Inleiding

Paulus gaan toe in die middel van die Areopagus staan en sê: ‘Ateners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is …’ (Hand 17:22). Hoe lyk hierdie godsdienstige landskap, die religieuse smeltkroes waarin Paulus homself bevind? Hierdie teo-bydrae ondersoek die religie van die Grieke en die verskillende elemente wat moontlik in die Christendom van die Nuwe Testament kon deurgesyfer het.

Die gode van Olimpus … is eintlik maar mense

Homeros, die eerste en grootste van die Griekse epiese digters, het ons aan die gode van Olimpus voorgestel. Wanneer hy geleef het, kan nie met sekerheid bepaal word nie, en of hy ooit geleef het, word deesdae sterk in twyfel getrek. Maar, volgens oorlewering het hierdie blinde rondreisende kunstenaar gehore aan sy lippe laat hang met vertellings van vervloë dae – die hoogbloei van antieke Griekeland. Volgens Homeros was daar twaalf gode wat op die berg Olimpus gebly het:

Zeus – die hoofgod, die god van donder en bliksem. Ook bekend vir sy seksuele eskapades met godinne sowel as sterflike mense;

Hera – beskermgodin van vroue en die huwelik – en uiters jaloers en agterdogtig oor Zeus se manewales;

Hestia – godin van huis en haard. Sy hou daagliks die vuur in die kombuis aan die brand;

Poseidon – die seegod met die woeste donkerblou hare. Wanneer hy in ‘n goeie bui was, het hy gesorg dat die see kalm was en dat skepe sonder probleme die oseaan kon oorsteek. Maar as hy hom om watter rede ookal vererg het, het hy met sy drie-tang-vurk op die aarde gekap, en dan was daar storms, aardbewings, vulkaniese uitbarstings. Mense het hom bewonder, en gevrees;

Aphrodite – die heel mooiste van alle godinne, godin van liefde en erotiek;

Hephaestos – die smid en die vakman. Hy was lelik en lam. Omdat al die gode so om die hand van Aphrodite baklei het, het Zeus besluit om haar as vrou vir Hephaestos te gee. Dit het nie gewerk nie. Aphrodite was nie met haar onaansienlike man beïndruk nie. Hy het haar guns probeer wen deur vir haar die mooiste juwele te maak, maar dit het haar net nog mooier en meer begeerlik vir die ander gode gemaak, en net nog meer probleme op Olimpus veroorsaak;

Ares – die god van oorlog. Aphrodite vind Ares meer aantreklik as Hepahestos en ‘n vurige liefdesverhouding ontstaan tussen die twee. Hephaestos vervaardig ‘n onsigbare en onbreekbare net waarin hy die twee een nag in ‘n amoreuse posisie vastrek, en tot groot vermaak van die ander gode op die spits van Olimpus ontbloot;

Atena – godin van wysheid, oorlog, kuns en letterkunde. Atena is ‘n maagdelike godin; Hermes – die boodskapper van die gode met sy gevleuelde sandale;

Apollo – god van musiek, geneeskunde, lig en waarheid. Paradoksaal genoeg, is Apollo nie al te vroom nie, altans, nie soos wat ons dit vandag graag sou wou hê nie. Hy is bekend vir meingvuldige seksuele verhoudinge – heteroseksueel, sowel as homoseksueel;

Artemis – Apollo se tweelingsuster, ook bekend as die Romeinse Diana, godin van die jag. Artemis is ook ‘n maagdelike godin. Demeter – die godin van graansoorte en verskillende gewasse. Sy het ‘n dogter by Zeus,

Persephone, maar Persephone bly net sommige maande van die jaar op Olimpus.

Dan was daar nog ‘n god Hades. Alhoewel hy ook deel van Zeus se familie was, het hy nie op Olimpus gebly nie – hy was die god van die onderwêreld. Hy was nie ‘n bose god nie. Hy het net sy werk gedoen. Hy was die heerser van die onderwêreld en verantwoordelik vir die geeste van die gestorwenes – veral om te sorg dat hulle nie na die land van die lewendes ontsnap nie.

Homeros se voorstelling van die gode dateer heel waarskynlik nie uit Griekeland se verre verlede nie, maar is eerder gebaseer op die leefwêreld van sy eie tyd – spesifiek die wêreld van die adel en die elite. Zeus en die res van sy godefamilie lewe as’t ware in die paleis van Olimpus. Hulle konkel onderling en allerlei verhoudinge ontwikkel: liefde, wellus, haat, jaloesie, en stryd om mag is aan die orde van die dag. Gode het soos mense gelyk en soos mense gemaak, goddelike intriges was eintlik maar ‘n gedramatiseerdee weerspieëling van die politieke en sosiale verhoudinge van die adel en elite van die tyd. Die enigste verskil tussen die mense en die gode, was dat die gode onsterflik was. Met ander woorde, die tema van die dood is nie deur die gode van Olimpus aangespreek nie.

Die gewone landelike bevolking, die boere, kon nie werklik aanklank by hierdie aristokratiese godewêreld vind nie. Hulle het naby aan die natuur gelewe en tot en met die hoogbloei van die stedelike kultuur – die ‘polis’ – het hulle waarskynlik ‘n animistiese of dunamistiese tipe religie beoefen. Die adel van die tyd kon wel ‘n mate van ‘onsterflikheid’ bereik as hulle grootse heldedade verrig het. Helde is ná hul dood vereer, hulle het hul eie kultus gehad en is ook as ‘tweedeklas gode’ bestempel; wanneer die gewone mense gesterf het, het hulle die skaduryk van Hades betreë waar omdraaikans nie moontlik was nie.

Religie van die polis … sorg vir kompetisie en vermaak

‘n Mens moenie die fout maak om klassieke Griekeland op dieselfde wyse voor te stel as Hellenistiese Griekeland sedert die tyd van Alexander die Grote nie (ca 333 vC). Alhoewel die Grieke op die moederland, die klein eilandjies en ook die nedersettings elders rondom die Middellandse See en Swartsee dieselfde taal gepraat het en dieselfde gode vereer het, was daar nooit sprake van ‘n verenigde ‘Griekeland’ nie. Veral sedert die sewende eeu vC word die ‘polis’ die kenmerk van die Griekse kultuur. Orals het verstedeliking toegeneem en so het letterlik honderde groter of kleiner stadstate ontstaan, elk met ‘n eie wetgewing, feeskalender, gode, kultus en kultiese personeel. So ‘n stadstaat het as ‘n ‘polis’ bekend gestaan. Elke polis was ‘n individuele politieke eenheid; al wat die stede in gemeen gehad het, was taal en religie, maar laasgenoemde het ook ‘n verandering ondergaan. Alhoewel die belangrike Olimpiese gode steeds vereer is, het ‘n aantal ander gode ook op die toneel verskyn, want elke polis het sy eie beskermgod of –godin gehad, waarvan Atene waarskynlik die bekendste is. Die belangrikste is dat religie ‘n saak van die staat geword het.

Gedurende hierdie polis-tydperk word religieuse feeskalenders besonder belangrik. Feitlik elke dag is daar een of ander fees ter ere van die een van die beskermgode of –godinne gevier met musiek, sport en spele, of dramatiese opvoerings. Die werklike aard van hierdie feesvieringe kan egter die beste in die Pan-ateense spele gesien word: die religieuse feeste wat sedert ongeveer 500 vC ter ere van die godin Atena in die stad Atene gevier is. Die groot tempel op die Akropolis het minder van ‘n religieuse betekenis gehad; veel eerder was dit ‘n vertoonvenster vir die grootsheid van die polis. Musiek, drama en spele was ‘n wedstryd tussen die deelnemers waar die wenner vereer is en verskeie pryse ontvang het. Vir diegene was die fees bygewoon het, was alles ‘n vermaaklike skouspel, en boonop kon ‘n mens op die koste van die staat eet en drink – offers wat vir die godin bedoel was, was inderdaad eerder deur die publiek verorber! Met ander woorde, die hoogtepunt van die fees was nie die kultuurhandelinge ter ere van Atena nie, maar ‘n kompetisie tussen musici, digters, akteurs en sportlui. Die religie van die polis was ‘n religie sonder diepte.

Misterie-kultusse … goddelike nabyheid

Dit lyk asof die Grieke se godsdiens en godsdienstige praktyke betreklik oppervlakkig was. Die Olimpiese gode was al te veel soos mense en as ‘n mens na die mites kyk, het hulle meestal onsedelik gelewe en immoreel opgetree. Die religie van die polis en het om wedywering en vermaak gegaan. Daar was egter ook ‘n ander kant van die Griekse religie wat tesame met die amptelike godsdiens beofen is, en dit was die sogenaamde misterie-kultusse. By baie van die Grieke, ook die vooraanstaande mense, was daar ‘n soeke na diepte, na die seën, die troos en die geborgenheid wat in die nabyheid van die goddelike gevind kan word. Hierdie behoefte is deur die misterie-kultusse vervul. Die amptelike godsdiens van Olimpus en die polis-religie staan nie teenoor mekaar nie; die misterie-kultusse betrek ook die Olimpiese gode en gaan ook met feesviering gepaard, maar tog is daar ‘n belangrike verskil. Almal het deel gehad aan die amptelike religie; maar slegs dié wat deur inisiasie in die kultus ingewy is, kon daaraan deelneem. Die bekendste van die misterie-kultusse onder die Grieke, is waarskynlik die Eleusiniese misterieë wat moontlik so ver terug as ongeveer 1500 vC dateer.

Die Eleusiniese misterieë … Hades, Demeter en Persephone

Eleusis is die godin Demeter se kultus-stad, nie ver van Atene nie, en die twee stede word met ‘n heilige straat aan mekaar verbind. Demeter is een van Olimpus se godinne, en een van die vroegste godinne wat deur die Grieke vereer is: sy was die godin van vrugbaarheid, landbou en verskillende graangewasse. Die basis van die Eleusiniese misterieë wat in Eleusis gevier is, kan in die mitologiese gebeure rondom Demeter, haar dogter Persephone (verwek deur Zeus), en Hades, die god van die onderwêreld gevind word.

Demeter en Persephone het ‘n besonder hegte moeder-dogter verhouding. Op ‘n mooi sonnige dag is Persephone besig om blommetjies te pluk, en vanuit die donker onderwêreld, gewaar Hades die beeldskone jong godin. Oorrompel deur sy begeerte na haar, bars hy uit die dieptes van die aarde met ‘n oëverblindende goue koets en vier van die swartste van alle swart perde, en ontvoer die niksvermoedende Persephone na die onderwêreld om daar as sy wederhelf, sy koningin van sy ryk te troon.

Dag en nag soek Demeter na haar dogter, maar tevergeefs. Uiteindelik onttrek sy haar in haar droefheid na Eleusis, waar sy weg van die wêreld, maar ook weg van haar werk is. Terwyl Demeter oor Persephone treur, ontkiem geen saad nie, en groei niks meer op aarde nie. Die wêreld staan in die ysige greep van winter. Helios, die songod wat alles weet en sien, vertel uiteindelik vir Demeter wat gebeur het, maar dit troos haar nie. Die ander gode raak ook bekommerd; behalwe dat die mense niks het om te eet nie, is daar ook niks om aan die gode te offer nie. Die gode ly ook skade.

Zeus gryp uiteindelik in. Hy oorreed vir Hades om Persephone vir ‘n tydjie lank terug na haar moeder toe te laat gaan, en hy stuur vir Hermes, die boodskapper van die gode om haar te gaan haal. In sommige mites speel die granaat ‘n belangrike rol in Persephone se terugkeer na die aarde toe. Sy was net so hartseer soos haar moeder oor die skeiding, en het sedert haar aankoms in die onderwêreld niks geëet of gedrink nie. Toe sy hoor dat Hermes oppad is om haar te kom haal, flikker haar gemoed op. Hades sien dit, en bedink ‘n slinkse plan. Hy bied vir haar ‘n paar sade van ‘n granaat aan, maar wat Persephone nie weet nie, is dat die sade van die vrug wat sy eet, uiteindelik die aantal maande sal bepaal wat sy na die onderwêreld toe moet terugkeer. Sommige mites vertel van drie, ander van vier sade wat die arme godin geëet het. Nietemin, die mite van Demeter, Persephone en Hades is ‘n baie ou mite wat die wisseling van die seisoene verduidelik: dis ‘n vrugbaarheidsmite wat sy oorsprong in die landbou het, die afsterf en opbloei in die natuur, en die ritme van saai en oes verklaar, en wat waarskynlik die basis van die Eleusiniese misterieë vorm.

Die probleem is egter dat diegene wat in die Eleusiniese misterieë ingewy is, streng verplig is om te swyg. Daarom weet ons tot vandag toe niks van die detail van hierdie misterie-vieringe nie. Ons weet nie hoe die ingewydes geïnisieer is nie, ons weet ook nie presies wat en hoe hulle geglo het nie. Volgens die skrywers van die tyd, blyk dit egter dat deelname aan die kultus ‘n positiewe belewenis was. Waarskynlik hou dit eerstens verband met ‘n positiewe verwagting van die hede. Alhoewel die natuur aan verganklikheid onderworpe is, is daar altyd weer die ontwaking van ‘n nuwe lewe. Wanneer Persephone na haar moeder toe terugkeer, breek die lente aan, en die natuur begin opnuut weer lewe. Tweedens spreek die mite van Demeter en Persephone ook die tema van die dood aan – wat by die res van die Olimpiese gode afwesig was. Uit hierdie mite ontwikkel ‘n perspektief op ‘n aanloklike lewe na die dood: iets het dit moontlik gemaak dat Persephone uit die doderyk van Hades na die onsterflike wêreld van die gode van Olimpus kon terugkeer. Juis die gedagte aan ‘n positiewe lewe na die dood was een van die grootste aantrekkingskragte van die misterie-kultusse, en het meer troos gebied as die vooruitsig op die treurige en ewige verblyf in die koninkryk van Hades.

Ekstase en entoesiasme … die god is in my

Die Olimpiese gode was nie ten nouste by die wel en weë van mense betrokke nie, en moes voortdurend met offers gepaai word om hul guns te wen. In die amptelike religie van die polis was die gode ‘n verskoning vir fees en vermaak. In die misterie-kultusse, soos byvoorbeeld in die Eleusiniese kultus, was dit egter anders. Kenmerkende komponente van die misterie-kultusse was ekstase en entoesiasme. Die woord ‘ekstatikos’ beteken om ‘uit jouself weg’ te wees, en ‘entoesiasme’ is afgelei van die Griekse ‘en + theou’, dit is, om ‘in god’ te wees. In die misterie-kultusse het die ingewydes, onder die leiding van ‘n priester, rituele uitgevoer waar hulle hul eie liggame verlaat het, en waar die god of godin van hulle besit geneem het. Onbeheerste, bykans waansinnige gedrag en onverstaanbare brabbeltaal het bevestig dat mens en god mekaar op ‘n intieme en intense wyse ontmoet het, en dikwels is daar ook getuig dat die god of godin persoonlik verskyn het.

‘n Belangrike verskil tussen die amptelike – en misterie-kultusse was die kultiese plek van ontmoeting tussen mens en gode. Amptelik het hierdie ontmoeting by die tempel van die godheid plaasgevind. Slegs die priesters kon egter die allerheiligste betree waar die standbeel van die god of gedin gehuisves is. Die gewone mense moes buite die tempel wag waar die priester die een was wat kultiese handelinge votrek het en die offers gebring het. Wat die misterie-kultusse betref, het al die gelowiges in ‘n geslote ruimte bymekaar gekom. In Eleusis was daar die sogenaamde Telestorion, ‘n groot saal wat nagenoeg 3000 mense kon akkommodeer. Deur middel van ekstase en entoesiasme kon hulle direkte toegang vind tot die godin wat ook daar teenwoordig was.

Hellenisme … die keiser is ‘n god

Die oorgang tot die Hellenisme wat sy bloeityd in die tyd van Alexander die Grote bereik het, het reeds ‘n eeu of so vantevore aangebreek met die verering van die Spartaanse generaal Lysandros (405 vC) wat op dieselfde vlak as Zeus en Apollo vereer is. Hierdie verering was anders as die helde-kultus waar gestorwe helde vereer is. Lysandros is vereer terwyl hy nog geleef het, en hy is as ‘n god gesien. Dit was die begin waar die streng onderskeid tussen mense en gode opgehef is.

Alexander self het sy irrasionele optrede as ‘goddelik’ beskryf en homself die seun van Zeus genoem. Daar is gesê dat sy moeder, Olimpias ‘n maagd was, maar deur ‘n wonderwerk het Zeus haar bevrug en sy het swanger geword, en aan Alexander geboorte geskenk. Die verering van die Hellenistiese heerders het ook politieke gronde gehad; onderlinge intriges en komplotte het dikwels veroorsaak dat hul mag wankelrig was. As hulle egter op goddelike afkoms aanspraak kon maak, het dit hul aansien aansienlik versterk.

Namate Griekse oorheersing uitgebrei het, het die Hellenistiese heersers ook onder die invloed gekom van die ou Nabye Ooste waar dit nie ongewoon was dat konings ‘n goddelike vader of moeder gehad het nie; en in Egipte was die farao tradisioneel as ‘n god gereken. As die Hellenistiese heerser gerespekteer wou word, moes hy of sy (in Kleopatra se geval) by die religie van die omgewing aansluit.

Teenoor die strak en onpersoonlike religie van Olimpus en die polis, het die heerserskultuur, net soos die misterie-kultusse ‘n leemte in die religieuse vakuum gevul. Die heerser was ‘n sigbare en lewende god, nie ‘n klipbeeld soos die gode in die tempels nie, maar iemand van vlees en bloed. Maar, net soos in die geval van die Olimpiese gode, was daar ‘n afstand tussen die keiser-god en die gewone mens. Die heerser, alhoewel hy gesien kon word, was hy anders. Daarom sou die misterie-kultusse nooit hul gewildheid verloor nie, en het bly voorbestaan tot bykans die vierde eeu nC, toe die Christendom deur keiser Konstantyn die Grote tot die amptelike godsdiens van die Heilige Romeinse Ryk verklaar is.

Slot

Paulus het die Griekse gode as ‘daemonio’ beskryf – wat eenvoudig ‘gode’ beteken, maar hy het daaraan ‘n negatiewe betekenis toegeken: minderwaardige, of selfs vals gode. Die verhale oor die Griekse gode was ‘muthos’, mites; daarteenoor het Jesus Christus as die ‘logos’, die ware Woord gekom. Binne die Grieks-Romeinse wêreld van die eerste vier eeue, was die sterkste kompetisie vir die Christendom egter die misterie-kultusse. Juis omdat die misterie-kultusse nie deel van die tradisionele Jodedom was nie, het die Christene wat van die Joodse geloof wou wegbreek, hierdie soort kultusse aantreklik gevind. ‘n Mens kan inderdaad spore daarvan in die Pinkstergebeure en selfs in die sakramente waarneem.

Wat was dan anders?

Alhoewel Jesus se eerste volgelinge verplig was om in die geheim bymekaar te kom, het hulle nie die ‘goeie boodskap’ geheim gehou nie: hulle het dit orals verkondig waar hulle gekom het. Die ervaring van die nabyheid van God, het ook nie net by ‘n ekstatiese of entoesiastiese ervaring gestol nie, dit het konkreet in sy volgelinge se alledaagse lewe gestalte gevind. Vir hulle was Jesus se lewe, dood, en opstanding uit die dood meer as ‘n sikliese en herhalende gebeure wat met die wisseling van seisoene en selfs ‘n belofte op die lewe na die dood verband gehou het. Jesus was God wat so naby aan die mens gekom het, dat Hy onder hulle kom woon het, nie soos ‘n keiser nie, maar soos ‘n mens. Hy het gekom, nie om te heers nie, maar om te dien. En Jesus se volgelinge het daarna gestreef om sy voorbeeld na te volg.

Dít was die grootste verskil tussen die godsdiens van die Grieke, en die godsdiens van die Christene: die Christene se God het vir die mense omgegee, Hy was oor hulle besorg, en in Jesus het Hy sy gesig laat sien. Jesus se volgelinge kon God se nabyheid ervaar elke keer wanneer hulle aan Hom dink en lewe soos wat Hy geleef het. Só breek hemel op aarde aan – nie eendag na die dood op die velde van Eliseum nie, maar hier en nou.

Bron

Sonnabend, Holger 2014. ‘Die Religion der Griechen.’ Paginae 10-43 in Sonnabend, H [red], Götterwelten. Die Relgionen der Antieke. Wissenschaftliche Buchgesellschaft: Darmstadt.

Share this / Deel hierdie: