Inleiding

Die eerste bepalende afsluitingspunt van die kanon was omstreeks 367 (nC) met die sogenaamde Paasbrief van Atanasius. Vandag is hierdie kanon vir ons insiggewend omdat dit die sewe en twintig boeke van ons huidige Nuwe Testament as gesaghebbend vir die Kerk erken.

 

Latyn word kerktaal: Hieronimus se Vulgaat 

Maar intussen het die geskiedenis van die kerk weereens saam met die kultuur en die taal van die tyd ‘n ander wending begin neem. Pas na die draai van die eerste eeu (nC) het Latyn Grieks as kultuurtaal begin verdring, en mettertyd het dit ook die taal van die kerk geword. Op daardie stadium was die Heilige Boek van die Kerk slegs in Grieks toeganklik, nie net die Nuwe Testament nie, maar ook die Ou Testament.

   Maar hoe het die Griekse Ou Testament, oftewel die Septuaginta (LXX) gelyk? Daar word algemeen aanvaar dat dit ‘n vertaling van die oorspronklike Hebreeuse tekste was. Teen die einde van die laaste twee honderd jaar voor Christus het hierdie vertaling egter sy eie loop geneem en is daar nie nie net op die oorspronklike tekste uitgebrei nie, maar is ook ander boeke bygeskryf. In die vroeë Christelike kerk was dit die Septuaginta met al sy interpretasies en byvoegings wat kanoniese status geniet het. Enkele voorbeelde is die boeke van Tobit en Judit, I en II Makkabeërs, die toevoegings tot Ester en Daniël, en die wysheidsgeskrifte van Salomo en Ben Sirag.

   Van tyd tot tyd is pogings aangewend om die Griekse Bybel te vertaal, maar Hieronimus (340-420) is die een wat die eer vir die Latynse vertaling van die Bybel kry. In 382 kry hy opdrag van Pous Damasus om eers net die vier Evangelies in Latyn te vertaal omdat die bestaande vertalings so swak was. Uiteindelik vertaal Hieronimus die hele Bybel in Latyn. Hierdie vertaling staan bekend as die Vulgaat en beteken ‘algemeen’ of ‘gewoon’. Vir sy vertaling van die Ou Testament gebruik Hieronimus aanvanklik die LXX as vertrekpunt, maar later gaan hy Jerusalem toe om sy Hebreeus ook op te skerp, en om die Ou Testament uit die oorspronklike Hebreeus te vertaal. Dit haal hom die gramskap van ander Christene op die hals, onder andere Augustinus wat die LXX as heilig en geïnspireerd ag. Alhoewel geleerdes vandag vermoed dat Hieronimus se Hebreeus dalk nie regtig so goed was nie en dat hy hoofsaaklik op Origenes se Hexapla teruggeval het, het hy toe al opgemerk dat die Griekse teks soms langer as die Hebreeus is, en die geldigheid van die langer versie bevraagteken. En alhoewel geleerders reeds in Hieronimus se tyd die moontlikheid begin insien het dat daar nie-hebreeuse Ou Testamentiese tekste bestaan wat moontlik as deutero-kanonies of apokrief bestempel moet word, was Hieronimus se Vulgaat die Bybel van die Kerk tot diep in die Middeleeue, en is dit steeds die kanon van die Rooms Katolieke Kerk vandag.

 

Die humanisme en Desiderius Erasmus

Die vyftiende eeu sien die opkoms en bloei van die humanisme. Kenmerkend van hierdie tydperk is die felle kritiek op die sogenaamde saecula obscura (donker tydperk), asook ‘n herwaardering van die ou antieke wêreld. Saam met die herontdekking van die kunsskatte uit die verre verlede, word die bekende slagspreuk van die Renaissance Humanisme geformuleer: ad fontes – terug na die bronne. Hierdie geleerde humaniste lê hulle daarop toe om die oorspronklike Latynse en Griekse tekste te bemeester eerder as om op vertalings en interpretasies staat te maak. Hulle is van mening dat ‘n mens ‘n teks net regtig kan verstaan as jy dit in die oorspronklike taal kan lees. Hierdie benadering sou verreikende gevolge hê.

   Desiderius Erasmus (1467-1536) is ‘n Nederlandse Renaissance humanis met ‘n goeie kennis van Grieks en Latyn. Hy is gebore as Gerrit Gerritzoon, die buite-egtelike kind van ene Roger Gerard en ‘Margaret’, dogter van ‘n geneesheer. Sy ouers het nooit getrou nie, maar nietemin goed vir hom gesorg, totdat albei taamlik vroeg in 1483 aan die pes oorlede is. Die naam Desiderius Erasmus wat hy later aanneem, getuig van ‘n dubbele begeerte: desiderium = verlange/begeerte (Latyn); erásmios = begeerde (Griekse adjektief). En alhoewel hy slegs vier jaar in Rotterdam bly, staan hy tot vandag toe bekend as ‘Desiderius Erasmus van Rotterdam’. Die Broeders van die Gewone Lewe in Nederland is sy eerste leermeesters, en daarna begeef hy hom in ‘n Augustynse klooster om monnik te word. Kort voor lank besef hy dat hy nie heeltemal vir die kloosterwese geskik is nie, en verlaat die orde. Sy studies in Parys bring hom in kontak met die Franse humaniste, maar dis veral sy Engelse verbintenisse met John Colet en Thomas More wat sy latere bydraes sou beïnvloed.

   Erasmus is skepties, dalk selfs ontnugter oor die sekerhede van die teologie van sy tyd. Nogtans verlaat hy nooit die kerk nie, maar wend hom tot satire waar hy sy kritiese stem laat hoor. As kind van die humanisme in die ware sin van die woord, maak hy ten volle gebruik van die intellektuele en filologiese middele wat ad fontes hom bied, en pas dit ook toe op Bybelse tekste. Hy onderneem ‘n heruitgawe van Hieronimus se werk, en publiseer sy eie weergawe van die Griekse Nuwe Testament in Basel, 1516 – op die vooraand van die Reformasie.

 

Die Reformasie – en ‘n pous van papier!

Op 31 Oktober 1517 spyker Maarten Luther 95 stellinge aan die deur van die Universiteit van Wittenberg vas waar hy sy misnoë met die Rooms Katolieke Kerk se gebruik van die aflaatstelsel te kenne gee. Luther wat op daardie stadium hoogleraar in Bybelwetenskap was, se doel was om die teologie van die aflaatbriewe bespreek en die misbruik wat deur die eeue heen ontstaan het, aan die kaak stel. Spoedig was dit egter nie net die aflaatstelsel wat onder die loep geneem is nie, maar die teologie en die Skrifhantering van die hele Rooms Katolieke kerk. En wat eintlik ‘n akademiese debat moes wees, het die Wes Europese kerk laat skeur.

   Die Hervormers was meestal produkte van die Renaissance en het ook oor ‘n grondige taalkennis beskik. Ad fontes van die humanisme word sonder skroom op die bestaande Bybel van die Kerk, Hieronimus se Vulgaat, toegepas, en daar word toenemend besef dat die oudste en oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste die heel beste lesings verskaf. Die tyd is nou ryper as ooit om die kanonkwessie weer aan te roer en die egtheidsvraag in oënskou te neem.  

   Wat die Ou Testament betref, was dit hoofsaaklik die meer ‘sekulêre’ boeke soos Ester, Hooglied en Prediker waaroor die Hervormers getwyfel het. Maar toe hulle eers eenmaal finaal met die Rooms Katolieke Kerk gebreek het, het hulle taamlik eenstemmig oor die kanon van die Ou Testament besluit, naamlik om die 39 boeke in die Hebreeuse Bybel op te neem. Nogtans is daar enkele belangrike verskille: die ou orde van die Vulgaat en die LXX het behoue gebly. En in die Hebreeuse Bybel word aansienlik minder boeke aangedui aangesien die Twaalf Kleinprofete as een boek beskou word, en so ook Samuel, Konings en Kronieke.

   Ook oor die Nuwe Testament was daar nie dadelik eenstemmigheid nie. Luther byvoorbeeld wou soek na ‘n kanon binne ‘n kanon, ‘n sogenaamde ‘Christum treiben’ wat die hart van die Evangelie, sola gratia (slegs genade) sou peil. ‘n Boek soos Jakobus wat die klem ook op goeie werke laat val, was nie deel van hierdie kanon nie. Maar uiteindelik is ook hieroor eenstemmigheid bereik, en die bestaande kanon, die 27 boeke van die Nuwe Testament het behoue gebly.

   Met verloop van tyd, tot en met die sewentiende eeu, verkry sola scriptura (slegs die Woord ) toenemend gesag en word die Woord van God gelyk met die Bybel gestel. Nie meer die kerk, die tradisie of die Pous het die finale sê nie, maar die Woord alleen. Teen die sewentiende eeu ontwikkel die leer van verbale inspirasie tot so ‘n mate, dat die hele Skrif, die Ou en Nuwe Testament, op ‘n dogmatiese, selfs dwingende wyse openbaringskwaliteit verkry. Daar is geen oog meer vir die historiese fasette, die eie aard en wordingsprosesse van die verskillende Bybelboeke nie, selfs nie eens vir die proses van kanonvorming nie. Om die waarheid te sê, die Woord van God het ‘n nuwe onfeilbare Pous van Papier geword.  

  

Die Aufklärung – en historiese kritiek

En toe kom die Aufklärung. Die menslike rede is die enigste en finale gesaghebbende bron van kennis. Alles wat nie redelik sin maak nie, word krities bevraagteken, en indien nodig, verwerp. Dit geld ook godsdiens en die kanon as Woord van God. Nou, meer as in die tyd van die humanisme of die Reformasie word ‘n vrye omgang met die kanon en kanongebeure moontlik, soos byvoorbeeld die beskouinge van Johann Salomo Semler (1725-1791). In sy werk, Abhandlung von freier Untersuchung des Canons lewer hy ingrypende kanonkritiek. Hy onderskei tussen ‘n kanon vir die kerk – die formele kanon – en ‘n kanon vir die individu. Eersgenoemde het betrekking op die kerk en die erediens, maar dit is bloot ‘n uitwendige verpligting. Laasgenoemde is afhanklik van elke individu se persoonlike aanvoeling en behoefte, dit wat elkeen persoonlik vir sy of haar religieuse en sedelike lewe nuttig vind en wat ook van tyd tot tyd kan verander. Hierdie kanon is ‘n  gereduseerde en veranderlike kanon. Die kanon in geheel het dus relatiewe gesag. Semler se kanonbeskouing het egter nie blywende navolging gevind nie, en ten spyte van die Aufklärung se felle kritiek op die kerk en die Bybel, het die kanon in wese dieselfde as tydens die Reformasie gebly.

   Die Aufklärung sien egter ook die opkoms van die historiese kritiek. Die Bybel as onfeilbare woord van God word as’t ware ‘van onder’ bekyk. Vrae word gestel oor breuke in die teks – hoekom byvoorbeeld is daar twee skeppingsverhale? Hoekom verskil die geskiedenis in die Koningsboeke van die weergawe in Kronieke? Hoekom is daar verskille in die weergawes van die vier Evangelies? Ensovoorts. Die Bybel word toenemend gesien as ‘n produk met ‘n lang ontstaans en ontwikkelingsgeskiedenis wat nie losgemaak kan word van bepaalde sosio-kulturele omstandighede nie. Situasies wat in die Bybel geskets word, getuig van ‘n diepe worsteling met teologiese probleme en stel moeilike vrae waarop die Bybelskrywers probeer antwoord. En dit is wat die historiese kritiek probeer agterkom: wat is die vrae wat in die harte van die gemeenskap gelewe het, en hoe het die tekste daarop probeer reageer?  

 

En vandag?

In die Afrikaanse kerke word die Woord van God steeds as die Pous van Papier hanteer – asof dit ‘n onveranderlike onfeilbare gesag verteenwoordig wat direk uit die tyd van Christus dateer. Want ons kan maar net nie daarby verbykom nie – Christus en die verlossing van sonde word steeds gesien as die enigste sogenaamde ‘kernwaarheid’ van die hele Bybel. Maar is ons nie alweer besig met ‘n kanon binne ‘n kanon nie? Wanneer dit by die Woord van God kom, trek ons laer. Met gesag verkondig ons dat die ‘Woord van God sê’ … en vergeet gerieflik dat ons met ‘n vertaling en ‘n interpretasie werk. Om die een of ander rede verstaan die Afrikaanse kerke nie die sprong in die geskiedenis nie.

   Hoekom? Is dit omdat ons Afrikaanse gemeenskap ten diepste ‘n behoudende gemeenskap is, en nooit die kritiese denke van die Aufklärung belewe het nie? Hoekom het ons in die teologie eerder die pad van die ortodoksie gekies deur vas te klou aan die sogenaamde ou waarhede, en die historiese kritiek as bedreigend, en selfs as dwaling bestempel? Hoekom stel ons ons dit ten doel om die  gemeenskap te waarsku teen literatuur, flieks, of enigiets anders wat dalk ons geloof kan bedreig? Is die grootste bedreiging vir die Christelike geloof nie dalk juis die Pous van Papier nie?

   Vandag is nodig dat ons by teoloë en lidmate ‘n dinamiese siening kweek oor wat ons onder die terme, die Woord van God kan verstaan. Vandag is daar nie net ‘een korrekte interpretasie’ nie, en dit val beslis nie van bo uit die lug nie! So ‘n siening is in ons pluriforme samelewing nie houdbaar nie. Veel eerder moet ons sensitief daarvoor wees dat die Boek wat ons vandag die Bybel noem, ‘n gelaagde en komplekse teks is, en dat die ou-ou boodskap nie eenvoudig is nie. Ons moet na die beste van ons vermoëns die geskiedenis en die oorlewering ten volle in ag neem. En eers nadat ons die moeisame pad van deeglike eksegese gevolg het, kan ons dit waag om iets oor die inspirasie van die Skrif te sê.

 

 

Bronne:

 

  • Dowley, T (red) et al 1988. Die Geskiedenis van die Christendom [vertaal deur Ludwig Visser]. Kaapstad: Struik Christelike Boeke.
  • Frankemölle, H 2006. Kanon in Berlejung, A & Frevel, C (hrsg), Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament, 264-266. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.
  • Hinwoon, B 2008. Vulgaat in Gaum, F et al, Christelike Kernensiklopedie, 1182. Wellington: Lux Verbi BM
  • Roberts, JH & Du Toit, AB 1977. Handleiding by die Nuwe Testament, Band I. Pretoria: NG Kerkboekhandel Tvl.
  • Sand, A 2006. Kanon n Baumgarter et al (hrsg), Lexikon für Theologie und Kirche, Fünfter Band, 1179-1180. Freiburg: Herder.
  • Schindler, A 2001. Kanon in Betz et al (hrsg), Religion in Geschichte und Gegenwart, Band 4, 768-770. Mohr Siebeck.
  • http://en.wikipedia.org/wiki/Renaissance_humanism
Share this / Deel hierdie: