Moreel’ was enigiets wat tot voordeel van die groep gestrek het. ‘n Morele handeling het niks met ‘n persoonlike gewete, integriteit of seksuele sedelikheid te make gehad nie, moraliteit was ‘n groepsbesef en het betrekking gehad op gedagtes, woorde en dade wat die belange van die groep ondersteun en bevorder het. Om Israel se godsdiens as ‘moreel’ te bestempel en daarmee ‘n hedendaagse Westerse konsep van ‘moreel’ in gedagte te hê, is ook nie heeltemal korrek nie.

Tekste en geskiedenis?

Die redes vir die voortbestaan van Israel se God en godsdiens moet op ‘n ander plek gesoek word, en dit is in die katastrofe, die rampspoedige gebeure van die ballingskap. Juis die gebeure wat Israel se godsdiens en Israel se God moes vernietig het, het daartoe aanleiding gegee dat albei oorleef het. Hoe het dit gebeur?

Die nederlaag van die volk begin pas na koning Salomo se afsterwe en die skeuring van die Ryk. Israel se twaalf stamme verdeel in twee afsonderlike koninkryke: tien stamme vorm die Noordryk wat Israel genoem word, en die twee oorblywende stamme, Juda en Benjamin vorm die Suidryk, die koninkryk van Juda. In 721 vC val die Noordryk onder die Assiriërs, en in die Hebreeuse Bybel word daar nooit weer van hulle vertel nie. Die koninkryk van Juda, die Suidryk, oorleef vir min of meer ‘n eeu en ‘n half daarna. Hulle vind troos en die versekering van hul voortbestaan in drie belangrike simbole van nasionale identiteit: die stad Jerusalem, die tempel op die berg Sion, en die feit dat daar sedert koning Dawid nog altyd een van sy afstammelinge op die troon gesit het (vgl Le Roux 1987:104; Albertz 1994:376; Gerstenberger 2005:133; Römer 2007:111; Lau 2011:176).

Met die opkoms van die neo-Babiloniese Ryk, begin sake vir Juda egter skeefloop. Koning Nebukadneser van Babilonië loods nie slegs een nie, maar twee aanvalle op Jerusalem, eers in 597 vC en toe in 587/6 vC (vgl Le Roux 1987: 117; Albertz 1994:369; Scheffler 2001:133). Die koning en ander politieke en godsdienstige leiers, wat nie om die lewe gebring word nie, word as ballinge na Babel toe weggevoer. Die stad Jerusalem word in puin gelê. Die tempel word verwoes en die kosbare religieuse objekte binne-in word as trofeë deur die vyand weggedra (kyk 2 Konings 25). Met ander woorde, die volk het alle troos, sekuriteit en identiteit verloor. Roerend word die situasie in Psalm 137 beskryf: ‘By die riviere van Babel het ons gesit en ween as ons aan Sion dink . . .’ Die ballinge was ver van Jerusalem, ver van die tempel op Sion, nog erger, hulle was ver van JHWH, hul God. Die hele geskiedenis van Israel moes eintlik net hier tot ‘n rampspoedige einde gekom het.

Ironies genoeg was dit nie die einde nie, maar ‘n nuwe begin. In die donkerste tyd van Israel se geskiedenis het ‘n klein saadjie ontkiem, wortel geskiet en spoedig begin groei. Die geleerdes wat in ballingskap gegaan het, het met etlike vrae geworstel. Op die een of ander wyse moes hulle probeer om sin uit die katastrofe te maak. Waarom het die ramp plaasgevind? het hulle gevra. Waarom het JHWH toegelaat dat die Babiloniërs die oorwinning behaal?

Die volke in die antieke wêreld het twee sieninge oor die wen of verloor van ‘n oorlog gehad. As ‘n volk die oorlog verloor het, kon dit enersyds beteken dat die gode van daardie volk nie sterk genoeg was om hul mense te beskerm nie. Dit kon egter ook beteken dat die mense iets gedoen het waarvan die gode nie gehou het nie en hulle daarom doelbewus in die hande van die vyand oorgegee het. Die geleerdes onder die ballinge het in hierdie laasgenoemde argument ‘n antwoord vir die oorsaak van die ballingskap gevind: die volk was ontrou aan JHWH, en daarom het Hy hulle aan die Babiloniërs uitgelewer.

Die belangrikste was dus dat die verhouding met JHWH reggestel word. Voor die ballingskap het die tempel en die kultus ‘n belangrike rol gespeel. As ‘n mens, of selfs die hele volk gesondig het, kon die verhouding met JHWH deur middel van offers by die tempel herstel word. As gevolg van die ballingskap was dit egter nie moontlik nie, en die geleerdes het gevra, hoe kon die gebroke verhouding met JHWH reggestel word daar nie meer ‘n tempel is nie, en ‘n groot gedeelte van die bevolking buitendien ver weg van die land is? Hoe kon JHWH weg van die tempel en sonder die kultus gedien en aanbid word?

Om antwoorde op hierdie vrae te kry, het die geleerdes tydens die ballingskap begin skryf. Hulle het neergeskryf wat JHWH van hulle verwag, en wat hulle moes doen om Hom te behaag. Hulle het ook geskryf van die volk wat JHWH se wil verontagsaam het en ander gode begin dien het. Hulle het vertel van JHWH se trou en die volk se ontrou. Die geskiedenis, het hulle gesê, bewys JHWH as troue Verbondsgod en as Redder. In die verlede het Hy sy volk deur sy magtige dade verlos, daarom kan hulle in moeilike tye aan sy beloftes vashou en hoop vir die toekoms skep.    

Twee dinge is belangrik. In die eerste plek het dit tydens die ballingskap duidelik geword dat literêre eksegese die wyse van toewyding aan die kultus en aan JHWH kon word (Leuchter 2010:51). Dit was dus moontlik om JHWH weg van die tempel en buite die kultus te dien. So het Israel se godsdiens ‘n religie van die geskrewe teks geword, tekste wat Römer (2007:181) as ‘n ‘draagbare vaderland’ beskryf. Tweedens het JHWH Homself as ‘n God van die geskiedenis openbaar. Hy was by die geskiedenis van sy volk betrokke en nie aan die kultus gebonde nie. Die tempel en die kultus het nie verdwyn nie: ná die ballingskap is die tempel herbou en het die priesters ‘n belangrike rol in die politieke en religieuse lewe van die gemeenskap gespeel. JHWH was egter nie aan die tempel en kultus vasgemaak nie. Deur middel van tekste is sy wil bekend gemaak, is Hy geopenbaar as ‘n God van die geskiedenis en was dit moontlik om Hom op enige plek in die bekende wêreld te dien.

Slot

So was die God van Israel anders as die gode van die nasies. Hy was ‘n God wat Homself deur die teks (woord) en deur die geskiedenis laat ken het. Die teks was ook nie vir eens en vir altyd vas en onveranderlik nie. Vandag is geleerdes betreklik eens daaroor dat die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Bybel, die Pentateug, die wettiese sowel as die narratiewe tekste, alreeds in die ballingskap gestalte begin aanneem het (Carr 3007:48-49). Hierdie eerste tekste was egter hoegenaamd nie in die finale vorm soos wat ons dit vandag in die Ou Testament sien nie – ons moet ook onthou dat die meeste tekste tydens die posteksiliese tydperk, ná die ballingskap ‘n verdere ontwikkeling (Fortschreibung) ondergaan het. Bestaande tekste is gelees, geïnterpreteer en vir nuwe situasies herinterpreteer wat weer aanleiding tot die skryf van nuwe tekste gegee het.

Nóg woord, nóg JHWH is aan ‘n enkele plek of gegewe situasie verbonde. Die teks is lewend, en die God van Wie daar in die teks vertel word, is ‘n lewende God. Daarom kon Israel se godsdiens oorleef.

Bibliografie

  • Albertz, R 1994. A History of Israelite Religion in the Old Testament Period. Volume II: From the Exile to the Maccabees. Vertaal deur J Bowden. London: SCM Press.
  • Carr, DM 2007. ‘The Rise of Torah.’ Paginae 39-65 in Knoppers, GN & Levinson, BM (red), The Pentateuch as Torah. New Models for Uniderstanding its Promulgation and Acceptance. Winona Lake: Eisenbrauns.
  • Gerstenberger, ES 2005. Israel in der Perserzeit 5. Und 4. Jahrhundert v Chr. Stuttgart:
  • Krüger, JS, Lubbe, GJA & Steyn, HC 2009. The human search for meaning. A multireligion introduction to the religions of humankind. Pretoria: Van Schaik Publishers.
  • Lau, PHW 2011. Identity and Ethics in the Book of Ruth. A Social Identity Approach. Berlin: De Gruyter.
  • Le Roux, JH 1987. ‘Teologie in ‘n krisis.’ Paginae 101-159 in Deist, FE & Le Roux, JH (red), Rewolusie en Reïnterpretasie. Die Literatuur van die Ou Testament. Deel 4. Kaapstad: Tafelberg.
  • Leuchter, M 2010. ‘Coming to terms with Ezra’s Many Identities in Ezra-Nehemiah.’ Paginae 41-63 in Jonker, L (red), History and Identity (Re)formulation in Second Temple Historiographical Literature. London: T&T Clark International.
  • Otto, E 2007. ‘Law and Ethics’. Paginae 84-97 in Johnstone, SI (red), Ancient Religions. The Belknap Press of Harvard University Press: Cambridge Massachusetts.
  • Römer, T 2007. The So-Called Deuteronomistic History. London: T&T Clark.
  • Scheffler, E 2001. Politics in Ancient Israel. Pretoria: Biblia Publishers.
Share this / Deel hierdie: