Onderstaande is ’n kort weergawe van ’n artikel wat in die Nederlandse koerant Trouw verskyn het en deur prof Frits de Lange geskryf is. Hy is ’n professor in etiek en verbonde aan die Protestantse Teologiese Universiteit, Kampen, Nederland. Die volledige artikel (‘De hemel als tegengif’) kan by die volgende adres gelees word: http://meer.trouw.nl/filosofie/de-hemel-als-tegengif#bodyanchor-639

Vandag se mens het soms ’n oordrewe soeke na geluk. Alles draai om myself: mý geluk, mý lewensvreugde en mý handelinge om geluk te bekom. Hierdie geluksoeke het onverwagse steun van ’n bekende Engelse ekonoom ontvang.

Volgens ’n professor van die London School of Economics, Richard Layard, moet die politiek en die ekonomie ’n strategie ontwerp sodat mense gelukkig kan wees. Politici moet help om die grootste moontlike geluk vir die grootste hoeveelheid mense te bewerkstellig. Ekonome moet verder kyk as balansstate, markstrategieë en groei, maar die mens raaksien; die mens wat na geluk soek en wat gehelp moet word om gelukkig te word. Ekonome moet dus welvaartskeppers word wat die welsyn en geluk van soveel mense as moontlik moet verseker. Die ekonomiese wetenskap moet dus ’n ‘gelukswetenskap’ word.

De Lange meen egter so ’n geluksopvatting is maar oppervlakkig en pleit vir ’n meer eksistensiële verstaan van geluk. Geluk is nie iets wat ’n mens kan maak of in syfers uitdruk nie. Geluk is nie iets waaroor ons kan beskik en wat jy kan aan- of afskakel nie. Geluk is iets wat ’n mens soms jarelank ontwyk en waarvan net spatsels in jou lewe oorbly. Geluk is ook geen groepsding nie, maar ’n baie individuele, persoonlike ervaring

En al is volle geluk iets wat ’n mens se greep altyd ontglip en ook nooit geweeg of gemeet kan word nie, het De Lange ter wille van duidelikheid tussen klein-geluk, diep-geluk en hemelse geluk onderskei. Klein-geluk is wanneer iets intens ervaar word, wanneer ’n intense gevoel van vreugde jou oorrompel. Hy verwys in ’n voorbeeld na ’n vertraagde seuntjie in die bad wat niks van die groot dinge van die gees begryp nie, maar wat tog so geweldig gelukkig is. Gelukkig as hy die water teen sy lyfie voel en sy dun armpies om hom vou.

Klein-geluk is egter maar van korte duur. Net ’n oomblik se groot genot en dan is alles weer verby. Daar is niks wat vasgehou kan word nie want elke oomblik se sensasie verdwyn weer soos wat dit gekom het.

Dan is daar ook diep-geluk wat met ’n gevoel van selfaanvaarding en ’n helder wete oor jou lewensdoel saamhang. Diep-geluk ervaar jy wanneer jy uit jou klein wêreldjie tree en vir iets groters as jouself leef. Diep-geluk oorval jou wanneer jy nie die heeltyd met jouself doenig is nie, nie altyd net jou eie probleme, jou eie teleurstellings vertroetel nie, maar bokant jou eie wêreldjie uitstyg om vir ’n groter doel of taak te leef. En wanneer jy so met ander dinge behalwe jouself besig is, kan ’n diep-geluk, ’n diep-vreugde jou ook onverwags oorrompel en ’n diepe sin aan jou lewe gee.

Hierdie klein- en diep-geluk rig jou verlange na ’n hemelse genot. Vele mense het egter geen erg meer aan die hemel nie en verwerp dit selfs, maar volgens De Lange moet ons dit nie heeltemal prysgee nie. Die hemel intensiveer ons klein- en diep-geluk. Die gedagte van ’n hemel word die kulminasiepunt van ons oneindige verlange na onuitspreeklike geluk; na ’n hemelse vreugde wat groter, ryker, dieper as enige aardse blydskap is.

Kortom: ons moet die hemel rehabiliteer en deel van ons daaglikse lewe maak sodat daar sin in ons verlange na ’n onbeskryflike vreugde en ’n intense blydskap kan wees; sodat die hunkering na ’n groter, voller, ryker vreugde altyd lewend gehou kan word.

Share this / Deel hierdie: